'n Paar jaar gelede het ek 'n stuk neergepen oor die paradoksale verskynsel wat ek die “eksklusiwiteit van inklusiwiteit” gedoop het. Onlangse gebeure noodsaak verdere refleksie om tot 'n dieper begrip van die oorsprong en nawerking daarvan te kom. Die universiteite is een van die duidelikste voorbeelde hiervan, en daarom sal die fokus hoofsaaklik daarop val.
Afgesien van die sogenaamde enrollment cliff, wat 'n algemene afname in inskrywings aan universiteite aanstip, het ons vandag ook met die enrollment flip te doen, wat op die proporsie vroue teenoor mans by tersiêre instellings wys.
Syfers oor die hoeveelheid jong mans wat vir tersiêre onderrig inskryf, wys 'n skerp daling. Sommige syfers toon dat onder 40% van inskrywings mans is, 'n tendens wat wêreldwyd weerspieël word. Dit gebeur nie gewoon omdat die verhouding mans tot vroue in hierdie syfers beter weerspieël word nie, maar toon ook 'n afname van mans wat tersiêre opvoeding nastreef. Dit is nie alleen weens verandering in persepsies oor die moontlikhede wat tersiêre opvoeding bied nie, maar ook weens 'n daling in geletterdheidsvlakke. Onlangs vertel iemand wat in die korrektiewe dienste sektor werk my dat jong seuns in arm gebiede bendelewe as 'n ideaal beskou aangesien dit die enigste wêreld is wat hulle ken en dat ander moontlikhede vir hulle ontoeganklik voorkom.
Waar is die mans heen?
Die Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch het vandeesweek 'n gesprek gevoer oor die afwesigheid van mans by dié instelling.
Die dekaan, Professor Vasti Roodt, het hierdie toedrag van sake bekla en aangevoer dat dit kan daartoe aanleiding gee dat mans nie meer aan belangrike diskoerse deelneem nie en dat diskoerse selfs skeefgetrek kan word in die afwesigheid van mans, wat tot verdere sosiale probleme gaan lei.
Dit word egter gerugsteun deur 'n stelsel waarin manlikheid as sodanig aan geweld gekoppel word, en aan begrippe soos “toxic masculinity” oftewel toksiese manlikheid. Laasgenoemde verskynsel staan egter in verhouding tot ander diskoerse, en ek gaan aantoon dat dit een van die effekte, nie die oorsake is van 'n sistemiese probleem nie. Onder die vaandel van “inklusiwiteit” het een van die grootste sektore dan vervreem geraak, maar dis nie die enigste nie. Die onlangse geskiedenis in vrouesport, waar atlete ingeskryf het op grond van selfidentifisering as vroue eerder as objektiewe kriteria, wys op die eerste spore van die uitsluiting van nog 'n beduidende groep, naamlik vroue (die Algeriese olimpiese bokskampioen Imane Kalif is weliswaar onlangs van sy goue medalje gestroop, nadat ooreengestem is op die kriteria vir deelname aan vroue-items).
Om die vraag hoe inklusiwiteit stelselmatig tot eksklusiwiteit lei te beantwoord, gaan ek my beroep op die begrip van die ysterwet van inklusiwiteit. Hierdie wet stel dat namate inklusiwiteit dogmaties toegepas word, ekslusiwiteit gaan toeneem. Ysterwet word ontleen uit 'n gedig van Goethe, Das Göttliche, waarin die goderyk en die natuur op grond van ewige, onbuigsame beginsels uitgebeeld word, terwyl die mens se kreatiewe vermoë om aan te pas en nuwe moontlikhede te midde van oënskynlik onveranderbare omstandighede te skep, gevier word.
Nog Ysterwette
Goethe se ysterwet is verder uitgewerk. Jerry Pournelle, 'n kundige in operasionele bestuur, het een van hierdie ysterwette in die konteks van die moderne beskawing raakgesien in die “iron law of bureacracy”. Hy het beweer dat burokrasie stelselmatig in groter organisasies die oorhand kry oor die oorspronklike missie van 'n organisasie en diegene wat hulle vir die missie beywer. Die organisasie word sodoende van sy doel vervreem.
Die antropoloog David Graeber se Iron law of liberalism kan as 'n verdere uitbreiding van hierdie beginsel beskou word, wat beweer dat die beleide wat gerig is op die uitsny van burokrasie (gepaardgaande met die kultus van “effektiwiteit”), uiteindelik tot meer maatreëls, meer burokrasie en verhoogde koste aanleiding gee. 'n Voorbeeld hiervan kan gevind word in die debatte oor die styging in munisipale heffings in Kaapstad. Graeber wys op die feit dat die ou beginsel van “minimum inset, maksimum uitset” vervang word deur oorbelaaide organisasies wat met 'n verhoging in burokrate en voldoeningskultuur hulle kompetisie kan uitskakel.
Die ysterwet van inklusiwiteit is 'n volgende stap waardeur een organisasie die oorhand oor sy mededingers kan kry deur juis die ysterwet van inklusiwiteit meer nougeset na te kom. Dit sal dikwels behels dat nuwe groepe van gemarginaliseerdes geskep word sodat persone posisies op grond van hulle gemarginaliseerdheid bekom. Dikwels is die biologiese transformasies wat hierdie persone moet ondergaan omvattend, duur en traumaties.
'n Mens sou selfs kon praat van 'n nuwe biologiese verontregtingsbedryf, waarbinne kapitaal verontregting kan koop, en daarmee saam werklike (aangehelpte) liggaamlike en psigiese lyding. Daar is 'n wesenlike verskil tussen traumaverwerking en sistemiese patologisering, wat geen samelewing bevoordeel nie.
Vermoëns verdien 'n sentrale rol
Die moderne lewe sonder sterk burokrasie en die gedagte van bevryding, oftewel liberalisme in sy mees direkte vertolking, is ondenkbaar. Dit behoort egter nie verabsoluteer te word nie.
Dit klink byna ondenkbaar om te beweer dat inklusiwiteit ook nie verabsoluteer behoort te word nie, maar wanneer dit die samelewing in die breë benadeel en tot grootskaalse uitsluiting lei, is iets sekerlik fout. Wanneer meer mense toegelaat word om op grond van hulle vermoëns 'n bydrae tot die samelewing te maak, strek dit die hele samelewing tot voordeel.
Wanneer vermoëns sekondêr tot ander faktore gestel word, benadeel dit die samelewing. Ironies genoeg kom dit juis dikwels vanuit 'n gebrek aan erkenning dat iemand oor die hoof gesien word sowel as aan die een wat bevoordeel word. Wanneer iemand inherent ondergeskik tot 'n ander beskou word, en daarom onregverdig bevoordeel word – is dit nie seksisties en rasisties nie? Uiteraard speel baie faktore in by 'n persoon se ontwikkeling (ook historiese persepsies) en behoort hierdie faktore in ag geneem te word sodat geleenthede aan soveel mense moontlik gebied word.
'n Billike en regverdige samelewing kan egter nie op 'n fondasie van diskriminasie gebou word nie, 'n les wat ons land klaarblyklik nog nie na behore geleer het nie. Die vindingryke mens is volgens Goethe se gedig een wat geregtigheid en nut vir sy medemens (en selfs die natuur met sy ysterwette) in die hand werk.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










