Maak sielkunde se wortels in universalisme en ander Verligtingsbeginsels daarvan 'n rassistiese studieveld, of selfs 'n wit-meerderwaardigheidsdissipline?
Volgens 'n artikel in 2024 deur Derald Wing Sue, Helen Neville en Laura Smith is die antwoord ja. In Desember 2024 het ek 'n voorlopige weergawe van my teenreaksie op hierdie standpunt geplaas, getiteld “Universalism is Not White”, wat onlangs in die American Psychologist verskyn het, saam met 'n repliek deur Sue en haar kollegas. Aangesien daardie akademiese gesprek nou afgehandel is, en daar min kans is vir 'n openbare gesprek van aangesig tot aangesig, het ek besluit om sommige van die onderliggende temas hier verder uit te pak.
'n Bietjie agtergrond
Die outeurs se hoofpunt in hul 2024-publikasie is dat Verligtings- of Westerse beginsels die sielkunde oorheers, en dat die veld hierdie wanbalans moet regstel deur wit Eurosentriese benaderings in die vakgebied ongedaan te maak en meer inheemse wêreldbeskouings te omhels. Hierdie proses van “undoing” en “embracing” staan algemeen bekend as die dekolonisering en verinheemsing van 'n vakgebied.
In my kommentaar begin ek met die volgende aanhaling uit 1903 deur W.E.B. Du Bois as vertrekpunt vir my kritiek op Sue en ander se standpunt:
“I sit with Shakespeare and he winces not. Across the color line I move arm in arm with Balzac and Dumas, where smiling men and welcoming women glide in gilded halls. From out the caves of evening that swing between the strong-limbed earth and the tracery of the stars, I summon Aristotle and Aurelius and what soul I will, and they come all graciously with no scorn nor condescension.”
— Du Bois (1989/1903), The Souls of Black Folk, p. 80
Ek maak drie hoofpunte:
Soos Du Bois geglo het, behoort idees nie aan uitgesonderde groepe mense nie en behoort dit nie so behandel te word nie.
Begrippe soos universalisme is nastrewenswaardige beginsels — beginsels wat waarde hou ongeag hoe swak mense daarby hou.
Om sulke nuttige beginsels te rasionaliseer en te verkleineer, doen meer skade as goed — vir minderheidsgroepe, vir sielkunde en vir die samelewing.
Die aanhaling toon aan hoe irrelevant Du Bois die ras van die denkers agter die idees beskou, waaraan hyself verwant voel. Ek voer aan dat dít die regte houding is: wanneer ons idees rasmatig raam, ontmoedig ons mense buite sekere groepe om uit daardie wysheid te leer. Universalisme het deur die geskiedenis heen groot waarde vir die mensdom gehad en was dikwels die dryfkrag agter burgerregtebewegings. Minderhede en buitestaanders is dikwels dié wat die meeste daarby baat vind. Waarom sou ons hulle daarvan vervreem? Dis die kern van my betoog.
Hul reaksie
Soos te verwagte, was Sue en haar kollegas nie oortuig deur my argumente nie (of deur dié van McKay & Koppelman-White). Hulle het dit duidelik gestel in hul repliek. Hulle opsomming alleen is reeds sprekend:
“The critiques of Sue et al. (2024) by McKay and Koppelman-White (2025) and Strambler (2025) are examples of being trapped by a White Western epistemology/ontology that prevents them from “seeing the forest from the trees.” They cling to an unenlightened view of Enlightenment values, attribute racism in counseling and psychotherapy to reside primarily in individual therapists and not in systems of power and privilege, fail to consider the legitimacy of indigenous worldviews, and unknowingly engage in epistemological oppression. We argue that epistemological and definitional power oppresses, denigrates, and harms people of color. We assert that decolonizing psychology will result in liberation not only for people of color but also for the mental health professions.”
Die eerste opvallende ding is die stemtoon van die bovermelde uittreksel en die aannames oor karakter. Hulle beweer my redenasie kom voort uit 'n “gevangeneskap” in “witheid”, dat ek aan 'n “onverligte” siening vasklou en dat ek “gevange is in 'n wit Westerse epistemologie”. Hulle sê selfs hulle is verbysterd oor hoe ek só kon redeneer. Dit is dus nie net kritiek op my argumente nie, maar 'n aanval op my vermoë om te dink. Vir iemand wat sy brood verdien deur te dink, is dit 'n taamlike belediging.
Ek voel egter nie gekrenk of verontreg daaroor nie. Ek kan beledigings hanteer, en ek glo ons almal het meer verdraagsaamheid daarvoor nodig. Ek wys hierdie dinamiek uit omdat dit 'n algemene manier van debatvoering verteenwoordig wat gesprek versmoor en die oplossing van komplekse vraagstukke, soos dié waarmee sielkunde worstel, belemmer. Een rede waarom soveel akademici hul eie monde snoer is omdat hulle bang is hul karakter sal aangeval word. Dat hulle as immoreel, onkundig of sommer net dom uitgekryt sal word. Dis veral waar wanneer dit oor sogenaamde sosiale geregtigheid gaan.
En ek praat nie net van wit mense se gevoelens nie. Om 'n swart persoon se argumente toe te skryf aan breinspoeling deur 'n onderdrukkende ideologie, is ewe beledigend. Amper soos om hom 'n “Uncle Tom” te noem. Dis maklik om te sien waarom mense, veral diegene wat konflik vermy of hul loopbane wil beskerm, eenvoudig besluit om niks te sê nie.
Ironies genoeg, pas só 'n uitlating presies in by Sue se eie omskrywing van 'n “mikroaggressie”. Dit impliseer ek is nie die “regte soort swart” nie. Hierdie taktiek om teenstanders as ideologies vasgevang af te maak, sluit gesprek af nog voor dit begin het.
Omskrywingsmag en rasse-idees
In my kritiek haal ek die Oxford English Dictionary of Philosophy en die Stanford Encyclopedia of Philosophy aan om te wys dat die gewone omskrywings van universalisme juis die teenoorgestelde is van wat Sue en kollegas beweer. Hulle sê universalisme is bloot vermomde wit oppergesag omdat “witheid” (“whiteness”) die maatstaf sou wees waarteen alles anders gemeet word. Ek voer aan dat, hoewel dit wel soms gebeur, daardie misbruik 'n verdraaiing van universalisme is. Universalisme is juis 'n beginsel wat daarop gemik is om verder dan die grense van kultuur en identiteit te beweeg.
Ek meen die regte strategie is om die spieël op te hou vir diegene wat dié begrip misbruik. Presies die taktiek wat burgerregtebewegings suksesvol gemaak het. Sulke bewegings berus op die oortuiging dat alle mense gelyke waarde het, ongeag ras, geslag of kultuur. Menslike waardigheid streef verby kultuur.
My kritici sien dit anders. Hulle beweer dat ek, deur so 'n Westerse omskrywing te gebruik, besig is om “omskrywingsmag” uit te oefen en dat ek nie raaksien hoe ander epistemologiese raamwerke hierdie dinge interpreteer nie. Dit is egter 'n relativistiese en postmoderne argument dat niks 'n gedeelde betekenis het nie en dat daar slegs verskillende maniere is om dinge te beskou, wat beïnvloed word deur kulturele lense. Hulle sê ek begryp nie hoe ander mense universalisme waarneem en daaroor dink nie.
Dit is heeltemal geldig dat verskillende groepe verskillende interpretasies en konnotasies van idees kan hê, maar maak interpretasies noodwendig omskrywings? As ons sê niks het enige ooreengekome betekenis nie, maak ons alle taal betekenisloos. As die woord “smaaklik” ook “walglik” kan beteken, afhangend van iemand se wêreldbeskouing, het ons nie pluralisme bereik nie, ons het Babel bereik. Wat betref die karakterisering van universalisme as wit heerssug en as 'n onderdrukkende begrip, het ek reeds baie hiervan in my tweede Substack-plasing aangespreek, waarin ek reageer op die beskuldiging dat die sosiale wetenskappe een van die “meester se stukke gereedskap” sou wees. Sue en haar kollegas maak 'n soortgelyke argument oor Westerse en wit epistemologie as instrumente van wit oppergesag en onderdrukking. Soos ek in daardie plasing én in my kommentaar aangevoer het, verwerp ek die uitgangspunt dat idees aan rasse behoort, en ek beskou daardie benadering as teenproduktief vir die bevordering van kennis en vooruitgang in die samelewing.
Soos Du Bois glo ek dat die beter benadering is om waardevolle idees te identifiseer, ongeag wie dit uitspreek. Idees dra nie die essensie van die persone wat dit huldig nie. Daarom kan hulle op hul eie meriete beoordeel word, los van die morele karakter van dié wat dit oorspronklik geformuleer het.
Inheemse wêreldbeskouings
Die kern van die outeurs se kritiek op my is dat ek glo “Westerse” epistemologieë bo die inheemse plaas. Hulle meen hierdie raamwerke, gebore uit kolonialisme, het só oorheersend en onderdrukkend geword dat hulle “gedekoloniseer” moet word. Hulle haal selfs 'n Suid-Afrikaanse sielkundige aan wat dekolonisering beskryf as:
“[F]ighting, undoing, and overcoming received colonial ways that have shaped economic, political, and social structures; knowledge practices (which includes psychology and other natural, health and human sciences); interpersonal relationships; and the self ”.
Vele ander het soortgelyke argumente gemaak. In die begin het voorstanders van dekolonisering eenvoudig bedoel dat teorieë en metodes uit plaaslike kulturele kontekste moet ontstaan eerder as om uit die Weste ingevoer te word. Meer onlangse stemme wil egter die hele kennisraamwerk van sielkunde herdefinieer.
Sue en haar kollegas voer aan dat inheemse wêreldbeskouings, wat uit die veld verdring is, nou weer ingesluit moet word (“verinheemsing”). Maar hulle bied geen duidelike definisie van wat presies onder inheemse wêreldbeskouings val nie, behalwe breë temas soos intuïsie, geestelike insig, kritiese bewustheid, getuienis en storievertelling. Hulle beskuldig my daarvan dat ek die legitimiteit van hierdie wêreldbeskouings nie in ag neem nie. As hulle bedoel dat sulke sienings betekenisvol is vir baie mense, stem ek saam. Maar dit sê niks oor of die sielkunde dit behoort aan te neem nie. Die vraag is of dit beter werk as die bestaande benaderings.
Om die ongemaklike te konfronteer
Sulke breë omskrywings van “inheems” help nie om te bepaal watter idees werklik daaronder val nie.
Wat dikwels verswyg word, is dat nie alle inheemse praktyke versoenbaar is met die progressiewe waardes wat dekoloniseringsaktiviste dikwels bevorder nie. Sommige bevat byvoorbeeld opvattings oor vroue, seksuele minderhede of kinders wat baie van daardie einste aktiviste sou verwerp. Wat maak ons dan daarmee? As 'n inheemse tradisie sê homoseksualiteit is 'n sonde wat met lewenslange tronkstraf gestraf moet word, of dat 'n vrou altyd aan haar man moet gehoorsaam, of dat 'n jong vrou wat met 'n man van haar eie keuse trou, die doodstraf moet kry, wat maak 'n mens met sulke oortuigings? Behoort dit bo kritiek verhewe te wees? Moet ons die Westerse invloed verwyder (“dekoloniseer”) sodat daardie oortuigings ongehinderd kan floreer? Moet ons sulke oortuigings “verinheems” in die sosiale wetenskappe?
Ek noem dit nie om enige kultuur te verkleineer nie. Elke kultuur, ook Westerse kulture, bevat dinge wat ons vandag sou afkeur en dinge wat ons bewonder. Maar “inheems” is nie sinoniem met onfeilbaarheid nie. My punt is net dat wanneer ons besluit of 'n veld 'n bepaalde wêreldbeskouing behoort aan te neem, moet daar 'n maatstaf wees. Hierbo het ek morele waardes gebruik om hierdie punt te illustreer, maar dieselfde beginsel geld wanneer sulke oortuigings in vakgebiede soos sielkunde en ander sosiale wetenskappe geïntegreer word. Hierdie oortuigings moet krities beoordeel word vir hul bruikbaarheid, net soos enige ander idee. Soos ek vroeër geskryf het:
“[I]f one really cares about understanding and addressing complex social problems, one should care about what ideas get the job done the best. This requires being skeptical and critical across the board, not only of the side that feels less resonant to you. That side can be wrong, too. For the sake of fairness and anything else we want to improve, we need to be a lot harder on ideas.”
'n Kritikus mag sê: “Goed dan, wees net so streng op tradisionele sosiaalwetenskaplike oortuigings! Moenie aanneem dat daardie standaarde altyd die beste is nie!”
Beslis. Ons moet die wetenskaplike metode, en alles wat “Westers” bevraagteken en streng beoordeel. Geen idee behoort ooit bo kritiek verhewe te wees nie. En as jy die politiek die afgelope tyd dopgehou het, sal jy weet hoe gereeld die wetenskap bevraagteken, gekritiseer en betwyfel word. Ek sou dit baie waardeer as die voorstanders van dekolonisering/verinheemsing daardie selfde kritiese blik ook op hul eie groep sou rig.
Die Beste Argument
Natuurlik is die wetenskap baie ver van volmaak, en nie alles aan die dekoloniseringsbeweging is verkeerd of misplaas nie. Dit is dus die moeite werd om die waardevolle elemente daarvan raak te sien. Laat ek dus, in die gees van steelmanning oftewel flankversterking, die sterkste deel van daardie beweging uitlig.
Dit is welbekend dat sielkunde oor dekades heen hoofsaaklik gefokus het op sogenaamde WEIRD-bevolkings — “Western, Educated, Industrialized, Rich, Democratic”. Wanneer ons hoofsaaklik hierdie kulture bestudeer, loop ons die risiko om gevolgtrekkings te maak op grond van 'n baie beperkte stel sosiale en kulturele kontekste wat menslike gedrag beïnvloed. As ons werklik goeie wetenskap wil beoefen, móét ons ons blik verbreed om nie-WEIRD bevolkings in te sluit. Verder is dit sinvol om die metodes en insigte wat sulke kulture bied te oorweeg wanneer ons probeer verstaan hoe mense dink, leef en in gemeenskappe funksioneer. Ons moet waardevolle idees aangryp waar hulle ook al voorkom. Die Westerse wêreld het nie 'n monopolie op wysheid of kennis nie, en ons behoort dit nie as sodanig te behandel nie.
Maar hierdie punt van ooreenstemming — hoe belangrik ook al — beteken nie dat ek die breër dekoloniseringsprojek onderskryf nie.
Baie van die foute wat in die sosiale geregtigheidsdiskoers gemaak word, spruit uit sterk aannames wat as gevestig en onbetwisbaar behandel word, maar dikwels óf ongetoets óf swak gegrond is. Net onder die oppervlak van die argumente vir die dekolonisering en verinheemsing van sielkunde lê die aanname dat die aanneming van inheemse wêreldbeskouings noodwendig die veld sal verbeter. Dit is moontlik waar, of moontlik nie — ek is oop daarvoor om oortuig te word. Maar wat nie oortuigend is nie, is om skeptici te beskuldig dat hulle “onverlig”, “vasgevang in wit heerssugtigheid” of “geheg aan hul gekoesterde geloofsartikels” is, net omdat hulle nie die bewyse “raaksien” nie of die argument nie sterk genoeg vind nie.
Die beter weg is om die werklike vrae regstreeks aan te spreek:
Wat maak 'n wêreldbeskouing “inheems”?
Waarom sou inheemse wêreldbeskouings noodsaaklik of voordelig wees vir die sosiale wetenskappe?
Hoe sou 'n suksesvolle integrasie van hierdie wêreldbeskouings lyk?
Aan die einde van die dag lê die pad vorentoe nie in karakteraanvalle of in die verromantisering van alternatiewe nie, maar in 'n eerlike, deeglike evaluering van idees op hul eie meriete. As inheemse wêreldbeskouings werklik nuwe, waardevolle insigte bied wat ons begrip van menslike sielkunde verdiep, maak dan die saak helder en oortuigend: formuleer dit duidelik, opper die bewyse, demonstreer die nut daarvan. Maar moenie verwag dat skeptici dit blindelings moet aanvaar nie — en beslis nie net uit vrees dat kritiek hulle moreel verdag sal maak nie.
Die ironie is dat Sue en haar kollegas, met hul benadering, juis die ding ondermyn wat hulle sê hulle wil hê: 'n meer inklusiewe, meer doeltreffende sielkunde. Deur skeptisisme as ’n karakterfout te behandel eerder as 'n noodsaaklike deel van intellektuele ondersoek, vergiftig hulle die gesprek selfs voordat dit begin.
Dit verseker dat net diegene wat reeds oortuig is, deelneem — en dít is nie hoe 'n dissipline groei nie. Dis hoe ’n eggo-ruim ontstaan: Die plek waarheen idees gaan om te sterf.
Hierdie artikel is met vergunning van Dr. Mike Strambler, medeprofessor in psigiatrie aan die Yale Skool vir Geneeskunde, vertaal en aangepas. Besoek gerus sy Substack, getiteld As Is.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












