DinkWeer Donderdag | Candide se Tuin, of, die Plaasvervanger-bestaan
Il faut cultiver notre jardin - inderdaad.
Na aanleiding van die verdelende effek wat Donald Trump se onlangse besluite op die algemene Afrikaner-kommentatorklas het, en na aanleiding van die nuwe politieke dinamiek in die land, speur ek oor die afgelope weke hoe langer hoe sterker 'n broeiende wisselwerking tussen twee verskynsels:
Aan die een kant is daar 'n soort plaasvervangende lewe, wat mens dalk in Engels vicarious living sou noem. In hierdie toestand is jy as mens of individu wesenlik onbetrokke, maar jy voel self diep, intens betrokke. Hierdie verskynsel is met betrekking tot sport redelik algemeen, in die sin dat ek meer senuweeagtig voor daai skop in 2023 was as Handré Pollard self. Toenemend, veral danksy onmiddelikke massamedia, kom hierdie verskynsel in die internasionale politiek voor - jy ondersteun nie net vir Trump of Vance (of wieookal) nie, jy word Trump of Vance (of wieookal). Hulle sukses is jou sukses, kritiek teen hulle is kritiek teen jou.
Die teenpool van hierdie verskynsel is die ou idee, miskien op sy beste uitgedruk in Voltaire se kortverhaal Candide, dat ons ons eie tuin moet bewerk. Dit wil sê: Ons moet beheer neem oor dit wat werklik binne ons bereik is, waar die verandering miskien gering voel, maar waar ons eintlik 'n ware en meetbare positiewe verskil kan maak.
Beide verskynsels is sekerlik sou oud soos die eerste reisende storievertellers van antieke Griekeland, waarmee ek bedoel dat die jong seun so diep met Herakles of Achilles identifiseer dat hy wolwe gaan jag maar sy eie dagtakies afskeep. Nietemin het die intensiteit en relevansie daarvan oor die afgelope weke en maande toegeneem. Wat Trump betref: Nie lank gelede nie het baie, ek inkluis, geglo dat sy administrasie permanente oorlogvoering, langtermyn-verstrengelings, en beslis enige strewe wat na regimeverandering lyk, soos die pes sou vermy. Die huidige realiteit verskil hiervan. Selfs hulle wat ten gunste van sy administrasie se huidige optrede is moet sekerlik erken dat die broodjie wat nou gebak word nie lyk soos die een op die verpakking nie.
Krisis des persoons
Vir heelwat professionele- en geleentheidskommentators in Afrikaanssprekende kringe het hierdie oomblik iets ontlok wat byna soos 'n persoonlike identiteitskrisis voel. Hier gaan dit oor die rou emosie waarmee openbare gesprekke tans aangepak word, en die irrasionele en verbete onverdraagsaamheid teenoor kritiek deur mediapersoonlikhede wat Trump se reg tot spraakvryheid weekliks tydens die Biden-administrasie bepleit en verdedig het. Skielik is kritiek op Trump nie bloot meningsverskil nie, dit is verraad. Hoe durf enigiemand die held kritiseer wat “woke” verslaan het? Hoe durf enigiemand die moderne Herakles kritiseer terwyl hy die sewekoppige draak kaalvuis aanpak? Die reaksies klink soos bestaansverdediging.
Op hierdie punt is die idee van 'n plaasvervangende lewe moeilik is om te ignoreer. Maak dit nie meer sin om die energie wat ek bestee om hierdie politieke figuur aanlyn te verdedig en om sy opponente te beledig, aan die bewerking en verbetering van my eie tuin, of die tuin van my eie lewe te bestee nie? Daar sal altyd nog 'n oorlog wees, nog 'n Amerikaanse president, nog 'n leier in Rusland. Daar sal altyd eindelose debatte wees en die sosialemediavoerkrip sal altyd vol bly, maar 'n lewe wat as toeskouer deurgebring word, selfs as 'n emosioneel betrokke een, laat selde 'n tasbare merk op die werklikheid.
Wat sin maak, en wat die wêreld werklik beter maak, is 'n lewe wat bestee word aan die bewerking van jou eie tuin. Alhoewel letterlike tuinmaak 'n edele strewe is, gaan dit natuurlik eerder oor deelname. Deelname aan plaaslike politiek, aan 'n beheerliggaam, 'n gemeenskap. Die twee of drie uur per dag wat aan doemskrol (en aan sosiale media kommentare) bestee word, kan sekerlik herlei word na iets wat werklike, meetbare verandering teweegbring.
Op hierdie punt keer ek na verlede week se OntLaer-uitgawe, waar ons outeurs vlytig in die tuin van meningsvorming besig was.
Daniël se opmerkings het idees vasgevang wat ek al vir jare koester: “As 'n beleid die armes armer maak, word dit nie deernisvol omdat dit in deernisvolle taal beskryf word nie.” Inderdaad. Mens dink aan Orwell se Ministry of Love en Doublespeak. Uiteindelik is die belangrikste maatstaf waar presies die tekkie die teer tref. Epiktetus meen in sy Meditasies dat verbetering altyd in die rigting van 'n ding se wese sal beweeg, dus, hoe nader jy kom aan wat jy eintlik moet doen, hoe beter. Die staat se werk is nie mooipraatjies nie, dit is mooi dade. Handré van Heerden se buiging op OntLaer het hierdie idee versterk.
Ook met Bouwe van der Eems se samevatting moes ek saamstem: “Die pad vorentoe moet eerder gebaseer word op die daarstelling van 'n breë front wat hom daarvoor beywer om 'n regulatoriese omgewing te skep waar kurrikulum glad nie deur die staat voorgeskryf kan word nie.” 'n Toesighoudende en moreel voorskriflike staat kan nie sinvol wees in 'n era waar die meerderheid belese is en in ontwikkelde kulture grootword nie - mens vra jouself waarom regeerders hulself so graag groots en heldhaftig wil voordoen, terwyl hul plek meestal nie die maak van golwe is nie, maar die uitstryk daarvan. Ook waar dit nodig is om golwe te maak, kan die politikus die langtermyn waarde van sy inset soms oorskat, soos Piet du Plessis aangedui het. Veral met betrekking tot geskiedenis, kan 'n eensydige blik op die verlede miskien 'n onreg van sy eie daarstel. Juis hieroor het Barend Wesseloo uitgebrei.
Chris Hatting het die realiteit goed begryp met sy punt: “In die nuwe geopolitieke en geostrategiese werklikheid blyk dit dat multilaterale instellings mooiweersvriende is. Hulle versterk jou stem wanneer jy nuttig is, en raak stil wanneer dit duur word om jou te verdedig.” In 'n sekere sin sluit hierdie gedagte aan by Candide se imperatief. Ons is so besig om oor Washington se buitelandse beleid te dink en te droom, dat ons kontinent uit die oog verloor word. Hand in eie boesem, en hand uitgereik na die naaste, beteken uiteindelik meer as hand om die slimfoon. Miskien is hierdie kontinentale medemenslikheid juis wat Lia Snijman bepleit?
Die Hartseer Lewe van Volgehoue Toeskouers
Ten slotte is dit nodig om weer na Voltaire te draai. Is dit dan verkeerd om ingelig te wees? Sekerlik nie. Ons moet lees, oorweeg, en dink, maar wat kom na dink? Doen, nie waar nie? Wat die onuitputbare voerkrip van sosialemedia kuilvoer doen, is dat dit ons op die oppervlak aan die lees en aan die kyk hou. Hier ontstaan die probleem. Lees en kyk word plaasvervangers vir ware en werklike optrede, vir skoffel en plant. Ek sien hoe ander skoffel, ek raak kwaad vir die onkruid in hulle tuine, terwyl die voetpad na my huis toe lankal toegegroei is.
Uiteindelik is probeer-en-fouteer en die stelselmatige verbetering daarvan sekerlik 'n lewe in diens van die naaste. Eweneens is 'n lewe as permanente toeskouer, wat homself verbeel dat hy op die veld of in die arena is, selde werklik sinvol.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












