DinkWeer Donderdag | OntLaer en langformaat skryfwerk
Teen die stroom van oppervlakkigheid.
OntLaer het die afgelope week sy eerste verjaarsdag gevier en daar is baie rede vir dankbaarheid. In een jaar het hierdie jong Afrikaanse meningsblad meer as 140 000 artikel-lesings getrek, 1 200 intekenaars het aangesluit en 412 artikels is deur 95 verskillende outeurs geskryf. Al moet ek self so sê, dit is nie 'n geringe prestasie nie, veral nie in 'n tyd waar die digitale ekonomie ons almal programmeer om korter te kyk, vinniger te reageer en nie lank te lees nie.
Vir 'n publikasie wat nie met groot begrotings, besoldigde redaksies of tans enige inkomste werk nie, is dit volgens my merkwaardig. Niemand van ons word betaal om hierdie werk te doen nie. OntLaer bestaan omdat daar 'n klein groep mense is wat genoeg omgee vir denke en gesprekvoering in Afrikaans, om tyd en energie daaraan af te staan sonder enige monetêre beloning. Dit is in daardie sin 'n liefdesprojek, maar dit is ook 'n daad van kulturele selfrespek.
Beskawing rus uiteindelik nie net op paaie, markkragte en instellings nie. Dit rus ook op idees en die bespreking van idees. Die vermoë van mense om met mekaar te redeneer, van mekaar te verskil, hulself beter te verduidelik, hul opponente ernstig op te neem en idees teen mekaar te toets. Dit is van die kernboustene van 'n ordelike samelewing. Sonder gesprekvoering verval ons in óf stilte óf geskreeu. En albei is vyande van beskawing.
OntLaer poog juis om hierdie ruimte te skep. 'n Plek vir deurdagte, bedagte debat in Afrikaans. Nie bloot vinnige menings nie en nie goedkoop politieke punte nie. En veral nie net die rituele herhaling van 'n politieke of kulturele stam se bekende dog gemaklike slagspreuke nie. Maar skryfwerk wat stadig genoeg beweeg om 'n argument te ontwikkel, 'n probleem van meer as een kant te beskou, en die leser ernstig genoeg op te neem deur nie sy intelligensie te onderskat nie.
Langformaat
Ek hoor egter dikwels uit my persoonlike kringe dat my skryfwerk te lank is. Een van my kollegas in die burgemeester se kantoor sê dit gereeld. My vrou ook. Hulle meen gewoonlik ek moet mik vir 600 tot 800 woorde. En, om eerlik te wees, hulle is waarskynlik reg. Die meeste mense lees nie meer baie nie. Of eerder hulle lees wel heeltyd, maar selde lank. Hulle lees boodskappe, plasings, opskrifte, kommentare, kennisgewings en stukkies inhoud wat hulle aandag in fragmente opbreek.
Sosiale media het ons verhouding met lang leeswerk duidelik verander. Ek ervaar dit self. Ná 'n rukkie se scroll op Instagram of Facebook (ek is nie meer op X nie) is dit opmerklik moeiliker om stil te sit met 'n lang artikel of lekker boek. Mens se brein soek die volgende skoot van dopamien, die volgende kort prikkel of visuele stimulasie. Langformaat lees in teenstelling voel soos werk in vergelyking met die breindood aktiwiteit van scrolling, selfs al wíl mens lees.
En soos dit moeiliker raak om lank te lees, raak dit ook moeiliker om lank en helder te skryf. Dit is juis hoekom ek 'n persoonlike doel het om my eie skryfspiere te oefen deur langer te skryf maar ook om die leesspiere van lesers te help oefen deur vir hulle langer, en my poging tot deurdagte, stukke te gee. Dit is my beskeie poging om die samelewing se aandagspan te verleng.
Volgens die Stoïsyne is dagboekskryf waardevol omdat dit jou help om jou karakter te vorm, en nie bloot jou dag se gebeure neer te pen nie. Marcus Aurelius se Meditations is in wese sy persoonlike skryfwerk aan homself. Seneca stel eweneens gereelde selfondersoek deur skryfwerk voor as deel van morele selfverbetering.
Een van my gunsteling meningskrywers Ben Sixsmith skryf onlangs dat mens nie skryfwerk moet romantiseer asof dit deurlopende marteling is nie, maar dit wel ernstig op te neem as vakmanskap. Om te skryf is nie net om inhoud te produseer nie. Dit is om iets van jou denke so deeglik moontlik vorm te gee.
Dit mag natuurlik beteken dat 'n publikasie soos OntLaer minder lesers lok as media wat hul inhoud korter, gefokus en meer algoritme-vriendelik verpak. OntLaer se artikels ding immers mee met YouTube Shorts, Instagram Reels, kitsmenings, podcasts op 1.5x-spoed en nou ook met KI-gegenereerde plasings wat ontwerp is om slim te klink sonder om werklik iets te sê. Dit is nie 'n gunstige mark vir sloernalistiek nie. Maar selfs al beteken dit dat ons kommersieel minder volhoubaar sal wees as ander platforms, bly dit die moeite werd as 'n handjievol mense weer leer om langer te lees, langer te dink en meer geduldig met idees om te gaan.
Opvoerigheid van lank lees
Daar is natuurlik ook 'n bepaalde opvoerigheid wanneer dit by langer lees kom. Baie mense, ek inkluis, het “kennis” van boeke, onderwerpe en debatte op 'n skuins, tweedehandse manier. Ons “opinies” word dikwels bepaal deur 'n Wikipedia blad se opsomming of podcast oor 'n kwessie of soms 'n boek. Ons gee dus dikwels voor dat ons oor 'n onderwerp belese is omdat dit 'n bepaalde sein stuur. In ons oorvol inligtingsekonomie is dit ongelukkig 'n werklikheid. Maar juis daarom moet 'n nishoek van die internet soos OntLaer opreg probeer wees.
Ons praat dikwels, en met goeie rede, oor hoe die internet inligting gedemokratiseer het. Inligting is meer toeganklik as ooit tevore. 'n Kind in Kuruman kan teoreties binne sekondes toegang hê tot dieselfde bronmateriaal as 'n professor in Cambridge. Maar soos ek in my tweede artikel vir OntLaer geskryf het, beteken toegang tot inligting nie outomaties begrip nie. In 'n wêreld waar kennis minder skaars geword het, word interne kennis, geheue, oordeel en die vermoë om dinge met mekaar te verbind, juis méér waardevol.
Dieselfde geld vir skryfwerk. Die internet het nie net inligting en dus ook langformaat gedemokratiseer. Jy het nie meer 'n groot koerant, 'n uitgewery of 'n akademiese joernaal nodig om jou stem in die wêreld te laat hoor nie. En dit is in baie opsigte wonderlik. Dit het nuwe Afrikaanse platforms moontlik gemaak. Dit het mense buite ou institusionele laers toegelaat om te publiseer, te eksperimenteer en gemeenskappe van lesers te bou.
Maar hierdie demokratisering het ook 'n keerkant. Net omdat almal kan publiseer, beteken dit nie almal skryf goed nie. Soos die toegang tot publikasie toeneem is die skaars hulpbron nie publikasieruimte nie maar die leser se aandag. Daarom is gehalte nou belangriker as ooit.
Die opkoms van generatiewe KI maak hierdie vraag nóg meer relevant. Ons almal het 'n inherente aanvoeling vir wanneer KI gebruik is om iets te skryf. Ons herken die glibberige ritme, die generiese Hullets-suikersakkie “wysheid” en die herhalende paragrawe wat elegant klink maar uiteindelik niks werklik sê nie.
En alhoewel baie mense aanvoer dat KI 'n groot gelykmaker gaan wees dink ek nie so nie. Ek vermoed dit gaan ongelykhede vergroot en nie net ekonomiese ongelykheid nie.
Die mense wat reeds slim, gedissiplineerd en begaafd is, gaan KI beter gebruik. Hulle gaan dit gebruik om navorsing vinniger te doen, om meer bronne te vergelyk, om hulle idees beter te orden, om meer produktief te wees en gevolglik gaan hul invloed verder uitbrei. Die meerderheid mense gaan bloot KI gebruik om hul LinkedIn-kommentaar “slimmer” te laat klink, om 'n e-pos van twee reëls te laat skryf al kon hulle dit in een minuut self geskryf het, of om nóg 'n lawwe KI-prent te skep. Die middelmatigheid van die gemiddelde persoon gaan nie skielik verdwyn omdat hulle nou 'n chatbot het nie.
KI gaan dus nie lei tot 'n revolusie van denke nie maar bloot net 'n versnelling van luiheid en die vermenigvuldiging van inhoudelike slonsigheid.
Maar vir die ernstige skrywer bied KI 'n merkwaardige hulpmiddel. KI kan help met navorsing, opsommings, taalversorging en selfs visuele aanbieding. Dit skep dus ook nuwe geleenthede vir sterker, ryker, beter langformaat skryfwerk.
Niemand wil 1 500 woorde lees van tipiese KI-inhoud wat glad vloei maar niks sê nie. Mense sál egter 1 500 woorde lees wat met behulp van KI nagevors is, dan deur 'n mens met oordeel geskryf is, met KI se hulp netjies versorg is, en selfs met 'n pragtige KI-dekprent aangebied word mits die inhoud werklik iets van waarde bied.
Daar ís steeds 'n vraag na diep, deurdagte en insiggewende skryfwerk. Dalk is die mark kleiner as die hoofstroom en dit is dus heel waarskynlik minder winsgewend. Dit verg meer geduld van skrywers én lesers maar die vraag bestaan. OntLaer se eerste jaar bewys dit reeds.
Ons kan dus met vrymoedigheid lank, deeglik en eerlik in Afrikaans aanhou skryf.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













