Die Onvrede van Vereeniging
Van vrede tot verval, en wat Vereeniging oor Suid-Afrika se toekoms sê.
Die pasafgelope ruk het ek met 'n paar mense geskerts oor die verskille tussen die droë Kaap en die nat noorde. Die water het klaarblyklik alles in die noorde oorspoel behalwe die watertoevoerstelsel. Lopende water is sekerlik die mees drukkende kwessie vir baie, met die naderkruipende munisipale verkiesings in die vooruitsig.
Hoeveel 'n mens ook die vooruitgang van die Wes-Kaap kan aanprys, die feit bly staan dat Gauteng die enjinkamer van die land is. Johannesburg het in 'n merkwaardige kort tyd van rondom vyftig jaar uitgebrei tot die ekonomiese hoofstad van die land, getroef alleen deur die snelle pas waarteen die infrastruktuur tans verbrokkel. Tereg kan die komende verkiesings beskou word as bepalend vir die koers wat die land gaan inslaan in die nabye toekoms.
Nie ver van Johannesburg nie, is my eie komvandaan, Vereeniging. Soos Johannesburg, het Vereeniging en die groter Vaaldriehoek laat in die 19de eeu ontstaan uit mynbou en later nywerheidsontwikkelings. Dit is hierdie soort plekke wat Koos du Plessis besing in sy “Molberge– Herinnerings aan Springs”. Dit is die setel van maatskappye soos Sasol en ook Mittal, waarvan die rammelende ratte waaroor Koos sing nie langsaam nie, maar skielik stil geword het.
Die stad van Vereeniging self, soos talle ander vandag, het 'n uitgeholde kern geword, met meeste groter besighede wat rondom die stadskern, eerder as daarbinne, sake doen. Dit staan in 'n skrille kontras met die eermalige stadsplein, waar 'n monument vir die ondertekening van die Vrede van Vereeniging opgerig is (sien die dekprent).
Verrysing uit die Verslaendheid
Hierdie dokument was meer as 'n ondertekening tussen leiers. Dit was 'n belofte, 'n verdrag waaruit die unie maar ook die daaropvolgende Grondwet beslag gekry het. Dit was in feite 'n belofte van die politieke leiers aan die res van die land, wat deur die vername leiers (behalwe President Steyn) onderteken is. Dié monument by Vereeniging simboliseer vrywording, die verrysing uit die as van 'n verskroeide aarde. Vandag is daardie standbeeld van vryheid omhein, soos alles anders van waarde.
Talle het na die Vaaldriehoek met die draai van die vorige eeu gestroom in 'n hoop op 'n beter toekoms, na 'n goeie baan. Anders as die (neerhalende) persepsie van buite op nywerheidstede en dorpe in die land, was hierdie plekke ryk aan 'n vooruitstrewende ingesteldheid met groot stadskouburge om die burgers en hulle kinders aan die kunste bloot te stel, al was die geletterdheidsvlakke aan die begin nie noodwendig die hoogste nie. Uiteraard het kunstenaars ook gebaat by die konserte wat in hierdie lokale gehou is, en daar was 'n rykdom aan inisiatiewe om die kunste te bevorder.
Nodeloos om te sê, dit is nie wenslik om na 'n onderdrukkende stelsel terug te hunker nie. Nabyliggend aan Vereeniging is ook Sharpeville, waar van die eerste groot opstande teen Apartheid plaasgevind het. Dit is vir my moeilik om in te dink dat Sharpeville slegter gelyk het in daardie tyd as vandag. Dit is kwalik onderdrukkend om veilige parkies, skoon en veilige visvangplekke in die omliggende riviere, skoon en veilige strate, en funksionerende biblioteke te verwag.
'n Vasstrapplek vir opposisie
In die plek van funksionerende infrastruktuur, het Lesufi as LUR vir onderwys in Gauteng die suikerpil van digitalisering in die vorm van tablette aangebied.
As kinders is ons elke Vrydagmiddag na die biblioteek geneem en daar het ons in die labirint van die groot kinderafdeling verdwaal. Asterix, Kuifie en Trompie het hier 'n liefde vir lees by my gekweek. Dit is in hierdie gebou dat nuwe wêrelde vir my in my eie begin oopgaan het, meer as wat kortstondige beeldsendings ooit sal kan regkry. Ek onthou hoe verstom ons egter was om met die draai van die eeu te verneem dat die biblioteek nie voorsiening gemaak het vir Y2K nie, dat ons na die ou kaartjiestelsel gaan terugkeer, hoe die buislampe een na die ander in flikkerende morsekode 'n einde tegemoet gegaan het.
Die Emfuleni streek bied dikwels tydens voorverkiesings 'n steekproef vir die res van die land aangesien die demografie relatief ooreenstem met die samestelling van die res van die land. Nie ver van Vereeniging af nie is Midvaal, wat 'n DA munisipaliteit is. Dit is hier waar Oprah Winfrey toevallig besluit het om haar skool, die The Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls (OWLAG) op te rig.
Tot dusver handhaaf die DA 'n goeie rekord daar met betrekking tot dienslewering. Sal kiesers Oprah se keuse kan nadoen elders in die streek? Noord van Midvaal is Johannesburg, waar die komende munisipale verkiesing weereens een van die mees bepalende verkiesings in die land se geskiedenis gaan wees. Die toekoms lê gewis in die hande van die burgers. Die groep The Blasters doen 'n passievolle, patriotiese beroep in hulle lied, “Common man” op die burgers: “wave the flag and take a stand”.
Maar waarvoor staan mense egter gewoonlik op? Die antwoord: “stand in line to shake his hand”, wat na die politikus verwys:
With one hand on the bible
He swears he’s only here to serve
While everyone says “for better or worse,”
We get what we deserve
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










