DinkWeer Donderdag | Alles met 'n Té
Is jy té aanlyn, of té aflyn?
'n Vriend kla onlangs by my oor sy pa. Die probleem, sê hy, is dat sy pa deesdae te veel samesweringsteorieë glo. En die rede daarvoor, meen hy, is dat sy pa te veel televisie kyk.
Dit is die soort diagnose waarmee 'n mens instinktief wil saamstem. Ons het immers almal grootgeword met waarskuwings oor die passiewe, verdowende en manipulerende aard van televisie. Die televisie was vir lank die groot boosdoener van die moderne huis. Dit was die flikkerende altaar in die sitkamer waarheen die gesin na ete stilweg terugkeer om deur ander mense se werklikheid besit te word.
Ek wonder wel of televisie nie deesdae, relatief gesproke, een van die meer gematigde plekke geword het waar 'n mens nog inligting kan kry nie. Nie omdat televisie neutraal, rein of besonder verhewe is nie. Televisie kan jou natuurlik ook mislei. Daar is propaganda, selektiewe beriggewing, sensasie, oppervlakkigheid en eindelose praatkoppe wat met groot erns oor klein dinge praat. Ons het al genoeg oor die euwels van “hoofstroommedia” die afgelope twee dekades gelees. Maar televisie is steeds, in vergelyking met sosiale media, 'n ouer en stadiger dier. Dit manipuleer jou nog op die ou manier.
En jou TV hou jou, ten minste nog nie, dop soos jou foon elke persoonlike doen en late dophou nie. My TV het nog nooit vir my 'n advertensie vir magnesiumsproei gewys omdat ek gister langs die muurbalbaan oor my knie gekla het nie. Dit weet nie presies wanneer ek verveeld, kwaad, onseker, moeg of ontvanklik vir 'n nuwe obsessie is nie.
Die televisie praat met 'n gehoor. My foon praat met mý.
En weens hierdie algoritmiese alomteenwoordigheid van selfone waarsku mense graag teen kronies aanlyn wees. En tereg. Ek het self al veranderings in my lewe aangebring om teen die nadele van die aanlynlewe te beskerm. Ek is byvoorbeeld al vir drie jaar nie meer op X, voorheen Twitter, nie. Die verskil aan my gemoed is noemenswaardig.
Sosiale media maak ons beslis meer ingelig, maar nie noodwendig wyser nie. Dit het toegang tot nuus en inligting gedemokratiseer, maar nie ons begrip van skaal, geduld of onderskeiding bevorder nie. Dit raak al hoe moeiliker om te weet of die wêreld werklik brand, en of dit net jou tydlyn is.
Daar is dus 'n werklike gevaar om té aanlyn te wees. Maar in vandag se wêreld is daar ook 'n gevaar daaraan om té min aanlyn te wees. Die gevaar van té veel aanlyn wees is dat jy begin dink die internet is die werklikheid. Die gevaar van té min aanlyn wees is dat jy nie besef hoeveel van die werklikheid reeds deur die internet gevorm word nie.
Té aanlyn, té aflyn
Omdat alles aanlyn so naby en dringend lyk, verloor jy die vermoë om te onderskei tussen 'n werklike nasionale oomblik en 'n luidrugtige middag op jou tydlyn. Jy begin dink die twintig mense wat mekaar in jou hoek van die internet aanvat, is “die hele land”. Jy begin glo dat 'n onderwerp belangrik is bloot omdat dit jou feed oorheers, sonder enige besef van die algoritmiese spieëlkamer waarin daardie dringendheid vir jou geskep word.
Maar die probleem met té aflyn wees is dat jy blind word vir die ondergrondse strome wat later wél die oppervlak breek. Jy verstaan nie waarom 'n mode, slagspreuk, meme, video of politieke frase binne dae 'n hele gemeenskap kan bereik nie. Jy verstaan nie hoe vinnig reputasies gemaak en vernietig word nie. Jy verstaan nie hoe wantroue versprei nie. Jy verstaan nie hoe mense, lank voordat hulle 'n mening in 'n peiling uitspreek, reeds emosioneel op 'n saak geposisioneer is nie.
Hilde Kruger se artikel oor digitale modekultuur en die “kyk wat doen 'n blazer”-tendens het iets van hierdie spanning mooi uitgewys.
Waar 'n tydskrif soos Vogue vroeër 'n soort kulturele poortwagter was, word smaak vandag al hoe meer in digitale netwerke geskep. 'n Kort video kan binne ure 'n klein toets van kulturele meelewing word en wie dit mis, word met 'n effens neerbuigende internetlaggie begroet: “Ek kan nie glo jy’t dit nog nie gesien nie.”
Wie té aflyn is, sal maklik die hele blazer storie afmaak as niks. Net nog 'n oppervlakkige TikTok-ding. Net nog mense wat aandag soek of 'n internetgier wat teen môre verdwyn en die mense met ringligte en selfone net die volgende ding gaan soek. Wie té aanlyn is, kan natuurlik ook die teenoorgestelde fout maak en dink dat elke digitale rimpeling die samelewing gaan verander. En dit het 'n tasbare uitwerking, want mense vat dikwels hierdie seine as 'n teken van 'n nuwe goudstormloop. Skielik is elke kortstondige internetpersoonlikheid 'n mediamaatskappy en die nuutste aanlynneiging 'n “geleentheid” om geld te maak.
En soms ís dit 'n tydelike goudstormloop. 'n Mens hoef maar net te kyk na die koors rondom verskeie NFT’s (“non-fungible tokens”, oftewel digitale versamelitems), of na wat met die Hawk Tuah-meisie gebeur het, om te sien hoe vinnig die internet iemand of iets in 'n ekonomiese verskynsel kan verander. Maar goudstormlope eindig dikwels soos goudstormlope maar eindig: 'n paar mense loop weg met die goud, en die meerderheid ander bly agter met die grawe, panne en waardelose kaarte van 'n myn wat reeds uitgeput is.
Die punt is dus nie om óf alles ernstig op te neem óf niks ernstig op te neem nie. Die punt is om raak te sien hoe die wêreld nou werk. Kultuur gebeur nie meer net in redaksiekantore, universiteitslokale, kerksale, parlemente of formele instellings nie. Dit gebeur ook in kort video’s, kommentaarafdelings, WhatsApp-groepe, memes en gedeelde frases wat mense begin gebruik voordat hulle ooit daaroor nadink.
Die poeier
Hügo Krüger se stuk verlede week oor gym-kultuur as 'n kultus van slegte wetenskap wys ook hoe aanlynkultuur nie bloot weerspieël wat mense reeds doen nie, maar die werklikheid self herskep.
Ek onthou hoe ek as student video’s deur BroScienceLife gekyk het. Dit was snaaks juis omdat dit so herkenbaar was. BroScienceLife was 'n selfversekerde gymboet wat met priesterlike erns oor “gains”, “pre-workout”, “leg day” en die vermeende morele orde van die bench press praat. Dit was parodie, maar soos met soveel internetparodieë het die grap later aan die werklikheid self begin skaaf. Die moderne fiksheidswêreld is ook 'n plek waar aanlynkultuur dus 'n noemenswaardige fisieke én maatskaplike uitwerking het. Oefening, hetsy die gym-bro weergawe, CrossFit, padel of Hyrox, word 'n identiteit. Hoe weet jy 'n ou doen Hyrox? Hy sê immers vir jou.
Gevolglik word die gewone deugde van dissipline, volharding en matigheid nie meer net as deugde verstaan nie, maar as eindprodukte. Die deug is nie meer die doel nie, maar die deelname is die doel.
Vir lank het die mode-, skoonheids- en dieetbedrywe veral vroulike onsekerheid met indrukwekkende winsgewendheid ontgin. Maar jong mans het intussen hul eie estetiese masjien gekry.
“Looksmaxxing” is miskien die mees onheilspellende voorbeeld hiervan. Op sy onskuldigste beteken dit bloot dat iemand beter wil lyk. Maar in sy aanlynvorm word gewone selfverbetering iets donker. Prakties strek dit van gim, velsorg, haarstyle en dieet tot “mewing”, (Ek moes Google, maar mewing behels blykbaar dat jy jou tong teen jou verhemelte druk om kwansuis jou kakebeen en gesigstruktuur te verbeter) oormatige kou-oefeninge, nekverdikking, eksperimentele aanvullings, obsessiewe gesigsmetings en selfs pogings om die kakebeen deur herhaalde mikrofrakture te hervorm.
Figure soos Clavicular, 'n bespotte maar tog invloedryke internetpersoonlikheid binne hierdie wêreld, wys hoe maklik selfverbetering in selfveragting kan verander. Die internet neem 'n gewone menslike onsekerheid, gee dit 'n pseudo-wetenskaplike woordeskat, bou 'n gemeenskap daar rondom, en verkoop dit dan as vervulling en 'n sin van behoort.
Daar is natuurlik niks verkeerd met fiksheid nie. Inteendeel. Om jou liggaam te versorg is goed. Om sterker te word, beter te eet en meer gedissiplineerd te leef, is 'n deug.
Maar Hügo se beskrywing van poeier-aanvullings as 'n soort sakrament van hierdie kultuur is skerp omdat dit iets blootlê wat verder as gym strek. Baie moderne subkulture het hul eie sakramente. Die produk wat wys jy behoort of die ritueel wat wys jy is ingekoop.
In die gym-wêreld is dit die skudbeker en poeier. Elders is dit die sigbare boekrak agter jou op Zoom, die Substack wat jy “moet” lees, die koue stort, die suurdeegbrood, die regte podsendings, of die regte byna liturgiese morele verontwaardiging.
Wie té aanlyn is, kan maklik soos Alice in hierdie wêrelde se konyngate aftuimel. En wie té aflyn is, mis weer hoe kragtig hierdie kultuur geword het. Dit is nie net 'n paar jong mans wat snaakse poeiers drink nie. Dit is deel van 'n groter tydsgees waarin mense hulself deur sigbare selfverbetering probeer verstaan.
Die vreemdeling
Piet du Plessis se stuk oor xenofobie pas op 'n ongemaklike manier by hierdie gesprek in, wanneer dit kom by die regte wêreld se gevolge van aanlyngesprekke. Hoe vrees versprei, verhard en uiteindelik 'n politieke werklikheid word.
Die maklike antwoord is om te sê dat mense minder tyd aanlyn moet spandeer omdat die internet hulle radikaliseer. Dit is gedeeltelik waar. Maar die teenintuïtiewe punt is dat mense soms juis aanlyn moet wees om te verstaan wat in die psige van 'n samelewing begin gebeur voordat dit in die straat verskyn.
Vreemdelingehaat begin nie altyd met 'n baksteen deur 'n winkelvenster nie. Vandag begin dit dikwels met herhaalde verdagmaking, 'n “hulle” wat stadigaan meer natuurlik op die tong begin lê.
Dit gesê, wie té aanlyn is, kan ook verkeerdelik elke opruiende video as 'n volksopstand interpreteer. Wie té aflyn is, kan eers wakker skrik wanneer die volksopstand reeds begin het. Piet se stuk is dus nie net 'n waarskuwing teen xenofobie nie, maar teen die gemak waarmee mense 'n samelewing in “ons” en “vreemdelinge” begin verdeel.
Die digitale wêreld versnel hierdie proses omdat dit ons toelaat om ons vrese eindeloos met bewyse te voer. Elke groep kan sy eie argief van vernedering, bedreiging en onreg opbou. Elke vermoede kry 'n skermgreep as bewys en elke vooroordeel kry 'n video geneem op iemand, met 'n verdagte groot gehoor, se selfoon, en kwansuis die vermoë om elke Suid-Afrikaanse krisis te verduidelik asof hy pas van die berg afgekom het met twee tablette en 'n Telegram-kanaal.
Te voet, te perd en tevrede
Die vreemde gevolgtrekking is dus dat die antwoord op 'n siek aanlynkultuur nie eenvoudig is om minder van die internet te hê nie. Die werklike uitdaging is om genoeg aanlyn te wees om die nuwe tekens van die tyd te kan lees, maar nie so aanlyn dat 'n mens self 'n produk van daardie tekens word nie.
Daarom is dit nie genoeg om met groot meerderwaardigheid vinger te wys na “mense op die internet” nie. Ons is almal, in mindere of meerdere mate, mense op die internet. Selfs diegene wat hulself as nugter, afsydig en onaangeraak beskou, leef in 'n wêreld waarvan die onderstrome reeds digitaal beweeg.
Die vraag is dus nie of 'n mens aanlyn of aflyn moet wees nie, maar watter soort teenwoordigheid 'n mens daar moet hê.
Om alles ernstig op te neem, is waansin. Om niks ernstig op te neem nie, is naïwiteit.
Die ou mense het gesê alles met 'n té is sleg, behalwe te voet, te perd en tevrede. Miskien is dit steeds die beste digitale raad wat ons het.
Nog Dinkweer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












