Kleiner partye kan die magsbalans swaai
Die Evaton-tussenverkiesing wys hoe stemverdeling die magsbalans kan verander.
'n Skrale agt stemme het die DA se skok-sege oor die ANC in Evaton beklink. Hoewel die DA lof hiervoor verdien, is daar nog iemand wat hulle moet bedank: die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.
Die SAKP, wat histories deel is van die ANC-alliansie, het as onafhanklike party aan die tussenverkiesing in Wyk 28 deelgeneem. Hulle het 89 stemme gekry – meer as die marge tussen die ANC en die DA. Dis redelik om te vermoed dat die meeste van hierdie 89 stemme na die ANC sou gegaan het as die SAKP nié deelgeneem het nie.
Die kannibalisering van die ANC-stem in Wyk 28 het taamlik aandag in die pers gekry, met verskeie publikasies wat daarop gewys het dat die DA hul roemryke sege kon kwyt gewees het as dit nie vir die SAKP-stemme was nie. Kyk 'n mens egter dieper na die uitslae van die 2021-munisipale verkiesing in Emfuleni, sien jy dat kleiner partye op wyksvlak regoor die spektrum die magsbalans kan swaai, met onder meer die VF Plus wat die DA in 'n paar wyke van oorwinnings weerhou het.
Emfuleni-munisipaliteit
Ná die agt metro's is Emfuleni die munisipaliteit met die meeste inwoners. Dit sluit gebiede soos Evaton, Sebokeng, Vanderbijlpark en Vereeniging in. In die 2021-verkiesing kon geen party 'n volstrekte meerderheid in die raad verkry nie. Hieronder is die top vier partye in die 90-setelraad:
ANC-38
DA-25
EFF-14
VF PLUS - 6
Die DA se 25 setels sluit die tussenverkiesing in Evaton in.
Emfuleni illustreer die koste wat daaraan verbonde is om vir 'n kleiner party te stem in 'n “wenner-vat-alles”-stelsel – die bedeling wat geld in wyksverkiesings.
Soos in ander munisipaliteite word 50% van Emfuleni se raadslede proporsioneel verkies en die ander helfte direk deur wyke. Die wykskandidaat met die meeste stemme wen die wyk, ongeag of hy of sy 'n volstrekte meerderheid behaal het.
Een bekende land wat ook 'n wenner-vat-alles-stelsel vir sy nasionale en provinsiale verkiesings gebruik, is die VSA. Senators en lede van die Huis van Verteenwoordigers word byvoorbeeld direk verkies.
Dit is een van die redes waarom die VSA twee dominante partye het: Kiesers vrees dat die party waarvan hulle die minste hou, sal wen as hulle vir 'n derde party stem. Gestel byvoorbeeld jy hou van Party A en nie van Party B nie, maar jy hou die meeste van Party C. In die verkiesing besluit jy dat jy vir Party C gaan stem, en Party C kry 15% van die steun. Party A kry 40% en Party B kry 45% en sodoende die meeste steun. In die “first past the post” stelsel het Party B gewen, maar jy hou meer van Party A as van B. Jy het indirek veroorsaak dat Party B gewen het. Jy het vir jou eerste opsie gestem maar jou derde laaste opsie gekry, en sou jou tweede opsie kon kry as jy vir Party A gestem het.
Dit is presies wat in die Wyk 28-tussenverkiesing gebeur het. SAKP-ondersteuners het hier waarskynlik met een van hul laaste keuses geëindig.
Kyk 'n mens dieper na die hele Emfuleni, sien jy talle wyke waar die VF Plus genoeg steun gekry het om die DA van 'n oorwinning te weerhou. Dit het beteken dat die VF Plus-kiesers in hierdie wyk met 'n ANC-wyksraadslid tevrede moes wees.
Wyke waar VF Plus-kiesers in 2021 die magsbalans geswaai het:
- In Wyk 25 het die ANC 1 668 stemme gekry op die wykstembrief. Die DA het 1 175 en die VF Plus het 904 stemme gekry. Die ANC het die wyk gewen, maar sou tweede gewees het indien die DA en VF Plus se stemme saamgegooi sou word.
- In Wyk 3 het die ANC 1 356 stemme op die wykstembrief gekry, met die DA op 1 038 en die VF Plus op 439.
- In Wyk 23 werf die ANC 1 361 stemme. Die DA kry 1 211 en die VF Plus 735 stemme.
Die groot vraag is: Weet VF Plus-kiesers in hierdie wyke dat hulle 'n ANC-raadslid indirek laat wen het? En dalk belangriker: Besef hulle dat hulle op die proporsionele lys vir die VF Plus kon stem en op die wykstembrief vir die DA? Die kern van die saak is dat kiesers vanjaar strategies moet wees en dit sterk oorweeg om hul stem te verdeel waar nodig.
SAKP- en VF Plus-kiesers moet hulself op 4 November afvra watter wyksraadslid hulle eerder soek as hul eerstekeuse-party nie 'n realistiese kans het nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










