Poetin Herstel die Ryk, nie die Kommunistiese Sowjetunie nie
Die skadu van die Russiese Ryk hang steeds oor Europa.
Ek het die Sowjetunie in 1988 vir meer as 'n maand as gas van die Novosti-nuusagentskap besoek. Daar kon ek eerstehands beleef hoe 'n regeringstelsel 'n groot klomp mense daagliks bestuur het - waar ideologie belangriker as ekonomiese ontwikkeling was.
Dit is 'n fout om president Vladimir Poetin en sy binnekring te beskou as die argitekte van 'n projek om die Sowjetunie te herstel. Hulle mag dalk 'n geografiese ryk wil herstel, maar beslis nie die Sowjetunie van ouds nie. Inteendeel: Poetin is niks minder nie as anti-Sowjet. Hy sien Vladimir Lenin as 'n destruktiewe figuur en toon weinig belangstelling in die wetenskaplike kommunisme van Karl Marx en Friedrich Engels.
Die oorlog in Oekraïne word dikwels beskryf as 'n konflik oor NAVO-uitbreiding of streeksekuriteit. Tog sê ontleders die dieper dryfkrag lê in president Vladimir Poetin se ambisie om Rusland se status as 'n groot ryk of moondheid te herstel — 'n ambisie waarin Oekraïne 'n sentrale rol speel.
Ten spyte van gereelde vergelykings met die Sowjetunie, probeer Poetin nie om kommunisme of Sowjet-ideologie te herstel nie. Sy projek word eerder gevorm deur 'n nostalgiese visie van die ou Russiese Ryk, wat groot dele van Oos-Europa en Sentraal-Asië ingesluit het.
Poetin het herhaaldelik gesê die ineenstorting van die Sowjetunie was 'n “geopolitieke ramp” en het die legitimiteit van Oekraïne as 'n onafhanklike staat bevraagteken. In onlangse toesprake het hy Russe en Oekraïners as “een volk” beskryf — 'n aanduiding van sy oortuiging dat die moderne Oekraïne binne Rusland se geskiedkundige sfeer behoort.
Waarom Oekraïne die Fokus is
Oekraïne se onafhanklikheid in 1991 het die Russiese imperiale oorheersing effektief beëindig. Vir Poetin is die herwinning van Oekraïne — polities of deur geweld — noodsaaklik om Rusland se wêreldwye aansien te herstel.
Ontleders wys op drie kern redes:
Geskiedkundige simboliek: Kyiv staan sentraal in Russiese imperiale mitologie en word dikwels as die wieg van Oos-Slawiese beskawing beskryf.
Strategiese geografie: Oekraïne dien as 'n buffer tussen Rusland en NAVO, en sy toegang tot die Swart See is van kritieke belang vir militêre en handelsroetes.
Politieke bedreiging: 'n Demokratiese, Westers-georiënteerde Oekraïne bied vir Russiese burgers 'n alternatiewe model tot Poetin se outoritêre stelsel.
Die oorlog in Oekraïne pas binne 'n breër patroon wat lank voor die 2022-volskaalse inval begin het. Rusland het militêr opgetree in Georgië (2008), die Krim (2014) en Oos-Oekraïne (2014–2022).
Elke stap weerspieël 'n konsekwente strategie: die herwinning van invloed binne ou imperiale grense. Kundiges meen die brutaliteit van die konflik — insluitend wydverspreide burgerlike bombardemente en pogings om Oekraïense kultuur uit te wis — spruit regstreeks uit Poetin se imperiale wêreldbeskouing. As Oekraïne nie as 'n wettige nasie beskou word nie, word sy weerstand in die Kremlin se oë 'n struikelblok om te verpletter eerder as 'n legitieme entiteit om mee te onderhandel.
Indien Rusland daarin slaag om Oekraïne te onderwerp, sal Europese veiligheid dramaties verander. 'n Russies-beheerde Oekraïne sal Moskou se invloed tot by NAVO se oostelike grens uitbrei en sy mag in die Swartsee-streek versterk. Westerse lande glo dit sal die Kremlin aanmoedig om verder te druk, met moontlike destabilisering van Moldawië, die Baltiese state en die Suid-Kaukasië.
Poetin se herstel van die Sowjet-volkslied in 2000 was nie 'n huldeblyk aan die Sowjetunie nie, maar 'n sein om die begeerte na 'n ystervuis en die herstel van 'n verlore ryk aan te wakker. Vandag teiken hy die Sowjet-erfenis deur laat-Sowjet kulturele figure aan te val en deur missielaanvalle op Sowjet-infrastruktuur in Oekraïne.
Die Poetin-bewind het sekerlik ooreenkomste met die Sowjetbewind, maar nie meer as met ander totalitêre regimes van die twintigste eeu nie. Alle totalitêre stelsels soek vyande tuis en in die buiteland. Wat saak maak, is nie hoe wyd hulle soek nie, maar hoe wraaksugtig hulle te werk gaan—en Poetin se pogings kan slegs met die Stalin-jare vergelyk word, nie met die latere Sowjet-era nie.
Poetin se ekspansionisme word ook gedryf deur 'n nasionaal-imperiale ideologie soortgelyk aan Stalinisme, eerder as die laat-Sowjet kommunistiese ideologie. Die Rooi Leër se “bevrydingsmars” teen Pole in 1939 is byvoorbeeld aangeprys as 'n poging om “Oekraïnse en Belo-Russiese broers” van die Pole te red.
Die opkoms van Poetin
Gebore in Leningrad in 1952, het Poetin grootgeword in die Sowjetunie se goue jare, ná die reuse-oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog. Spoetnik, die waterstofbom, Laika die ruimtehond en Joeri Gagarin het getuienis gelewer van Sowjet-vernuwing. Die verplettering van Hongarye in 1956 en Tsjeggo-Slowakye in 1968 het Sowjet-vastberadenheid gedemonstreer. Sowjetburgers het 'n tyd van vrede en relatiewe welvaart beleef. Die lewe was stabiel. Salarisse is betaal. Die wêreld het hulle gerespekteer. Almal het hul plek geken.
Die wêreld was geskok toe Rusland die Krim binnegeval het— maar moes dit gebeur het? Skrywer en joernalis Oliver Bullough sê dat Poetin nooit 'n geheim gemaak het van sy bedoeling om Russiese mag te herstel nie. Wat minder duidelik is, sê hy, is hoe lank die land se opkoms kan voortduur.
Op 16 Augustus 1999 het die Doema (die Russiese parlement) byeengekom om 'n nuwe eerste minister goed te keur. Die kandidaat – Poetin - het sy toespraak gelewer, 'n paar vrae beantwoord, en is pligsgetrou bevestig. Dit was president Boris Jeltsin se vyfde premier in 16 maande, en een verwarde party-leier het selfs die verkeerde naam genoem—hy het die pas-afgedankte Stepashin se naam gebruik voordat hy dit in verleentheid reggestel het.
Die feit dat selfs leidende Doema-afgevaardigdes die naam van die nuwe premier vergeet het, maak dit verstaanbaar dat die res van die wêreld nie veel aandag aan hom geskenk het nie. Min het verwag dat die onbekende voormalige KGB-offisier Vladimir Poetin vir dekades die wêreld se grootste land sou lei. Toe Poetin sy toespraak aan die Doema gelewer het, was Rusland 'n minder gerespekteerde plek. Hy het gepraat soos iemand wat verlang na die verlore sekerhede— 'n tyd toe Moskou se stem gewig gedra het. Hy het dit nie openlik gesê nie, maar hy was duidelik gekrenk deur Rusland se mislukking om NAVO te keer om Serwiese magte uit Kosovo te verdryf.
Die twee kerndoelwitte wat alles wat Poetin sedertdien gedoen het aandryf is sy siening van binnelandse beleid, synde om stabiliteit te herstel en sy buitelandse beleid, synde om Rusland se wêreldstatus te herwin. Tuis het hy die oligarge geknak, eers dié met mediabeheer en toe die rykste van hulle, Michail Chodorkofski, wat in 2003 gearresteer is. Sy oliemaatskappy is opgebreek en deur die staat oorgeneem. Hy is gevange gehou en Amnestie Internasionaal het hom as 'n gewetensgevangene verklaar.
Poetin het die media, die oligarge en Tsjetsjnië onder beheer gekry, asook 'n Doema wat sy wil uitvoer. Sy gewildheid het tot bo 70% gestyg— 'n vlak wat feitlik nooit gedaal het nie.
Die bou van 'n moderne ryk
Die nasionale model wat Poetin die afgelope kwarteeu bou, lyk net oppervlakkig soos die Sowjetunie. Die essensie is heel anders. Daarom is die neo-Stalinistiese regime nie meer sentimenteel oor die Sowjet-mense in Oekraïne of oor Sowjet-infrastruktuur nie. Dit gaan nie oor die Sowjet-nostalgie nie, maar oor die herafbakening van Rusland se moderne grense.
Elemente van die Sowjet-stelsel bly oor, soos die nomenklatura, staatsbeheerde organisasies, en lojaliteit bo vaardigheid. Maar dit is tipies van enige totalitêre regime, nie uniek Sowjet nie.
Waar Poetin se anti-Sowjet aard die duidelikste blyk, is in sy vernietiging van Sowjet-kultuur—van die verbod op musiek deur Alla Pugatjowa, Andrei Makarevitsj en Boris Grebenshchikov, tot die herskryf van Andrei Tarkofski se biografie om hom as 'n nasionalistiese held voor te stel. Negentiende eeuse literatuur word selektief gebruik: Tolstoi se anti-oorlogsboodskappe en Pushkin se teentirannie-werk word geïgnoreer.
Poetin se oorlog in Oekraïne gaan nie net oor grondgebied of NAVO nie. Dit is deel van 'n langtermynpoging om 'n magtige Russiese ryk te op te bou — een wat staatmaak op oorheersing van buurlande, en veral Oekraïne. Solank hierdie imperiale visie die Kremlin dryf, sal die konflik waarskynlik een van die bepalende geopolitieke krisisse van die 21ste eeu bly.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










