Munisipale Verval: Sentralisering se Slagoffers
Die howe moet baanbrekeruitspraak gee oor ons gebreekte metro's.
Afgelope Maandag was dit presies vier weke dat inwoners in Uitenhage sonder water en elektrisiteit moes oorleef. Nie vier ure nie. Nie vier dae nie. Vier weke. 'n Volle maand.
Dit is ook nie 'n geïsoleerde voorval nie. Dit het deel geword van die nuwe normaal in groot dele van Uitenhage, Despatch en ander gemeenskappe aan die periferie van die Nelson Mandelabaai Metropool. Vir inwoners van hierdie dorpe is die werklikheid eenvoudig. Hulle betaal belasting en munisipale rekeninge, maar ontvang nie meer die basiese dienste waarop hulle grondwetlik geregtig is nie.
Die vraag wat nou gevra moet word, is nie meer of die metro-stelsel besig is om te misluk nie. Die vraag is eerder waarom gemeenskappe soos Uitenhage en Despatch nog nie die Howe genader het om hulle outonomie terug te eis nie.
Voor 1994 het Uitenhage en Despatch hulle eie munisipaliteite gehad. Hierdie dorpe was nie perfek nie, maar hulle was funksionele administratiewe sentrums met plaaslike aanspreeklikheid, plaaslike besluitneming en dienslewering wat grootliks gewerk het. Uitenhage was 'n sterk industriële sentrum. Volkswagen se aanleg en Goodyear Tyres het duisende werkgeleenthede geskep. Die dorp het 'n funksionele ekonomiese hart gehad. Strate is in stand gehou. Water- en elektrisiteitsinfrastruktuur het gewerk. Munisipale bestuur was nader aan die gemeenskap.
Despatch was bekend as 'n netjiese, stabiele dorp met relatief goeie munisipale administrasie. Besluite is geneem en raadslede was direk aanspreeklik teenoor die gemeenskap wat hulle bedien het.
Beloftes, beloftes…
Toe die Nelson Mandelabaai Metropool geskep is, was die belofte dat sentralisering beter dienslewering, groter ekonomiese integrasie en meer gelyke ontwikkeling sou bring. Die teenoorgestelde het egter in baie gebiede gebeur.
Vandag ervaar inwoners van Uitenhage en Despatch herhalende waterkrisisse, langdurige elektrisiteitsonderbrekings, vervalle paaie, swak rioolbestuur, stygende misdaad, groeiende werkloosheid, toenemende stedelike verval en stadige of afwesige reaksie op diensleweringsprobleme. Die probleem lê nie bloot by swak administrasie nie. Die probleem lê ook by die model van sentralisering self.
Wanneer groot metros geskep word, word mag gekonsentreer in n sentrale administrasie wat dikwels fokus op die stedelike kerngebiede ten koste van perifere dorpe. In Nelson Mandelabaai beteken dit dat groot dele van administratiewe en politieke fokus op Port Elizabeth gesentreer is, terwyl Uitenhage en Despatch al hoe meer gemarginaliseer word. Gemeenskappe verloor regstreekse beheer oor hulle eie begrotings, infrastruktuurprioriteite en plaaslike ontwikkeling. Die gevolg is dat inwoners fisies in 'n dorp woon, maar administratief deur 'n verre burokratiese stelsel regeer word wat min begrip het vir plaaslike realiteite.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal in Artikel 152 dat plaaslike regering die volgende doelwitte moet nastreef, die voorsiening van demokratiese en verantwoordbare regering vir plaaslike gemeenskappe, die versekering van volhoubare dienslewering, die bevordering van sosiale en ekonomiese ontwikkeling, die bevordering van 'n veilige en gesonde omgewing en die aanmoediging van gemeenskapsbetrokkenheid.
Kan enige eerlike persoon vandag argumenteer dat hierdie doelwitte in groot dele van Uitenhage en Despatch bereik word? Wanneer inwoners vir weke sonder water en elektrisiteit sit, word dit meer as net 'n administratiewe probleem. Dit raak 'n grondwetlike probleem.
Artikel 27 van die Handves van Regte beskerm toegang tot voldoende water. Artikel 24 beskerm die reg op 'n omgewing wat nie skadelik vir gesondheid en welstand is nie. Artikel 195 vereis dat openbare administrasie doeltreffend, verantwoordbaar en ontwikkelingsgerig moet wees. Wanneer 'n metro stelselmatig versuim om hierdie basiese funksies uit te voer, ontstaan daar 'n sterk argument dat inwoners se grondwetlike regte geskend word. Die sentralisering van regeringsmagte binne metros skep ook 'n ernstige demokratiese probleem. Plaaslike gemeenskappe verloor betekenisvolle politieke invloed. Besluitneming skuif verder weg van die mense wat die gevolge van daardie besluite moet dra. Inwoners van Uitenhage en Despatch voel toenemend soos belastingbetalers sonder werklike plaaslike verteenwoordiging. Dit is presies waarom die tyd aangebreek het om die Howe te nader.
Die Regsargument ter Sprake
Die regsargument hoef nie noodwendig te wees dat metros op sigself ongrondwetlik is nie. Die fokus behoort eerder te wees op die praktiese en grondwetlike gevolge van oormatige sentralisering. Daar bestaan reeds grondwetlike beginsels wat gemeenskappe kan gebruik om die huidige stelsel uit te daag.
Een moontlike hofroete is om aan te voer dat die Nelson Mandelabaai Metropool sistematies versuim om sy grondwetlike verpligtinge teenoor perifere gemeenskappe na te kom. Nog 'n moontlike argument is dat die huidige metrostruktuur inwoners se reg op verantwoordbare en responsiewe plaaslike regering ondermyn.
Gemeenskappe kan ook vra dat die Hof ondersoek instel na die billike verspreiding van hulpbronne binne die metro, infrastruktuurverval in perifere dorpe, diskriminerende diensleweringspatrone, die verlies aan plaaslike demokratiese beheer en die grondwetlike implikasies van oormatige administratiewe sentralisering.
Daar is ook ruimte vir 'n groter konstitusionele argument oor subsidiariteit. Subsidiariteit is die beginsel dat besluite op die laagste moontlike vlak geneem moet word, so na as moontlik aan die gemeenskappe wat geraak word. Hoewel die woord nie prominent in die Suid-Afrikaanse Grondwet voorkom nie, leef die beginsel duidelik binne die idee van demokratiese plaaslike regering. Wanneer gemeenskappe honderde kilometers van besluitneming verwyder word, verloor plaaslike regering sy doel. Daar moet ook ernstig gekyk word na die moontlikheid van herafbakening.
Die Munisipale Afbakeningsraad het metros geskep. Daar is geen rede waarom gemeenskappe nie nou kan argumenteer dat sekere metrostrukture misluk het en heroorweeg moet word nie. As 'n administratiewe model nie funksioneer nie, behoort dit nie permanent beskerm te word bloot omdat dit polities gerieflik is nie.
Uitenhage en Despatch behoort die reg te hê om te argumenteer vir groter plaaslike outonomie, afwenteling van magte, onafhanklike plaaslike administrasie, eie infrastruktuurbestuur, groter beheer oor plaaslike begrotings en sterker plaaslike aanspreeklikheid. Dit gaan nie oor nostalgie vir die verlede nie. Dit gaan oor funksionele regering. Dit gaan oor gemeenskappe wat voel hulle word vergeet terwyl hulle belasting betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie. Dit gaan oor inwoners wat in die donker sit terwyl politieke leiers toesprake lewer oor transformasie en ontwikkeling.
Die waarheid is dat baie dorpe wat in metros opgeneem is, ekonomies en administratief agteruitgegaan het. Uitenhage en Despatch is nie alleen nie. Regoor Suid-Afrika bestaan daar soortgelyke frustrasie in gemeenskappe wat voel hulle het beheer oor hulle plaaslike toekoms verloor. Die model het in baie plekke 'n stelsel geskep waar sentralisering politieke mag konsentreer, maar plaaslike dienslewering verswak. Die howe bestaan juis om grondwetlike regte te beskerm wanneer politieke strukture misluk. Die tyd het aangebreek vir inwoners, burgerlike organisasies, sakelui en gemeenskapsleiers om ernstig te begin dink oor strategiese litigasie. Nie as 'n simboliese politieke daad nie, maar as 'n grondwetlike noodsaaklikheid.
Want wanneer gemeenskappe vir weke sonder water en elektrisiteit sit, terwyl plaaslike ekonomieë verval en infrastruktuur ineenstort, het die debat reeds verby akademiese teorie beweeg.
Dan gaan dit oor menswaardigheid. Dan gaan dit oor grondwetlike regte en dan gaan dit oor die fundamentele vraag of gemeenskappe soos Uitenhage en Despatch nog die reg het om hulle eie toekoms te bestuur.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











