Diplomatieke Opvoerigheid in Distrik Ses
Die Hague Group se Kaapstad-vergadering is diplomatiek ongewens in ons land.
Daar is deesdae 'n nuwe diplomatieke groep/organisasie in internasionale politiek: The Hague Group. Vir baie mense klink dit amptelik, ernstig en gewigtig — amper asof dit 'n onafhanklike internasionale regsliggaam is wat namens die wêreld praat. Maar dit is lank nie die geval nie.
The Hague Group is 'n informele blok van ideologiese bondgenote wat hulself as kampvegters vir “internasionale geregtigheid” aanbied, maar in werklikheid meestal 'n anti-Israel-aktivistekoalisie is wat 'n baie spesifieke politieke agenda probeer bevorder. Dat hierdie groep nou op 15 Desember om 16:00 'n groot vergadering in Kaapstad hou, in Distrik Ses, behoort Suid-Afrikaners diep ongemaklik te maak.
Die eerste vraag is natuurlik: hoekom Kaapstad? Hoekom Suid-Afrika? Die antwoord is voor die hand liggend — omdat Suid-Afrika een van die min lande in die wêreld is wat bereid is om sy eie internasionale reputasie op te offer om Iran, Hamas en ander radikale spelers se geopolitieke narratief te bevorder. Die voormalige minister Naledi Pandor is een van die groot kokkedore in die Hague Group. Die ANC-regering maak hulself herhaaldelik skuldig as die wêreld se luidste anti-Israel rolspeler, en dit het Suid-Afrika 'n natuurlike gasheer gemaak vir 'n groep lande wat self min geskiedkundige belangstelling in die Palestyne het, maar wel 'n sterk dog siniese belang daarin het om Israel as wêreldskurk uit te beeld. Dis 'n maklike manier om van hul eie tekortkominge, korrupsie en onderdrukking af te lei.
Volgens die Hague Group se eie openbare verklarings wil hulle glo die “internasionale reg beskerm”, die sogenaamde “Gaza-volksmoord stop”, en die wêreld mobiliseer teen Israel se optrede. Maar hierdie hele raamwerk is gebou op twee groot leuens. Eerstens, dat Israel 'n volksmoord pleeg — iets waarvoor daar geensins 'n feitelike basis of regsgrondslag bestaan nie. Tweedens, dat die Internasionale Geregshof (Engels: International Court of Justice, ICJ) reeds “bevindinge” teen Israel gemaak het, wat eenvoudig onwaar is. Die ICJ het géén uitspraak gelewer dat Israel volksmoord pleeg nie, hulle het slegs voorlopige maatreëls beveel wat basies van alle partye vra om burgerlikes te beskerm — iets wat Israel reeds doen, en wat Hamas doelbewus saboteer deur sy militêre infrastruktuur in woongebiede te versteek.
Die Hague Group ignoreer hierdie feite doelbewus. Vir hulle is Israel nie 'n staat wat ontsaglike moeite doen om burgerlike sterftes te verminder in 'n oorlog wat Hamas begin het nie. Israel is vir hulle 'n maklike teiken en 'n simbool wat gebruik word om politieke kapitaal te bou onder simpatieke linkse regerings, radikale aktiviste en Islamiste wêreldwyd. Wat ontstellend is, is hoe gewillig Suid-Afrika hierdie rol vervul. In plaas daarvan om 'n neutrale bemiddelaar te wees, het Pretoria homself verander in 'n diplomatieke basis vir organisasies en regerings wat openlik die vernietiging van Israel ondersteun.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die Kaapstad-vergadering gelees moet word. Dit is nie 'n samekoms van “vredebouers” of “regskundiges” nie. Dit is eerder 'n strategiese byeenkoms vir lande wat 'n internasionale veldtog wil koördineer teen die enigste Joodse staat ter wêreld. Lande soos Colombië, Bolivië en Maleisië — regerings wat self worstel met menseregteskendings, politieke onderdrukking en interne geweld — posisioneer hulself nou as die wêreld se morele gewete? Die ironie is amper te veel om te glo.
Wat nog meer opvallend is, is wie nié by hierdie groep aansluit nie. Die meeste demokratiese lande — insluitend Europa, Australië, Indië en selfs baie Arabiese state — hou hul afstand. Hoekom? Want hulle verstaan wat werklik in Gaza gebeur. Hulle weet Hamas gebruik skoolgeboue, hospitale en moskees as wapendepots. Hulle weet Hamas hou steeds die liggame van Israeliese gyselaars terug en weier om basiese menslikheid te toon. Hulle weet ook dat Hamas al verskeie kere skietstilstande verbreek het die afgelope paar maande. Hulle weet dat by elke skietstilstand waartoe Israel ingestem het, dit Hamas is wat aangehou het om Israeliese burgerlikes te teiken. Die Hague Group erken niks hiervan nie.
Wat Suid-Afrikaners moet verstaan, is dit: hierdie Kaapstad-vergadering is nie neutraal nie. Dit is nie 'n soeke na vrede nie. Dit is 'n politieke projek — en 'n baie gevaarlike een. Die retoriek agter die Hague Group is gebou op die ou, klassieke anti-Israel leuens en praatpunte: dat Israel 'n koloniale mag is; dat Israel onregmatig bestaan; dat Jode geen geskiedkundige reg op hul eie land het nie; dat Palestynse geweld altyd “weerstand” is, maar Israeliese selfverdediging altyd “aggressie”. Dis dieselfde narratief wat ons ken uit die era van Sowjet-propaganda, die Moslem Broederbond en moderne Islamisme. Suid-Afrika word nou 'n podium daarvoor.
Geen oplossings word gesoek nie
Die groter geopolitieke prentjie is selfs meer kommerwekkend. The Hague Group se stigting het in Januarie 2025 saamgeval met 'n duidelike strategiese verskuiwing deur Iran en sy bondgenote.
Ná 7 Oktober het dit vir hierdie lande duidelik geword dat Hamas se militêre strategie misluk het. Hulle nuwe fokus is dus om Israel internasionaal te isoleer deur 'n samestelling van VN-lobbywerk, hofgedinge, diplomatieke druk en propaganda. Die Kaapstad-vergadering is 'n volgende tree in hierdie proses — 'n poging om 'n alternatiewe internasionale orde te bou waar radikale anti-Israel regerings hulself as die ware “beskermers van menseregte” voordoen.
Die tragedie is dat hierdie tipe konferensies geen vrede bring nie. Hulle bring geen oplossings nie. Hulle bring net meer polarisasie, meer propaganda, meer verwronge persepsies en leuens. Intussen bly Hamas 'n terroriste-organisasie wat geen belang het by 'n twee-staatsoplossing nie en openlik verklaar dat hul doel die vernietiging van Israel en die moord op Jode wêreldwyd is. Die Hague Group weier om Hamas te kritiseer, selfs oor hul gebruik van menslike skilde, die ontvoering van babas en bejaardes, of die grusame massaslagting van 7 Oktober 2023. Hierdie stilte verklap baie.
Maar wat beteken dit vir Suid-Afrika? Dit beteken dat die ANC-regering homself al verder vervreem van die wêreld se hoofstroomdemokrasieë. Dit beteken dat ons buitelandse beleid nie langer op beginsels berus nie, maar op politieke aktivisme. Dit beteken dat die regering se prioriteite nie die ekonomiese en veiligheidsbelange van Suid-Afrikaanse burgers dien nie, maar die ideologiese droomwêreld van 'n paar diplomate wat hulself as revolusionêre sien. Suid-Afrika behoort trots te wees op sy rol as vredemaker, nie as 'n agterdogwekkende ideologiese kampvegter nie.
Die ironie is natuurlik dat die Hague Group hulself as beskermers van die internasionale reg beskou. Maar die reg waarop hulle beroep doen, is dieselfde reg wat Hamas verwerp. Israel — 'n demokrasie met 'n onafhanklike regstelsel, 'n vrye pers en konstante interne kritiek — word gedemoniseer, terwyl diktature en terroristegroepe witgewas word. Dit is diplomatieke teater, nie geregtigheid nie. Uiteindelik moet lesers verstaan: die Kaapstad-vergadering is nie 'n poging om gemoedere te bedaar of werkbare oplossings te skep nie. Dit is 'n rookskerm. 'n Nuwe front in die internasionale veldtog teen Israel. Suid-Afrikaners behoort dit te verwerp — nie net omdat dit moreel verkeerd is nie, maar omdat dit ons land se reputasie, belange en integriteit ondermyn.
Die wêreld het genoeg radikale anti-Israel platforms. Ons land hoef nie nog een te wees nie.
Nog artikels deur Barend Wesseloo:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












Vreemd om kommentaar te lewer op 'n meningstuk wat een like en geen kommentaar ontvang het nie. As Gaza nie nie 'n volksmoord is nie, wat is dan. As daar nou ooit 'n oproep was om laer te trek dan is dit in die stuk. Die skrywer probeer die onverdedigbare goed te praat. Die IDF was verantwoordelikheid vir bykans 'n kwart van die ongevalle op 7 Oktober. Meer as die helfte van Israelies keur die verkragting van Palisteine goed. As volgeling van die Man met die geleende donkie weet ek nie mens soveel onreg kan goedkeur nie.
Ja wat, enige iemand of instansie wat Israel 'n apartheidstaat noem, is verdag.