Sonder goedkeuring van die Kongres en sonder om tradisionele Amerikaanse bondgenote te raadpleeg, het lede van die Amerikaanse Delta Force op 3 Januarie die Venezolaanse president, Nicolás Maduro, uit die land verwyder.
Wat hierop volg, sal waarskynlik 'n poging wees tot bondige, berekende beheer oor en toegang tot natuurlike hulpbronne en invloed, en nie noodwendig 'n growwe militêre besetting en algehele regimeverandering soos wat die VSA in die verlede herhaaldelik probeer het nie. Al was die Amerikaanse operasie binne enkele ure afgehandel, sal die wyer nawerking daarvan wêreldwyd deur die res van die dekade gevoel word met nuttige lesse vir lande wat bereid is om dit te aanvaar.
Maduro was 'n onwettige president wat Venezolane daagliks onderdruk het. Sy regering is nie demokraties verkies nie. Sy verwydering verskil dus wesenlik van byvoorbeeld Rusland se inval in Oekraïne.
Ná die operasie het Amerikaanse president Donald Trump verklaar: “Die toekoms sal bepaal word deur die vermoë om handel, grondgebied en hulpbronne te beskerm wat sentraal tot nasionale veiligheid is.” Hoewel Venezolaanse olie en Amerikaanse toegang daartoe die meeste opskrifte en ontledings oorheers het, was die operasie waarskynlik ook bedoel om aan China 'n duidelike boodskap te stuur dat die VSA bereid is om sy oorweldigende militêre vermoë en ander gereedskap aan te wend om Chinese toegang tot en invloed oor lande binne Amerika se invloedsfeer te verswak.
Afdwinging skort
Soos 'n land se eie regstelsel, beteken internasionale reg niks indien daar niemand is wat dit afdwing nie.
Die geloofwaardige dreigement van mag gesteun deur 'n persoon, instelling of meganisme wat bereid is om op te tree wanneer die reg oortree word, voorkom dikwels oortredings nog voordat dit plaasvind. Waar sodanige geloofwaardigheid afgeneem het, neem oortredings toe, uiteindelik tot nadeel van onskuldige mense. Internasionale reg en nasionale soewereiniteit is slegs betekenisvolle begrippe waar en indien dit afdwingbaar is. Hierdie stel norme was vir 'n tyd lank nuttig en het baie moontlike grensverskrydende aggressie ingeperk. Maar dié stel norme en 'n reëlsgebaseerde orde dien nie meer dieselfde doel nie.
Rusland se anneksasie van die Krim in 2014 en sy inval in Oekraïne in 2022 is grootliks deur ander lande veroordeel. Op die Afrika-vasteland vlam konflik gereeld op, verkiesings word gemanipuleer (mees onlangs in Tanzanië), en die Afrika-unie reageer ten sterkste met verklarings van verontwaardiging en afkeuring, maar met min of geen daadwerklike optrede of gevolge nie.
Nog leesstof
Ons bevind ons nou in 'n situasie waar internasionale reg oorskadu word deur nasiestate wat bereid is om militêre, strategiese en ekonomiese stappe te neem om hul belange te bevorder selfs al beteken dit die oortreding van sogenaamde “internasionale reg”. Dit is byvoorbeeld nie Amerika se “respek” vir internasionale reg wat Chinese aggressie teenoor Taiwan afweer nie, dit is die Chinese regering se opweging dat daar 'n realistiese kans bestaan dat beduidende Amerikaanse militêre mag aangewend sal word indien hulle die eiland sou binneval. Indien Beijing tot die gevolgtrekking kom dat die Amerikaanse administrasie bereid is om sy belange en toegang tot hulpbronne met geweld te beskerm, sal die optrede teen Maduro (en moontlik binnekort teen Iran) toekomstige aggressiewe stappe deur China, Rusland, Iran en Noord-Korea ontmoedig.
Lande wat sukkel om hierdie nuwe werklikheid te aanvaar, sal hul toevlug neem tot groot verklarings oor moraliteit en teorie, maar sal hulself grotendeels magteloos bevind om gebeure in die praktyk te beïnvloed.
SA moet lig loop
Een so 'n land is Suid-Afrika. Ons is nie in staat om iets in wêreldsake toe te laat of te keer nie as gevolg van ons eie beleidskeuses wat oor jare heen ons vermoëns uitgehol het, beskik ons nie oor die harde mag wat werklik tel nie. Indien Suid-Afrika nie ekonomies en militêr verbeter nie, word ons verklarings van verontwaardiging oor wêreldgebeure net al meer betekenisloos en irrelevant.
Indien die Amerikaanse verwydering van Maduro tot groter vryheid en welvaart vir die Venezolaanse bevolking lei, sal “internasionale reg” en “multilateralisme” inderdaad ondermyn wees, en ek is gemaklik daarmee. Indien die bestaande bewind egter net verder verstewig en Venezolane se regte nóg meer aangetas word, kan die optrede vergelyk word met Rusland se inval in Oekraïne in 2022.
Nog leesstof
Die Amerikaanse aanvalle op Maduro en Venezuela bevestig wat reeds in 2025 begin het:
Die VSA (onder die tweede Trump-administrasie, en waarskynlik ook daarna in verskillende gedaantes) sal sterker fokus op die Westelike Halfrond en sy eie invloedsfeer. Dit sal die instrumente tot sy beskikking gebruik om sy nasionale belange na te streef. Vinnige Amerikaanse optrede sal nie tot die Westelike Halfrond beperk wees nie, en sal waarskynlik nie die ou patrone van mislukte “regimeverandering” volg nie. Die optrede sal bondig, berekend en soms selfs teenstrydig voorkom. Nietemin sal die VSA hom nie van hierdie koers laat afbring deur geskreeu van verontwaardiging en veroordeling nie.
Harde mag (militêr en ekonomies) tel veel swaarder as konsensusbou, onderhandeling en multilateralisme.
Meer buigsame “alliansies”, gedryf deur wedersydsheid en die gedeelde dra van uitdagings eerder as afhanklikheid.
'n Nuwe era vir die wêreldwye reëlgebaseerde orde (indien dit ooit werklik bestaan het).
“Middel-” of “derdewêreld”-lande sal nóg belangriker word namate die VSA en China meeding om hul invloed oor en binne hierdie lande uit te brei — is Suid-Afrika gereed vir hierdie ontwikkeling?
'n Ernstige uitdaging vir multilateralisme en multilaterale instellings soos die VN, WGO, Wêreldhandelsorganisasie, G20, Afrika-unie, ensovoorts.
Die wêreld betree 'n tydvak waarin moreel-belaaide verklarings by die Verenigde Nasies en op sosiale media uitstekend is vir aandag en klikke, en 'n gevoel van morele meerderwaardigheid voed. Maar wanneer soldate en tenks oor 'n grens begin rol, wat gaan hulle keer? Die dreigement van geweld en die bewese bereidheid om dit te gebruik? Of goed geformuleerde, emosiebelaaide verklarings oor internasionale reg en soewereiniteit?
Of 'n mens die Amerikaanse operasie op 3 Januarie moreel regverdigbaar ag of nie, of dit Venezolaanse soewereiniteit geskend het of nie, maak minder saak as die enkele vraag: kan jy enige soortgelyke toekomstige optrede keer? “Mag is reg” is die natuurlike uitgangspunt; dit is oor aan burgers, regerings en lande om die besluite en praktiese stappe te neem wat hul eie vermoë en invloed vergroot.
Of Nicolás Maduro se verwydering uiteindelik die beste uitkoms vir Venezolane sal oplewer sal ons nog moet sien. Indien sy verwydering tot groter vryheid en welvaart vir die Venezolaanse volk lei, sal ek hierdie optrede deur die Trump-administrasie as 'n morele en noodsaaklike keuse beoordeel. In akademiese artikels kan geleerdes debatteer of dit reg of billik was dat die VSA die land was wat hierdie stap geneem het. Maar sulke besprekings is 'n luuksheid in 'n tyd van vinnig veranderende, magsondersteunde geopolitieke manoeuvres. Wat wel duidelik is, is dat die VSA onder mnr. Trump meer gespierd en ingrypend sal optree teenoor lande wat dit beskou as teenstrydig met sy belange. Die Suid-Afrikaanse regering het moontlik nie die luuksheid van tyd om 'n nuwe strategie uit te dink om hierdie nuwe werklikheid te hanteer nie.
Die Trump-administrasie het tot die gevolgtrekking gekom dat baie Amerikaanse bondgenote nie in staat is tot veiligheids-, militêre en ekonomiese lasdeling in sleutelstreke wêreldwyd nie, en neem daarom 'n meer ingrypende en proaktiewe houding in. Indien Suid-Afrika dienooreenkomstig hervorm, kan dit een van die lande op die Afrika-vasteland word wat die VSA as 'n verantwoordelike, volwasse en kernbondgenoot beskou. Die ekonomiese, diplomatieke en veiligheidsvoordele sal beduidend wees.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












