Die Neo-Marxistiese Aanslag op die Kerngesin
Sorg deur staatsdwang is vir kind en versorger sleg.
Joseph Stalin was bekend daarvoor dat hy die kerngesin (ma, pa en kinders in een huishouding) verfoei het. Hoewel hy nogal erg oor sy eie kinders was, het hy geglo gesinne verdeel Marxistiese stryders en kaders se aandag en lojaliteit jeens die staat en klassestryd.
Ek het onwillekeurig hieraan gedink toe ek onlangs 'n kennisgewing oor 'n gesprek by die Toyota Woordfees te Stellenbosch sien. “Ons moet praat oor die gesin,” lui die opskrif onheilspellend. Die deelnemers was almal filosowe met doktorsgrade wat, sover my kennis strek, nie getroud is of self gesinne het nie. Volgens die beskrywing van die gesprek is gesinne die wrange vrugte van kapitalisme en kolonialisme. “Pleks daarvan dat die kerngesin dus buite die politiek bestaan, dien dit spesifieke magstelsels,” lui die beskrywing verder. Meeste mense vind ook glo nie die nodige sorg daarin wat hulle benodig nie. “Omvattende en kollektiewe netwerke van sorg en ondersteuning” word voorgestel.
Voordat ons hierdie stellings en hul ideologiese ondertone onder die loep neem, moet die stand van gesinne in Suid-Afrika en hul belangrikheid net eers in oënskou neem.
Ja, kom ons praat inderdaad oor die gesin
Niemand kan twyfel oor of die kerngesin in Suid-Afrika al vir 'n geruime tyd in 'n krisis verkeer nie.
Baie mense (en veral die sogenaamde geleerdes in die geesteswetenskappe-fakulteite by universiteite) sal dit natuurlik ontken of bloot aan ander faktore toeskryf. Apartheid, kolonialisme, kapitalistiese uitbuiting, die patriargie ensomeer sal almal die skuld kry. Dit pas eenvoudig net nie by die narratief nie en enige afwyking sal jou buite hierdie eggokamer en in die akademiese wildernis laat. Soos Thomas Sowell al opgemerk het:
“The next time some academics tell you how important ‘diversity’ is, ask how many Republicans there are in their sociology department.”
Ewenwel, kom ons práát oor die stand van die gesin en die invloed daarvan op 'n samelewing. En kom ons wees dan eerlik. Katharine Hall en Zitha Mokomane van die Universiteit van Kaapstad (UK) voer in 'n navorsingstuk oor gesinne aan dat internasionale navorsing konsekwent toon dat funksionele gesinne die mees natuurlike omgewing vir die sorg, beskerming en sosialisering van kinders bied. Hulle haal pre-Covid-syfers aan wat toon dat slegs 19% van Suid-Afrikaanse gesinne as kerngesinne beskou kan word. Dit het ongetwyfeld verander weens die pandemie se uitwerking en baie kinders is wees of andersins ontredderd daardeur gelaat. Daarbenewens word slegs 11% van huishoudings deur enkelouers gelei.
Die meeste (36%) is gesinne wat uit uitgebreide families bestaan. Dit het ten minste deels daarmee te make dat baie kinders by grootouers en ander familie woon omdat hul ouers afwesig, elders werk of oorlede is. Kindergeleide huishoudings val ook in hierdie kategorie, maar hulle is gelukkig ver in die minderheid.
Statistiek Suid-Afrika (SSA) het in 2021 aangedui dat die hoeveelheid kinders wat in Suid-Afrika by hul biologiese ouers woon, veel laer as die wêreldgemiddeld is. SSA erken ook dat, afgesien van gesinne en huishoudings se kernrol in kinders se sorg en ontwikkeling, die staat se hulp aan kinders en ouers hopeloos te kort skiet. The Economist het laas maand berig dat minder as 'n derde van swart kinders in die land met hul biologiese pa’s grootword.
Die artikel haal Victor Pike, 'n gemeenskapswerker van die nieregeringsorganisasie Father A Nation aan, waar hy vir 'n byeenkoms van mans in Khayelitsha sê dat 'n kind verlore sonder 'n vader is. Selfs meer treffend is die volgende stelling: “The reason why our nation is broken is because there are no fathers there; we are fatherless.” Te veel navorsing om hier te noem het al die empiriese verband tussen afwesige pa’s enersyds, en maatskaplike euwels andersyds, getref. Laasgenoemde sluit in swak onderriguitkomste, antisosiale gedrag (soos geweld, misdaad, dwelms en tienerswangerskappe) en selfmoord.
Volgens Hall was daar ook 385 000 weeskinders (albei biologiese ouers is oorlede) in 2024. Meer as 2 miljoen kinders het slegs 'n moeder of vader wat leef en hul leefomstandighede sluit ondermeer in enkelouer-huishoudings, kinderhuise en woon by ander familielede. 'n Klein minderheid kinders met albei ouers woon ook weens hul kwesbaarheid nie by hul biologiese ouers nie.
Ek het persoonlik geen probleem met homoseksuele paartjies wat kinders kry of aanneem en in liefde na hulle omsien nie. Ook nie ander mense wat kinders aanneem en versorg nie. Selfs een liefdevolle ouer, 'n pleegouer, stiefouer of grootouer is beter as niks en ek ken persoonlik baie enkelouers wat met groot moed en moeite hul kinders suksesvol grootmaak. Ons moet hulle salueer, want dit is 'n werklikheid dat die leefomstandighede van baie kinders en gesinne vloeibaar is. Die kerngesin is klaarblyklik nie eers die norm in Suid-Afrika nie en daarom het die filosowe juis 'n praktiese eksperiment wat wag om uitgevoer te word.
Die probleem is wel wat bedoel word met “omvattende en kollektiewe netwerke van sorg”. Is dit hoegenaamd doeltreffend om die sogenaamde sorg-gaping aan te spreek? Ek stem eerstens heeltemal saam dat dit meer as net ouers verg om iemand doeltreffend en afgerond tot wasdom te bring.
Trouens, dit is wat reeds besig om te gebeur met afgeronde kinders uit kerngesinne. Onderwysers, maats (en hul ouers), ooms, tannies, broers, susters, grootouers, mentors, dosente en nog 'n lang lys van mense het my en baie ander mense van kindsbeen af gevorm. Ná my eie kinders se geboorte, het ek ook meer begrip en deernis ontwikkel vir my eie ouers se tekortkominge en leemtes (wat immers in elke persoon voorkom, want niemand is volmaak nie).
Maar dat ek my ouers vandag weer sou kies al sou ek keuses hê, is gewis. Hoekom? Want hulle is myne en ek is hulle s’n. Sonder daardie grondslag van geborgenheid, liefde en dissipline sou my lewe onteenseglik radikaal anders wees. Die res van die invloede was aanvullend tot my plek in my kerngesin. Hoewel my ouers my nie als kon leer wat ek moes weet in die lewe nie, het hulle my sterk en oopkop genoeg grootgemaak om die lewe met kritiese selfvertroue trompop te loop.
Utopiese neo-Marxiste in leerstoele
Ek het ook nie (genadiglik) die gesprek by die Woordfees bygewoon of daarvoor betaal nie. Ofskoon ek opsluit die waarde van idees erken en voorstaan, moet ek erken dat ek bevooroordeeld jeens die filosofie is en bykans nooit oor suiwer konseptuele idees en ideologie skryf nie.
Ek is te empiries ingestel en het na een semester se filosofie na politieke wetenskap oorgeskakel, omdat dit meer konkreet (dog ook begripsmatig) met veel meer praktiese voorbeelde en gevolge omgaan. Ek het voorts gevoel dat filosofie alles probeer abstraheer, oor min praktiese waarde beskik en lei tot nuttelose gesprekke wat slegs deur 'n klein en uitgesoekte groep gedebatteer word. Jy kan as filosoof wegkom met die grootste onsin deur dit in esoteriese en abstrakte (dog altruïstiese) taal en teorie te versluier.
En dit is wat waarskynlik met hierdie gesprek ook gebeur het. Maar plaaslike filosowe is nie alleen hierin nie. Die Duits-Britse akademikus en keiharde feminis wat in Amerika woon, Sophie Lewis, het 'n boek getiteld Abolish the Family: A Manifesto for Care and Liberation gepubliseer. Soos die titel sinspeel, wemel die inhoud van Marxistiese dogma, asook veralgemenings en oordrywing oor mishandeling en verwaarlosing in kerngesinne. Die gewone sosialistiese stelreëls word geopper: Die gesin is 'n kapitalistiese konstruk wat erfreg verteenwoordig en die massas se lojaliteit jeens die staat en die klassestryd ondermyn. Die boek se opsomming op Amazon begin met dieselfde frase as die Woordfees-bespreking se uitnodiging: “We need to talk about the family.” Karl Marx en Friedrich Engels het immers in The German Ideology geskryf dat dit vanselfsprekend is dat die individuele ekonomie onlosmaaklik is van die afskaffing van die gesin.
Lewis (en haar plaaslike geesgenote) se alternatiewe vir die kerngesin is nes ander sosialistiese eksperimente reeds in sekere vorme gekonseptualiseer en soms probeer en weens mislukking laat vaar. Soos kommunale woonstelgeboue waar honderde mense saamwoon en almal skynbaar gelukkig en goedhartig na enige kind sal omsien. Die ander wellustige en immorele alternatiewe laat ek eerder aan u verbeelding oor as om dit hier te beskryf. Staatsbeheerde kindersentrums is ook al allerweë voorgestel. Dit is nihilisme in sy mees vreesaanjaende vorm.
Die praktiese en morele uitdagings hiermee is legio. Die eerste probleem is dat dit op dwang gegrond is. Net soos kinders gedwing word om nie by hul biologiese of aangenome ouers groot te word nie, word die samelewing (eintlik die staat) gedwing om na alle kinders om te sien. Wat as niemand in sulke omstandighede die wil of die krag het om 'n baba te borsvoed of 'n skreeuende tweejarige te troos en voed nie? Wie van hulle word gestraf en deur wie en hoe?
Dit maak seker nie saak nie in 'n stelsel waar mense bloot kommoditeite is en liefde, verantwoordelikheid en sorg op die altaar van totalitêre gelykheid en die staatlike god opgeoffer word. Ek wonder of hierdie filosowe bereid sal wees om elk na 20 ander kinders om te sien as deel van hul ideologiese plig. Dit deug ook om te noem dat mense wat omtrent elke morele plig versuim, waarskynlik nie bereid en in staat sal wees om prakties en voldoende na kinders om te sien nie. Enige probleem wat daar aan die kerngesin toegedig word, kan net sowel (en waarskynlik meer) in hierdie omstandighede beslag kry. My pleidooi is uiteindelik nie vir die afskaffing van enige soort gesin nie. Beslis ook nie vir enige skadelike praktyke wat in (weliswaar disfunksionele) gesinne plaasvind nie. Maar daar is maniere kort van die afskaffing van die ganse gesinsmodel om sulke uitdagings die hoof te bied – soos maatskaplike ingryping en hulp van die wyer gemeenskap en ander familielede. Die (grotendeels positiewe) baba hoef nie saam met die (betreklik min negatiewe) badwater uitgegooi te word nie.
Dit is duidelik dat die geesteswetenskappe en veral filosofie grootliks deur neo-Marxistiese insigte (onderlê deur ondermeer kritiese teorie) oorgeneem is en selfs verhoë gegun word om hul bog kwyt te raak. Hul sieninge verteenwoordig nie net 'n lawwe en effense dwaling nie, maar vorm die antitese van wat nog altyd en grootliks gewerk het. Eerder as om gesinne se rol aan te vul en versterk, wil hulle heeltemal wegdoen daarmee en dit met hul verregaande idees vervang wat die probleme gaan vererger en nuwes skep. Hulle wil staatsorg as laaste uitweg vir kwesbare kinders die voorkeuropsie maak en hiermee afbreuk doen aan mans en gesinne se rol, positiewe geloofsriglyne (veral dié wat met Christenskap verband hou) en eenvoudige redelikheid. Dit is belangrik dat alternatiewe stemme by sulke gesprekke en elders oor hierdie onderwerp, asook andere van belang, gehoor word.
Dit is ook hoog tyd dat hierdie filosowe uit hul ivoortorings klim, die werklikheid besef en prakties iets daaraan doen, want hef aan lê beslis voor in hierdie land. Die probleem is nie dat Suid-Afrika te veel kerngesinne het nie, maar nie genoeg sulke gesinne en ander versorgers nie.
Dr. Brink is 'n entrepreneur, sakekonsultant en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Goeie stuk.
Sou ’n mens nie ook kon vra of die breër transformatisme-projek, as 'n neo-Marxistiese ideologie, noodwendig by die gesin later gaan moet uitkom as teiken omdat dit die laaste nie-gepolitiseerde lojaliteit is nie? Afrikane is vreemd met gesin/familie. As mens vir hulle vra dan is familie vir hulle belangrik maar dikwels word Afrikane se maatskaplike weefsel deur sosiale redes, ekonomiese migrasie en afwesige ouerskap uitmekaar geruk.
Uitstekend geskryf!