Lewende Geskiedenis is meer as Skoolkurrikulums
Ouers, kinders en die herontdekking van geskiedenis.

My ouers het 'n stel langspeelplate genaamd Ons lewende geskiedenis gehad. Ek en my sibbe het daarna geluister nog voordat ons self ons skoenveters kon vasmaak. Dit was 'n bekoorlike ervaring. Ons is jonk genoeg dat CD’s en die internet toe reeds bestaan het, maar ons het die plate verkies, want die gedramatiseerde verhale wat met 'n naald uit die swart skywe van die verlede oopgekrap is, het 'n ander soort betowering gewek.
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se voorgestelde nuwe geskiedeniskurrikulum wat op 20 Maart vanjaar gepubliseer is (en die reaksie uit Afrikanergeledere) het my daaraan laat terugdink. Ek glo nie die Ons lewende geskiedenis-langspeelplate sou aan hierdie nuwe kurrikulumvereistes nie voldoen het nie; plaat 1 begin immers met 'n toneeltjie van die VOC se Here XVII wat besluit om Jan van Riebeeck na die Kaap te stuur.
Afrikaners se reaksie op die minister se aankondiging het tot dusver byna uitsluitlik bestaan uit kritiek op die inhoud van die voorgestelde kurrikulum. Hoewel dit sy plek het om daarop kommentaar te lewer, moet ons visie wyer as die kurrikulumtonnel strek wanneer ons oor geskiedenisleer praat.
Dink en Droom Groter
Deur slegs oor die inhoud van die kurrikulum te debatteer, word (dikwels onbedoeld) die volgende prentjie geskets:
Jannie gaan vir die eerste agt jaar van sy lewe nie geskiedenis leer nie.
Van sy negende tot agttiende lewensjaar gaan hy “dié geskiedenis” vanuit “dié kurrikulum” by “dié skool” leer.
Daarna gaan Jannie nie meer geskiedenis leer nie.
So asof jongmense gevangenes van die skool se kurrikulum is. Die kurrikulum is onvermydelik en onvervangbaar en gaan noodwendig jongmense se hele beskouing van die verlede bepaal. Ek wil aanvoer dat daar goeie rede is om buite die kurrikulum-boks te moet dink.
Eers net 'n paar reguit opmerkings oor die kurrikulum self: die DBO se huidige geskiedeniskurrikulum is reeds 'n ideologiese mengeldrankie met heelwat gifstowwe in, en die voorgestelde een verander net die gifstof-tot-antioksidant-verhouding. Talle komplekse geskiedkundige karakters word eensydig as uitsluitlik edel of uitsluitlik boos uitgebeeld na gelang van wie hul letterlike of ideologiese nasate is. Wát stilgehou word, wát vertel word en hóé dit vertel word, vorm 'n versigtig geformuleerde proefbuisoplossing. Dis die geesteskind van mense wat plooibare kinderbreine in staatsgelid wil druk.
Een reaksie hierop is om alles in die stryd te werp dat die huidige ideologiese mengeldrankie tog net nie ongesonder gemaak moet word nie.
Hoewel dit beslis 'n deel van die reaksie moet wees, is die belangriker deel om jou kind – en jouself – 'n paar ideologiese multivitamiene te voer. Vandag is daar baie sulke multivitamiene gerieflik beskikbaar. Dis hier en hier. Dis letterlik reg rondom jou. Gaan kyk dit hier saam met jou kinders (jy kan maak asof jy alles vooraf op die punte van jou vingers geken het). Die einste plate waarna ek aanvanklik verwys het, se inhoud is hier beskikbaar.
Selfdoen-kurrikulum?
Een opsie is om die DBO en sy kurrikulum as geheel vaarwel toe te roep. Ek is nie so naïef om te dink dat Afrikanerouers almal gaan saamstem as ek 'n skoolopsie aanbeveel nie, maar daar is 'n groeiende aantal onafhanklike skole en tuisonderriggroepe waarvan die leerplanne minder (of glad nie) van die DBO se kurrikulumvereistes afhanklik is.
Oorweeg dit. Na gelang van jou gesin se omstandighede sal dit meer of minder sin maak. Die punt is egter dat die skoolkurrikulum in elk geval nie die somtotaal van jou of jou kind se geskiedenisinname moet beslaan nie.
Jonathan Keeperman (@L0m3z), stigter van die uitgewery Passage Press, wys in 2025 uit waarom die stryd om die weergawes van die geskiedenis so fel is (my vertaling en kursivering):
“Die ou gesegde dat geskiedenis geskryf word deur die oorwinnaars, het die oorsaaklikheid verkeerd om – jy word die oorwinnaar deur die geskiedenis te skryf.”
Dit gaan natuurlik nie eintlik oor wie die geskiedenis skrýf nie, maar oor wie se weergawe van die geskiedenis geleer (en geglo) word. Die een wie se ideologiese mengeldrankie alleen opgedis en gesluk word, is die een wat die oorwinnaar word of bly. Wil jy regtig bevooroordeelde politici se mengeldrankie die enigste item op jou kinders se geskiedenisspyskaart maak?
Die vervaardigers van die Ons lewende geskiedenis-platestel het dit lewend genoem, omdat die geskiedenis daarin in die vorm van gedramatiseerde tonele aangebied word eerder as kil akademiese hoofstukke. Daar is egter 'n ander soort lewende geskiedenis waarna ek op soek is: Om Oom Paul te parafraseer, is dit wanneer ons die skone en goeie uit die verlede onthou en dag vir dag daarop bou. Dis wanneer ons optrede vandag goed en opbouend is, maar terselfdertyd deur ons voorouers s’n ingelig en geïnspireer is.
Dan lééf die geskiedenis. Dan sal niemand die weergawe van die geskiedenis glo wat Afrikaners uitsluitlik as boos wil uitbeeld nie. 'n Lewende geskiedenis is die beste teenmiddel teen 'n eensydige geskiedeniskurrikulum.
Nog artikels deur Louis Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











