Staatsbesit was nie Eskom se probleem nie
Die ondergang van Eskom lui die ondergang van ons regerende elite in.
Op my lessenaar lê 'n koffietafelboek uit Eskom se biblioteek met die titel “The Pivotal Power”.
Terwyl ek deur die boek blaai en nadink oor my ervaring as konsultant vir Eskom, word ek daaraan herinner hoe belangrik Eskom vir Suid-Afrika was en is. Die land het vinnig geïndustrialiseer op die rug van goedkoop steenkool uit die Oos-Transvaal (nou Mpumalanga), vanwaar die meeste van ons kragtoevoer afkomstig is.
In 'n aflewering van die Common Sense-podcast het die vooraanstaande politieke ontleder Frans Cronjé die klimaatbeweging hewig gekritiseer omdat hulle Eskom se afhanklikheid van steenkool wil beëindig. Hoewel Cronjé waardering uitspreek teenoor elektrisiteitsminister dr Kgosientsho Ramokgopa, omdat hy André de Ruyter se anti-steenkoolhouding omgekeer het, is hy krities oor Eskom se jongste Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP), wat beoog om 13 gigawatt (GW) steenkoolkrag oor die volgende agt jaar af te skakel, terwyl 'n allemintige 59 GW wind en son bygevoeg word. 59 GW is gelyk aan al die elektrisiteit wat vandag in Suid-Afrika beskikbaar is, insluitend Eskom, privaat en huishoudelike bronne. BusinessTech berig dat die regering mik om 34 GW opwekkingskapasiteit uit wind en 25 GW uit son oor die volgende 14 jaar by te voeg, en dit sal méér aansluitings tot 'n reeds beperkte netwerk verg.
Cronjé betreur tereg die onkoste van die besluit. Uitbreiding van Suid-Afrika se transmissienetwerk sal R440 miljard kos en 14 000 kilometer nuwe kraglyne insluit. Sou dit nie goedkoper en makliker wees om die steenkool te bly verbrand en buite-netwerk-sonkragoplossings vir afgeleë gebiede te gebruik nie, soos waarmee Eskom reeds in die vroeë 1990’s geëksperimenteer het nie?

Dit gesê, meen ek die verbranding (of nie) van steenkool en die privatisering (of nie) van Eskom is sekondêr tot 'n dringende vraag. Die ware verhaal gaan nie oor steenkool teenoor hernubare energiebronne of privatisering teenoor staatsbeheer nie. Die kern is hoe die ANC-regering, deur Eskom te ruïneer, hulle beste kans om Suid-Afrika suksesvol te bestuur verkwansel het.
'n Terugblik op kraglewering
Teen die middel 1980’s was 80% van Suid-Afrika se swart bevolking sonder elektrisiteit. Nie omdat daar te min was om te versprei nie. Eskom het oorskotkrag gehad, maar omdat ons in 'n wit-oorheersde staat geleef het wat min omgegee het vir swart vooruitgang.
Deur 'n sekere toeval het dit vanaf 1984 begin verander toe die regering die gerespekteerde sakeman dr John Maree (vader van Standard Bank se Jacko Maree) as voorsitter aangestel het. Teen daardie tyd was Eskom burokraties lomp en oormatig gesentraliseer. Maree het Eskom se kultuur begin hervorm en die organisasie getransformeer van 'n lomp burokrasie en tegnologie-gedomineerde nutsdiens na 'n moderne sakeonderneming.
Eskom het selfs sy houding oor ras gemoderniseer en in 1986 'n Gelyke Geleenthede-komitee gestig “om diskriminasie te ondersoek en te verwyder”. Die komitee het 150 kwessies geïdentifiseer wat aangespreek moes word voordat Eskom homself 'n nie-diskriminerende werkgewer kon noem. Dit het ook regstellende aksie ingestel. Teen 1996 was 30% van Eskom se bestuur mense van kleur. Eskom was vasberade om dit tot 50% te verhoog en uiteindelik 'n bestuur te hê wat die demografie van die land weerspieël.
Vanaf 1994 was Eskom se hoofbegeerte om die oorblywende 60% (23 miljoen mense) van die bevolking, bykans almal swart, toegang tot die kragnetwerk te gee. Maree en die twee HUB’s met wie hy gewerk het, naamlik dr Ian McRae (1985–1994) en Allen Morgan (1994–2000), verdien enorme lof vir hul werk om die entiteit in woord en daad nie-rassig te maak, en omdat hulle elektrisiteit op vernuwende maniere aan byna alle Suid-Afrikaners gelewer het.


Teen die einde 1994 het Suid-Afrika 'n netto opwekkingskapasiteit van 36 GW gehad, met 'n spitsvraag van 24,8 GW, en geen behoefte om tot 2000 in nuwe kapasiteit te belê nie. Eskom se visie was om die wêreld se goedkoopste elektrisiteit te lewer. Die nutsdiens hét inderdaad van die goedkoopste elektrisiteit ter wêreld geproduseer, veral vir die nywerheidssektor, met reële pryse wat van 1994 tot 2007 gedaal het.
In die Maree/McRae/Morgan-era het Eskom ook ambisieuse planne gehad om Afrika se groei te bevorder deur die bestaande Suider-Afrikaanse netwerk uit te brei (sien beeld hieronder). Dit sou Eskom-ingenieurs behels wat Afrikalande help om hul hidrokragbronne te ontwikkel, veral Inga in die DRC (10 op die kaart hieronder). Ongelukkig het Inga nog steeds dieselfde kapasiteit as in 1982 (1,77 GW), hoewel dit potensieel minstens 40 GW kan lewer, soos dit beoog was met die lang vertraagde Grand Inga-projek.


Van die middel 1980’s tot in die 1990’s het Eskom die vermoë gehad om miljoene huise te elektrifiseer, koste wesenlik te verlaag, oortollige kapasiteit vir werkskepping aan te wend en planne uit te rol om Afrika se elektrisiteitskrisis aan te spreek.
Dit was moontlik omdat die produktiwiteit onder Maree en McRae aansienlik verbeter het. In 1985 het Eskom 66 000 mense in diens gehad, met die 1986-begroting wat dit tot 72 000 verhoog het. Maree het egter aangedring dat die arbeidsmag tot 60 000 verminder word. Teen 1995 is dit verder tot 40 000 gesny, terwyl 30% méér elektrisiteit as in 1985 opgewek is. In terme van GWh per werknemer het produktiwiteit van 1 700 GWh in 1984 tot 3 600 GWh in 1993 gestyg. Eskom was die eerste organisasie in Suid-Afrika wat produktiwiteitsyfers in sy jaarverslag gepubliseer het. Eskom het ook sy gesondheids- en omgewingsimpak bestudeer (sien beeld hieronder) en tereg geargumenteer dat, hoewel sy steenkoolvloot die omgewing besoedel, dit duisende lewens red deur die behoefte aan giftige verhittingstelsels en kookoplossings aan huis uit te skakel.

In 1994 het John Maree gewaarsku dat massa-elektrifisering nie Suid-Afrika se nywerheidsbasis of Eskom se finansies mag ondermyn nie:
“Universal electrification will yield commercial returns only over a 15-year cycle and must be financed in a manner acceptable to existing consumers. Any failure to control costs during the phase of intensive electrification could be damaging to the country’s manufacturing and mineral beneficiation industries, with disastrous economic consequences.”
Teen laat 2007 en die aanvang van beurtkrag het dié rampspoed bewaarheid. Die ANC se grootste ekonomiese mislukking was om verbruik bo belegging te bevorder, presies waaroor Maree gewaarsku het. In die middel 1990’s was munisipale skuld aan Eskom R1 miljard. Vandag is daardie syfer meer as R100 miljard. In 1994 het Swiss Bank Corporation Eskom 'n A+/AA-kredietrisiko-gradering gegee (slegs drie ander kragnutsdienste wêreldwyd het 'n hoër gradering gehad) en die organisasie was kontant-positief, een van die faktore wat dit in staat gestel het om progressiewe hervormings sonder staatsinmenging deur te voer. Vandag is Eskom se kredietgradering onder beleggingsgraad, synde “rommel”-status, en sedert 2008 het dit bykans 'n half triljoen rand in staatsuitreddings ontvang.
Ideologiese gifangels
Eskom is net 'n paar handtekeninge daarvan verwyder om in afsonderlike verspreidings-, transmissie- en opwekkingsmaatskappye opgebreek te word, met 'n groothandelselektrisiteitsmark om private beleggings te lok.
Dit is 'n groot terugkrabbel vir die Afrika-nasionale ideoloë wat gehoop het om staatsbeheerde entiteite en veral Eskom te gebruik om hul “ontwikkelingstaat” te dryf. Die skandelike korrupsie en onbekwaamheid van ons politieke elite het daardie hoop verydel, en nou word hulle skoppend en skreeuend die wêreld van ontbondeling en kragprivatisering ingestoot. Om nie eens te praat van die gewenste privatisering (of lokalisering) van al die ander dinge wat hulle geruïneer het nie: hawens, spoorweë, paaie, skole, polisiediens, gesondheid, ensomeer.
Die agteruitgang van Eskom was 'n mokerslag vir die Afrikatrots-narratief. Van al die ANC se mislukkings, steek Eskom se mislukking die seerste. Sedert André de Ruyter Eskom vroeg in 2023 verlaat het (uit vrees vir sy lewe) en deur die huidige elektrisiteitsminister vervang is, was daar 'n langsame stroom opmerkings deur invloedryke swart leiers, insluitend die vermelde minister self, oor hoe húlle Eskom uit De Ruyter se hande “gered” het. Maar in werklikheid word Eskom grootliks deur die privaatsektor gehelp. B4SA, 'n implementeringsarm van Business Unity South Africa, het honderde miljoene rande en duisende ure van 350 kenners bygedra en gewy aan die redding van die nutsdiens. Daar is 150 Suid-Afrikaanse maatskappye wat deel is van hierdie poging om krisisse in elektrisiteit, vervoer, logistiek en die polisiediens op te los. Die sakewêreld poog op sy beurt om privatisering te versnel en beskuldig Eskom soms daarvan dat dit aan sy monopolie wil vasklou.
Tog kon Eskom, van die middel 1980’s tot die vroeë 2000’s, duisende poste afskaal, koste drasties verminder, maatskaplik-ekonomiese én humanitêre doelwitte bereik, terwyl dit steeds in staatsbesit gebly het, al was dit nie staatsbeheerd nie. Dr John Maree was getrou aan sy beginsels:
“I stand for the basic principles of good communication, tight financial control, pushing down authority and responsibility by decentralizing power structures, establishing a culture of merit based on superior performance.”
Hy, McRae en die res van Eskom se leierskap het hul goeie werk verrig sonder skokkende salaris-pakkette of die absurde behoefte wat hedendaagse bestuurders aan aansporings vir vergoeding het.
Bekwaamheid was eens die wagwoord
Eskom was reeds uitsluitlik deur die regering besit. Al wat die ANC moes doen, was om die model uit te los en begaafde, patriotiese sakelui die bestuur te laat hanteer.
Die sukses van 'n nie-diskriminerende, meriete-gebaseerde, geprofessionaliseerde en gekorporatiseerde Eskom van tien jaar vóór ons demokratiese oorgang tot tien jaar daarna staan uit as die mees belowende voorbeeld en sukses van 'n nie-rassige Suid-Afrika. Maar die ANC kon nie buite bly nie. Weens verdraaide ideologie en gierigheid sou hulle die gans wat goue eiers lê, nooit net in vrede kon los nie.
Reuel Khoza was Eskom se eerste swart voorsitter (1997–2005), terwyl Thulani Gcabashe sy eerste swart HUB was (2000–2007). Sedert 1997 het Eskom 15 HUB’s (sommige waarnemend) en 11 voorsitters gehad. Van hierdie 26 was slegs vyf nie-swart nie. Mohammad Valli Moosa (voorsitter 2005–2008), Bobby Godsell (voorsitter 2008–2009), Brian Dames (HUB 2010–2014), Sean Maritz (waarnemende HUB vir 'n deel van 2017) en André de Ruyter (HUB 2020–2023). Wat NERSA (die Nasionale Energieraad/Reguleerder van Suid-Afrika) betref, het dit van 'n veelrassige liggaam tot 'n geheel-swart een verskuif.

In skrille kontras met die hoë omset van Eskom-leiers ná apartheid, het Eskom van sy stigting in 1923 tot 1997 slegs ses voorsitters en twee HUB’s gehad (die rol is in 1985 ingestel). Wat die ANC innig gesoek maar nie gevind het nie, is 'n swart John Maree en 'n swart Ian McRae. Sedert 2007 strompel Eskom van een krisis na die volgende, met leiers wat dikwels minder as 'n jaar uithou voor hulle vervang word en sommige, soos Brian Molefe en Matshela Koko, wat in korrupsie gewikkel is.
Die probleem vir Eskom was nie staatseienaarskap of die verbranding van steenkool nie. Die probleem was dat hierdie instelling, soos vele ander in die land, onder swart leierskap, binne die konteks van 'n ideologiese swart nasionalistiese regering, tot 'n krisispunt agteruitgegaan het.
Dit is nie presies hoe Frans Cronjé die situasie sien nie. Hy verkies om op beleid en implementering, eerder as rassebeleid te fokus. Op hierdie punt prys hy die DA vir sy nuwe “Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal”, wat rasgebaseerde indiensnemings- en inkoopvoorkeure met behoefte-gebaseerde beleid sou vervang. Die hel sal eers vries voordat ons swart politieke elite erken dat 'n bevoegde, patriotiese wit man aan die stuur dikwels hul beste hoop is om die soort funksionele staat te bou wat hulle begeer, wat ook swart vooruitgang bevorder.
Frans Cronjé was dapper en vooruitdenkend deur teen klimaatpaniek terug te druk en Suid-Afrika se reg en selfs plig om sy steenkool te verbrand ter wille van die maatskaplik-ekonomiese (en gesondheids-) vooruitgang van armes te stel.
Sou hy 'n stap verder kan gaan en die ooglopende ding sê: dat sodanige vooruitgang óók daarvan afhang dat ons regerende elite hul ras-nasionalisme laat vaar en sterker steun op die leierskap en patriotisme van nie-swart Suid-Afrikaners?
Hierdie artikel is met vergunning van Angus Douglas vertaal en aangepas. Besoek sy Substack Saving South Africa hier.
Nog artikels deur Angus Douglas:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











