“Ik ben een Afrikaner”: Wie praat namens wie?
Hendrik Biebouw eggo in debatte oor Afrikaanse identiteit en voorspraak.
“Ik ben een Afrikander.” Hierdie woorde is opgeteken as die eerste keer dat iemand homself 'n Afrikaner genoem het.
In Maart 1707 het die 17-jarige Hendrik Biebouw in Stellenbosch met die landdros Johannes Starrenburg slaags geraak. Hy en ander jong mans het die openbare orde versteur, en toe die landdros hulle wou straf en dreig met deportasie, het Biebouw geantwoord: “Ik ben een Afrikaner, ik wil niet weg!”.
Meer as drie eeue later broei daar weer 'n Afrikanerstryd. Afrikaners van links en regs vlieg mekaar in die hare oor presies dít: wie is die “regte” Afrikaners, en wie mag namens hulle praat?
Die vonk wat die jongste vlamme aangeblaas het, was 'n ope brief van 'n groep progressiewe Afrikaners wat hulle veral wou distansieer van Donald Trump se vals narratief dat daar volksmoord teen wit Afrikaners gepleeg word en dat Afrikaners vlugtelingstatus in Amerika verdien. Dit was geen revolusionêre verklaring nie — bloot 'n eenvoudige, menslike standpunt: “Ons staan nie saam met rassisme, uitsluiting of ekstremisme nie. Nie in ons naam nie.”
Die petrol op die vuur was waarskynlik die volgende sin: “Ons weier om organisasies soos AfriForum en die Solidariteitsbeweging namens ons te laat praat – geen enkele organisasie het 'n duidelike of legitieme mandaat om namens alle Afrikaners te praat nie.” Daarmee wou hulle eintlik net sê hulle is óók Afrikaners en daardie organisasies praat nie namens húlle nie.
Solidariteit en AfriForum het nie op hulle laat wag nie. “Ons het nooit gesê ons praat namens alle Afrikaners nie, maar wel namens ’n groot deel daarvan,” het die organisasies teruggekap en daarop gewys dat hulle duisende lede het namens wie hulle wél praat.
'n Mens sou hoop dat daar tussen hierdie twee Afrikanerpole 'n sinvolle debat kon ontstaan oor Afrikanerdiversiteit – oor wat ons deel, en wat ons verdeel.
Maar in die Afrikaner se aanlyn-onderwêreld – daardie donker plek waar Trump as De la Rey aanbid word wat die Boere moet kom lei, en waar woede die enigste geloofsbelydenis is – het die hel losgebars.
Op die sosiale media-mure van Renaldo Gouws, die Vryheidsfront Plus se nuwe liefling, en Jaco Kleynhans, Solidariteit se woordvoerder uit Orania, het die kommentaar soos klippe begin reën. Kleynhans het met minagting op Facebook gereageer en die ondertekenaars afgemaak as “skynheilige linkses uit die koffiewinkels van Melville en Stellenbosch”. Op Gouws se blad het die gesprek oor Afrikanerskap vinnig ontaard in 'n vloed van beledigings — van “libtard” en “verraaier” tot “hy kort ’n snotklap!” en veel erger, wat liewer nie in ordentlike geselskap herhaal moet word nie. Ernst Roets het selfs op sy Facebookblad 'n prent geplaas van Max du Preez en Piet Croucamp met die opskrif: “The quintessential useful IDIOT.” Weereens: afkraking eerder as gesprek.
“Debat is uit, beledigings in”
Dis die woordeskat van mense wat daarop roem dat hulle Afrikaners is en glo hulle verdedig die Westerse beskawing. Hulle klink egter meer soos die agterkant van 'n lorrie vol sinkplate wat Ventersdorp toe dreun – 'n gekletter van slagspreuke en selfverklaarde beginsels wat raas sonder ritme of rede. Dis die soort geraas wat jou nie oortuig nie, maar jou eerder laat wonder of die uitlaatpyp nie al lankal afgeval het nie.
Kom ons wees eerlik: as dít die vergestalting is van Afrikaner-intellek in 2025, dan is dit nie vyf voor twaalf nie – dis middernag, en die ligte is lankal af.
In postapartheid Suid-Afrika is dit tyd om weer te besin oor wie en wat 'n Afrikaner is. Hendrik Biebouw, wat die woorde “Ik ben een Afrikaner” uitgespreek het, was waarskynlik van gemengde afkoms al is dit nie onomstootlik bewys nie – 'n feit wat die vroeë Afrikaner-identiteit meer kompleks en inklusief maak as wat latere nasionalistiese vertellings erken het.
Biebouw se uitspraak was nie 'n gespog oor die kleur van sy vel of 'n seël van goedkeuring vir Calvinistiese nasionalisme nie. Dit was 'n daad van verset teen koloniale gesag en ’n verklaring van verbondenheid met die land en sy mense.
Wanneer progressiewe Afrikaners hulle vandag teen rassisme verset en hul verbondenheid met die land verklaar, beteken dit nie dat hulle anti-Afrikaner is nie. Dit beteken bloot: “Ik ben een Afrikaner, ik wil niet weg.”
Afrikaners is nie 'n monolitiese blok nie. Hulle is boere én akademici, kunstenaars én entrepreneurs. Hulle is bruin, bleek, progressief, konserwatief — die hele spektrum. Die Afrikaner se erfenis is sowel die vasberadenheid van die Voortrekkers as die skaamte van apartheid. Die eng definisie van Afrikanerskap – wit, Afrikaans en Calvinisties – verteenwoordig slegs 'n deel van hierdie veelkantige erfenis. Die Afrikaner se ware krag lê in diversiteit, nie uitsluiting nie. Vier van die destydse Dakar-gangers – Breyten Breytenbach, André P. Brink, Van Zyl Slabbert en Ampie Coetzee – het Afrikaners destyds die beste opgesom:
“Bruin en bleek, kommuniste, boere, liberale, moffies, koffiedrinkers… daardie ruie verskeidenheid wat die meerderheid is – maar nooit aanmatigend nie.”
In sy boek Dear Comrade President haal André Odendaal hulle selfs meer kleurvol aan:
“Daar is bruin en bleek, kommuniste en boere en bittereinders en liberale, Dakar-pelgrims en agnostici en Boeddhiste en afvalliges en wederstrewiges en skrumskakels en alkoholiste en kerkmuise en kultuurkokkerotte en moffies en mekênieks en vissermense sonder kwotas en vorige grensvegters bierpense en nihiliste en diakens en gesellinne en filosowe en koffiedrinkers — kortom, daardie ruie en lewenskragtige verskeidenheid onafhanklikes wat met reg daarop aanspraak kan maak dat hulle die meerderheid Afrikaners is (maar nooit so aanmatigend sal wees om te dink hulle is die verteenwoordigende nie).”
Hierdie verskeidenheid is vandag duideliker as ooit. In plaas daarvan om mekaar se Afrikanerskap verdag te maak, behoort ons dit te vier.
Vir te lank het die Nasionale Party Afrikanerskap gekaap en omskryf as wit, Afrikaanssprekendes wat elke Sondag Calvinisties kerk toe gaan. Afrikanerskap is te lank versmoor deur eng definisies. Andersdenkende Afrikaners word al te lank as verraaiers gebrandmerk – en steeds gedoen. Dis tyd dat Afrikaners besef: geen groep, organisasie of leier het die mandaat om namens alle Afrikaners te praat nie. Hulle kan hoogstens namens 'n deel praat. Die idee dat net sekere Afrikaners en organisasies daarop aanspraak kan maak om Afrikaners te wees — en net as hulle Christene is — is bloot bog.
Soos die ondertekenaars van die ope brief tereg skryf:
“Afrikaners soos ons, wat ons Suid-Afrikaanse wortels terugvoer na die 17de en 18de eeue, kies om onsself lede van 'n inklusiewe en diverse Afrikaanssprekende gemeenskap te noem. Ons deel 'n taal, en ons kulturele tradisies en godsdienstige wortels is dieselfde, maar ons gemeenskap huisves 'n verskeidenheid van sienings. Hierdie diversiteit is ingebed in ons geskiedenis en dit is ons krag, nie ons swakheid nie. Suid-Afrika se diversiteit verryk ons.”
Dis nie radikaal nie. Dis nie eens nuut nie. Dis net menslik.
Wat ons die afgelope paar weke op sosiale media sien afspeel het, kan nooit die somtotaal van die Afrikaner wees nie. Dit verteenwoordig bloot 'n giftige rioolkultuur van haatspraak en selfbevestiging.
Afrikaners is méér as dit. Hulle is kunstenaars, akademici, werkers, onderwysers, boere, verpleegsters, entrepreneurs – mense wat weet dat ware trots nie lê in uitsluiting nie, maar in insluiting; nie in vrees nie, maar in hoop; nie in geskree nie, maar in gesprek. Hendrik Biebouw se woorde was 'n daad van verset, nie van uitsluiting nie. Die feit dat hy waarskynlik van gemengde afkoms was, maak die ironie vandag des te skerper: die eerste Afrikaner was waarskynlik nie wit nie.
In Stellenbosch, onder 'n ou eikeboom in Dorpstraat, staan 'n gedenksteen wat sy woorde verewig: “Ik ben een Afrikaner.” Dit herinner ons daaraan dat Afrikanerskap nie begin het met vrees of ras nie, maar met verbondenheid en verset teen onreg.
Dis tyd dat ons dié betekenis weer herontdek – en die woorde uit 1707 nie as slagspreuk nie, maar as herbesinning herhaal en so die son oor álle Afrikaners laat skyn wat sê: “Ik ben een Afrikaner, ik wil niet weg.”
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













Uitstekend Jean!