Is die Afrikaner uiteindelik 'n Wêreldburger?
Wanneer patriargie homself as tradisie aanbied.
'n Vrystaatse boer het onlangs 'n advertensie in Die Burger geplaas. Nie vir 'n bees of sy bakkie nie, maar vir 'n vrou. Die “suksesvolle advokaat” van 58 beskryf homself as welgesteld, en op soek na 'n “rein, hubare” bruid tussen 16 en 25. Die pakket: R100,000 bruidskat vir die ouers, R5 miljoen boedelvoorsiening vir die bruid, en 'n formele familie-voorstellingsgesprek voor enigiets verder gaan.
Dis maklik om hierdie advertensie af te maak as 'n kuriositeit, iets wat 'n mens met opgetrekte wenkbroue lees en dan aanstuur vir 'n pel met 'n “WTF!?” as die boodskap. Maar as jy langer daarby stilstaan, is daar iets wat 'n baie noue verband hou met hoe die Afrikaner-identiteit al vir dekades in Afrikaanse media na vore kom.
Solank dit nasionalsties, patriargaal, en in Afrikaans is
Kyk 'n mens na die advertensie se woordkeuse, is dit duidelik van 'n baie spesifieke morele register.
“Rein.”
“Hubaar.”
“Bybel-beginsels.”
Dis nie toevallig dat hierdie woorde gebruik word nie. Dit is die taal van 'n Christelike nasionalisme wat al vir geslagte die Afrikaner se identiteit gevorm het. Hierdie Afrikaner identiteit plaas reinheid en huwelikbaarheid as vroue se waardebepaling, en waar die man, soos die advertensie self stel, “as hoof van die huis dien.”
Media24 het die Vrystaatse-boer gekontak om die prentjie verder gekleur:
Die verbintenis wat hy soek, is nie 'n burgerlike huwelik nie, maar 'n “gebruiklikheidsverbintenis” voor God gesluit, een wat nie deur kerk of hof ontbind kan word nie. Daar sal 'n tweede bruid by hulle kom woon sodra “'n huwelik” verbondsgewys vasgemaak is, dus 'n poligamiese opset, sonder registrasie buiten getuies by die feesmaal. Die huwelik word volgens hom voltrek by eerste omgang, nie deur sertifikaat nie. En die vrou se vrugbaarheid word nie vooraf bepaal nie.
Dit is nie net 'n eksentrieke buiteblik op 'n huwelik nie. Dit is 'n verdieping van presies die patriargale strukture wat reeds in die advertensie sluimer: manlike gesag, vroulike onderdanigheid (”elke vrou staan onder haar man”), en 'n verbintenis wat buite die staat se sisteme van beskerming en verantwoordbaarheid funksioneer. “Daar is net een kaptein op 'n skip,” soos hy dit self stel.
Die boer het wel die nood gevoel om te deel dat volgens hom die huwelik voltrek by eerste omgang, nie deur sertifikaat nie. Gelukkig is die jong tweede bruid se vrugbaarheid nie 'n kwessie waarmee die boer homself bemoei nie, as sy nie vrugbaar is nie, “is dit maar so.”
En dan, natuurlik, is die advertensie in Afrikaans geplaas. Wat binne die geheel van Suid-Afrikaanse media nie 'n neutrale keuse is nie. Dit posisioneer die soektog binne 'n spesifieke taal-, geloofs- en kultuurgemeenskap,
Daarby kom die ouderdomsgaping. 'n Man van 58 wat 'n meisie van 16 tot 25 soek, kan afgeskryf word as net 'n private voorkeur. Maar in werklikheid is dit 'n patroon wat direk aansluit by hoe patriargale magsverhoudings histories gewerk het binne die Afrikaner-identiteit: 'n ouer man met hulpbronne, 'n jonger vrou sonder.
Hierdie is nie 'n nuwe opkomste in die Afrikaanse media se geskiedenis nie. In Landbouweekblad se Opsitkamer-afdeling, waar lesers al vir dekades liefdesbriewe kon plaas om mekaar te ontmoet, kon 'n persoon al van 15 af 'n brief plaas of op een reageer. Die ouderdomskwessie is nooit werklik bevraagteken nie, dit was net hoe dit was(is?).
Watter Afrikaner is dit dan die?
Hierdie Vrystaatse-boer leef 'n taamlike nuwe Afrikaner-identiteit, FW de Klerk s'n om spesifiek te wees.
FW de Klerk het op 29 Mei 2015 'n toespraak gelewer waarin hy homself gebruik om die Afrikaanse identiteit te omskryf:
Ek is FW de Klerk, 'n individuele persoon.
Ek behoort aan die De Klerk, Coetzer, van Rooy, en Fouché families.
Ek is 'n lid van die Gereformeerde Kerk.
Ek is 'n Afrikaner.
Ek praat Afrikaans - so is ek ook 'n Afrikaanse.
Ek is 'n Suid-Afrikaner.
Ek is 'n Afrikaan.
Ek is ook 'n lid van die groot Wes-Europese Kultuur.
Ek is 'n burger van die wȇreld.
Wat opvallend is, is dat daar geen verwysing na familie of familiewaardes in die direkte sin van die woord is nei, net familie-herkoms as 'n soort kwalifikasie. Dit is vreemd as 'n mens onthou hoe sentraal die kerngesin (die man, die vrou, die kinders, die plaas/huis) tot die klassieke Afrikaner-identiteit was. Vir FW De Klerk was die Afrikaner-identiteit eerder geanker in sy multi-kulturele herkoms en die erkening daarvan as oor 'n Afrikaner gesin wat gebou gaan word.
Wat ook opvallend is, is die toespreek van multi-identiteit en die definiëring daarvan.
“Afrikaner”
“Afrikaanse”
“Afrikaan”
“Suid-Afrikaner”
“Lid van 'n Wes-Europese Kultuur.”
Wat die laaste regime president se verskille tussen hierdie identiteite was is nie duidelik nie, maar dit wys tog na die huidige fragmentasie oor die Afrikaner identiteit. 'n Tipe vooruitwysing van die debat oor Afrikaner-identiteit tans is.
Die ironie van die wêreldburger
In dieselfde asem waarin FW de Klerk sy toespraak oor Afrikaner-identiteit afsluit, stel hy dat 'n Afrikaner 'n “burger van die wêreld” is. Dit is 'n mooi, hoopvolle sin, een wat 'n beeld skep van 'n identiteit wat oopgroei, wat internasionaal en liberaal kan wees sonder om sy wortels te verloor. Ons sien die fragmente hiervan in die Boere in Patagonië, die man in sy R1000-Springboktrui wat wakker word in die bak van 'n Amerikaanse bakkie, die Vrystaatse boere wat poligamie beoefen.
Maar hierdie advertensie, en veral die boer se eie woorde daaroor, is die presiese teenoorgestelde van 'n wêreldburgerskap. Dit is 'n stelsel gebou op ouderdomsgapings, bruidskatte, meervoudige vroue sonder wetlike beskerming, en 'n vrou se waarde wat aan reinheid en vrugbaarheid gemeet word. As dít is hoe die “wêreldburger” se eie ideale lyk, dan is die woord self hol. Dit is nie een of ander liberalistiese Afrikaner wat hier na vore kom nie, dit is patriargie wat homself in kosmopolitaanse taal verpak, presies omdat dit weet hoe dit nou moet klink om aanvaarbaar te word.
Dalk is dit die eerlikste ding wat hierdie advertensie ons kan leer, dat die huidige Afrikaner-identiteit nie 'n teenstrydigheid is wat opgeklaar moet word nie, dit is die identiteit wat getrou bly aan sy tekortkominge, selfs in fragmentasie, en steeds onbevraagteken bly.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











