Oorlog in Soedan: Die Gruwels van El-Fasher
Een van die grootste humanitêre rampe van ons tyd ontvou in stilte.
Soedan het die afgelope maand sterk op die wêreldnuustoneel verskyn, veral na die strategiese stad El-Fasher – die hoofstad van die Noord-Darfoer-streek - in die hande van die Blitsondersteuningsmag (die RSF, oftewel Rapid Support Forces) geval het. Hiermee saam het grusame verhale van massaslagtings, aanrandings, marteling, verwoesting, ontheemding en hongersnood die buitewêreld bereik.
Na die val van die stad het 'n duidelike prentjie begin ontvou van 'n tragedie van geskiedkundige omvang, iets wat ondersoekers van oorlogsmisdade nog vir jare besig sal hou. In slegs een hospitaal is berig dat honderde mense gedood is, vermoor deur RSF-magte met 'n lang geskiedenis van massaslagting en beskuldigings van volksmoord.
Die oorlog in Soedan word wêreldwyd nou as 'n menslike ramp bestempel. Die Verenigde Nasies beskryf die situasie as een van die wêreld se ergste:
Meer as 24 miljoen mense – oftewel 48% van die bevolking - staar akute hongersnood in die gesig, terwyl 'n geskatte 635,000 interne vlugtelinge reeds in toestande van hongersnood verkeer.
Die Wêreldvoedselprogram (WVP) benodig ’n bykomende 662 miljoen Amerikaanse dollar om 8 miljoen mense per maand te bereik.
In Khartoem-staat alleen is tussen 15 April 2023 en 4 Junie 2024 sowat 61,202 sterftes aangemeld.
Daar is meer as 12 miljoen binnelandse ontheemdes in Soedan en ongeveer 4 miljoen burgers het na buurlande gevlug.
Die oorlog het byna 15 miljoen mense ontwortel en sowat 150,000 mense dood agtergelaat.
Die gesondheidstelsel in Soedan het feitlik totaal ineengestort.
Wie veg teen wie?
Die oorlog verdeel Soedan se eie weermag teen homself: die Soedanese Gewapende Magte (SAF) onder bevel van generaal Abdel Fattah al-Burhan staan teenoor die magtige paramilitêre mag, die RSF, gelei deur generaal Mohamed Hamdan Dagalo, beter bekend as “Hemedti”.
Albei kante was oorspronklik deel van Soedan se militêre magstruktuur, maar 'n mags- en leierskapsgeskil tussen die twee sterkmanne het op 15 April 2023 in ope burgeroorlog ontaard. Die twis het ontstaan oor planne om die RSF in die SAF te integreer en die oorgang na burgerlike bewind te verseker. Die RSF het geweier om hul onafhanklikheid en enorme sakebelange prys te gee, terwyl Burhan en die SAF op volle beheer aangedring het. Die oorlog het intussen oor die hele land versprei, vanaf die hoofstad Khartoem en die belangrike voorstad Omdurman na Darfoer, die gebied om die Blou Nyl, Sennar en ander deelstate. Maar dit is die burgers wat die swaarste las dra.
Na verlede maand se oorname van El-Fasher deur die RSF, het menseregte organisasies die groep van menseslagting beskuldig. Die groep beheer tans reeds meer as vyf van Soedan se 18 state, terwyl die weermag die meeste van die oorblywende 13 state, insluitend Khartoem, beheer. Darfoer beslaan ongeveer 'n vyfde van Soedan se grondgebied, maar die meeste van die land se 50 miljoen inwoners woon in gebiede wat deur die weermag beheer word.
Gruweldade deur die RSF
Die RSF het talle gruweldade gepleeg, veral sedert hul oorname van sleutelgebiede soos El-Fasher. Dit sluit in teregstellings sonder vooraf verhore, massa-menseslagting en deur-tot-deur-aanvalle op burgerlikes.
Betroubare verslae en video’s wat deur Human Rights Watch geverifieer is, toon RSF-vegters wat hulle moorde uitbundig vier, burgerlikes teregstel en geteikende etniese geweld pleeg, veral teen nie-Arabiese bevolkings in Darfoer, soos die Massalit etniese groep. Die RSF word ook verbind aan misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade en dade wat moontlik neerkom op volksmoord. Ander gedokumenteerde misbruike deur die RSF sluit in wydverspreide seksuele geweld – veral teen vroue en jong kinders – willekeurige arrestasies, marteling en die moord op persone wat as teenstanders of ondersteuners van opponerende magte beskou word.
RSF-milisies het ook humanitêre hulpkonvooie geplunder en toegang tot hulp as 'n wapen gebruik, wat die humanitêre krisis verder vererger het. Satellietbeelde en ooggetuieverslae toon verskeie massagrafte en ernstige skade aan burgerlike gebiede.
Buitelandse betrokkenheid
Dit is veral die RSF wat beduidende buitelandse steun ontvang, veral van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), volgens verskeie geloofwaardige ondersoeke en VN-deskundigeverslae.
Die VAE word daarvan beskuldig dat dit die RSF van wapens, logistieke steun en finansiële hulp voorsien, dikwels deur buurlande soos Tsjad, Libië en die Sentraal-Afrika Republiek. 'n Groot deel van die RSF se befondsing is glo afkomstig van inkomste verdien uit goud wat in gebiede onder sy beheer gemyn en dan na die VAE gesmokkel word. Hoewel Abu Dhabi enige regstreekse betrokkenheid ontken, sê ontleders dat sy belange in Soedan se Rooisee-hawens, goudhandel en landbouhulpbronne moontlik die land se geheime bande met die paramilitêre groep verklaar. Kenners waarsku dat voortgesette eksterne steun die konflik sal verleng, die RSF se gevegsvermoë sal versterk en pogings om 'n onderhandelde vrede te bereik bemoeilik.
Die Soedanese burgeroorlog is buitengewoon kompleks en moeilik om te verstaan. Die enigste sekerheid is dat die gewone mense van Soedan die grootste slagoffers is van iets onbeskryflik wreed. Die sameloop van oorlog, hongersnood en wêreldwye apatie maak dit waarskynlik die ergste humanitêre ramp ter wêreld op hierdie tydstip.
Nog artikels op deur Jurie van der Walt:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











