DinkWeer Donderdag | Groot Geraas vs. Stil Bouwerk
Terwyl daar gestry word oor wie namens wie praat, red bouers die land.
Die afgelope week het daar 'n handjievol uitsonderlike stukke op OntLaer verskyn.
Jean Oosthuizen skryf oor Afrikaners wat mekaar se sin vir identiteit op sosiale media opeis en betwis. Mpiyakhe Dlamini waarsku hoe Westerse waardes en instellings ondermyn word deur ideologieë wat namens “die mense” praat. Barend Wesseloo ontleed die nuwe generasie konserwatiewe aanlynbeïnvloeders wat hul eie agendas onder die vaandel van “waarheid” verkoop. Debutant Lezli Edgar wys hoe Afrikaanse identiteit al lank meer 'n handelsmerk as 'n kultuur word, gevorm deur mediahuise wat besluit wie die “regte” Afrikaners is. En Jurie van der Walt wonder hoekom die Suid-Afrikaanse regering selektief oor sekere tragedies praat, maar nie oor die konflik in Soedan nie, hier op ons eie kontinent.
Lees gerus verlede week se nuusbrief en artikels hier.
Die duidelike onderliggende goue draad wat vir my uit al die skrywes, en trouens talle skrywes wat op OntLaer en elders die afgelope tyd verskyn, is wie praat namens wie? Hierdie vraag word al 'n geruime tyd bespreek, maar die veelbesproke “Ope Brief van 44” het die kollig behoorlik weer op die vraag geplaas.
Die berugte “nie in ons naam nie” brief is op 23 Oktober 2025 gepubliseer en 'n maand later word dit steeds bespreek. Maar hoekom word hierdie kwessie so hewig gedebatteer? Hoekom neem dit so baie lugtyd op die radio, TV-kanale, meningsblaaie en sosiale media op?
Enkelvoudige narratiewe
Lank voor sosiale media, politieke partye of kultuuroorloë gee die Bybel vir ons 'n beskrywende verhaal oor die gevaar wanneer iemand sonder mandaat namens 'n volk begin praat. Die Ou Testament in Numeri vertel van die charismatiese man Korag wat in opstand teen Moses en Aäron gekom het. Korag en sy 250 ondersteuners het aangevoer dat Moses en Aäron nie namens die volk praat nie en hulle opsy moet staan vir hom (Korag) want hy praat eintlik namens die volk.
Chimamanda Ngozi Adichie gee egter 'n meer eietydse waarskuwing dat die grootste gevaar in enige samelewing nie noodwendig leuens is nie, maar die enkelvoudige verhaal. Een verhalende raamwerk wat só gereeld herhaal word dat dit skielik soos die enigste waarheid begin lyk. Ek vermoed dit is weens hierdie rede dat geen “kant” van hierdie gesprek bereid is om te veel toegewings te maak nie, weens die risiko dat een verhaal die oorhand kry.
Die afgelope week in Rapport lê ek 'n verdere eier oor die hele gesprek in reaksie op twee artikels, deur onderskeidelik mede-OntLaer stigter Frederik van Dyk en prof. Johann Rossouw. My gevolgtrekking is dat hierdie debat dit duidelik maak dat die meeste Afrikaners nie binne een van die drie kampe wat vandag die Afrikaanse gesprek oorheers pas nie, hierdie drie dan naamlik die progressiewe elite, die konserwatiewe teenbewegings, en die sogenaamde “gematigdes”. Die meeste mense het bloot 'n nie-ideologiese ontevredenheid met 'n mislukkende orde en die meeste mense wil 'n brug tussen die pole bou. Of ten minste, tussen die groot groep mense wie se wêreldbeskouings uit verskillende elemente aan beide kante van die pole bestaan.
Maar soms kom die meeste wysheid nie in die lang formele polemiese reaksies op so 'n artikel nie. Tussen deur my oorgepolitoerde stuk vir Rapport merk ene “Jan van Pretoria” tereg in die kommentaarafdeling op dat die vraag is egter hoe? Hoe bou 'n mens hierdie brug?
In die afgelope week se KykNet episode van In Gesprek het Lourensa Eckhard dieselfde punt gemaak. Die meeste gewone mense leef nie in kulturele loopgrawe nie, maar in die alledaagse realiteit van werk, familie, veiligheid en 'n land waar dinge dikwels nie na behore werk nie.
Niemand kan werklik namens 'n groep praat nie
Soos wat herhaaldelik tydens hierdie debat - en baie vroeëre gesprekke - uitgewys is, kan nie ek, nie jy, nie AfriForum, of die 44 progressiewes regtig namens 'n hele diverse groep praat nie.
Groepe is deurmekaar, veelkantig, teenstrydig en voortdurend in beweging. Maar die behoefte aan verteenwoordiging verdwyn nie. Dit is waarom samelewings sedert die Romeinse Republiek tot vandag instellings skep om toestemming of mandate te struktureer: parlemente, gemeenskapsrade, selfs besighede, is alles vorme van verteenwoordiging.
Die mens wil in groepe wees omdat identiteit nooit 'n soloprojek is nie. Ons vorm ons selfbegrip teen ander en saam met ander. 'n Gemeenskap, of dit nou geloofsgemeenskap, taalgemeenskap, buurt of beroep is, gee vir ons 'n ankerpunt in die wêreld. 'n Plek waar ons nie eers hoef te verduidelik wie ons is voordat ons kan begin praat nie. Maar sodra 'n groep bestaan, ontstaan die vraag: Wie verwoord hierdie groep se belange?
En die behoefte aan groepsidentiteit word altyd opgevolg deur die behoefte aan aksie. 'n Gemeenskap is nie net 'n sosiale kring nie. Daar is altyd praktiese en pragmatiese voordele daaraan om in groepe te wees: skaalvoordeligheid, veiligheid, hulpbronne, kennis, netwerke en invloed. En waar daar aksie nodig is, word doeners onvermydelik belangrik.
Gevolglik kry praters dikwels baie aandag, maar dit is die doeners wat onthou word. Op die lang duur luister mense na dié wat iets doen, nie net dié wat iets sê nie. Dit is die punt wat ek in my stuk vir Rapport probeer maak het. Die “Vierde Afrikaners” waarna ek verwys se standpunte strek oor die spektrum heen. Meeste mense is progressief oor sommige sake, konserwatief oor ander en pragmaties oor die meeste. Hulle het min geduld vir ideologiese suiwerheid en nog minder vir simboliese stryde.
My eie gevolgtrekking op die afgelope maand se debat is dat tussendeur al die geraas en moddergooiery gee die meeste mense om oor wat gaan gedoen word om Suid-Afrika om te draai. En gelukkig is Suid-Afrika vol doeners. Mense en instellings wat baie vermag ten spyte van enorme verval en selfs aktiewe vyandigheid deur die ANC-regering.
Die bouers van Suid-Afrika
Die bouers is versprei oor die politieke spektrum.
Die Solidariteit Beweging is waarskynlik die grootste en bekendste bouerstruktuur buite die formele politiek: hulle bou universiteite, stig honderde buurtwagte, herstel infrastruktuur, en skep plekke van opleiding en orde.
Maar daar is ook groepe wat nie uit dieselfde Psalmboek (letterlik) as die Solidariteit Beweging sing nie, wat ook bou. Die Betereinders bou nie fisiese infrastruktuur nie, maar hulle bou aan 'n maatskaplike weefsel en probeer waardigheid herstel waar dit gebreek is, hulle werk aan versoening, praktiese gemeenskapsprojekte, die herstel van menswaardigheid in die alledaagse ruimtes.
Daar is bouers in die privaatsektor. Ek is altyd verstom wanneer ek 'n stad ná 'n lang tyd weer besoek en die hoeveelheid nuwe geboue, nuwe winkelsentrums, nuwe ontwikkelings, nuwe hospitale en nuwe kantoorblokke sien. Ten spyte van staatsverval word daar elke dag gebou. Ek wonder wel altyd hoeveel meer daar deur die privaatsektor gebou kon word indien dit nie was vir regeringsbeleid wat ontwikkeling stuit nie.
Daar is bouers in gemeenskappe. Kyk na die infrastruktuur wat sommige Suid-Afrikaanse skole deur hul skoolgemeenskappe bou. Ons onderskat hoe talle Suid-Afrikaanse skole plekke van uitnemendheid te midde van verval is. Toe ek en my vrou vroeër vanjaar in Vanderbijlpark was, het ons gou by haar ou laerskool verby gery. Die buurt om die skool het beslis beter dae geken, maar die skool self is netjies, skoon en vol mense wat eenvoudig besluit het dat hulle bou aan daardie plek. Skoolbeheerliggame bou wêreldklas fasiliteite vir hul kinders en die duisende leerlinge wat nog deur die skool se deure moet loop.
Ons het individuele bouers. Mense wat dapper genoeg is om die heersende orde en die ideologieë wat dit instand hou te kritiseer. Mense in die hoofstroom, soos Lourensa Eckhard, verdien erkenning vir die positiewe invloed in 'n mediabedryf waar onafhanklike denke skaars raak. En dan is daar die mense wat hul lewens gee om te bou, mense soos Bouwer van Niekerk, Thomas en Cloete Murray en Babita Deokaran wat hul lewens verloor het in diens van ordelikheid en die instandhouding van 'n regstaat.
En daar is bouers in die formele politiek. Daar waar die DA, VF+ en sommige ander regeer of saam regeer, is daar rekordvlakke van infrastruktuurbesteding. Daar word belê in instellings wat die gety van wetteloosheid probeer keer. Daar word doelbewus gewerk aan die moeilike, stadig groeiende werk van herstel dikwels ten spyte van buitesporige en eensydige kritiek, maar hulle doen dit met volharding.
Suid-Afrika wemel van bouers. Mense wat skole herstel, entrepreneurs wat werksgeleenthede skep, onderwysers wat ná ure klasse aanbied, buurtwagte wat snags patrolleer, maatskaplike werkers en geestelike leiers wat gebroke gesinne help, boere wat paaie regmaak, privaatmaatskappye wat water- en kraginfrastruktuur red, nie-regeringsorganisasies wat trauma en verslawingsberading bied. Gewone burgers wat parke, biblioteke en infrastruktuur self opgradeer of in stand hou. Van kunstenaars tot ingenieurs, van vrywilligers tot akademici, van doodeenvoudige skoolouers tot Suid-Afrikaanse tech entrepreneurs, dit is mense wat bou terwyl die staat verbrokkel.
Mede-OntLaer-skrywer Hercules Boshoff stuur vir my in reaksie op my artikel in Rapport dat die “vierde Afrikaner” waaroor ek geskryf het, hom herinner aan die ou Afrikaanse TV-reeks Die Vierde Kabinet se Yster Swart, wat gesê het: “Mense wat dink hulle is donders smart, is nie altyd so donders smart nie.”
Nou ja. Dis nie die donners smart praters wat Suid-Afrika gaan red nie. Dit is die bouers.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












