DinkWeer Donderdag | Anderkant sout en peper
Waarom 'n verskeidenheid idees hom nie in 'n hok laat druk nie.
Soos wat ek my pad deur verlede week se OntLaer gewerk het, het dit hoe langer hoe meer vir my duidelik geword dat ons weeklikse OntLaer op baie dieselfde manier as 'n groep sjefs werk wat in die kombuis van 'n luukse restaurant werskaf. Elkeen het sy of haar eie spesialiteit, eie geurmiddels, eie instrumente en ervarings, wat hul eie stukkie van die dis beïnvloed. Wanneer elkeen klaar agter sy of haar eie tafel geswoeg het tot op so 'n punt dat hulle voel hulle deel van die dis is gereed, word dit na 'n sentrale tafel gestuur, waar die stukkies saamgevoeg word, die orde bepaal word, en hier en daar nog 'n bietjie aan die sousie gekarring word. Sodra die disse saamgevoeg is, word dit deur verskillende kelners in alle denkbare windrigtings gedra. As die bord eers die wêreld in is, kan die kok die kelner nie sommer weer inroep nie. Die arme kelner kan natuurlik van buite af teruggestuur word met allerlei kritiek en kommentaar, maar vanuit die kombuis moet “Sela” uitgespreek word oor die bord soos wat dit die tafel verlaat. Hierdie verskydenheid van geure wat uiteindelik 'n nuwe ding in homself skep het by my gebly - later meer daaroor.
Verlede week se “dis” was, soos wat dit maar altyd is, in sy geheel en opgebreek in sy dele, hoogs interessant. Ek stem daarmee saam dat alle debat op een of ander manier sinvol is, dat dit, soos Lego-blokkies, dikwels die boustene van groter geheel vorm wat nuttig en sinvol kan wees, en dat ons in Suid-Afrika die boustene van ons kreupele formele ekonomie vinnig sal moet regtrek. Nietemin was die sentrale gedagte waarmee ek hierdie week in my kop maal die idee van politieke ideologie. Natuurlik, gegewe die aard en omvang van OntLaer, sal ideologie, en veral politieke ideologie, altyd deel van die gesprek vorm, maar verlede week het gesprekke rondom hierdie tema die stem dikker as gewoonlik gemaak, en my aan die luister gekry.
Jaco Kleynhans se analise van die Nederlandse verkiesing het duidelik gemaak dat woorde soos “regs”, “links” en “sentrum” baie minder beteken as wat dit dalk vir vorige generasies het. Die idees wil nie meer so maklik in die boksies val as vroeër nie. Daniël se Mamdani-kommentaar het die kompleksiteit van starre ideologiese posisies selfs duideliker gemaak – en ek dink sy stuk het die vrae waarmee die Republikeine sal moet worstel as hulle 'n tweede agtereenvolgende presidensiële termyn wil wen, kristalhelder na vore gestoot. As jy jou huur nie meer kan bekostig nie, en as die lewe eenvoudig te duur geword het, dan maak jou leiers se menings oor komplekse twispunte minder saak as wanneer jou maag vol is. Natuurlik is die sosialisme se belofte van groot hoeveelhede gratis goeters histories verkeerd bewys, beide in teorie en deur letterlik koue en harde geskiedenis, maar dit beteken nie dat benoude katte nie steeds benoude spronge sal probeer nie. Joseph Heath se stiptelike ontleding van populisme het myns insiens ten sterkste by hierdie oorhoofse problematiek aangesluit. Soos wat ek deur sy lys van populisme se kenmerke gelees het, het ek weer besef dat links en regs so dikwels op presies dieselfde manier dink en optree, en dat die verskillende hoofopskrifte waaronder ons verskillende ideologieë, veral met verwysing na opponente, karteer, toenemend nutteloos geword het.
As kategorisering tekortskiet
'n Breër ideologie en die benoeming daarvan kan natuurlik wetenskaplik sin maak, so maak dit byvoorbeeld sin om die Marxisme as vakterm te gebruik wanneer dit die werklike idees en beginsels van Karl Marx uitdruk, maar dit raak nutteloos wanneer dit 'n knuppel word waarmee andersdenkendes binne 'n spesifieke boksie geraps word, waarna die rapser homself op die skouer klop dat hy sy opponent ten volle verstaan, en voortaan soos 'n boek sal lees. Hierdie benadering, waar elkeen wat van my verskil “links”, “regs”, “rassis” of wat ook al moet wees, is meer as net nutteloos, dit is intellektueel vertragend.
In 'n tyd van oorlog maak dit sin dat jy daarvan oortuig moet wees dat die persoon langs jou, of die persoon wat onder dieselfde dak as jy slaap, nie idees koester wat jou lewe bedreig nie. Dit is net logies. Maar in tye van vrede belemmer hierdie harde-lyn indeling ware vooruitgang. As elkeen wat hom- of haarself opreg beywer vir 'n beter samelewing, en bereid is om in die robuuste debat te tree wat Hercules bepleit, dan sal elke idee wat na vore kom óf 'n verbetering wees, óf 'n fout wat reggestel kan word, en waaruit geleer kan word.
In 'n inligtingsera volg ons geen party of oorhoofse ideologie meer blindelings nie, ons hoef nie. Elke kwessie kan aan sy eie meriete gemeet word, en na hartelus uitgepraat word. Juis daarom beteken “liberaal”, “konserwatief”, “libertaries” en selfs “sosialisties” lankal nie meer wat woordeboeke beweer nie. Hierdie oorvloed van inligting het ten minste twee gevolge: Eerstens is daar nie meer helde in die politiek nie. Ons weet eenvoudig te veel. Die skyn van morele verhewenheid is onhoudbaar. As voorbeeld dink ek aan John F. Kennedy. Sy persoonlike lewe sou Hugh Hefner laat bloos - maar niemand het geweet wie die man werklik is nie, hy kon wegkruip agter die sluier van onkunde wat hom omhul het, daarom kon hy nog 'n held wees.
Die tweede gevolg, waarna ek reeds 'n paar keer verwys het, is dat politieke etikettering juis sy sin verloor het omdat geen twee mense meer dieselfde inligting ontvang nie. Tot uiters onlangs het alle lede van 'n gemeenskap dieselfde koerante gelees, dieselfde radio geluister, dieselfde 7de Laan of Egoli gekyk, na dieselfde Riaan Cruywagen geluister. Politieke verskille was seldsaam en duidelik, en dit het die groep in kampies gedeel. Vandag lees elkeen van ons verskillende aanlynpublikasies, die reekse wat eggenote langs mekaar in die bed kyk is verskillend, ons duime skep vir ons 'n eggo-ruim met 'n populasie van een. Om daardie unieke eggo-ruim met 'n woord uit antieke Athene te probeer beskryf, wel, dit klink moeilik, dit klink ook na tydmors.
Terug kombuis toe
Sjefs van die 18de eeu was beperk tot wat hulle in die omgewing kon vind — 'n bietjie wildsvleis, plaasgroente, eenvoudige sout en peper. Vandag kan enige sjef enige bestanddeel, van enige kontinent, op enige manier sny, kombineer en in enige styl opdien. Om dié skeppings met die taal en verwysings van 'n vorige era te probeer beskryf, dien geen doel nie. So ook kan ons nie meer vandag se komplekse, gemengde politieke denke beskryf met die ou etikette en riglyne nie. Ons woordeskat moet aanpas by die wêreld waarin ons leef, nie andersom nie.
Vorige Donderdae se weerdenkery:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Sosialemedia het natuurlik ook 'n groot rol gespeel om die Amerikaans binêre politiekesisteem internasionaal te versprei. Kyk bv. in SA na die anti- en pro-Trump geraas. Die politieke kompas metode (4 kwadrante) van meting, dui na my mening aan dat die simplistiese binêre en radikaliserende sisteem, nie net verkeerd is nie maar ook skadelik is. Daar is veel meer raakpunte as verskille in die sentrum, maar dit word doelbewus onderdruk. Tyd dat die ooreenkomste eerder as verskille bevorder word.
Uitstekend gestel.