Wag daar 'n Mamdani in die toekoms vir die Wes-Kaap?
Politiek van begrip is nodig in 'n tyd van klik-aas retoriek.
Die antieke Griekse komedieskrywer, Aristofanes, skryf 'n komedie, Die Perdebye, wat handel oor die bejaarde Philokleon, 'n invloedryke Athener en sy trawante (die perdebye) wat die regstelsel misbruik om teenstand teen hom en sy tydgenote, sowel as vernuwing en innovasie van die jonger geslag teen te werk. 'n Tyd van relatiewe vooruitgang dra by tot stygende lewensverwagting, maar ook gepaardgaande uitdagings. Telkens is daar oor die potensiële newe-effekte van ‘n verouderde samelewing gewaarsku deur prominete denkers soos Plato, Cicero en Plutargus. Laasgenoemde het selfs 'n lang essay daaroor geskryf getiteld uit die Engels Whether an old man should engage in public affairs. In die onlangse jare het interessante studies die lig gesien oor die impak van veroudering sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, soos die myns insiens belangrike werk van Peter Zeihan, The End of the World is just the beginning: mapping the collapse of Globalization. Zeihan wys daarop dat daar nie voldoende beplan is om die ouer generasie se koopkrag te vervang met die jonger generasie se vermoë om kapitaal te bekom nie, en dat hierdie toedrag van sake katastrofiese ekonomiese gevolge sal dra.
Die onlangse verkiesing van Zohran Mamdani tot burgemeester van New York, wat ten dele in Kaapstad grootgeword het, word deur baie gesien is 'n stryd tussen die bose magte in die lug (die twee sisteme van kapitalisme en sosialisme), eerder as 'n stryd om vlees en bloed, om Paulus se woorde te betrek. Die gemiddelde kieser is waarskynlik meer oor laasgenoemde besorg as oor eersgenoemde, veral as dit by munisipale verkiesings kom. Die politiek bevat maar elemente van beide, en dis soms nodig om hierdie faktore te onderskei.
In Daniël Eloff se stuk verlede week oor die lesse wat ons uit Mamdani se verkiesing kan leer, raak hy hierdie vlees en bloed kwessie van lewenskoste aan, veral met betrekking tot verblyf, alvorens hy hom begeef in die hoër stryd hierbo genoem. Maar aangesien die duiwel soms in die detail sit, is dit dalk behulpsaam om tog die vlees en bloed kwessies soos Daniël dit uiteensit, te oorweeg alvorens 'n oplossing voorgestel word.
Die antwoord op die vraagstuk van stygende lewenskoste vir jonger geslagte in ontwikkelde lande blyk volgens die bronne wat hy geraadpleeg het deregulasie te wees. Hy beroep hom op twee bewysvoerings, eerstens die styging in nuwe huislenings sedert die verkiesing van Xavier Milei in Argentinië, en tweedens 'n meningstuk van die ekonoom Johan Fourie oor die eiendomspryse in die Wes-Kaap. Hoewel dit waar is dat daar 'n toename in huislenings in Argentinië is, verswyg die artikel om te noem dat die meeste eiendomme deur 'n mengsel van Europese, Skandinawiese en Amerikaanse beleggers opgekoop word. Daar was juis vanjaar in die Noordelike somer grootskaalse betogings in veral Spaanssprekende lande oor “oortoerisme” wat pryse van eiendom maar ook van gewone huishoudelike items vir plaaslike inwoners onbekostigbaar maak. Daar heers ook wêreldwye kommer oor grondeienaarskap van plaaslike burgers.
Die ander artikel waarna Daniël verwys, is Johan Fourie se artikel waarin die oplossing vir die Kaapse styging in eiendom eenvoudig minder regulasie is. Die feit is dat hoër gekwalifiseerde jongmense die Wes-Kaap verlaat weens stygende lewenskoste wat juis die gevolg is van die “blinde markkragte”. Dit is moeilik voorstelbaar hoe minder regulasie jonger werkendes gaan teruglok teen die koopkrag van pensioenarisse en buitelandse kopers. Dit is eenvoudig so dat jong werkendes uit die Kaap wegtrek vanweë die gebrek aan ondersteunende beleid (ek wil graag die geduldige leser wys op die onderskeid wat ek later sal tref tussen beleid en regulasie). Anders gestel: ten spyte van die invloei van kapitaal, is daar 'n uitvloei van geskoolde talent en 'n invloei van twee groepe: laag-geskoolde arbeid en afgetredenes. 'n Verdere kwessie is dat plaaslike inwoners wie se geslagte al lank gevestig is, se munisipale tarriewe met die stygende eiendomspryse styg, terwyl die laer-geskoolde immigrante en semigrante bereid is om vir laer lone te werk– benewens ander uitdagings soos die verengelsing van onderrig. Laasgenoemde dra daartoe by dat enige poging om hierdie kwessie aan te spreek, gemaklik afgewys word as “xenofobie” en “oninklusief”. Die optelsom hiervan oor 'n aantal jare is vooruitsigloosheid en oorgawe aan bendes.
Die tafel word sodoende gedek vir 'n toekomstige Mamdani wat onder ‘n meer aantreklike vaandel as die ANC sal kan kapitaliseer op die uitdagings soos hierbo genoem.
Kapitalisme en Das Adam Smith Problem
Die vader van moderne ekonomiese denke, Adam Smith, het benewens sy werk, The Wealth of Nations, ook The theory of Moral Sentiments geskryf waarin simpatie 'n kernbegrip is. Vanaf die negentiende eeu is hierdie werke gelees as weersprekend, aangesien eiebelang prominente aandag geniet die Wealth of Nations– in elk geval vir mense wat nie die moeite doen om verder as die eerste paar bladsye te lees nie. Hierdie oënskynlike teenspraak het bekend gestaan as Das Adam Smith Problem. Kenners beskou die twee werke vandag as wederkerige werke. Ironies genoeg het een van die bekendste terme, die sogenaamde “onsigbare hand”, die interpretasie gekry dat dit handel oor die oorgawe aan blinde markkragte. Smith het egter daarmee juis die teenoorgestelde bedoel, naamlik dat besigheid patrioties gedoen word ten bate van die landsburgers. Hier word nie 'n abstrakte woord soos “ekonomiese groei” bedoel nie (wat dikwels niks anders as die konsentrasie van kapitaal in ‘n paar mense se hande is nie), maar iets meer konkreet en plaaslik.
Die sigbare hand van beleid en beplanning
Wat sou dan die oplossing wees? Die oplossings wat ons deur die prikkelpolitiek van algoritmes kry is ontoereikend. Om na Amerika te kyk vir oplossings is ontoereikend. Volgens Zeihan is Amerikaanse politieke beleid “pasted together from the random thoughts of a four-year-old product of a biker rally tryst between Bernie Sanders and Marjorie Taylor Greene.”
Ek reken dat beleid en stimulasie ten bate van gewenste uitkomste 'n beter opsie as streng regulasie is, en verskeie rolspelers sal moeite moet maak om die vaardighede (en kapitaal) van 'n ouer geslag te gebruik om 'n jonger geslag te bemagtig en te verhinder dat Suid-Afrika in die rigting van 'n afhanklike ekonomie beweeg. In Die Perdebye word Smith se begrip van simpatie juis as teenvoeter teen Philokleon se eiebelang ingespan. Philokleon se seun kul die litigasie-behepte ou man om te bemiddel oor 'n dispuut oor watter van die honde in sy huis meer kos as die ander moet kry. Oorweldig deur sy simpatie vir sy honde (in teenstelling tot sy sentimente jeens sy mede-Ateners) gee die ou man bes en bring dit 'n verandering van sy ingesteldheid te weeg.
Ek sluit af met 'n laaste staaltjie oor die Griekse wetmaker, Solon. Hy was reeds 'n ou man toe Atene binnegeval is. In reaksie daarop het hy sy ou wapenrusting buite sy huis neergesit sodat die jongeres dit kan opneem. Toe die aanvallers hom vra wat gee hom die reg om dit te doen, was sy antwoord: “my ouderdom.” As daar niemand oorbly of bemagtig word om die stokkie oor te neem nie, gaan die stad nie bly staan nie.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










