In 'n onlangse ope brief, gepubliseer op Netwerk24, verwerp 'n groep van 40 Afrikaners die “narratief waarin Afrikaners as slagoffers van rassistiese vervolging in postapartheid-Suid-Afrika uitgebeeld word”. Dié “narratief”, lui hulle, bepaald volgens die ope brief “randgroepe”, “verdraai die werklikhede in Suid-Afrika” en “minimaliseer 'n komplekse maatskaplike konteks”.
Vir die gemiddelde leser is dit ongetwyfeld 'n sterk normatiewe ope brief. So sterk dat die ANC die ope brief kort na publikasie verwelkom. Ek is wel nie seker of hierdie die eenderse vere is waarna die 40 openbare figure op soek was nie. Tesame met die kritiek wat regstreeks aan die Solidariteit Beweging en AfriForum by name gerig word, bevat die brief darem ook die nugtere erkenning dat Suid-Afrika “deur ernstige uitdagings in die gesig gestaar” word. Die brief het opslae gemaak en is op radio, TV en in die meningsblaaie (beide Engels en Afrikaans) bespreek. En nou sit selfs ek die gesprek voort met my mening oor wat die brief reg kry, waar dit die pot mis sit en of die soort brief enigsins help.
Om met 'n algemene indruk te begin. Die brief herinner vir my aan die #NotAllMen-reaksie op die #MenAreTrash-veldtog. Die groep Afrikaner figure wil vir die wêreld duidelik maak dat #NieAlleAfrikaners glo #AfrikanersIsSlagoffers nie. Dit het ook dieselfde energie as die #AllLivesMatter-reaksie op #BlackLivesMatter.
Dit poog om op 'n morele vlak afstand te doen van 'n groepering waarmee hierdie groep (die 40 ondertekenaars) nie saam stem nie. Ek is wel nie seker of hierdie ironie vir die ondertekenaars duidelik is nie.
Wat die ope brief mis
Daar is myns insiens twee hoof slaggate waarin die brief en sy ondertekenaars trap.
Eerstens, die brief gooi graag modder, maar nie met die verwagte besonderhede nie. Dit is moeilik om komplekse maatskaplik-politieke en kulturele gesprekke binne die beperkte formaat van hoofstroom-meningsblaaie te voer. Sulke platforms het immers streng woordperke om by die ongeveer 800-woord aandagspan van die gemiddelde leser (duidelik nie die gemiddelde OntLaer leser nie) te hou. Wanneer daar boonop meer as 40 ondertekenaars betrokke is, is dit onvermydelik dat die teks deur verskeie weergawes en kompromieë gaan. Die uiteinde is dikwels 'n stuk wat meer op konsensus as op helderheid as eindproduk fokus weens oorbepeinsing.
Die 17de-eeuse Franse filosoof Blaise Pascal het immers spottend geskryf dat hy jammer is dat sy brief só lank is, hy het nie genoeg tyd gehad om 'n kort een te skryf nie. In hierdie geval lyk dit eerder asof daar te veel tyd aan verkorting bestee is, wat tot gevolg het dat baie van die stellings wat die brief maak ongestaaf blyk. Die brief swyg byvoorbeeld oor watter werklikhede deur hierdie “randgroepe” verdraai word. Die ope brief bespreek nie daardie besonderhede nie.
Daar is ook 'n ooglopende teenstrydigheid in die brief. Dit ontken dat iemand namens “Afrikaners” kan praat, maar praat self juis as “Afrikaners” (40 uit die 44 wat Charlize Theron glo bestaan). Toegegee, die skrywers maak nie aanspraak op 'n mandaat nie, maar bied die ope brief aan as 'n morele appèl. Tog trap die brief terselfdertyd in die strooipop-slaggat deur te beweer dat organisasies soos AfriForum en Solidariteit voorgee om namens alle Afrikaners te praat. Dit is eenvoudig onwaar. Die organisasies het nog nooit aangedring dat hulle namens alle Afrikaners praat nie.
Beide Solidariteit en AfriForum sê uitdruklik dat hulle namens hul lede optree, tans sowat 300 000 tot 500 000 mense afhangende hoe die syfers bekyk word. En dis heel billik dat hulle namens hierdie lede en ondersteuners mag praat. As daardie paar honderdduisend nie gehou het van wat hul organisasies sê of doen nie, sou hulle lankal opgehou het om hul maandelikse bydraes te betaal. Dit is moeilik om te argumenteer dat byvoorbeeld AfriForum nie 'n baie bepaalde demokratiese mandaat van sy lede het nie, een wat dan maandeliks hernu word.
Die brief se tweede slaggat is die aanname dat alle verwysing na wit of Afrikaner-lyding of uitdagings noodwendig ekstremistiese of rassistiese agendas voed. Dit is 'n valse tweedeling. Dit erken nie dat sekere Afrikaner- of plattelandse gemeenskappe wél unieke veiligheids- en strukturele probleme ervaar nie. Dit ignoreer ook die feit dat objektief gesproke bestaan formele rasse-diskriminasie teen wit Suid-Afrikaners. Dis 'n blote feit. Of dit nou billike diskriminasie genoem word of nie, dit bly diskriminasie, ongeag hoe dit geregverdig of verduidelik word.
Gevolglik, alhoewel die brief se retoriek insluitend klink deur aan te voer dat “[die ondertekenaars] deel [is] van 'n diverse, ontwikkelende nasie” is die brief in praktyk uitsluitend. Dit skep die indruk dat Afrikaners wat beswaar maak teen kwessies soos swart ekonomiese bemagtiging, moedertaalonderrig wat op universiteite onder beleg is en die algehele uitnemendheid van Afrikaanse skole wat onder die vaandel van gelykheid en regstelling saam afgetrek word as deel van gelykmaking, nie hieroor behoort te kla nie en dit maar net op die ken moet vat. Asof slegs daardie kwessies wat alle Suid-Afrikaners regstreeks benadeel, die kwessies is wat bespreek mag word. Die ironie, natuurlik, is dat die soort identiteitspolitiek wat op spesifieke groepe se uitdagings fokus, soos dié wat AfriForum en Solidariteit aan die groot klok hang, breedweg strook met die ideologiese identiteitspolitieke grondslag van die meeste van die 40 ondertekenaars.
En tog skep die brief die indruk dat die enigste geldige Afrikaner die post-nasionalistiese, stedelike, liberaal-progressiewe Afrikaner is. Een wat sy geskiedenis met 'n mate van skaamte dra, sy geloof met versigtigheid bely, en sy identiteit met aanhalingstekens spel.
Wat die ope brief reg het
Dit gesê, ek deel die ope brief se sentiment wat die slagofferskapmentaliteit onder sommige Afrikaners verwerp. Ek dink egter net nie die Solidariteit Beweging beskou hulself as slagoffers nie. Maar daar is beslis 'n deel van die Afrikanergemeenskap wat hul politieke invloed, kultuurkapitaal en vryheid as Afrikaners onderskat, en wie se retoriek van selfbejammering niks bydra tot 'n meer waardige openbare diskoers nie.
Die slagofferskapmentaliteit word weerspieël in 'n nie-verteenwoordigende dog interessante meningspeiling op Netwerk24 na afloop van die ope brief. Die peiling vra of mense die ope brief sal onderteken waarin 'n groep Afrikaners dit verwerp dat Afrikaners as slagoffers van rassistiese vervolging in postapartheid uitgebeeld word. Die pluraliteit van stemme, 41%, het geantwoord dat hulle nie sal onderteken nie want Afrikaners is “beslis slagoffers”. Dit is uit die aard van die saak geen empiriese bewysstuk nie, maar dit strook tog met die idee dat 'n kommerwekkende hoeveelheid Afrikaners hierdie slagofferskap byna met trots dra.
Die voortdurende eensydigde tipering van Afrikaners as “onder beleg” sonder die erkenning dat alle Suid-Afrikaners gebuk gaan onder die staatsverval in die land, is 'n oneerlike beskouing van die land. Die soort selfbejammering raak ook maklik selfvervullend. Maar waar die ondertekenaars sommige Afrikaners se slagofferskap aanvat, vergeet hulle dat alle Afrikaners se griewe nie noodwendig 'n slagoffer-narratief impliseer nie. 'n Mens kan diskriminasie ervaar sonder om 'n martelaar te wees. Soos vroeër genoem bly dit 'n feit dat daar formele, wetlike rassediskriminasie teen wit Suid-Afrikaners bestaan, selfs al word dit “billike diskriminasie” genoem. Dit is nie 'n ideologiese stelling nie, bloot 'n erkenning van die wetgewende praktyk.
In dieselfde asem is dit 'n feit dat Afrikaners steeds groot spraakvryheid geniet. Ons kan almal die beleide van rassediskriminasie, swak bestuur, of die afgelope drie dekades se mislukking kritiseer. Dit gebeur trouens in die blaaie van Netwerk24, op programme soos KykNet en RSG, sosiale media en op Afrikaanse organisasies en individue se eie platforms. Suid-Afrika geniet 'n merkwaardige vlak van spraakvryheid in vergelyking met baie ander lande. Kroniese sosiale media gebruikers in Suid-Afrika geniet veral om luidkeels en ongedeerd te kla oor hoe min spraakvryheid daar in die land is, maar in werklikheid is Suid-Afrika een van die voorste lande in die wêreld wanneer dit by die vryheid van uitdrukking kom.
Trouens, Afrikaners is só vry dat hulle met buitelandse regerings kan vergader, die land se regering openlik kan kritiseer, en dan sonder enige intimidasie of vervolging weer by OR Tambo se aankomssaal deurstap. Selfs die land se luidste kritici, wat lede van die 40 ope brief-ondertekenaars, die Solidariteit Beweging en ander insluit, kan krities teenoor ons regering en teenoor mekaar wees.
Die laaste spyker wat hierdie ope brief ook lofwaardig op die kop slaan is dat dit korrek en regverdigbaar standpunt inneem teen die beweerde beleid van die VSA wat spesiale asielstatus slegs vir wit Suid-Afrikaners op grond van ras wil toeken. Die ondertekenaars voer korrek aan dat kwesbaarheid die bepalende faktor behoort te wees. Hierdie is ook die soort nie-rassigheid wat alle Suid-Afrikaners behoort voort te staan, soos dit deur ons Grondwet belowe word, en hoekom beleide soos swart ekonomiese bemagtiging en rasgebaseerde regstellende aksie verwerp behoort te word.
Die gety draai
Ter afsluiting, hierdie debakel is volgens my 'n tipiese geval van twee dinge wat terselfdertyd waar kan wees.
Ja, daar is Afrikaners wat hulself onregverdig as slagoffers van demografie en geskiedenis sien, en hul kultuuridentiteit laat versmoor deur selfbejammering. Maar dit is ewe waar dat daar wél formele diskriminasie teen wit Suid-Afrikaners bestaan, daar anti-Afrikaanse sentiment onder sommige mense bestaan en Afrikaners (net soos alle Suid-Afrikaners) algehele agteruitgang in die land ervaar en daarmee ontevrede is.
Ek glo wel die gety teen die diskriminerende beleide van swart ekonomiese bemagtiging, aanstellingskwotas en rasgebaseerde staatskontraktering het duidelik begin draai. Al meer Suid-Afrikaners, van alle agtergronde, besef dat hierdie beleid in praktyk 'n klein politieke en sake-elite bevoordeel het, sonder om die lewens van gewone mense te verbeter. Die meerderheid ervaar vandag dat rasgebaseerde beleid hul kans op werk, groei en selfstandigheid eerder beperk as bevorder. Die hoë koors van die #AfrikaansMustFall-era het ook bedaar en die ekstreme anti-Afrikaanse politieke groeperings soos die EFF verloor steun.
Om dus een waarheid te erken, beteken nie dat 'n ander ontken moet word nie. Suid-Afrika behoort eerlike gesprekke oor alle griewe van groepe te kan voer, oor geskiedkundige verantwoordelikheid én oor huidige onreg. Vir die meeste Suid-Afrikaners gaan dit nie oor ras nie, maar oor oorlewing, oor werk, oor elektrisiteit en oor veiligheid. Daardie werklikhede is veel groter as enige groepsetiket.
As daar iets bemoedigend is aan hierdie hele debat wat deur die ope brief ontketen is, is dit juis dat dit nogsteeds woed. 'n Gemeenskap wat ophou om oor sy plek in die samelewing te stry, het reeds besluit dat hy geen plek in daardie samelewing het nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Goeie artikel Daniël.
Een ding wat my egter opval (nie spesifiek in jou artikel nie, maar in die breër debat), is die klaarblyklike aandringing van nie-Amerikaners dat hulle vir Amerika kan voorskryf watter immigrasiebeleid Amerika moet bedryf.
Israel het 'n pro-joodse immigrasiebeleid.
Indië versnel burgerskap vir nie-Moslem minderhede van Afghanistan, Bangladesj en Pakistan, en bevoordeel spesifieke geloofidentiteite.
In Duitsland gee die “Aussiedler”-wet etniese Duitsers van Oos-Europa voorkeur vir immigrasie en burgerskap.
Japan en Suid-Korea gee soms voorkeur aan etniese Japannese/Koreane in die diaspora vir terugkeer-migrasie.
Dit is 'n moderne idee dat 'n staat glad nie moet onderskei tussen kultuur of etnisiteit as dit by immigrasiebeleid kom nie, en die tyding het beslissend daarteen gedraai in Europa en Amerika.
In Europa klou die elites en establishment nog aan die ou orde met sy platitudes, maar die wending op voetsoolvlak is nie meer ignoreerbaar nie.
Beteken dit dat ek dink Afrikaners is werklik vlugtelinge? Dis debatteerbaar en ek sou eerder sê nee, maar dat Afrikaners 'n kwesbare minderheid is, is myns insiens 'n onbetwisbare feit.
Wat 'n lekker lees Daniël!
Waarmee ek volhartig saam stem is dat die debat oor wie mag en nie mag vir die Afrikaner praat defentief ons identiteit in die werklike Nuwe Suid-Afrika skep. Hoe opwindend om te dink dat die kultuur by kruispad is. Of die kultuur gaan terug keer na Nationalistiese gewoontes of werklik opnuut word is waarna ek uitsien.