Dinkweer Donderdag | Lank lewe die leivoorbouer
Want sommige vloede laat hulle nie keer nie.
“Toe Noag strand teen Ararat,
Die Ark begin in puin raak,
Toe sê hy: ‘Aarde, maar dis nat!
Nou kan 'n mens weer tuin maak!Het ek nie met die Ark geswoeg,
Was ons ook in die pekel.
Aan water het ek nou genoeg ...
'n Lewenslange hekel.Kom, Sem en Gammie, maak nou gou
Vir Pa mooi reguit slootjies;
En Jaaf, my kind, kom plant jy nou
Vir Pa die wingerdlootjies.’Die kromhout groei, en Noag skink
Sy sap 'n bietjie later:
Daarin is sedert meer verdrink
As in die Vloed se water!”
- A.G. Visser - Nat en Sap (1927)
Soveel as wat hierdie gedig en sy kritiek in feestye relevant is, en so ironies as wat 'n gedig oor 'n vloed deur 'n digter met die van “Visser” ook mag wees, is nóg sap nóg vis die beweegrede vir die inleiding hierbo. Ek wil vanweek verder bou (oftewel verder grou) aan Visser se woorde: “Kom, Sem en Gammie, maak nou gou Vir Pa mooi reguit slootjies”. Ek dink Sem en Gam en slootgrouers van oraloor se tyd het weer gekom.
Bewustelik buig ek so effens aan Dinkweer Donderdag se doel - hierdie ruimte is geskep om die vorige week se inhoud nog 'n keer te herkou, en dalk die wyshede en intellektuele voedingstowwe wat met die eerste oogopslag verlore gegaan het met die tweede raakbytslag saam te neem, eerder as om dit onwetend in die e-rioolstelsel weg te spoel. Gemeet aan enige redelike maatstaf was verlede week se bydraes oudergewoonte puik, interessant, en uiteenlopend.
Daniël het stede se doel en plek uit 'n vars hoek (en met vars kritiek) ondersoek, en Frederik se uit- en inpak van 16 Desember het my 'n tweede keer laat lees. Lezli Edgar het oor Amerikaanse politiek geskryf, Dirk Hartford se teleskoop is op ongereguleerde rykdom ingestel, en Barend Wesseloo het as tema die Israel-Palestina konflik, en internasionale rolspelers se plek daarin, gekies. Met Tersia du Plessis se kritiek op die onderwysstelsel, en veral op assessering, en Johan Weideman se politieke analise van Bloemfonteinse voorstede is die week afgerond.
Afsonderlik is elkeen van hierdie artikels insiggewend en uniek. Maar wanneer hulle saamgevoeg word en as geheel aanskou, herkou, en saam met die bykans 300 ander OntLaer artikels van 2025 gevoeg word, dan kom 'n paar nuwe, groter verskynsels na vore. Een van hierdie verskynsels, en dit waarom alles na onder draai, is die onstuitbare en groterwordende vloed van inligting, en ons (nie net OntLaer nie, maar eintlik enige moderne mens) voortdurende poging om dit te begryp en te hanteer.
Ons het hierdie jaar herhaaldelik teruggekeer na vrae oor massamedia en massakommunikasie, en die gevolglike belangrikheid en rol van spraakvryheid en denkvryheid in die 21ste eeu. Wat aanvanklik 'n hipotese en voorkeur by my was, het soos die jaar rypgeword het net sterker en kwaaier geword: Vir botter of wors is daar geen keer aan inligting nie.
Die slegte idees en inhoud wat soms so direk teen ons hele grein ingaan sal uiteindelik 'n manier kry om die sensuurmure af te kraak en oop te breek. Die mees geskikte metafoor vir hierdie fenomeen is sekerlik dié van waterbestuur. Daar kom 'n punt wanneer die sterkste dam die vloed nie meer terug kan hou nie, wanneer die hoogste damwal deur die golf oortref sal word. Die uitgeslape leser dink sekerlik dat sluise hier ter sprake kom - die ou jakkals van sogenaamde hekwagterskap: Iemand wat êrens besluit watter inhoud kom deur, hoeveel kom deur, en wie durf dit inneem. Hekwagterskap is dan sekerlik maar niks anders nie as sagte sensuur, en ook hierdie sluisbestuur is duidelik vir die golwe van inligtingsmassas geen antwoord nie. Dit wat tydelik teruggehou kan word sal óf bo-oor vloei óf uiteindelik deur die krake bars en die damwal met geweld neervel. Damme kan, soos die mens al te dikwels moes leer, vernietigende kragte maar net ten dele inperk.
So hoe nou? As die doel van die goeie gemeenskap is om die ware, goeie, en skone na te jaag, hoe gemaak met die opdrifels uit die kring van spotters wat in die salf van eie gom rondswem en tussen die jong olyfboomplante rondom die goeie dis uitspruit?
Die ontwikkeling van aanlynmedia en die onstuitbaarheid van inligting loop al vir ten minste twee dekades hand-aan-hand. Sedert die vroeë dae van sosiale media (iewers tussen 2004 en 2008, afhangend van hoe streng jou ouers was) besef ons stadig maar seker dat ons nie groter en sterker inligtingsdamme nodig het nie, dan dat sluisbeheer omseil kan word, en omseil sal word. Ek dink dat hierdie benadering, waar ons leivore bou waarin “gevaarlike” vloedwater veilig of ten minste beheerbaar kan vloei, sentraal staan tot wat ons by OntLaer doen. In plaas daarvan om “slegte” idees hul platform te ontneem in die oortuiging dat hierdie “slegte” idees sal verdamp of tussen die sand in sal sak, maak dit mos baie meer sin om 'n kanaal te skep waarlangs hierdie idees kan vloei. Soms sal hierdie vloed gestop moet word, maar dit is juis in die leivoor, waar die grond vas is en waar die boer die land ken, waar teenstrome en afleidings die vernietiging kan beperk en bekamp. Om vol selfvertroue agter die betonwalle van eertydse damme te skuil, salig onbewus van die druk wat daarteen opbou, is nie net 'n gevaar vir die regeerder en sluisbestuurder nie, maar vir die ganse gemeenskap en omgewing, veral in tye van gietende stortreëns.
Natuurlik verskil smaak, mening, en oortuiging. Sommige inhoud, sekere woorde, bepaalde idees sal sommige lesers ontstel, maar alles om my bevestig vir my dat bestuur, nie onderdrukking nie, die taak is wat nou voor ons lê. In hierdie geval beteken bestuur dat ons die opbou en oorloop ernstig opneem, dat ons daarop reageer. Dat ons dit nie ignoreer en hoop dat dit verdamp, of glo dat ons damme sal hou nie. Die skone, die ware en die goeie help niemand as dit saam met die water weggewas het nie, en soos wat die mense van Mesopotamië op die harde manier moes leer, moet 'n mens soms luister as reën en vloed belowe word.
Die vloed is reeds hier. Sensuur is reeds dood. Lank lewe die leivoorbouer.
Nog DinkWeer Donderdag op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











