In die Skermlig: Gemeenskap, Verbinding en Vervreemding
Gesprek oor aanlyn-oordaad word dringend.
Die internet is aanvanklik aan ons verkoop met die idee dat dit 'n groter gemeenskap gaan skep en ons dieper met mekaar gaan verbind.
Met die verloop van tyd ervaar ons toenemend die teenoorgestelde. Meer oppervlakkige interaksies, verhoogde afsondering en die afname van betekenisvolle verbondenheid. Waar tegnologie veronderstel was om 'n gevoel van saamhorigheid te bevorder, het dit dikwels bygedra tot 'n meer verspreide en verbruikersgedrewe samelewing. Te midde van al hierdie konnektiwiteit, is daar steeds 'n diep hunkering na werklike gemeenskap. Hierdie hunkering is nie net die gevoel van verlange nie, maar weerspieël ook kulturele verskuiwings.
'n Geslag op Soek na Saamwees
Heelwat van wat die denkers en skrywers Freya India, Myriam François en James Tartaglia in hulle gesprek aanraak, is tersaaklik vir die konteks van Brittanje. Die kern van hul gesprek draai om die vraag waarom jonger generasies, ten spyte van ongekende vlakke van tegnologiese verbondenheid, so afgesonder voel.
Hulle ondersoek watter onderliggende dryfkrag hierdie isolasie bevorder: Ekonomiese faktore soos maatskaplike klas en koopkrag, of eerder psigososiale aspekte soos emosionele welsyn. Verder bevraagteken hulle hoe hierdie dinamika Millenniërs en Generasie Z beïnvloed in hul omgang met die post-kapitalistiese digitale ruimte. Ten slotte kyk hulle na watter van dié invloede die grootste bydrae lewer tot die generasies se diep verlange na gemeenskap.
Ek wil eerstens kyk na wat hierdie verlange gekweek het, die paneelbespreking tussen India, François, en Tartaglia raak hieraan. Hulle spreek die lewenskoste-krisis aan en beklemtoon veral hoe ouer generasies op vroeër ouderdomme behuising en basiese benodighede met gemak kon bekostig, en hierdie nie waar is vir die jonger generasies nie. Die paneelbespreking voer ook aan dat die internet en sosiale media 'n maatstaaf geword het vir Millenniërs en Gen Z, waarby sukses veral gemeet word op materialistiese besittings en sosiale status.
Verder het die internet onder hierdie generasies die idee gevestig dat dit vervullend is om kapitalistiese en koloniale paradigmas aanlyn uit te daag. Tog blyk dit dat sulke optrede, op sigself, nie noodwendig lei tot ware, kollektiewe bevryding nie.
Lewenskoste speel tog ook in
Die lewenskoste-krisis is 'n probleem wat mense regoor die wêreld ervaar, en ook in Suid-Afrika. Die huidige generasie van jong Suid-Afrikaners sukkel weens peperduur basiese kruideniersware en behuising.
Ek glo dit is duidelik, selfs sonder akademiese ondersoek, dat baie jong Suid‑Afrikaners sukses dikwels meet aan materiële besittings en sosiale status. Dit is taamlik maklik om agter te kom hoe eenvoudig ons as Suid-Afrikaners is, wanneer ons kyk na hoe belangrik ons ander ag wanneer dit kom by wat hulle ekonomiese en sosiale status is. Dit word selfs meer duidelik wanneer ons onthou dat apartheid nie net met rassesegregasie bemoeid was nie, maar ook met sosiale en klasgebaseerde skeiding,1 veral onder Afrikaanssprekendes en in die wit Afrikanergemeenskap.
Rakende die selfbevrediging wat ons veronderstel is om te kry wanneer die onreg van kapitalisme en kolonialisme aangespreek word, is my teenargument hier die kommentaar-afdeling van hierdie TikTok video wat onlangs opslae gemaak het. Kollektiewe bevryding sal nie bereik word as ons mekaar voortdurend daaraan herinner dat ons mekaar dit nie gegun het in die verre en nabye verlede nie.
En wat van die Afrikaner identiteit?
Onlangs het die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) ook die kwessie van aanlyn-gemeenskap aangespreek. Die GKSA het beslis dat aanlyn deelname aan kerkdienste in werklikheid onvolledig is, en nie gelyk staan met in-persoon deelname nie.
Deelname tel selfs minder wanneer die program eers ná die regstreekse uitsending gekyk word. Hierdie stelling dui daarop dat die GKSA aanlyn ruimtes nie as 'n werklike medium vir gemeenskapsvorming beskou nie. Sosiologies is hierdie siening nie iets nuut nie, veral nie na wat hierbo genoem is nie. Tegnologiese kommunikasie is beter as geen kontak met ander nie, maar dit bly minder waardevol as persoonlike, aangesig-tot-aangesig-wisseling. Navorsing het bevind dat mense minder betrokke is en nie dieselfde positiewe emosionele reaksies het wanneer hulle tegnologie gebruik om met ander te skakel nie, in vergelyking met wanneer hulle mekaar persoonlik ontmoet. Die kerk ondersteun hierdie siening in hul besluit oor aanlyn deelname. Die kerk motiveer hierdie besluit deur aan te voer dat dit nie oor die opstel van vaste reëls vir lidmate gaan nie, maar oor die formulering van breër riglyne of beginsels wat as rigtingwysers moet dien.
Nou, die kerk is nie meer die instansie wat dit eens was nie. Sedert die skeiding van kerk en staat met die totstandkoming van die Grondwet, het die aantal lidmate oral afgeneem, en dit het al hoe moeiliker geword om ideologiese eenstemmigheid tussen sinodes en kerkrade te bereik. Dit is wel belangrik om te onthou dat die Afrikaanse identiteit ontwikkel is met die gewig van die waardes van Christenskap en die gemeenskap wat die kerk meebring. Dr. Gerrit Viljoen se toespraak van 1970 waarby hy lede van die Broederbond toespreek bevestig hy Afrikaners is mense wat ook Christene is. FW de Klerk herbevestig die Afrikaner se konneksie aan Christenskap in 'n toespraak in 2015, waarin hy sy eie Afrikaner-identiteit verduidelik. 'n Goeie hoeveelheid navorsing skryf die identiteitskenmerk van Christenskap binne Afrikaner-identiteit toe aan die apartheidsregime.2
Dit is die moeite werd om ook te noem dat die GKSA bevestig het dat hierdie besluit nie geneem is op grond van kollektes wat fisieke teenwoordigheid vereis nie. Wat vir my egter uitstaan, is hoe Afrikaanse kultuur dikwels verruil word vir kapitaal.3 Om as volwaardig Afrikaans beskou te word, word daar van jou verwag om geld te spandeer inruil vir 'n gedeelte van die kultuur. Ek hou vol: Toegang tot die Afrikaanse kultuur hang dikwels af van jou vermoë om ekonomies daaraan deel te neem.
Is Kerk 'n oplossing vir gemeenskapsoplossing?
'n Ou sê-ding in die Oos-Rand lui: die enigste plek waar jy my Sondagoggend nege-uur kry is dronk. Vir 'n kerngemeenskap om te ontstaan, moet sosiale kapitaal opgebou word. Sosiale kapitaal behels gedeelde waardes, 'n sekere vlak van vertroue, gereelde kontak en sosiale omgang tussen lede, en deelname aan gemeenskapsaktiwiteite.4
Die gemeenskap wat die kerk nog skep is wel nie iets wat onderskat moet word nie. Inteendeel, in 'n tyd waar verdiepende individualisme in 'n negatiewe lig beskou word, moet daar op 'n stadium 'n sterk(er?) terugkeer wees na 'n kerngemeenskap. Die wêreld, en 'n sosiologiese groep verwerp nie sommer die waarheid nie, maar (wil/sal) eerder die gevoel van alleenheid verwerp. 'n Stelling wat ek glo vir beide die Afrikaneridentiteit en Afrikaner-Christenskap tel.
Daar word spesifiek gekyk na vyf faktore wat die terugkeer na godsdiens ten spyte van voortdurende modernisering kan verklaar naamlik: Krisis, reaksie, oorgang, staatsinmenging, en samestelling. Die terugkeering na godsdiens op die samelewing kan beter verstaan word as ons dit sien as ’n proses. Hierdie proses begin by persoonlike vernuwing, lei tot veranderde waardes en gedrag, en uiteindelik versprei dan na die breër samelewing. Iets wat ons al gesien het in die vorige regime (en wat oorgespoel het tot vandag toe), want almal was nie noodwendig kerkgaande Christene nie, maar hulle het die waardes van basiese Christenskap aangeneem (nederigheid, vergifnis, integriteit, geregtigheid).
Leierskap en instellings speel 'n belangrike rol in hoe sterk die terugkeer na godsdiens is, in watter rigting dit beweeg, en hoe wyd dit versprei. Dit kan byvoorbeeld sosiale dienste, entrepreneurskap, innovasie, demokratiese instellings, en waardes soos integriteit en eerlikheid bevorder. Ek glo nie Suid-Afrika sal 'n merkwaardige terugkeer na Christenskap sien nie, net vir die eenvoudige rede dat die Grondwet voorsiening maak vir die vryheid van keuse rondom godsdiens. Maar, die Grondwet word op ander manier oortree so miskien is ek verkeerd.
Gemeenskap in 'n Digitale Era
In my persoonlike ervaring kan ek wel sê dat daar 'n sterk terughunkering is na 'n kerkgemeenskap en veral Engelse Christenskap onder my Afrikaanse portuurgroep. Nog meer so na 'n meer Charismatiese/Apostoliese Geloofsending (AGS)-manier van kerk gaan, wat nie deel vorm van die gereformeerde kerktradisie nie.
Terwyl die internet die aard van ons sosiale verhoudings getransformeer het, bly die menslike hunkering na werklike gemeenskap en betekenisvolle interaksie onveranderd. Die debat oor individualisme, kapitaal, tegnologie en identiteit (wêreldwyd en in Suid‑Afrikaanse konteks) wys dat digitale verbondenheid nie noodwendig ware sosiale verbondenheid vervang nie. Die verruiling van kultuur vir kapitaal en die verlies aan werklike gemeenskap plaas druk op die vorming van sosiale kapitaal.
Instellings soos die GKSA illustreer die spanning tussen tradisionele gemeenskapsvorming en moderne individualisme, 'n spanning wat baie meer breedvoerige sosiale en ekonomiese faktore weerspieël. Tog bied hierdie spanning ook 'n kans vir ons om weer te kyk wat dit beteken om gemeenskap te hê, om nie net digitaal te lewe nie, maar ook om werklik saam te wees, en om waarde te heg aan deelname wat nie net oor kapitaal gaan nie, maar oor menslike verbintenis.
Ons moet nie net vra hoe ons kan terugkeer na gemeenskap nie. Maar hoe ons 'n balans kan vind tussen tegnologie se voordele, sosiale waardes, en die herlewing van werklike gemeenskap.
Nog artikels deur Lezli Edgar:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Hyslop, J. 2000. “Why did Apartheid’s supporters capitulate? ‘Whiteness’, class and consumption in urban South Africa, 1985-1995.” in Society in Transition, 31(1), pp. 36-43.
BLOOMBERG, C., 1989. Christian Nationalism and the rise of the Afrikaner Broederbond in South Africa, 1918-1948. Springer; DU PLESSIS, L.M. 1997. Afrikaner negatiwiteit oor die WVK: Viva Rip van Winkel. Woord en Daad, 360(Winter), pp.14-17; FOURIE, W. 2008. Masculine ideals in post-apartheid South Africa: The rise of men’s glossies. In: A, Hadland, E Louw, S Sesanti, & H Wasserman (eds). Power. politics, and identity in South African media. Cape Town: HSRC Press; VESTERGAARD, M. 2001. Who’s got the map? The negotiation of Afrikaner identities in post-apartheid South Africa. Daedalus, 130(1), pp.19-44.
WASSERMAN, H. 2009. Learning a new language: Culture, ideology and economics in Afrikaans media after apartheid. International Journal of Cultural Studies, 12, pp.61-80.
Hopper, P. (2003). Rebuilding Communities in an Age of Individualism (1st ed.). Routledge. https://doi.org/10.4324/9781315245171.













Lezli, jy het natuurlik 'n baie kontroversiële onderwerp aangeraak. Ons ken die geskiedenis van georganiseerde godsdiens wat vir ewig al 'n baie effektiewe metode was, en nog steeds is, om die massas te beheer en te indoktrineer. Dis die siniese beskoung van die godsdiensfenomeen, baie wonderlikhede kan natuurlik ook uitgewys word waarvoor georganiseerde godsdiens krediet kan vat.
Dis daarom nie verrassend dat kerke bekommerd is oor die tendens waar mense weg beweeg van die ou formule van gesamentlike godsdiensbeoefening nie, waartydens mense in dieselfde fisiese ruimte bymekaar kom en fisies naby aan mekaar is. Duidelik, om baie redes, beweeg mense egter weg daarvan en nou is die debat mos lankal of dit "goed" of "sleg" is. Daaroor is die jurie al lank uit en ek weet van geen duidelike antwoorde nie.
Sinies (of realistes?) beskou, sou mens kon redineer dat godsdiensverbruikers bloot nie meer van opinie is dat die ou model, wat veronderstel was om hul behoeftes aan te spreek, gewoon nie meer daaraan voldoen nie. Hulle stem dus met hul voete, soos gesê word. Dis sonder twyfel 'n tendens wat die produsente van gesamentlike, fisiese godsdiensbeoefening baie bekommerd het. Hul markaandeel het aansienlik gedaal. Hulle probeer dus, heeltemal te verwagte, om nie méér kliënte te verloor nie; en hoop ook om meer kliënte weer terug te wen.
Gegewe dus wat hier bo gesê is, is een teenstrategie om markaandeelverlies te probeer teenwerk, natuurlik om die kompitisie se metode om kliënte af te rokkel te probeer verdag maak. Ek het geen "skin in the game" nie en wil dus nie probeer om van hul argumente, soos deur jou verwoord, goed te praat of af te keur nie. Hul strategie is nie 'n onbekende besigheidstrategie nie, maar werk dikweks nie baie goed nie, omdat die kompitisie basies verdag gemaak word sonder om met 'n realistiese alternatief na vore te kom.
Dit bring my by 'n nóg meer kontroversiële element wat jy in jou skrywe aangeraak het: die internet en sosiale media. En dan het ons nog nie eens Kunsmatige Intelligensie (KI), bygesleep nie!
Daar is waarskynlik meer tegnologie-gurus wat vandag van opinie is dat KI, as die hoogtepunt van die mensdom se beweging na die kuberruimte toe, die mens beter sosiale interaksie sal laat ervaar as wat tans moontlik is, of nog ooit moontlik was, en dat dit baie meer mense (miljoene/miljarde) baie nader aan mekaar gaan bring, in metafisiese terme. Daar word ook gesê, deur baie van daardie gurus, dat dit 'n beter wêreld tot gevolg gaan hê, veral wat die ekonomiese en finansiële beperkings aanbetref waarna jy verwys het. Maar ook wat die bevrediging van diep menslike versugtinge aanbetref, soos om deel wees en te voel van 'n groep wat sekere waardes in gemeen het.
Natuurlik is dit so dat die "KI-vaders", nes die Kerkvaders, hul eie produk sal bemark ten einde hul markaandeel te vergroot. Dis bloot goeie besigheidspraktyk. My eie navorsing, en blote waarneming van sosiale realiteite, dui egter daarop dat KI loshande gaan wen - tewens, dit hét alreeds via die internet en sosiale media as voorgangers van KI...
NOTA: Die boonste stukkie kommentaar in nie deur KI geskryf nie, maar is beslis beïnvloed deur navorsing waarin KI 'n rol gespeel het. Ek volg egter ook die uitsprake van verskeie voorste KI-gurus om seker te maak dat KI my nie nou al om die bos lei nie... 😁
‘n Christelike erediens kan in sy wese nie virtueel geskied nie. Alhoewel die verkondiging van die Woord redelik goed werk, is die saamsing van psalms, die nagmaal en die doop nie werklik sinvol as jy dit virtueel probeer doen nie.