DinkWeer Donderdag | Hoort politiek in die reg? En nog terugblikke
Oor ons inhoud van 1 Augustus 2025.
Vandag gaan ek die vierde muur so 'n bietjie breek (as dit die regte metafoor is) en regstreeks na die dekprent verwys.
Die reg, het Aristoteles aangevoer, kry lewe weens die Rede, en redelikheidsgeleide regverdiging is waarmee die howe veronderstel is om hul besig te hou. Die regbank en die regstelsel behoort botsende belange, omsoom deur maatskaplike omstandighede soos deur billikheidsoorwegings vereis, te beslis en beslissings verby die politieke en ideologiese magspele van die dag te stuur.
Daarom dat die dekprent vir my in die besonder opvallend is.
Ek het 'n kunsmatige intelligensieprogram gevra om iets te skep wat die godin van geregtigheid - Justitia - se benarde posisie in die Suid-Afrikaanse konteks uitbeeld. Die dekprent het oomblikke later opgeduik, en pleks van 'n dramaties uitgebeelde godin wat amper soos die een in die ou spotprent van Zapiro deur grillerige politieke struikrowers vasgepen word, word geregtigheid uitgebeeld as 'n soort pilaar, waar rondom die mededingende sektes van die Suid-Afrikaanse politieke elite mekaar met aggressie bejeën. Dit is ook opvallend, as jy na haar swaard kyk - die simbool van die gevolge van regsbeslissings, hetsy strafregtelik of sivielregtelik - dat die swaard amper ongesiens subtiel van haar hand los raak en skynbaar grond toe begin val.
Dit herinner my aan kollega Paul Maritz se artikel van sowat 3 weke terug oor die risiko’s van 'n komende (indien nie heersende nie) aanspreeklikheidskrisis in Suid-Afrika.
Daar is regsprosesse en kommissies van ondersoek en verslae waarvoor die belastingrekening bly ophoop, maar daar is nie gevolgebestuur oftewel gewone goeie ou strafuitvoering nie.
Daar is ook inkonsekwenthede en skynbare teenstrydighede wat opduik wanneer die politieke gedartel te veel raak vir die Dame van Geregtigheid. Daniël Eloff het reeds in een van OntLaer se eerste artikels aangevoer hoe ongemaklik die “Kill the Boer” bevindings en die Grondwethof se weiering om die saak verder aan te hoor, ons behoort te stem. Net eergister, in die volbankappèl in Kunene v Malema, beslis regters Wilson, Mfenyana en waarnemende regter Wentzel dat Kenny Kunene van die Patriotic Alliance se herhaalde verwysings na Julius Malema as 'n “kakkerlak” op haatspraak neerkom, vir doeleindes van die Gelykheidswet 4 van 2000. Hoewel ek nog my kop rondom die hof se beslissing probeer kry en die redenasies poog verstaan, kry ek die idee dat die redelike waarnemertoets in ons reg oor haatspraak 'n baie vreemde uitwerking het: een ou se kakkerlak is skynbaar erger as 'n ander ou se vermoorde landbouer.
Ek is nie seker of selfs die veronderstelde alomteenwoordige CIA kop of stert hiervan uitmaak nie. Hul grootbase in die Withuis het ook maar kopgekrap en ongemaklike vragies gevra oor die bokspronge in logika waarvoor die regerende elite bekend is.
Besorgenis oor geregtigheid en die lugspieëlings daarvan het laasweek ook uitgesteek in die artikel deur Dr. Dirk Hermann van Solidariteit oor die Flysafair vlieënierstaking, wat intussen geëindig het, met geringe aanpassings vir die loodse se naweekvliegprogramme.
Vir my was die spotprenttekenaar Zapiro se weergawe van die staking aanduidend van 'n dubbele standaard onder sekere meningsvormer-elites wanneer maatskaplike geregtigheid vir werkers ter sprake kom: Met onwettige mynwerkers is die empatie en binnevet van die boud mateloos; is dit loodse wat vra vir langverwagte post-COVID verhogings en meer menslike werksure oor naweke, word slagofferblaam toegepas. Wees beter, Zaps en kie!
Louis Boshoff bring 'n glimlag na jou bakkies met sy artikel oor die rassebewerings wat hang oor mediesefondsondersoeke na bedrog deur dokters. Sy styl is om 'n punt te maak met die tong in die kies, sonder om heeltemal sarkasties te raak.
'n Humoristiese soort retoriek, wat die kernboodskap dra dat korrelasie nie noodwendig dui op rassistiese algoritmes, duistere diskriminerende motiewe en kousale verbande ondertussen nie. As ons reg en geregtigheid wil hê, kan ons nie die godin vra om allerlei dun aannames, korrelasies en bewerings oor sistemiese diskriminasie eers te aanvaar alvorens sy na die res van die getuienis kyk nie.
Ten laaste is daar die gasskrywersartikel deur Phelelani Mkhize, wat ons 'n blik op die ekonomiese stelsels in ons land se townships gee. Miskien is die townships se “kasi-nomics” 'n plek waar ons diknek politieke en sake-elites kan gaan leef en leer dat effektiewe en regverdiger uitkomste soms deur hegte gemeenskappe en onderlinge vertroue moontlik is, te midde van swaarkry en ontbering. As dit natuurlik in hul Gucci-broekspype steek.
Die reg en geregtigheid maak dalk staat op die rede, maar al te dikwels verdryf politieke en stoflike hebsug alle redelikheid uit die wandelgange van besluitneming.
Terwyl die godin verbete klou aan die weegskale van gesonde regsprosesse en wankelende toegang tot geregtigheid, is dit ons - die burgers - se werk om seker te maak dat die swaard van gevolgebestuur in haar hande teruggeplaas word.
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
"As dit natuurlik in hul Gucci-broekspype steek."
"een ou se kakkerlak is skynbaar erger as 'n ander ou se vermoorde landbouer."
Puik geskryf en lekker om te lees. Dankie.
Ek verwys na "een ou se kakkerlak is skynbaar erger as 'n ander ou se vermoorde landbouer."
Daar word landbouers ("boere") van alle rasse en etniese groeperinge in SA vermoor. 'n "Boer" is nie noodwendig 'n landbouer nie maar wit mense.