Palestina en Israel: 'n Kruispad
Die lot van die Palestyne is 'n oop wond wat dieper en dieper geklief word.
“If we’re not fearful of the Lebanese, then we should be fearful of Hezbollah. And if we’re not fearful of Hezbollah then we should be fearful of the Syrians and if we’re not fearful of the Syrians, we should be fearful of the Palestinians. If we’re not fearful of Palestinians, then we should be fearful of Iran. So there is always someone to be fearful of, and the need to protect ourselves all the time. This is why we need such a large army, and this is why we are always inducted into some kind of military. … Israelis have a complete disconnect with how the rest of the world sees us.”
Aan die woord is Amy, 'n Joodse Israeli wat in Amerika gebore en grootgeword het. Ons paaie het in 2011 in Haifa gekruis. In daardie stadium het ek namens die Wêreldraad van Kerke menseregte oortredinge in Palestina en Israel gemoniteer. In hierdie drie maande het ek verskeie Joodse Israeli’s soos Amy ontmoet wat Israel se dekades van onreg teenoor die Palestyne aan die kaak stel. 'n Paar jaar later het ek persoonlike, in-diepte onderhoude gevoer met 21 Suid-Afrikaners en Joodse Israeli’s wat die Palestynse bevrydingstryd ondersteun. Amy was een van hierdie mense.
Sy is na skool deur haar ouers na 'n kibboets in Israel gestuur met die idee om deel te word van 'n positiewe, dapper samelewing. Of so het hulle geglo. Maar Amy het algaande besef dat sy totaal en al mislei is oor wie en wat Israel en Sionisme is. Sionisme is die sekulêre ideologie wat Europese Jode sedert die begin van die twintigste eeu na Palestina gebring het met die doelwit om Palestina algeheel oor te neem en te herdoop as die staat Israel.1 Die staat Israel is in 1948 op Palestynse grond opgerig deur Ben Gurion en ander Sioniste. Die wêreld, wat nog gesteier het na die Tweede Wêreldoorlog se massamoord op Europese Jode, het toegekyk hoedat die Palestyne die prys betaal vir Europa se skuldgevoelens. Na verdere oorloë besit Israel nou 78% van Palestina en beset die orige 22%.
Sionisme is nie Judaïsme nie. Soos Noam, nog 'n Joodse Israeli met wie ek gesels het sê: “For me the crux is that we as Jewish people, with our Jewish ethical values, who were made an example of suffering on the earth, cannot allow that this now happens to others.” En tog gaan Israel se oorname van Palestina meedoënloos voort. En omdat die Palestyne nie hul menseregte en bates wil weggee nie, maak Israel dinge vir hulle so moeilik as moontlik.
Sionisme is 'n setlaar-koloniale leerstelling – 'n etniese dominansie wat Joodse identiteit bevoorreg bo alle ander, en in die proses permanente besetting, onteiening en apartheid sanksioneer en dan militêre onderdrukking voorhou as 'n geregverdigde vorm van selfverdediging. Dis die bloudruk agter verwoeste dorpe, gesteelde grond, vertrapte regte en 'n staatsmasjinerie wat straffeloos moor.
Professor Junaid Achmad skryf dat geen plek op aarde die morele bedrog van ons wêreldbestel meer brutaal uitbeeld as Gaza nie. Daar is oomblikke in die geskiedenis wat drastiese optrede vereis. Vandag is ons by so 'n kruispad. Een pad lei na 'n wêreldbestel gebaseer op menswaardigheid en die nakoming van internasionale menseregte. Hiermee bedoel ek nie die soort werklikheid waar geregtigheid net 'n slagspreuk is, of in 'n VN-handves staan nie. Ek praat van 'n geleefde werklikheid. Die ander pad slinger na Sion – nie die antieke heuwel of die geloof van 'n volk nie, maar 'n ideologie van gewetenlose wetteloosheid en mensgemaakte katastrofes soos in die rokende ruïnes van Gaza en die vure, stootskrapers en slopings in die Wesoewer en Oos-Jerusalem.
En geen groep mense ontbloot die futiliteit en leegheid van sistemiese gemilitariseerde verdrukking meer uitdagend as die Palestyne nie. Sedert Oktober 2023 het Israel se oorlogsmasjien meer as 57 000 Palestynse lewens – meestal vroue en kinders – uitgewis. Hospitale is in lykshuise omskep. VN-skuilings is verpletter. Eeue-oue kerke en moskees is vernietig. Heel gesinne is verbrand in hommeltuig aanvalle en in Maart vanjaar is meer as 855 burgerlikes in 'n enkele nag dood in Israel se “Operasie Mag en Swaard”. Honderde joernaliste en hulpwerkers is vermoor. Terwyl ek hier skryf, skiet skerpskutters op massas mense wat dae laas geëet het en desperaat is vir kospakkies.
En tog doen Gaza meer as om te treur. Dit bied weerstand. Te midde van alles maak hulle saam kos, organiseer hulp, skryf poësie, hou skool en grawe die dooies met kaal hande uit die puin. Hulle leef – en dit is hulle opstand. Gaza het 'n smeltkroes van moed geword, 'n frontlinie van wat moontlik is ten spyte van die uiterste verskrikking. Hierdie vurige wil om te leef en nie net te oorleef nie, besiel en weier om die grense van verbeelding en identiteit deur brutaliteit te laat bepaal.
Europese Jode wat openbare figure soos Albert Einstein, Hannah Arendt, politici en akademici insluit, het reg van die begin af die ontstellende verband tussen Sionisme en Nazisme uitgewys. Sionisme gaan nie net oor 'n ideologie en 'n beleid nie. Dit gaan oor 'n lewensbeskouing wat uiteindelik selfvernietigend word:
“[T]his concept of ‘living on our sword’, that the only way that we can exist is to fight … leaves us as a society in a terrible state of mind. It’s not a place where I want to raise my children. The occupation is just not sustainable.”
So sê Hannah, 'n jong Joodse Israeli wat tronkstraf moes uitdien omdat sy geweier het om in Israel se weermag te dien. Leah, 'n ouer Joodse Israeli, stel dit so:
“[I]f you’re used to pushing around and screaming or whatever at Palestinians, then you sometimes scream at your children, at your workers, at your wife. There is much more violence in Israeli society. People are racist, not only towards Palestinians, but towards everybody … we see a world where everybody hates us.”
Jacob het in sy diensplig tydens die tweede Intifada (2000-2005) besef dat almal wat hy vertrou het - die media, politici, sy ouers en onderwysers - hom mislei het. Hy en sy makkers sou bedags dele van Palestina platvee en konfiskeer, ongeag die gevolge vir burgerlikes. Die volgende dag sou daar dan 'n totaal ander storie in die koerant verskyn wat hulle voorstel as 'n dapper verdedigingsmag teen terroriste. Hy het met afgryse ontdek van watter soort stelsel hy deel was:
“[W]e’re ethnically cleansing people, and we’re responsible for attacks on Gaza, and we’re doing it out of fear. We’re spoon-fed fear from the day we’re born. We talk about Pharaoh in Egypt and Hitler in Germany and Ahmadinejad in Iran and whoever it is. Everybody has been spoon-fed fear all of their lives and I think we all deserve to transcend that, to overcome that and to live in a place that doesn’t have to be based on that. Jerusalem has the potential to make people happy, but people – Israelis – here are miserable. They’re unhappy people. It is the way I experience life. Not that we don’t have beautiful music and not that there isn’t a beautiful heritage, but overall, living in Jerusalem is an unhappy experience.
And the values that I was raised with – for me what it means to be Jewish is to fix, is to fix the world around us, is to heal the world around us. Not only are we allowing it [die onreg] to happen, but we’re actually causing the deterioration of the world around us. The Jerusalem that we conquered and occupied – we didn’t inherit it – we stole Jerusalem from the stewards of the city and we have completely transformed it in ways we have not yet come to terms with. […] We’re destroying it in the name of greed and fear. We can do better! That’s basically it. It shouldn’t be so difficult. The potential of this place is enormous. We all know that. We grew up with that message, for sure. Instead of realising our amazing potential we’re going in the exact opposite direction. […] And really, I know how beautiful the world can be. That it’s right here, it’s right under our nose. It’s right here. It’s not so far away.”
Die soort propaganda wat Israel as opreg en onskuldig voorhou, het egter onder die huidige aanslag op Gaza verkrummel. Jy kan nie kinders in VN-skole uit hulle skoene uit bombardeer en dan TED-praatjies oor verdraagsaamheid lewer nie. Die leuens en die destruktiewe rol van Israel se vennote soos Duitsland, Brittanje en die VSA wat Netanyahu se planne beskerm en befonds, is nou te ooglopend om te bedek. Die oogklappe begin afval. In die Verenigde State kan AIPAC dalk nog die Amerikaanse Kongres koop, maar nie meer die publiek se gewete nie. Joodse vrede-aktiviste ketting hulself nou aan wapenfabrieke vas. Studente beset kampusse en dreunsing “onttrek van volksmoord” en CIA-ontleders begin praat van Israel as 'n “strategiese las”.
Binne Israel self raak die verrotting al hoe erger. Die Joodse Israeli’s met wie ek gesels het, het destyds al die wêreld om hulp gevra: “I tell them [die Duitsers] to try and force Israel to understand that it is Israel that has to save herself from herself and make peace. To condone what Israel is doing, is actually not helping Israel, it’s harming Israel.” Of soos Noam sê: “You want to support Israel? You really love and you really care about Israel? Then press the Israeli government to stop the occupation. This is the only way to save this country from itself – to save us from ourselves.”
Meer as 'n halfmiljoen Jode het Israel in die afgelope maande verlaat. Die verregse koalisie baklei onder mekaar oor of Palestyne stadig, of met een sweepslag, uitgewis moet word. Netanyahu, vasgevang tussen sy hangende kriminele verhoor en magsug, ry op die rug van messianiste en militariste. Maar vir die eerste maal sedert 1897 brei die projek van Sionisme nie meer uit nie. Dis besig om verskroei en ineen te stort.
Dis diep ironies dat die wêreld weens stiksienigheid en selfsug, sistemiese onreg toelaat. As dit vir ons moontlik is om 'n visie van 'n beter wêreld te hê, dan kan ons mos alles moontlik doen om te sorg dat daar nie eindelose oorloë is nie. En dat almal toegang het tot basiese dinge soos water, elektrisiteit, mediese dienste, onderwys, behuising, veiligheid en vryheid. Dan sal ons nie van Palestina praat as 'n “komplekse saak” nie, maar as 'n oop wond wat dieper geklief word met 'n dolk wat die embleem van die VSA en verskeie ander rolspelers dra. Dan sal ons nie stilte met stabiliteit verwar nie. En langer ons eie en ander kontekste goedertrou oorlaat aan politici en besighede nie. Ons sal nie skuil agter argumente dat ons net op ons eie probleme moet fokus nie. Ons sal mede-eienaarskap aanvaar vir die daadwerklike beëindiging van onreg en 'n etiek van menseregte deur opbouende aksies in ons eie land én elders.
Hier staan ons nou. By 'n kruispad. Die een opsie lei na nog vrees, leuens, hebsug en vernietiging - wie weet op watter skaal. Die ander keuse vereis dat ons help om ons droom vir ‘n beter wêreld te help realiseer. Dis meer as protes en weerstand. Dit behels morele integriteit, wilskrag, strategiese werk en beleidsverandering. Daar is nie 'n middeweg of wegkruipplek nie. Die proses van verandering is nie duidelik uitgespel en sonder slaggate nie. Ons kan egter nie net kla, kritiseer, rou, of op ons hande sit nie. Ons moet organiseer, mobiliseer en doen. Neutraliteit verander nie die geskiedenis nie. Niemand is alleen vir alles verantwoordelik nie. Kom ons vra wat is moontlik en doen wat ons kan.
_________________________________________________
Insetsel:
Die Wêreldraad van Kerke: Israel pleeg apartheid
Die situasie in Palestina is “katastrofies en verby dringend”. So skryf die Palestynse Christene agt jaar gelede aan die Wêreldraad van Kerke. In hierdie brief uit 2017 het hulle vir die soveelste keer gevra dat Christene, kerke, besighede en regerings moet help om sport, kulturele en ekonomiese maatreëls teen Israel in te stel.
Die Palestyne het dié dringende versoek al vir die eerste maal in 2005 gerig. 'n Soortgelyke strategie het destyds apartheid in Suid-Afrika help beëindig en dis een van die redes waarom die breë burgerlike Palestynse gemeenskap hierop besluit het. BDS behels vreedsame, wettige protes in die vorm van boikot-aksies, sanksies en disinvestering (BDS) teen Israel.
Die wêreld het egter dié versoek grootliks geïgnoreer en miljoene Christene bly lojaal aan 'n God van oorlog en vergelding en stoot Christus se etiek van menswaardigheid en genade vir almal, opsy. Vir hierdie Christene word die Bybel 'n soort heilige wapen wat die onderdrukking en uitwissing van Palestyne regverdig, omdat hulle die Bybelse volk Israel met die moderne staat Israel verwar en glo daar is iets soos 'n suiwer Joodse bloedlyn. Dit ondanks duisende jare se migrasie, ondertrouery, bekering en die afwesigheid van enige genetiese bewyse. Die idee van 'n suiwer bloedlyn en 'n statiese identiteit is nie net vergesog nie. Dis immoreel en uiters gevaarlik. Dink byvoorbeeld aan Hitler se etnies-gebaseerde ideologie en Rwanda se bloedbad toe die Hutu’s die Tsutsi’s vermoor het.
Die WRK se besluitnemingsproses berus op konsensus en op 24 Junie 2025 reik die Sentrale Komitee 'n belangrike verklaring uit oor Israel se vernietigende militêre aanslag op mense, infrastruktuur en hulpbronne in die hele Palestina. Dié dringende wekroep op Christene, kerke en politici en internasionale liggame om helder standpunte én aksies volg na ‘n deeglike proses van studie en besinning.
Dit kritiseer Israel se flagrante verbreking van die mees basiese morele beginsels, asook van internasionale wette en besluite soos die Vierde en ander Geneefse Konvensies, die Roomse Statuut van die Internasionale Geregshof, die VN Handves, asook amptelike besluite deur die VN Veiligheidsraad en die VN se Algemene Vergadering.
Dit tref 'n duidelike onderskeid tussen Joodse mense, en die verwerplike dade van die staat Israel. Dit gaan dus nie oor ‘n keuse tussen groepe mense nie, maar oor ‘n keuse tussen onreg en geregtigheid, tussen ongelykheid en gelykheid. Daarom bevestig die WRK hulle besliste afkeur van rassisme in enige vorm - ook in die vorm van anti-Semitisme, anti-Arabiese rassisme en Islamofobie.
Die WRK het deur die jare herhaaldelik verklarings uitgereik oor die onreg teen die Palestyne, maar dié oproep van 24 Junie 2025 bevat prominente en belangrike nuwe elemente. Die oproep kan in vier punte opgesom word:
In ‘n geskiedkundige stap noem, én eien, die WRK vir die eerste maal Israel se stelsel van apartheid teenoor die Palestyne en verwerp dit as onwettig.
Die WRK vra kerke, lande en internasionale instellings soos volg: (a) hou Israel aanspreeklik vir die land se wandade; (b) stel boikot-aksies, disinvestering en sanksies (BDS) in teen Israel.
Die WRK bekragtig die Palestyne se reg op vryheid, geregtigheid, self-beskikking en die reg van miljoene vlugtelinge om terug te keer na hulle land.
Die WRK vra spesifiek vir Christene om die Palestynse Christene se getuienis, hulle reg om nie verjaag te word nie en om hulle geloof vrylik uit te leef, aktief te ondersteun.
_____________________________________________
Dr. Marthie Momberg is verbonde aan die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie van Stellenbosch Universiteit en 'n navorsingsgenoot van die Fakulteit Teologie. Sy is die outeur van 21 Voices: Why the Palestinian Struggle is a Global Matter (Naledi 2024) en talle ander vakkundige publikasies.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Kritiek teen Sionisme moet nie verwar word met anti-Semitisme nie. Sionisme is 'n problematiese ideologie wat internasionale reg en universele waardes minag en beslag vind in Israel se staatsbeleid. Kritiek daarteen is noodsaaklik. Om egter anti-Semities te wees beteken iemand is teen 'n sekere groep mense gekant en hou verband met rassisme. Anti-Semitisme moet verwerp en bestry word.