So 'n bietjie meer as 'n jaar gelede het OntLaer vir die eerste keer op die virtuele tydskrifrak verskyn. Meer as 400 meningstukke later is dit miskien uiteindelik tyd om te reflekteer oor OntLaer se eerste treë.
Die eerste vraag moet altyd die ontologiese wees. Het die aanlynpublikasie sy bestaansrede volbring? Of eenvoudiger gestel: Was ons suksesvol in ons poging om 'n nuwe platform te skep waar elkeen werklik sy sê kan sê, waar ons reaksie eerder as vooroordeel aanspoor?
Die eerlike antwoord hierop moet sekerlik ja wees. Die uitgebreide debatte wat op ons e-bladsye plaasgevind het spreek daarvan dat die ruimte nodig is, en dat daar behoefte aan nog debat en gesprek is. In werklikheid is daar egter, ten minste na my eie herhaalde ervaring, heel dikwels 'n baie duidelike onwilligheid om te reageer. Telkens het verteenwoordigers of woordvoerders die geleentheid om op aanvallende stukke te reageer van die hand gewys.
Dikwels is 'n druk program as rede aangebied, dikwels is geen rede aangebied nie. My eerste reaksie is natuurlik teleurstelling, waarom sou 'n mens nie die kans neem om jou eie saak te stel nie? Waarom sal mens toelaat dat die tesis wat jou oortuiging, jou geloof, of jou gemeenskap se bestaan uitdaag, eenvoudig onbeantwoord bly?
Ek het eers later, na 'n redaksiegesprek oor hierdie verskynsel, besef dat baie mense, organsisasies en groepe eenvoudig nie die punt daarvan insien nie. Waarom lugtyd gee en hulpbronne instoot as jy weet dat jou opponent geen ander doelwit het as om aandag te soek of om jou reaksie as bevestiging van hul eie ideologiese posisie, naamlik jou veragtelikheid, te gebruik nie? Ek verstaan hierdie standpunt, maar ek stem nie daarmee saam nie. Natuurlik kan 'n woordvoerder of voorsitter van 'n organisasie nie konstant en deurlopend antwoord gee op al die baie brandpyle van ideologiese dronkenskap wat afgevuur word nie, maar die antitesis moet gestel word, die eie punt moet gemaak word, en soos wat die opponerende punt ontwikkel, moet daardie antitesis verskerp word.
Ek dink hier aan die ontrafeling van die debat tussen Dr Wynand Boshoff en Carl Niehaus op In Gesprek met Lourensa Eckard soos dit op 3 November 2025 afgespeel het. Op die onkonstitusionele en hiperemosionele uitbarstings van Niehaus sou Boshoff dalk maar net terug kon sit en glimlag, hy sou seker die ateljee kon verlaat, of hy kon van die begin af onbereid wees om op te daag, maar hy het geen van hierdie opsies gekies nie. Hy het bly sit en die spreekbeurt wat hy van tyd tot tyd gekry het aangegryp, en myns insiens as die meer logiese en meer redelike van die twee sprekers uit die ring getree.
Ek wens vir die Afrikaanse taal 'n gewisse volwassenheid toe, maar volwassenheid word nie net uitgedeel nie, dit word verdien. Die vryheid van komplekse kognitiewe denke kom met die risiko dat jou besluite se gevolge jou lewenspad kan verander.
Hierdie risiko is groot en vreesaanjaend. Wat as ek foute maak? Wat as ek myself in die voet skiet? Alhoewel die risiko wat met grootword gepaard gaan werklik en wesenlik is, is die ander kant van die munt baie erger. Die teenpool van volwassenheid is deurlopende infantiliteit, waar jy daartoe gedoem is om vir altyd aan jou mamma se rokspante vas te klou, en as intellektuele kleuter te sterf. 'n Taal wat moeilike gesprekke vermy, sal noodwendig moeilike besluite vermy, omdat moeilike en genuanseerde besluite nooit sonder oorleg moontlik is nie. Soveel as wat ek verstaan dat kampvegters en organiseerders teen korrupsie en onderdrukking na afloop van 'n harde dag se letterlike en figuurlike moue oprol nie lus is om nou nog te antwoord op 'n reglynig opponerende mening nie, veroorsaak die afwesigheid van duidelike en onlangse antwoorde op moeilike vrae dat die ander standpunt noodwendig die enigste een in die argiewe sal wees, en verder, dat die taalgemeenskap tot kleuterskap verdoem sal bly, waar elkeen in sy eie sandput bly.
As student is The Great Debate deur Yuval Levin vir my voorgeskryf. Hierdie boek het die intellektuele debat tussen Edmund Burke en Thomas Paine in diepte uiteengesit. Burke en Paine was beide groot geeste, beide met voltydse werke en besige lewens. Nietemin het hulle die tyd geneem om in te gaan op die opponerende punt, en werklik die eie standpunt weldeurdag neergesit - en hoe dankbaar is ons nie vandag daarvoor nie?
Hulle briewe en pamflette begelei en ontleed die geboorte van 'n nuwe manier van saamleef soos wat dit gebaar word. Het hulle besef hoe langdurig die punte is wat hulle gemaak het, hoeveel ewigheidswaarde die sake gehad het wat hulle neergepen het? Ek weet nie. Maar ek weet dat die afwesigheid van 'n reaksie die westerse idee van hoe groot groepe mense saam behoort te leef effens maerder om die ribbes sou los.
My groot vrees is dat ons nasate en hulle KI-masjiene deur die bronne van hierdie era van Suid-Afrikaanse geskiedenis gaan kam en dat hulle 'n wanindruk gaan kry van die groot gesprekke en groot idees van ons tyd.
'n Taal, soos 'n mens, sukkel homself van kind af na volwassene toe. Dit is 'n gesukkel wat nodig is, wat sterk maak, en wat nie vermy kan word nie. Ek is dankbaar dat ons oor die afgelope jaar van OntLaer kon stoei en kon stry, maar ek weet nie of ons al werklik deur enige groot probleme gesukkel het nie.
In die jaar wat kom hoop ek dat stil stemme gehoor word, dat klippe in die bos uit die bos uit teruggegooi word, en dat ons die sandput vir die seepkis verruil.
Nog artikels deur Paul Maritz:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










OntLaer het aanvanklik my oog gevang omdat dit vars voorgekom het. Ek lees baie wyd en kon aanvoel dat hier 'n nis raakgesien is. En inderdaad was dit dan deurlopend daarná ook my waarneming. Daar is iets omtrent OntLaer wat ek voel in ander Afrikaanse publikasies ontbreek, met die uitsondering van LitNet: bevryde denke. Ek kon nog nooit optel dat die seleksie van artikels en opinies wat gepubliseer word probeer om enigiets meer as oop denke te wil "bevorder" nie; en dit in Afrikaans, sonder om te skroom om ook gasskrywers uit ander taalgroepe se opinies in Afrikaans te publiseer. Die "redaksionele vryheid" van Ontlaer, maak dit ook minder stresvol om bydraes in te stuur. Om verstaanbare redes veroorsaak die indiening van, byvoorbeeld, akademiese geskrifte vir publikasie heelwat angs vanwee die streng en ongenaakbare vereistes en voorskrifte. Om een of ander rede kry OntLaer dit egter reg om "met 'n ligter hand" artikels en opinies in Afrikaans te publiseer wat intellektueel stimulerend is, maar terselfdertyd lekker loslyf lees. Aan die OntLaer redaksie: doen so voort...