Daar is 'n verskil tussen die einde van 'n politieke party en die einde van 'n politieke era. Daar word tans met groot opgewondenheid en sekerheid gepraat van die einde van die ANC. Asof die ANC se steun wat tot by 35% nasionaal daal die einde van die 114 jaar oue party beteken. Die ANC gaan nie verdwyn nie. Die party gaan waarskynlik nog vir baie jare een van Suid-Afrika se grootste politieke partye wees, regerings vorm, koalisies beïnvloed en steeds miljoene verknogte stemme trek.
Maar die ANC-era, die tyd waar die party die vanselfsprekende middelpunt van Suid-Afrikaanse politiek was, is verby. Ons is nie meer op pad na die post-ANC Suid-Afrika nie. Ons is reeds daarin. Die feit dat die ANC se president moet verdedig dat die party nie sterf nie is tekenend van die party se kwynende politieke oppergesag.
Die klein politieke aardbewing rondom die ANC se kandidaatlyste vir November se plaaslike regeringsverkiesing illustreer die praktiese uitwerking en interessante nuwe politieke dinamika van die ANC se magsgreep wat verslap. Die party het 181 kandidaatsnominasies in ses munisipale rade nie finaal voor die OVK se sperdatum ingedien nie. Die lyste wat deur die ANC se stamelende interne bestuur nie betyds ingedien is nie sluit proporsionele lyste in Mangaung, uMshwathi en vier Oos-Kaapse munisipaliteite in, asook wykskandidate in Ingquza Hill en Port St Johns. Die ANC by monde van Fikile Mbalula voer aan dat die inligting reeds op die stelsel was en tegniese probleme die finale indiening verhinder het. Die OVK het tot dusver geweier om die sperdatum bloot te heropen. Die saak lê nou voor die Verkiesingshof.
En die OVK wat hier sterk standpunt inneem is meer noemenswaardig as wat ons dalk besef.
Op KykNet se In Gesprek hierdie week het William Gumede die waarneming gemaak dat die OVK 'n paar jaar gelede, volgens sy gevoel, waarskynlik 'n manier sou gevind het om die ANC tegemoet te kom. Piet Croucamp was ietwat ontsteld oor die suggestie. Maar ek dink Gumede is reg.
Dis nie dat die OVK nou skielik anti-ANC is nie. Die OVK wat sy rug styfmaak teen die eens oorheersende ANC is 'n teken van politieke swaartepunte wat verskuif. Wanneer almal aanvaar dat 'n politieke party 'n bepaalde momentum het en steeds die regering gaan wees, dra sy versoeke 'n gewig wat nie op papier staan nie. Wanneer daardie onvermydelikheid verdwyn, word dit makliker vir instellings, sakelui, burgerlike organisasies en gewone mense om eenvoudig te sê: Nee. Die reëls is die reëls.
Momentum is 'n werklike politieke krag. En die ANC se momentum is morsdood. Gaan lees gerus Kenney en Rice se studie, The Psychology of Political Momentum, oor hoe die persepsie dat 'n kandidaat of party besig is om te wen, op sigself mense se politieke gedrag begin verander.
Politieke momentum is gedeeltelik 'n inligtingsverskynsel. Die ANC wat 'n tussenverkiesing verloor of swak vertoon in 'n peiling of 'n groot figuur kritiseer die party is alles gebeure wat op sigself klein is maar elkeen vertel ander politieke akteurs iets oor die toekomstige magsbalans. Dit is 'n soort politieke sneeubal.
Kyk ons na politieke fondswerwing, dan is die kentering van politieke momentum ook sigbaar. In die jongste bekendmaking van politieke befondsing het die DA meer as R104 miljoen in verklaarde skenkings ontvang. Dit is byna 89% van die totale bedrag wat deur al die partye saam verklaar is. ActionSA was volgende met sowat R5,5 miljoen. Die ANC se R15,27 miljoen is, ironies genoeg weens versuimde sperdatums, nie by die gepubliseerde totaal ingesluit nie. Skenkings is natuurlik nie 'n verkiesingsuitslag nie. Maar mense met geld wed ook op die toekoms, en dié syfers vertel iets van waar politieke energie tans lê.
Transformatiste se tweederdemeerderheid?
Onder talle van my dam se eende is dit 'n gewilde argument dat die ANC se verval eintlik min beteken. Tel die ANC, EFF en MK saam (die breë transformatiste) en ongeveer twee derdes van Suid-Afrika bly glo binne dieselfde ideologiese kamp.
Maar die gewaande tweederdemeerderheid van die transformatiste hou gelukkig al minder stand teen die feite. Die Social Research Foundation se jongste nasionale peiling plaas die ANC op 34%, MK op 15% en die EFF op 7%. Saam is dit 56%, nie twee derdes nie. Die DA staan op 27%. Dieselfde algemene patroon kom deurlopend in die DA se interne peilings na vore. Die gesamentlike transformatiste sit gemaklik onder 60%.
Soos ek van tevore geskryf het is die belangrikste vraag dus nie meer óf die politieke orde verander nie. Dit het verander. Die vraag is wat die nuwe orde gaan wees.
Gaan Suid-Afrika ná drie dekades van transformatisme bloot 'n nuwe allesomvattende ideologie kies? Gaan ons die Weste se eindelose kultuuroorloë invoer en elke openbare vraag omskep in 'n stryd oor identiteit, ras, geslag, geskiedenis en ideologiese suiwerheid? Of kan die post-ANC-era iets merkwaardig meer pragmaties wees?
'n Politiek wat minder belangstel in groot teorieë oor die herskepping van die samelewing en meer fokus op die basiese goed laat werk. Gaan ons fokus op die treine wat betyds loop sodat ons dalk oor 'n dekade kan begin dink aan nuwe sneltreine wat regtig gebou word? Dat ons nou begin misdadigers vang sodat ons oor 'n dekade 'n samelewing van wet en orde het waar ekonomiese geleentheid die omgewing waar misdaad broei kan versmoor?
Lande soos Singapoer het hul ekonomiese lot verander deur te begin met die basics. Ons sien plaaslik hoe 'n fokus op basiese dienslewering 'n verskil maak daar waar die ANC nie regeer nie. Om die basiese dinge uiters goed te doen, het uiteindelik in lande soos Singapoer, buitengewone dinge moontlik gemaak.
Die ANC het vir dertig jaar probeer om Suid-Afrika te transformeer. En drie dekades se ideologiese verstarring het Suid-Afrika duur te staan gekom. As ons vir die volgende 30 jaar daarop fokus op die basics reg kry en ons politici daarvoor aanspreeklik hou gaan ons meer transformasie sien as wat ons ooit kon verbeel.
Die afgelope week op OntLaer het vier bydraes elk vanuit 'n ander hoek aan juis hierdie vraag geraak: wat moet die post-ANC-era vervang, en op watter beginsels moet die nuwe politieke orde gebou word?
Piet du Plessis vra wat 'n verswakkende ANC verdien: pragmatiese tegemoetkoming of beginselvaste weerstand. Hy waarsku dat die ANC se verlies aan hegemonie nie noodwendig beteken dat sy ideologiese projek verdwyn het nie, en verwerp die gedagte dat korrupsie bloot ter wille van ekonomiese pragmatisme oor die hoof gesien moet word. Die vraag is uiteindelik hoe 'n nuwe orde gebou word sonder om die mislukkings van die verlede saam te dra.
Eugene Brink kyk na die ANC se nuwe munisipale manifes en vra waarom die ANC se nuwe beloftes geglo moet word wanneer drie dekades se rekord reeds beskikbaar is? Sy toets vir die nuwe era post-ANC-era is verfrissend eenvoudig en sluit aan by my hoop vir 'n meer pragmatiese uitkomsgebaseerde politiek.
Leandrè Steenberg beskryf die ekonomiese keuse in hierdie verkiesing eenvoudig: mandjie-mentaliteit teenoor groei-mentaliteit. Die eerste sien die ekonomie as 'n vaste hoeveelheid vrugte wat deur die staat verdeel moet word en die tweede vra hoe ons meer vrugte laat groei. Die ANC en sy ideologiese bondgenote se duidelike voorkeur vir die eersgenoemde is ongetwyfeld wat tot ons huidige vervallende toestand gelei het.
En uit die pen van Koos Malan vra my oud-skripsieleier die vraag in 'n veel groter wêreldhistoriese konteks. Teenoor Fukuyama se droom van een universele liberale eindbestemming stel hy Huntington se wêreld van blywende beskawingsverskille. Malan waarsku spesifiek teen universalistiese ideologieë wat pluraliteit probeer oplos in een politieke waarheid. Vir Suid-Afrika se nuwe era is die implikasie interessant. Dalk moet ons minder obsessief wees om almal volgens 'n ideologiese formule te herskep, en beter leer saamleef met werklike verskil.
En dan is daar Hilde Kruger. Ek het manhaftig probeer om haar lekker stuk oor Airlink se laagvlieënde bemarkingsvernuf en Suid-Afrikaanse humor by my post-ANC-teorie in te forseer. Ek kon nie. Party dinge hoef gelukkig ook nie deur 'n politieke ideologiese raamwerk verklaar te word nie. Soms vlieg twee vliegtuie bitter laag oor 'n rugbystadion, die internet verloor sy kop en Suid-Afrikaners maak grappies. Lees Hilde se heerlike ontleding van hoe Airlink daarin geslaag het om laag te vlieg en sy handelsmerk hoog te laat vlieg.
Go Bokke!
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















Puik, Daniël, jy slaan die spyker op sy kop. Ons is op die vooraand van 'n groter waterskeidingsmoment as tydends die 1994-oorgangmoment. Die moontlikheid van massiewe onstabiliteit is 'n ongemaklike werklikheid om baie ernstig oor te dink.