Suid-Afrika het 'n kommersiële kultuur nodig
Monopoliese taxi-geweld is 'n speek in die wiele van keusevryheid.
Voordat 'n mens die beleide wat 'n welvarende staat moontlik maak, kan implementeer - beleide soos vrye markte en die beskerming van privaat eiendom - moet die kultuur van daardie samelewing eers verander. Sonder so 'n kulturele transformasie word die vooruitsig op wérklike verandering al hoe dowwer.
Die onlangse spanning tussen e-taxi dienste (soos Uber en Bolt) en minibus-taxibestuurders wys hoe belangrik kulturele ingesteldheid is, en hoe dit beleidsvorming beïnvloed. Oor die hele land heen het sommige minibus-taxibestuurders openbare ruimtes soos taxistaanplekke en parkeerareas naby winkelsentrums vir e-taxi dienste ontoeganklik gemaak. Hierdie spanning het uiteindelik gelei tot die moord op 'n e-taxibestuurder in Soweto, met die gemeenskap wat vermoed het dat 'n taxibestuurder die oortreder was.
E-taxi dienste is 'n wyse waarop iemand 'n rit of taxi versoek, gewoonlik deur middel van 'n slimfoontoepassing. Dit het wêreldwyd vinnig gewild geword en tradisionele vervoermodelle ontwrig. Hierdie ontwrigting, tesame met dalende winsgewendheid van die ouer modelle, het in Suid-Afrika op plekke gelei tot geweld en die bult van taxi spiere as reaksie op die markverskuiwing.
Die inperking van keusevryheid
Daar is vrywillige aanvraag vir e-taxi dienste onder Suid-Afrikaanse burgers. Om diensverskaffers dus te verhinder om in sekere gebiede te werk bloot omdat minibus-taxi operateurs en hul verenigings dit so bepaal het, is 'n ernstige onreg teenoor die breër samelewing. Dit beperk op onregverdige wyse die natuurlike keusevryheid wat elke individu toekom.
Die staat se reaksie op die geweld en magsmisbruik deur minibus-taxi operateurs was maar flou. Die misverstand oor die staat se verantwoordelikheid het gelei tot die staat wat nagelaat het om enige strafmaatreëls teen die minibus-taxibedryf in te stel en so die oorsaak van die geweld aan te spreek. In plaas daarvan het die staat daarop gefokus om die e-taxibedryf te begin reguleer.
Ingevolge die Nasionale Landvervoerwet het die minister, kragtens artikel 8, die bevoegdheid om regulasies uit te vaardig wat vir die uitvoering van die wet nodig is. Hierdie bevoegdheid is toe as grondslag gebruik om nuwe regulasies vir e-taxibestuurders in te stel. Die departement van vervoer het nuwe regulasies in die Staatskoerant gepubliseer wat onder meer vereis dat e-taxis spesifieke kentekens moet hê, dat bestuurders 'n operateurspermit of sertifikaat moet bekom, dat daar geografiese beperkings op bestuurders geplaas kan word soos die roetestelsel in die minibus-taxibedryf, en dat daar paniekknoppies geïnstalleer moet word, alles as deel van nakomingsvereistes.
Die nuwe regulasies beoog om die e-taxibedryf nader te bring aan ander vorme van openbare vervoer. Maar die staat sien nie raak nie dat e-taxis juis in Suid-Afrikaanse townships met relatiewe lae inkomste gewild geraak het, omdat die ander tradisionele taxis weens staatsregulering en swak openbare vervoerstelsels nou omtrent gebroke is. Deur regulasies te skep ondermyn die staat dus die een vorm van vervoer wat die mark self gekies het, en maak die staat dit minder doeltreffend en meer soos die ander vorme van (ondoeltreffende) openbare vervoer.
Minder regulasies, sterker markte
Die feit dat e-taxi dienste min of meer ongereguleer of ligweg gereguleer is, word dikwels as negatief beskou, wat die staat móét regstel. Maar hierdie siening mis die punt dat e-taxi dienste juis doeltreffend is om markvraag te ontmoet omdat dit nie deur swaar regulasies belas word nie.
Dit neem ook nie in ag dat, ekonomies gesproke – soos deur die Economic Freedom of the World Index gewys word – minder regulasies oor die algemeen tot 'n sterker ekonomie lei nie. Die Suid-Afrikaanse regering behoort dus eerlik te oorweeg om regulasies op ander openbare vervoerstelsels, insluitend e-taxi dienste, te verminder sodat hierdie stelsels die geleentheid het om te innoveer sonder buitensporige staatsinmenging.
Regulasies wat die geografiese gebied beperk waarbinne 'n e-taxibestuurder mag dienste lewer het 'n negatiewe ekonomiese impak. Die e-taximodel pas bloot nie by die spesifieke roetegebaseerde reguleringsraamwerk wat ons staat op tradisionele minibus-taxis toepas nie. Hierdie benadering is reeds op 'n teoretiese vlak onhoudbaar, nog voordat 'n mens die praktiese uitvoeringsprobleme in ag neem.
Hierdie regulasies is ingestel nadat gemeenskappe gekla het dat die taxibedryf hulle intimideer en terroriseer. 'n Mens moet regtig vra hoekom die staat voel dat die slagoffers van dié intimidasie, naamlik die e-taxibestuurders, diegene is wat gereguleer moet word, terwyl die bedryf wat glo deur die staat gereguleer word, bekend is daarvoor dat dit die regstaat in ander gevalle ook verontagsaam en daar sterk misdadige karakters binne daardie bedryf doenig is.
Hierdie oënskynlik verwarde reaksie spruit in 'n groot mate uit 'n gebrek aan kommersiële kultuur in dele van ons samelewing. Dit is hoekom die sakemanne wat die taxibedryf beheer, dit nie as 'n probleem sien om geweld te gebruik om markgeskille “op te los” nie en hoekom ons staat die soort regulasies instel wat hy instel.
Ons staat, en die kiesers wat sy leiers verkies, besef nie die langtermyn- en kollektiewe skade wat aangerig word wanneer 'n beroep wat eens bloot 'n padwaardige motor vereis het, nou verander word in een wat noodwendig 'n gemerkte motor, 'n paniekknoppie, en registrasiefooie vereis. Boonop beperk hierdie regulasies die bedryf se beweegruimte en tas dit gevolglik winsgewendheid aan.
Verder behoort dit vir ons iets te sê oor die soort leiers wat ons verkies en die gevolge van die beleide wat hulle voorstaan. Handel, die vrye uitruil van goedere en dienste, dit is wat welvaart dryf. Maar om te kan floreer, moet die kultuur van 'n volk, soos dit weerspieël word in stempatrone en burgerlike betrokkenheid, handel goedgesind wees.
Die beste manier om 'n kommersiële kultuur te kweek en handel te akkommodeer, is om die uitruil van dienste, soos e-taxis, so vry as moontlik te laat plaasvind. Soos die status quo vóór die regulasies was. Terselfdertyd móét hierdie diensverskaffers beskerm word teen geweld of intimidasie deur ander lede van die gemeenskap of mededingers.
Totdat Suid-Afrikaners hierdie ingesteldheid tot op 'n redelike vlak internaliseer, gaan voorvalle van geweld in bedrywe soos e-taxis of bv. die sogenaamde konstruksiemafia voortduur. Intussen bly die land se ekonomiese vooruitsigte sleg, en sukkel die land voort op sy dwaalpad.
Zakhele Mthembu, BA Regte LLB (Wits), is beleidsbeampte by die Free Market Foundation. Hierdie artikel word met vergunning van die skrywer vertaal en herplaas vanaf the Rational Standard.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









