
Dit is al weke ná die plaaslike verkiesing en steeds is daar nie heeltemal uitsluitsel oor verskeie munisipale koalisies nie. Of oor wie watter ampte gaan beklee nie.
Onbesliste rade (sowel as ander regeringsvlakke) is nou 'n kenmerk van die Suid-Afrikaanse politiek. Daar hang egter vraagtekens oor die wenslikheid daarvan. Ontluikende en waarskynlike groeperinge dui daarop dat die status quo betreffende dienslewering en vaardige bestuur in belangrike metro’s en ander dorpe aanvanklik gehandhaaf gaan word.
Dit beteken egter nie dat nog baie ten goede of kwade kan verander in die toekoms nie. Ek is verheug dat my munisipaliteit nie aan 'n koalisie uitgelewer is nie. Nes ek teen verswakkende dienslewering gestem het, het ek insgelyks teen koalisies en hul waarskynlike onstabiliteit gestem. Duidelik het my mede-inwoners dieselfde gevoel.
Koalisies van die onwilliges
In Gauteng blyk dit nou 'n uitgemaakte saak te wees dat ActionSA (ASA), die ANC, EFF, MK-party en selfs kleiner partye grotendeels die septer gaan swaai. Die DA as die grootste party in die meeste metro’s gaan hiervan uitgesluit word (iets wat Helen Zille reeds ruiterlik erken het).
Dit is egter waar die knoop lê en hierdie koalisies gaan inherent moeilik wees om tot 2031 (waartydens daar boonop 'n algemene verkiesing gaan wees) met hul huidige samestelling in stand te hou. In Stad Johannesburg beplan die rolspelers 'n massiewe koalisie van bykans 20 partye omdat die ANC en ASA saam slegs sowat 36% – net effens meer as die DA se steun – ingepalm het. Die res van die partye het ook te min stemme en setels gekry om die koalisie klein te hou.
Die ANC met sowat 20% van die steun soek beheer oor die speaker-rol en geldsake (geen verrassing nie, gegewe hul afhanklikheid van bestaande patronaatnetwerke en korrupsie), terwyl Herman Mashaba, leier van ASA – met 16% van die steun – waarskynlik weer die burgemeester sal wees. Die aanwysing van burgemeesterskomiteelede en hoofde van komitees is nog onduidelik, maar sal hoofsaaklik uit die ANC, ASA, MK en EFF bestaan.
Indien kleiner partye soos Rise Mzansi en BOSA gedink het hulle gaan as deel van 'n koalisie 'n wesenlike verskil aan die verdowwende Goudstad kan maak, is hulle nog net so naïef soos toe hulle gedink het die stigting van hul partye maak enigsins saak. Die ANC se korrupsie, uitgevoer deur die bestaande amptenary en met die goedkeuring deur Mashaba, gaan onverpoosd voortduur. Mashaba en sy ASA-kollegas in Johannesburg gaan geen aansporing hê om dit bloot te lê nie omdat dit hul wankelrige koalisie ineen kan laat stort. Jy sal dit moet duld of self deelneem, ongeag wie jy is. Dit is ook waarskynlik hoekom daar 'n gesamentlike poging is om die DA uit te hou.
Dieselfde geld in Ekurhuleni en Tshwane, waar vier of meer partye koalisies moet vorm om 'n volstrekte meerderheid te verkry. Die nuwe faktor is die wesenlike toetrede van MK in Gauteng – 'n party wat nog nie in 2021 bestaan het nie. Weens hul steunpersentasies in byvoorbeeld Johannesburg, Ekurhuleni, Rand West en Merafong City moet hulle nou deel word van koalisies aldaar. Terwyl hulle in 2024 as 'n protesparty heelwat steun in KwaZulu-Natal geniet en steun by veral die ANC en IVP afgerokkel het, het hulle nie mag geproe nie. In die onlangse verkiesing het hulle landwyd en ook in KZN minder steun as twee jaar gelede ontvang, maar gaan nou munisipaliteite alleen of as deel van koalisies regeer.
Feitlik onvoorwaardelike samewerking met veral die ANC, asook hul binnegevegte en vraagtekens oor hul bejaarde leier se gesondheid, gaan nie onbepaald kan voortduur nie. In die lig van hul eie onversadigbare lus vir korrupsie en handige steun-hefboom, gaan hulle nie met krummels tevrede wees nie en meer as hul pond vleis opeis. Die vraag is of daar genoeg gaan wees vir almal om te steel. My raaiskoot is dat dit nooit genoeg vir hulle almal sal wees nie, en een of ander tyd gaan die bom bars soos wat die aanbod nie met die aanvraag kan byhou nie.
Binne-inligting gaan eers aan die media gelek word, en spanning kan in openlike konflik en selfs onttrekking of skorsing uit die koalisie ontaard – veral soos wat partye hulself in die aanloop tot 2029 se verkiesing probeer onderskei en posisioneer ter wille van meer gesogte pryse.
Dienslewering gaan uiteraard hieronder ly en opportunistiese vingers gaan toenemend na die ANC en ASA as die leidende partye gewys word. Meer bemiddelde inwoners gaan swaarder belas word om vergeefs salf aan die diep put van probleme in townships te smeer terwyl meer en groter slaggate in die voorstede ontwikkel, verkeersligte buite werking is, munisipale amptenare hul skouers optrek oor donker straatligte, die strate van sakekerne met vullis bestrooi is, en meer en langer krag- en wateronderbrekings oral voorkom. Vriende in my tuisdorp Roodepoort vertel juis hoe lae waterdruk die norm geword het. Dit is hoe dit al vir meer as twee jaar onder hierdie partye se leiding gaan en daar is geen rede hoekom dit nou terstond sal verbeter nie – veral as MK boonop deel van die mengsel is.
Dit beteken nie dat niks in Gauteng of selfs ander munisipaliteite verander het nie. Die inwoners van Emfuleni – waarvan sowat 80% swart is – het die DA 'n oorweldigende meerderheid gegee en hulle dus in staat gestel om 'n koalisie met andersoortige partye te vorm. Hierdie mense is vir jare reeds blootgestel aan lugbesoedeling en afwesige dienslewering en met die naburige en stabiele Midvaal as verwysingspunt, het verskeie kiesers besluit genoeg is genoeg. Uiteraard kan hierdie koalisie ook skipbreuk ly, maar dit sou beteken dat 'n kleiner party wat sonder veel korrupsie-opbrengste maar met nuttige poste moet help regeer, dit waag om die beheer aan die ANC of hul afstammelingpartye terug te gee.
Dit sal hulle vervolgens duur te staan kom en kan hulle selfs uitwis. Eweneens is 'n koalisie sonder die ANC waarskynlik ook die voorland van die Nelson Mandelabaai Metro. In Lesedi (Heidelberg) en Mogale City (Krugersdorp) is die DA ook die grootste party, maar daar kan verskeie permutasies (met toekomstige gevolge) nog uitspeel. In Sol Plaatje (Kimberley) het die DA en ANC 'n regeringsooreenkoms (maar nie 'n formele koalisie nie) gesluit. In George het die DA hul meerderheid teruggewen en in Knysna sal hulle gemaklik 'n kleiner koalisie lei.
Baie het dus verander en kan nog verander weens koalisievorming. Dis nog vroeg en mense moenie nou al te veel hoop óf wanhoop koester nie. Plaaslike strukture van verskeie partye tree oënskynlik pragmaties op. Die aard van dienslewering en opportunisme kan nog deurslaggewend wees – soos dit trouens al in die verlede was. Baie munisipaliteite in Gauteng en elders sal egter vir nou met treurige dienste tevrede moet wees aangesien die bestuur en tegniese kapasiteit van hul munisipaliteite nie vervang of verbeter gaan word nie.
Die makro-prentjie
Die ANC het weer 'n ongekende daling in hul steun beleef, maar bly vir eers die grootste party in die land. Swart en ideologiese solidariteit gaan ook nou winste vir hul besorg wat hul steun nie regverdig nie.
Die vraag is net wat met die (half-)regerende party asook ander partye gaan gebeur ná die ANC se leierskonferensie in Desember 2027, of selfs vroeër. Pres. Cyril Ramaphosa sal die tuig as president van die ANC en tewens die land moet neerlê en hy wou glo onlangs weer bedank. Dit blyk asof hy en die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en die top-7 beheer van hul laer strukture verloor het. Die hoofberig op Die Burger (Woensdag 25 November 2026) se voorblad bevestig dat die ANC, behoudens Gauteng, na afloop van die onlangse verkiesing beheer oor besluitneming aan die streke en provinsies oorgelaat het, ondanks voornemens voor die verkiesing dat dit nie sal gebeur nie. Die faksiegevegte het al vanjaar daartoe gelei dat hul moontlike burgemeesterskandidate en raadslede eers baie laat aangekondig is en met vele binnegevegte en moorde gepaard gegaan het.
Nogtans maak dit saak wie hul volgende president en ander leiers is. Die magsoorgang sal desgelyks deur enorme weerspannigheid gekenmerk word terwyl die faksiegevegte en die publiek se ontnugtering voortduur. Indien iemand soos adjunkpresident Paul Mashatile of die Gautengse premier Panyaza Lesufi hierdie pos beklink (die waarskynlike scenario), kan die regering van nasionale eenheid (RNE) moontlik in duie stort en toenadering tot MK en die EFF gesoek word. Dit laat laasgenoemde egter met 'n dilemma, aangesien hulle grootliks geskoei is op onderskeiding van die ANC en om nie te nou saam met hulle te werk nie. Die ANC sal ook nie hul alewige teenkanting en stemstelery duld nie – ongeag die leier. Die ANC se steun kan dermate gekannibaliseer deur hierdie partye dat hulle geen ander keuse het as om saam met die DA as die grootste party te werk nie.
MK en die EFF se toekoms is moeilik voorspelbaar. Julius Malema het ernstige regsuitdagings. Zuma mag dalk nie leef tot 2029 nie en sonder (selfs weens) sy toesig kan die middelpuntvlietende kragte daardie party uiteindelik uitmekaar skeur. Ek glo albei partye gaan oorleef tot 2029, maar nie in hul huidige vorm nie en straks eerder as beheerde opposisie. Indien hulle wel ontbind, kan hul steun in 'n menigte rigtings vloei afhangend van hóé dit gebeur. MK het immers reeds die ANC, IVP en EFF seergemaak. ASA kan weens hul munisipale voetfoute ook gestraf word in 'n algemene verkiesing, waarin hulle kennelik swakker vaar as in plaaslike verkiesings en waar veel groter eenhede as slegs munisipaliteite ter sprake is. Mashaba het in die afwesigheid van 'n goeie regeerrekord swaar op die anti-immigrant stemming vanjaar gesteun om steun te werf. Daardie stemming kan dalk net teen 2029 uitgewoed wees.
Die DA lyk die stabielste van die groot partye en sy leierskapstryd is vir eers verby. Daar is ook nuwe energie en samehorigheid onder 'n jong leier en hulle het die beste groei in jare in 2026 beleef. Die vraag is wat met die RNE gaan gebeur en dit is waarskynlik dat dit nog vir 'n wyle sal voortbestaan, ofskoon dit voor 2029 tot 'n val kan kom. Ewenwel, die DA sal onwys wees om dit sonder uiters goeie rede te verlaat. Die huidige ANC sal dit myns insiens nie goedsmoeds verongeluk nie.
Hierbenewens is die vraag of partye meer mense kan mobiliseer om te stem en vir hulle te stem. Stemgeregtigde kiesers wat nie stem nie, bly 'n groot uitdaging. Dit is selfs 'n groter kopseer vir die ANC en EFF, wat albei klaarblyklik bly steun verloor en 'n geloofwaardigheidskrisis beleef.
Laastens sal meer mense uit alle klasse en gemeenskappe wat moeg is vir erbarmlike munisipale toestande emigreer en semigreer. Verstedeliking gaan onverpoosd voortduur. Dit sal die Wes-Kaap op verskeie maniere raak, maar meer druk op byvoorbeeld die DA plaas om in veral Gauteng meer steun te werf. Mense woon nog in sekere munisipaliteite omdat daar werk beskikbaar is, maar sodra 'n kantelpunt bereik word met dienste sal die sakesektor krimp en saam met die inwoners padgee. Verskeie metro’s en dorpe sal by uitstek swaarder trek soos hul belastingbasis krimp en hulle stellig nuwe arm inwoners moet bedien (Johannesburg is 'n prominente voorbeeld), en dit voorspel verdere onheil vir wie ook al daar regeer en woon.
Dr Eugene Brink is 'n entrepreneur en ontleder van die Paarl.

Nog artikels deur Eugene Brink:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








Eugene,, selfs as kritiese leser moet ek vir jou sê: ek stem (ongelukkig) saam met jou analise. Ek is dalk net persoonlik effens meer swartgallig, maar dis wat vuisvoosheid aan mens doen as mens Suid-Afrika (en ook sommige ander lande!) se politiek baie nougeset probeer volg...