'n Mens is geneig om te dink dat ons as geletterde, opgevoede mense vandag daartoe in staat is om rasionele gesprekke met mekaar te voer oor dinge waaroor ons verskil.
In 'n ideale wêreld sou ons rustig met mekaar kon gesels oor raakpunte en verskille, ons verskille vriendelik bespreek en rasionele oplossings soek. Helaas, daardie ideale wêreld bestaan nie. Inteendeel, baie van die debatte wat ons met mekaar voer is steriel: sulke debatte dien geen doel nie, oortuig niemand nie, en is eintlik net 'n mors van tyd – veral op die politieke terrein.
So wat nou met steriele twispunte: moet ons dit eenvoudig vermy? Ek het altyd so gedink – gebruik tyd en energie liewer vir iets meer sinvol soos om iets te doen of te plant, of iets interessant te lees. Maar die lewe en tragiese sterwe van Charlie Kirk laat 'n mens weer hieroor dink. Die doel van hierdie meningstuk is om 'n bietjie te filosofeer rondom hierdie onderwerp: Om steriele debat te voer of nie?
Wat is sinvolle, produktiewe debat?
Na baie jare in die regsberoep weet ek dat selfs hoogs beskaafde, ordentlike mense sukkel om dinge rustig te bespreek en oplossings te vind. Inteendeel, ons sien dat verskille amper nooit rustig, deur gesprek, opgelos kan word nie - vandaar ons oorvol hofrolle.
Hoekom dan so?
Dit lyk vir my dat hoe nader mense aan mekaar leef, hoe moeiliker dit word om geskille op te los. Kyk maar hoe geskeide mense en sakevennote soos kat en hond baklei wanneer dinge uitrafel. Menige testament is die begin van bittere rusies en die einde van verhoudings, selfs binne hegte families.
Ons regsorde hanteer hierdie soort geskille redelik doeltreffend: 'n regter of 'n landdros luister na 'n dispuut en neem 'n beslissing, hopelik gegrond op getuienis en bewese feite. Maar selfs dan is die uitkoms soms groter bitterheid. Die voordeel is dat regsdebatte en -argumente wat in hierdie proses gevoer word lei na iets, een of ander uitkoms – so hierdie is nie steriele debat nie.
Sekere politieke debatte is ook nie steriel nie – veral waar brood-en-botter-sake bespreek word, begrotings gedebatteer word, politieke kandidate hulle standpunte stel, ensomeer. Ook hierdie soort debatte maak sin en het 'n uitkoms, of een of ander einddoel – behalwe natuurlik as die hoofsweep van jou party die werklike beleidmaker is: dan word politieke debat ook redelik steriel.
Wat is steriele debat dan?
Ek sou steriele debat beskryf as debat wat inherent nie lei tot enige uitkoms nie – niemand is oortuigbaar nie, en daar is geen onafhanklike party wat 'n beslissing kan of gaan maak nie.
Tipiese voorbeelde van steriele debat sou gesprekke insluit oor onderwerpe waar mense sterk ideologiese oortuigings het, en nie vatbaar vir objektiewe debat is nie. Hier dink ek tipies aan debatte oor godsdiens, en oor onderwerpe met godsdiensagtige kenmerke soos klimaatsverandering, evolusie, aborsie, geslagsverandering, ensomeer. Besprekings oor hierdie soort vraagstukke ontaard vinnig in beskuldigings van kettery, valse wetenskap, regse of linkse propaganda, seksisme, ensomeer. Ek het altyd gedink dit is net beter om ernstige gesprekke hieroor te vermy, want dit lei na niks: boonop is dit “boring”, soos die tieners sê.
Nog 'n kategorie is daardie gesprekke waar een of albei partye 'n geldelike belang het, of waar deelnemers 'n bepaalde gehoor het wat hy of sy ten alle koste gelukkig moet hou. Hier dink ek (ietwat tong in die kies) aan gesprekke met mense soos Max du Preez, Piet Croukamp en die 42 ander ondertekenaars van die onlangse omstrede ope brief oor 'n tema soos selfbeskikking, of oor enigiets wat ANC-beleid bevraagteken. Sulke besprekings lei tot niks, behalwe vir beskuldigings van rassisme, seksisme, of enige van die ander -ismes.
Hierdie soort bespreking is sinloos en sinneloos, want dit is onopreg, en dikwels opvoerig – en dan ook uiters vervelig. Ek het altyd gevoel dat hierdie soort gesprek geen nut het nie, en dat ons regtig beter maniere het om tyd te bestee.
Charlie Kirk se benadering: enige debat is goed en welkom
As enige leser nie teen die tyd weet wie Charlie Kirk was nie, sal ek ernstig aanbeveel dat u na enige van Charlie se toesprake of YouTube-debatte kyk. Hy is om politieke redes deur die hoofstroom-media in die VSA geïgnoreer, al het hy miljoene aanhangers gehad.
Almal wat enige van Charlie Kirk se kampus-debatte op alternatiewe media gesien het, sou die manier waarop hy voor vyandige gehore debatte uitgelok en gevoer het, opvallend vind, en dit ook omtrent altyd met mense met heeltemal teenoorgestelde standpunte as hy.
Charlie en sy organisasie, Turning Point USA, het bekend daarvoor geraak dat hulle konserwatiewe, Christelike standpunte op vyandige universiteitskampusse gaan verdedig het voor gehore van jongmense wat woke, vyandig en beledigend teenoor Charlie en sy standpunte was. Hy het mense uitgedaag om met hom te debatteer oor onderwerpe soos geslagsverandering, aborsie, patriotisme en familiewaardes, om net 'n paar te noem. Hierdie debatte het hom dikwels in onguns by universiteitsowerhede gebring, en het uiteindelik daartoe gelei dat hy vermoor is, juis tydens 'n kampusdebat.
Enige persoon wat Charlie se optredes gesien het, sou gewonder het wat die punt daarvan was: amper al sy optredes op kampusse was voor vyandige gehore. Dit het vir my gelyk asof sy debatte sonder enige positiewe uitkomste was - absolute steriele debat, en dus sinloos. 'n Mens sou kon aanvoer dat hy beter sou doen deur sy Christelike boodskap te gaan verkondig in Afrika of Asië, of waar hy ookal 'n meer ontvanklike gehoor sou vind. Daar sou hy minstens nie elke dag 'n Nazi of 'n rassis genoem word nie.
En tog: wat my altyd getref het van sy manier van debatteer, was Charlie se gewilligheid om na sy opponente te luister, tussen die beledigings en etikette deur. Soms het hy sy jong opponente se standpunte vir hulle geformuleer as hulle self daarmee sukkel: dan het hy met deernis en respek sy eie standpunt gestel en gemotiveer, dikwels in onmoontlike omstandighede. Hy het eenvoudig volhard, en tot die dag dat hy vermoor is, daarmee aangehou. Belangrik: hy het sy opponente nooit beledig nie.
Die volle omvang van Charlie Kirk se lewe en werk is nog nie ten volle bekend nie, maar vriend en vyand stem saam dat hy en sy medewerkers by Turning Point USA groot omwentelinge in die denke van jongmense in die VSA gebring het. Hulle het 'n ernstige duik gemaak in die “woke”, Marxistiese kultuur wat universiteitskampusse in alle Westerse lande oorgeneem het. Sommige waarnemers praat reeds van 'n kulturele rewolusie, waarvan die skokgolwe waarskynlik wêreldwyd verandering gaan bring.
Hoe het dit gebeur? Hoe is so iets moontlik? Dalk is daar nie iets soos steriele debat nie?
Dalk is die debattering van onversoenbare standpunte juis sinvol en betekenisvol. Dalk moet ons juis die ander gaan opsoek (ook Du Preez, Croukamp, en die ander 42) en volhard daarmee om die alternatiewe standpunte respekvol en deernisvol te stel en te motiveer, by elke moontlike geleentheid, ook voor vyandige gehore?
Miskien is die beledigings en die etikette juis 'n soort ereteken, of 'n teken van die leegheid van die teenargument?
Miskien is die proses belangriker as die uitkoms.
Adv. Du Toit Maritz is 'n voormalige staatsaanklaer en regsadviseur, wat sedert 1998 as advokaat in Pretoria en Johannesburg optree.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











