'n Suid-Afrikaanse Liefdesverhaal
Die gestry oor die siel van Suid-Afrika en oor of die toekoms blink.
Die verhouding tussen President Cyril Ramaphosa en Adi Enthoven van Hollard Insurance is tekenend van 'n toenadering tussen wit besigheid en swart politiek.
In sy onlangse toespraak aan die Universiteit Stellenbosch het Adi Enthoven, voorsitter van Hollard en Yellowwoods, verklaar: “Ons agteruitgang is gestuit, ons koers is weer positief, en dié feit is van diepgaande betekenis vir ons land se toekoms.”
Dit is 'n sterk steunbetuiging aan die regering-besigheid-vennootskap. Enthoven is 'n raadslid van Business Leadership South Africa, waar 20 uitvoerende hoofde en ander sakemense en professionele persone met die regering saamwerk om die uitdagings in die energiesektor, die logistiek en misdaadbestryding aan te pak.
Enthoven en ander lede van wit kapitaal swem in nuwe ekonomiese waters, met die regering van nasionale eenheid (RNE) wat Suid-Afrika se geldsake ten goede beïnvloed. Wit en swart – of liewer wit kapitaal en swart politieke elites – sien weer oog tot oog oor die finansiële grondbeginsels, wat hoop laat opvlam vir 'n terugkeer na die groeijare wat ons laas onder President Mbeki gesien het. Enthoven het speels verwys na Ramaphosa se beroemde padda-in-'n-pot-storie (oor wit Suid-Afrikaners wat soos die metaforiese padda stadig gekook of dan verdryf word) toe hy gesê het: “Die padda besef nie die stygende temperatuur totdat dit kook nie, maar dit lyk of die teenoorgestelde ook waar is – ons moet erken dat nie net sommige van ons mees hardnekkige probleme oplosbaar is nie, maar dat ons besig is om dit op te los.”
Vir minderhede is dit gerusstellend dat wit besigheid en die swart elite tekens toon dat hulle politiek en ras kan oorkom in belang van ons gedeelde toekoms. Iets so aardverskuiwend soos Helen Zille as burgemeester van Johannesburg sou die argument beslissend wen vir die optimiste – 'n klub waarvan Adi Enthoven trots deel is. “My vrou Dominique beskuldig my dikwels daarvan dat ek 'n ongeneeslike, ietwat naïewe optimis is. Ek is van nature 'n optimis, maar ek glo ook dat 'n positiewe ingesteldheid noodsaaklik is om by te dra tot 'n beter toekoms vir ons land”, het Enthoven gesê.
Is dit onpatrioties om negatief oor Suid-Afrika te wees? Wat van dié wat min hoop het vir die sukses van 'n swart nasionalistiese regering en graag 'n nuwe politieke-ekonomie wil sien ontstaan waarin 'n oor-geïdeologiseerde, gesentraliseerde staat vervang word met gedesentraliseerde magsentrums, waar minderhede hul eie politieke lot kan bepaal? In sy Politicsweb-artikel Happy days are here again merk William Saunderson-Meyer op dat:
“… die siening van Adi Enthoven – een van die land se sake-elite – dat dinge vir Suid-Afrika beter lyk en dat die gety gedraai het, [vind] wyd weerklank in 'n land wat moeg geword het vir jare se ekonomiese en maatskaplike agteruitgang.”
Enthoven se toespraak het op sosiale media versprei nadat dit die hoofstorie in Daily Maverick en News24 was. Maar Saunderson-Meyer lewer 'n waarskuwing te midde van die optimisme:
“Enthoven se toespraak vier die tegnokratiese herstelwerk wat nou vrugte begin afwerp in energie, logistiek en water. Tog gly dit verby die politieke ekonomie wat telkens die masjinerie breek wat hy wil herstel. Hy kan tog nie onbewus wees van hierdie ontstellende gaping nie?”
En as Enthoven wel onbewus is, skets Saunderson-Meyer die probleem:
“Suid-Afrika se diepste skeidslyn is die gaping tussen wat die ANC voorgee om te wil hê en wat dit werklik doen. Die regerende party praat in die taal van hervorming – stabiliteit, belegging, dienslewering – maar klou vas aan die Nasionale Demokratiese Revolusie, rasgebaseerde ekonomieë en ’n buitelandse beleid wat vyandig staan teenoor die Weste in die algemeen en die Verenigde State in die besonder. Hierdie teenstrydighede saboteer voortdurend ons herstel.”
Daarby kom nog die kriminalisering van die staat. “Georganiseerde misdaad, soos die Madlanga- en parlementêre ad hoc-komitee-verhore toon, is nie net 'n polisiekwessie nie, maar [is] gesetel in 'n totaal korrupte staat wat die politieke wil ontbreek om sy geledere skoon te maak.” Saunderson-Meyer slaan die spyker op die kop wanneer hy “Suid-Afrika se diepste skeidslyn” identifiseer as die “gaping tussen wat die ANC sê hy wil hê en wat hy werklik doen.” Is dit moontlik dat die kamerade vir Adi Enthoven een ding sê en iets heel anders doen?
Dit laat my dink aan Jan Smuts, die vader van Suid-Afrika en sy grootste seun. Smuts was bekend vir sy pessimisme oor die “naturelle-vraagstuk” wat hy reeds aan die begin van sy politieke bewussyn as die “Suid-Afrikaanse vraagstuk” geïdentifiseer het. Hy het nie aan gewone demokrasie vir Suid-Afrika geglo nie, juis oor die unieke rassekompleksiteit. Smuts het die posisie van die wit ras in Suid-Afrika as een van die grootste verantwoordelikheid en moeilikheid beskou. Smuts het geglo alle volke moet die wagters van hul eie veiligheid en ontwikkeling wees.
Jan Smuts word vandag verkeerdelik onthou as Suid-Afrika se grondleggende wit opperheerser, maar nou, waar die land wankel tussen 'n mislukte staat en 'n nierassige demokrasie, is dit die moeite werd om sy nalatenskap en sy filosofie te heroorweeg. Smuts het die politiek oortref om 'n oorlogleier, staatsman en filosoof te word: dink aan Charles De Gaulle en Jordan Peterson in een persoon. Maar dit is Smuts se vriendskappe met intelligente en formidabele vroue wat sy “persoonlikheid” (die kern van sy filosofiese teorie) so interessant maak.
Een van sy mees boeiende vriendskappe was met Frederika van Hanover, wat jonk genoeg was om sy kleindogter te wees, maar met wie hy 'n diep band gevorm het. En wat Frederika betref, sy is op haar eie 'n fassinerende persoonlikheidstudie.
Smuts kon soms pessimisties wees, maar nooit wanneer hy in die geselskap van die toekomstige Koningin van Griekeland was nie, wat Frederika later geword het.
Wat die storie verder interessant maak, is dat Frederika al die briewe tussen hulle weggegooi het, behalwe een. Sowat 300 is verlore vir die geskiedenis. Daar is nog baie raaisels oor Smuts en die stigting van Suid-Afrika, en oor sy uitsonderlike bande met radikale feministiese vroue.
Hierdie artikel is met vergunning van Angus Douglas vertaal en aangepas. Besoek sy Substack Saving South Africa hier.
Nog artikels deur Angus Douglas:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










