Drie lesse vir Suid-Afrika uit Mamdani se verkiesing
Pryse, positiewe politiek en die perdeskoen-teorie.
Beide die feesviering en histerie in sommige Suid-Afrikaanse kringe oor Zohran Mamdani se verkiesingsoorwinning in New York is eintlik redelik vreemd. Ons leef al dertig jaar (trouens waarskynlik al langer) saam met die soort derdewêreldsdenke oftewel “thirdworldism” wat Mamdani voorhou. Dit is die soort politiek wat die politieke omgewing, inderdaad die wêreld, in onderdrukkers en onderdruktes verdeel en dan teen daardie agtergrond beleid voorstel.
Die rekord van mislukking op eie bodem van dié soort ideologie (of vir sy plaaslike aanhangers, die belowendheid daarvan) wat Mamdani voorstaan is vir ons bekend. Mamdani is dalk 'n redelike afwyking binne die Amerikaanse politiek, maar in Suid-Afrikaanse terme is hy en dit wat hy voorstaan redelik standaard. Mamdani is nie 'n ortodokse Marxis nie. Hy praat die taal van dekoloniale moraliteit wat akademiese en voetsoolvlaktaal vermeng. Vreemd vir Amerikaanse ore, wat nie gewoond is aan die soort taal wat tydens die hooggety van die fallist-beweging volop op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse was nie. Mamdani is dus vir Amerikaners, en Suid-Afrikaners wat te veel aanlyn is en binne die stroomafkultuur van die VSA leef, 'n vreemde soort Islamitiese sosialis wat moeilik is om in 'n ideologiese boksie te plaas. Dit word ook weerspieël in die feit dat Mamdani bykans 62% van die steun van persone wat buite die VSA gebore is ontvang het. Hy het ook oorweldigend die stemme gewerf van mense wat minder as 10 jaar lank in New York woon.
Op tuisbodem gekweek
Die Suid-Afrikaanse geur aan Mamdani se politiek is nie verbasend nie. Hy is in Kampala gebore, het as kind saam na Kaapstad verhuis toe sy pa aan Ikeys klasgegee het, het skool geloop in Kaapstad, en is op sewe-jarige ouderdom New York toe. Sy pa, Mahmood Mamdani, is 'n Ugandese navorser wat al jare lank oor kolonialisme en dekolonisering skryf en by UCT en Columbia gewerk het. Sy ma is Mira Nair, die bekroonde Indiese filmmaker. Mamdani kom dus uit 'n kosmopolitiese huishouding met Afrikawaardes en Indiese geheue. Twee streke wat verdiep is in teenkoloniale denke.
So, as ons mooi daaroor dink is Mamdani se verkiesingsbeloftes nie juis vreeslik anders as wat ons in Suid-Afrikaanse politiek aanskou nie. Dit is tipies die praatkultuur van Suid-Afrikaanse politiek. 'n Klomp groot beloftes wat gemaak word. Politiek word steeds oorheers deur die grootste beloftes en die meerderheid glo dat as 'n belofte drie maal herhaal word gaan dit toorkunstig verskyn, amper soos Betelgeuse in die 1988 rolprent Beetlejuice.
Dit gesê, alhoewel daar baie ideologiese ooreenstemming is tussen plaaslike politiek en die politiek van Mamdani, is ek altyd huiwerig om lesse uit Westerse politiek vir Suid-Afrika te neem. Die ander lande se politiek is dikwels net te onversoenbaar binne ons eie konteks. Maar, daar is tog 'n paar lesse te leer uit Mamdani se verkiesingstryd vir die Suid-Afrikaanse politiek.
Les 1: Pryse
Die ekonomiese ontbering wat wêreldwyd ervaar word is nie teoreties nie. Vir jong mense in groot stede is koopkrag besonders swak. Huurkoste en ander lewensuitgawes vreet salarisse op, eiendom is onbekostigbaar en paartjies stel kinders kry uit weens hierdie faktore, onder andere.
Te midde hierdie omstandighede is die belofte om byvoorbeeld huurpryse te bevries, soos Mamdani voorstel, vir talle mense belowend, ongeag hoe nadelig dit in die werklikheid is. Die punt is dat Mamdani 'n werklike probleem identifiseer, maar die verkeerde oplossing vir die probleem bied. Die soort fokus op ekonomiese probleme is dieselfde politieke retorieke wat Donald Trump in beide 2016 en 2024 suksesvol gemaak het. In 2016 het hy met 'n mengsel van ekonomiese ontevredenheid, nywerheidsnostalgie en anti-elite-woede 'n politieke koor gevind, en in 2024 het hy gefokus op die invloed van ongebreidelde immigrasie, hoë lewenskostes en 'n breër gevoel dat reg en orde weggekalwe word. Alles kwessies wat direk spreek tot Jan Alleman (of dalk eerder Joe The Plumber) se geleefde realiteite.
Trouens, ons sien 'n soortgelyke voorbeeld in Argentinië met President Javier Milei. Milei het dieselfde alledaagse probleme raakgesien, sy markhervormings in verstaanbare taal verkoop, en toe die vervelige tegniese werk gedoen. Ná die afskaffing van huurregulering het die aanbod van huureiendomme in die Argentynse hoofstad Buenos Aires merkbaar herstel. Sowel nominale as reële huurpryse het ten minste op die korttermyn afwaarts beweeg, juis omdat eens onverhuurde eiendomme die mark binnegestroom het. Dit is voorlopige, maar betekenisvolle uitkomste.
Vryemark voorstanders, geskiedkundig en grootliks steeds vandag, is klakkeloos en toondoof wanneer hulle vryheidsgesinde en vryemark idees probeer verduidelik en verkoop. Dit is dikwels nie aanloklik vir kiesers nie, al het dit 'n bewese suksesrekord. Die Kanadese politieke ontleder Susan Delacourt het in haar 2013 boek Shopping for Votes: How Politicians Choose Us and We Choose Them geskryf:
“Politieke bemarking speel op mense se emosies, nie hul denke nie. Dit werk met die aanname dat deur die herhaling van 'n slagspreuk, al is dit onwaar, 'n idee vasgepen word in die geheue van 'n onwetende of onverskillige publiek. Dit veronderstel dat burgers altyd op grond van hul individuele begeertes sal kies, en nie op grond van die samelewing se behoeftes nie. Dit verdeel die land in nismarkte en laat vaar die harde politieke werk om 'n breë konsensus—of 'n nasionale visie—saam te weef.”
Of ons dus daarvan hou of nie, 'n politikus se eerste taak is om deur verkies te word 'n mandaat te kry en dan hul beleid te implementeer. Jy moet dus eers jou beleid aanloklik maak om enige kans te hê om dit uit te voer. Die les om uit Mamdani se verkiesingstryd te leer is dat dit nodig is om tot kwessies te spreek wat kiesers regstreeks raak, met oplossingsvoorstelle wat vir hulle verstaanbaar is.
Die les om uit Milei te neem is dat vryemarkbeginsels ook aanloklik verkoop kan word en die bykomende voordeel het dat indien dit die nodige mandaat gegee en toegepas word, dit tot werklike verandering en verbetering lei. 'n Mens hoef dus nie links te draai om oplossings tot bekostigbaarheid en ander ekonomiese kwessies onder die kiesers gewild te maak nie.
Les 2: Positiewe politiek
Mamdani se politiek is 'n vreemde mengsel van griefgebaseerde politiek aan die een kant, met 'n blink optimisme aan die ander. Dit herinner baie aan Barack Obama se veldtog van 2008. Die woede oor onreg is daar, maar die optimistiese oplossings word met selfvertroue voorgehou (of hulle nou realisties of werklik voordelig is of nie).
Mamdani se veldtog was onmiskenbaar positief. Hy was meedoënloos optimisties, altyd met 'n glimlag, dalk selfs 'n bietjie té veel, en hy het selfs met mense wat met hom verskil het, vriendelik probeer gesels. In hierdie post-progressiewe era, waar populistiese partye van verskillende ideologiese kleure en geure 'n groter greep kry, verskuif die fokus dikwels na die griewe van uiteenlopende kiesers, van verarmde werkers en die belastingmoeë middelklas tot vervreemde stedelinge. Maar populiste is oor die algemeen taamlik negatief en hulle skets politiek dikwels as 'n nulsom-stryd en as “ons” teen “hulle”. Populiste is dikwels bereid om sekere groepe doelbewus uit hul verkiesingskoalisie te sluit. Maar internasionale ervaring dui daarop dat 'n positiewe boodskap kan werk. Wanneer hoop konkreet gemaak word met eenvoudige, meetbare stappe en 'n tydlyn, sal kiesers luister selfs al verskil hulle oor ideologie.
Soos Suid-Afrikaanse politiek die probleme van wydverspreide staatsverval asook die blywende nalatenskap van apartheid gaan moet aanspreek namate die ANC se greep verswak, gaan die balanseertoertjie tussen die erkenning van probleme en die optimisme van oplossings belangrik wees.
Partye wat eerlik gaan wees oor wat hulle binne een termyn kan bereik maar steeds genoeg belowe om kiesers te lok gaan waarskynlik beloon word.
Les 3: Die Perdeskoen-teorie
Die derde les is dat politiek besig is om te verander, trouens, dit verander nog altyd. Met die verloop van tyd raak ons los van die Koue Oorlog se ideologiese kaart. Die netjiese grense tussen links en regs verduidelik al hoe minder van wat mense werklik pla.
Die politieke perdeskoen-teorie wat vir lank as 'n spotbeeld afgemaak is, begin skielik realiteit te word. Politieke groeperings wat vir dekades as teenoorgesteldes uitgebeeld is begin dieselfde maatskaplike en ekonomiese probleme uit te wys. Kwessies soos lewenskostes, oligargieë wat pryse beheer, onverantwoordbare burokrasieë en 'n politieke klas wat sy eie gemak eerste stel. Die politieke Venn-diagramme lyk dus nie meer soos twee skewe halwe mane wat mekaar vermy nie.
Die perdeskoen-teorie is 'n gunsteling spotbeeld van diegene in die sentrum, wat graag uitwys hoe die uiterstes aan die politieke spektrum die staat vir politieke gewin misbruik asof net húlle staatsmag gebruik om hul eie belange te verstewig, terwyl die sogenaamde sentrum dié kuns in werklikheid vervolmaak het. In die hoofstroom is dit redelik mode om elke demokratiese kwaal aan “polarisasie” toe te skryf. Van meningstukke tot seminare in politieke wetenskap hoor 'n mens dat “gematigdheid” die ontbrekende bestanddeel is. Maar gematigdheid is steriel wanneer dit juis die burokratiese sentrum is wat faal.
Daardie vakuum is presies wat die sogenaamde “uiterstes” aanvoel, hoe grof ook al. Die links-regsspektrum, of dit nou ‘n reguit lyn of 'n boog is, is 'n verarmde kaart van die politieke lewe. 'n Beter metafoor is dalk taalkundig. Politiek wissel tussen werkwoorde, die dinge wat mense doen en voel (organiseer, betoog, besnoei, bou koalisies), en selfstandige naamwoorde, die dinge wat instand hou (instellings, wetgewing, begrotings, kontrakte, skikkings). Die goeie perdeskoen vertaal werkwoorde in selfstandige naamwoorde, energie in hervorming, voordat dit uiteindelik verhard in die volgende aanvaarde dogma.
Hierdie “gedeelde” sienings van die sogenaamde “uiterstes” is nie bloot toevalle tussen twee onversoenbare kampe nie. Dit wys hoe kunsmatig dit is om mense so te groepeer. Meeste burgers is nie eenvoudig “verregs” of “verlinks” nie. Hulle standpunte strek oor die spektrum, progressief oor sommige sake, konserwatief oor ander en pragmaties oor die meeste.
Ons hou by hierdie kategorieë omdat dit die politieke- en kommentatorklas vlei, dié wat 'n netjiese morele meetkunde verkies met hulself veilig in die deugsame gematigde middel. Dit vereenvoudig 'n ingewikkelde werklikheid tot 'n valse tweedeling van redelikheid teenoor ekstremisme of orde teenoor chaos. Maar hierdie boksies raak al hoe meer los van die politieke werklikheid. Die werklike skeidslyne loop nie meer tussen “links” en “regs” nie, maar tussen dié wat belange het by die instandhouding van die huidige stelsel en dié wat hul geloof daarin verloor het.
Die ware perdeskoen lê dus nie tussen ideologiese pole nie, maar tussen gewone burgers wat lank as teenpole misgekyk is, en wat nou 'n gedeelde ontevredenheid met dieselfde mislukkende orde herontdek.
Mamdani se verkiesing leer vir Suid-Afrikaanse politici dus hierdie drie lesse. As Suid-Afrikaanse partye hierdie drie lesse ernstig opneem, kan hulle die woede en die hoop van gewone mense vertaal in beleid wat die ekonomie en dienslewering herstel. Die vraag is net of ons politieke klas nog die moed het om minder te belowe en meer te lewer. Indien hulle nie doen nie, bly die vraag oor of hulle dienooreenkomstig by die stembus gestraf gaan word.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Ek dink mense oorskat die impak wat Mamdani gaan hê. New York (trouens klomp stede, state en lande) het al sosialiste verkies en dit was nooit so noodlottig soos baie voorspel het nie. Net soos die sogenaamde "swamp" dit moeilik maak vir Republikeine om te hervorm gaan dit dit vir Mamdani moeilik maak.
Dit gaan uit die aard van die saak nie great wees vir NY nie maar nie die einde van die wêreld nie.