Carney se toespraak: Oppas vir Middelmatige Middelmagtigheid
SA en ander moet dinge tuis eers regruk.
Die tyd sal leer of die Kanadese premier Mark Carney se toespraak by Davos een van daardie epogmakende retoriese welslae was. Die soort waarvan soveel politieke leiers vir 'n loopbaan lank droom, maar waarvoor die tye net nie gereed is nie, of die leier self net nie opgewasse of self gereed is nie.
'n Mens dink aan die groot sprekers, soos Perikles, Demosthenes en Cicero, en meer onlangse groot toesprake soos Harold Macmillan se winde van verandering wat waai oor Afrika, of Ronald Reagan voor die Berlynse Muur: “Mr Gorbachev, tear down this wall!”
Carney se toespraak, soos baie van die grotes in die geskiedenis, se geheim setel in die onderskeibaarheid daarvan, asook die poging tot keiharde eerlikheid. Die toespraak bak nie mooi broodjies met die gevestigde ordes van die dag nie. Dis nie die gewone blomagtige Davos-bemarkingspreekbeurt waarvoor almal ordentlik handeklap en verkas om nog 'n appelstrudel op te skep nie. Carney besing nie die lof van die liberale reëlsgebaseerde internasionale orde nie, hy verklaar dat dit nog altyd “partially false” was. En soveel sterker:
“We participated in the rituals. And largely avoided calling out the gaps between rhetoric and reality. This bargain no longer works. Let me be direct: we are in the midst of a rupture, not a transition.”
Carney hou 'n spieël vir die wêreldleiers by Davos op en wys uit dat die skewe verhoudinge tussen die groot moondhede en die ander rolspelers (bepaald in sy land se konteks, die verhoudinge met die VSA) toenemend 'n boelieverhouding is. Die grotes se transaksionaliteit, sê Carney, kom noodwendig teen 'n prys, want geallieerde en vriendelike kleiner magte se geduld raak gaandeweg op. Die gekarnuffelde state diversifiseer uiteindelik hul handelsmoontlikhede en ander betrekkinge, maar Carney is onder geen illusie dat hierdie proses goedkoop en risikovry is nie.
Daar is egter uitkoms in samewerking, en Carney sluit sy toespraak af deur te wys op die geleenthede vir die sogenaamde “middelmagte” om 'n alternatiewe, derde weg tussen die magstryde onder die groot moondhede uit te vind. Laat die Amerikaners, Russe en Chinese hul handelsoorloë en kinetiese proxystryde eenkant voer; die uitkoms vir middelmagtiges is om nuwe betrekkinge te sluit wat realisties oor die hersenskim van internasionale reëls dink, maar terselftetyd die geleentheid van wegbreking benut om gedeelde belange en waardes te herbevestig.
Die Druktoetse van die Nuwe Wêreldorde
'n Ander kernpunt van Mark Carney se toespraak is sy aanvoering dat soewereinteit nie meer bevestig sal word deur middel van histeriese heenverwysings na die “internasionale reëls” nie.
Wat voorlê, waarsku die Kanadese premier, is state se vermoë om druk te kan weerstaan as die eindelike toets van soewereinteit. Die koste daarvan om drukbestand te word, reken Carney, hoef egter nie alleen gedra te word nie, lande moet die geleentheid gebruik om die laste van drukbestandheid tot meer deelnemers se voordeel onder mekaar te verdeel.
Ek kon nie anders nie as om 'n variant van die plaaslike “ons sal self”-energie in hierdie Carney doktrine raak te sien. Talle Suid-Afrikaanse gemeenskappe, hetsy saam met grotes soos die Solidariteit Beweging of jou plaaslike slaggate-komitee, het lankal voor Carney se insigte reeds verskillende uitlegte van “staatsbestandheid” begin beoefen. Die besef is dat Suid-Afrikaanse gemeenskappe, met hul waardeskeppende besighede, kundiges, arbeiders en ander rolspelers, se sukses nie daarvan gaan afhang om die mislukkende Suid-Afrikaanse administratiewe staat teen groot onkoste te smeek, prosedeer of aanmaan om dienste te lewer waarvoor duur belastings betaal word nie. Nee, sukses en gesonde voortbestaan gaan afhang van of gemeenskappe, soos Carney se middelmoondhede, die druk van die mislukkende omliggende orde kan hanteer. Suid-Afrikaanse staatsbestandheidsleer, op makro-vlak, is maar eintlik dan die Carney doktrine. Miskien moet die premier ons kom besoek om meer hieroor te leer.
Terug by internasionale betrekkinge in die nadraai van die Carney toespraak, is die oordeel sover versigtig gunstig. Sekere kommentators is in die breë positief oor die toespraak, omdat dit in hul oë 'n nuutverbeelde weergawe van die normgebaseerde orde is wat eintlik maar die verslete internasionale spelreëls leerstellig onderskraag. Volgens hierdie siening verander niks eintlik nie; die groot moondhede word net gelos om hul realpolitik en transaksionalisme eenkant te beoefen. Die res kan die liberaal-demokratiese orde net herverpak met 'n bietjie meer staatsentriese selfgeldendheid, en alles is klopdisselboom.
'n Meer skeptiese en kritiese blik op die verwikkelinge by Davos neem eerder vir Carney op sy woord: Die reëls is dood, en wat oorbly is of state dan betrekkinge onderling kan beding wat hul soewereiniteit versterk deur hul meer drukbestand te maak.
Die Voorwaardes van Drukbestandheid
Soos enigiemand wat 'n matige vlak van fisiese wetenskappe op skool bestudeer het sal weet, sal 'n hol voorwerp onder eksterne druk inplof indien daar nie interne teenwigte is wat eksterne druk kan teëwerk nie.
State se interne politieke bestendigheid is kardinaal belangrik om eksterne druk onder hierdie nuwe tydsgewrig van internasionale staatsbestandheid “a la Carney” tegemoet te loop. As lande nie daarin kan slaag om die morele, ideologiese en ekonomiese klowe tussen hul politieke elites en kapitaalhebbendes enersyds, en hul kiesersbevolkings andersyds eers grondig aan te spreek nie, sal interne onbestendigheid 'n land altyd wawyd oop los vir eksterne druk. Suid-Afrika is 'n sprekende voorbeeld. Dit gebeur reeds dat plaaslike belangegroepe - soms uit radeloosheid met die regering, en soms uit politieke opportunisme - regstreeks met buitelandse moondhede gaan beraadslaag oor die kroniese probleme wat Suid-Afrika binnelands ervaar.
Dit is omdat interne geskilbeslegtingsmeganismes en betekenisvolle politieke beraadslagingsforums heeltemal ineengestort of oneffektief geraak het, en die diplomatieke vermoë van buitelandse sake gevul is met arrogante egos, soos die van Ronald Lamola. Neem byvoorbeeld die agterbakse gedrag van die Ramaphosa-regering tydens die BELA-onderhandelinge: Waar die NEDLAC-berade 'n geleentheid was om 'n wesenlike geskil behoorlik te besleg, het Ramaphosa en sy ministers hul agterente aan NEDLAC se tafeldoeke afgevee en doodluiters weggestap. Wat bly oor? Ore in ander lande. In moondhede soos Amerika wat wil luister, en uiteraard uit suiwere eiebelang. Lande het immers nie vriende nie, slegs belange, word alom gesê. Groot moondhede kry sodoende die geleentheid om invloedskanale na die hart van state wat intern onbestendig is, te vorm.
Soos die arme Titan-diepseeduikbootjie, sal Suid-Afrika verfrommel en verpulp word deur die eksterne druk van die groot moondhede, as ons nie interne voorwaardes vir 'n soewereine republiek in stand kan hou nie. Boonop sal geen middelmagtige staat met 'n middelmatige Afrika-landjie wil “Carney-betrekkinge” vorm as ons eie huis so ontsettend wanordelik is nie.
In 'n wêreld waar heenverwysing na “die reëls” nog eens op 'n tyd 'n land soos Kanada of Frankryk hul neusvleuels teen ons korrupte klankies kon laat toeknyp, het die wêreld van drukbestandheidsgebaseerde dipomatieke kunste, geen verdraagsaamheid vir interne onreg en wanorde as dit hul belange kan skaad nie. Die berekening van risiko het grondig verander in hierdie nuwe tydsgewrig, en ons kan nie daarmee kanse vat nie. Nog voorbeelde waar die interne onbestendigheid nie in staat is om eksterne druk af te weer nie, sluit Mali, Burkina Faso en ander Sahelstate in, waar die Russiese Afrika Korps sy tentakels ingeslaan het. China het lank reeds in Suider-Afrika die talle loslopende ekonomiese gapings begin uitbuit. Soos Carney sê, “[m]iddle powers must act together because if you are not at the table, you are on the menu”.
Hy kon hierdie segswyse dalk uitgebrei het om te sê dat middelmagte hul interne bestendigheid ook moet regruk. Anders is hul insgelyks op die spyskaart.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












"As lande nie daarin kan slaag om die morele, ideologiese en ekonomiese klowe tussen hul politieke elites en kapitaalhebbendes enersyds, en hul kiesersbevolkings andersyds eers grondig aan te spreek nie, sal interne onbestendigheid 'n land altyd wawyd oop los vir eksterne druk. "
- Uitstekende artikel