DinkWeer Donderdag | Die Vredesverdrag
Israel is 'n spieël waarteen die Weste homself bewonder of verafsku.
Ek het verlede week op OntLaer geskryf dat die antwoord op transformatisme nie die ou foute van ideologiese eensydigheid moet herhaal nie. Eugene Brink het ontleding verskaf oor Joseph Kabila se doodsvonnis as nóg 'n bewys van hoe Afrika steeds politieke opposisie verag. Terselfdertyd het Hilde Kruger geskryf oor die kleurvolle wêreld van Checkers se bemarking, en Barend Wesseloo het gereageer op Nils Gilman se stuk oor Charlie Kirk se nalatenskap.
Maar teen die agtergrond van die herdenking van die 7 Oktober-aanval op Israel sowel as die onlangse ondertekening van 'n nuwe vredesverdrag tussen Israel en Hamas, was dit gepas dat daar twee uiteenlopende menings oor die herdenking van 7 Oktober verskyn het. Barend Wesseloo het geskryf oor Israel se trauma en die morele ontwaking wat daardie dag vir die Joodse volk beteken het. Jurie van der Walt het weer gewys op die humanitêre verwoesting in Gaza en die traagheid van enige werklike politieke oplossing. Jurie het ook 'n verdere bydrae gelewer oor die teologiese en morele implikasies van Israel se selfbegrip as die “uitverkore volk”.
Ek vermy gewoonlik om oor Israel en Palestina te skryf. Nie weens 'n gebrek aan belangstelling nie, maar uit 'n bewustheid van hoe ondeurdringbaar die propaganda aan beide kante geword het en hoe kompleks die hele gesprek is. Dis die aard van konflik. Die Griekse dramaturg Aeschylus het meer as 2 500 jaar gelede al geskryf dat tydens oorlog is waarheid altyd die eerste slagoffer.
My algemene benadering dus tot hierdie konflik is om terug te keer na eerste beginsels. Die basiese morele en geskiedkundige ankers wat nie deur tyd, emosie of die nuutste CNN segment verander word nie.
Tog, gegewe die gebeure van die afgelope week en die inhoud wat op OntLaer verskyn het, het ek gevoel dit is 'n gepaste oomblik om oor die onderwerp te skryf.
Dit was nog altyd vir my opvallend hoe gesprekke oor Israel en Palestina baie vinnig toksies raak. Dit begin gewoonlik met geopolitiek, maar eindig dikwels by antisemitisme. Ek vermoed dit is omdat Israel nie net 'n staat is nie, maar ook 'n simbool binne en buite die Westerse beskawing. Dit is die enigste volwaardige demokrasie in die Midde-Ooste, met 'n onafhanklike regbank, vrye verkiesings, en 'n pers wat dikwels meer krities is teenoor sy eie regering as jeens die terreurgroepe wat die einste orde waarin hulle skryf probeer omverwerp. Israel is ook byvoorbeeld die enigste plek in die streek waar mense nie gestenig of vervolg word vir hul seksuele oriëntasie nie. Tel Aviv, byvoorbeeld, word gereeld as een van die wêreld se gay-hoofstede beskryf, met meer as 'n kwart van sy inwoners wat as LGBTQ+ identifiseer.
Ironies genoeg is dit juis hierdie pluralisme, hierdie klein stukkie liberale moderniteit in 'n see van Moslem teokrasieë, wat Israel terselfdertyd die trots en die teiken van die Weste en elders maak. Vir die liberale Weste vergestalt Israel iets van hul eie morele selfbeeld: 'n samelewing wat probeer om vryheid, tegnologie en sekularisme te laat saamleef met geloof en geskiedenis. Maar vir fundamentalisme, of dit nou Islamities of sekulêr-links is, is daardie bestaan 'n uitdaging.
Dus is Israel 'n spieël waarin die Weste homself bewonder of verafsku, en waarteen die res van die wêreld sy eie frustrasies projekteer. In die era van aanlyn morele kruistogte is daar min kwessies wat soveel selfvoldane sekerheid ontketen as hierdie een. En tog, as daar een plek is waar morele onsekerheid en tragedie heers, is dit juis hier. Daarom gaan gesprekke oor Israel in werklikheid selde oor Israel self. Dit gaan oor identiteit, oor beskawing en oor die behoefte om aan die regte kant van geskiedenis te staan selfs al verstaan min mense wat werklik op die grond aangaan.
Die Vredesverdrag
Die groot internasionale nuus van die week is natuurlik die nuwe vredesverdrag tussen Israel en Hamas, bemiddel deur Donald Trump en sy administrasie. Dit is die mees betekenisvolle diplomatieke deurbraak in die streek sedert die Abraham Akkoorde van 2020, toe Israel amptelik verhoudings met die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein en Marokko genormaliseer het. Een van Trump se groot suksesse tydens sy eerste termyn.
Tydens die ondertekening hierdie week het Trump op sy tipiese manier verklaar dat “dit 3 000 jaar geneem het om hierdie ooreenkoms te sluit” en dat dit “sal hou.” Maar die geskiedenis van vredesverdrae in die streek laat egter min ruimte vir romantiek.
Die Oslo-ooreenkomste tussen die Palestynse Owerheid en Israel ooreengekom in die 1990’s het hoop gebring, maar het uiteindelik nie die konflik gestuit nie en kort daarna het die bloedige tweede Intifada begin. Die Camp David-verdrag tussen Egipte en Israel (1979) het egter gehou omdat Egipte sy ideologiese aanspraak op Palestina prysgegee het in ruil vir ander grondgebied en internasionale legitimiteit. Maar nog geen vredesverdrag met 'n nie-staats-entiteit soos Hamas of Hezbollah het gehou nie.
Israel se onttrekking uit Gaza in 2005 het ook nie vrede gebring nie. Hamas het in 2007 met geweld oorgeneem en deur missielsalvo’s en blokkades die konflik warm gehou. Verskeie korttermyn-skietstilstande sedertdien (2014 en 2021) was van korte duur. Teen hierdie agtergrond is die Trump-verdrag 'n gewaagde stap en sal ons nog sien of die vrede volhoubaar is. 'n Mens hoop natuurlik dat dit is.
Wat opvallend is, is dat baie van die mense wat vir twee jaar lank op elke platform vir 'n “skietstaking nou!” gepleit het, skielik ontsteld is dat daar nou 'n skietstaking is. Die verdrag, op skrif, beëindig die konflik, bepaal Israel se onttrekking, en bring 'n internasionale teenwoordigheid in Gaza in om stabiliteit te verseker. Maar steeds is die “pro-Palestynse” betogings vol woede.
Dit laat 'n mens wonder of die aanspraak op 'n wapenstilstand ooit regtig oor vrede was? Of was dit oor ideologie of oor die behoefte om 'n vyandbeeld te hê? Want as Israel nou letterlik doen wat sy kritici sê hulle wou hê, naamlik om te onttrek, op te hou bombardeer, gevangenes vrylaat, maar steeds veroordeel word, dan is dit duidelik dat dit nie regtig oor vrede of menseregte gegaan het nie.
Kyk maar na Greta Thunberg en haar genote wat vir “vrede” betoog, maar plakkate vashou waarop Israel as 'n apartheidstaat of selfs as 'n “koloniale projek” uitgebeeld word. Dis dieselfde morele opvoerigheid wat elke globale krisis vergesel. Daar is 'n sekere klas Westerse aktiviste wat die wêreld se lyding as 'n verhoog vir hul eie gewete en deugskyn gebruik. Vandag is dit Gaza, gister was dit klimaatsverandering, môre sal dit iets anders wees. Die patroon van 'n oppervlakkige solidariteit wat eintlik gaan oor identiteit en nie oor oplossings nie, word herhaal.
Die vraag nou is of die Palestynse beweging uiteindelik gedwing sal word om te hervorm. Om terreur, haat en selfvernietiging te laat vaar, en iets te bou wat die moeite werd is om in te belê.
Die geskiedenis van die streek laat min rede vir optimisme dat die vrede gaan hou. Hamas bly gewapen, Iran is reeds besig om sy invloed te herbevestig, en Israel se interne politiek is wankelrig. Die gevaar is dat hierdie ooreenkoms, soos soveel voorheen, deur wedersydse wanvertroue ongedaan gemaak word. 'n Enkele aanval of aanhitsing deur 'n derde party kan die hele teer situasie laat verbrokkel. Die realiteit is dat vrede nie slegs by die ondertekeningstafel gebou word nie, maar in die dae, maande en jare daarna.
Tog bly hierdie oomblik betekenisvol. Want al is dit broos, dit is 'n begin.
Griewepolitiek, maar ook verdiende lof
Sedert Donald Trump sy tweede termyn begin het, lewer hy en sy administrasie byna weekliks nuwe materiaal vir kritiek. Van die onwettige bomaanvalle op beweerde dwelmsmokkelaars se bote sonder enige magtiging of hofbevel (so much for innocent until proven guilty), tot sy presidensiële dekreet wat glo “vryheid van spraak beskerm” deur dit ironies genoeg te beperk, en die nuwe ronde invoerheffings wat die Amerikaanse middelklas harder straf as enige buitelandse vyand.
Trump bewys telkens dat die ideologiese perdeskoen-teorie waar is. Dat die uiterstes van links en regs nader aan mekaar in praktyk is as wat mens besef. Die progressiewes en “nuwe regses” het meer in gemeen as wat hulle dink. Albei glo dat hulle slagoffers is van 'n korrupte elite, en albei wil die staat gebruik om hul eie weergawe van geregtigheid af te dwing. Trump se retoriek klink dieselfde as die griewepolitiek (grievance politics) van progressiewes wat teen “die patriargie” en kolonialisme mobiliseer, dis net die teiken wat verskil. Dis twee kante van dieselfde selfregverdiging.
Maar selfs al word Trump nou die nuwe spotbeeld van hierdie politiek, verdien Trump die lof vir die bereiking van hierdie vredesverdrag. As enige ander president die bemiddelaar was, sou die wêreldpers sy lof besing het en was die Nobelprys vir Vrede ongetwyfeld op pad om oor sy skouers te hang.
Net soos mens kritiek op 'n beginselvaste wyse moet uitdeel, moet mens ook erkenning gee wanneer erkenning geregverdig is, al pas dit nie maklik in 'n ideologiese boksie nie. Trump verdien die erkenning want hy kon reg kry wat talle voor hom nie kon regkry nie. Môre sal daar weer genoeg rede wees om hom te kritiseer, maar vandag behoort selfs sy grootste teenstanders eerlik genoeg te wees om te sê dat vrede is vrede, maak nie saak wie die pen vasgehou het nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











Dit was ’n baie goeie lees, Daniel. Ek moet egter sê, is alle politiek in die werklikheid nie maar “griewe-politiek” nie?
Ek het onlangs hierdie gevoel teëgekom dat mense glo ontsteld is dat ’n skietstilstand verklaar is. Ek het self nog nie dié beweerde ontsteldheid gesien nie, maar ek sal jou op jou woord neem. Wat ek wél gesien het, is dat mense dit kritiseer — en vir baie van dieselfde redes wat jy in die stuk uitwys.
Ek het geen eie belang in hierdie stryd nie, maar Israel se bestaan gaan kwalik oor die verspreiding van Westerse ideale en liberalisme in die Midde-Ooste. Dat dit eintlik oor mag en beheer van hulpbronne onder die dekmantel van ideologie gaan, is deesdae ’n geykte waarheid. Daar is geen kans dat hierdie sogenaamde skietstilstand en vredesgesprekke êrens heen sal lei nie. Trump se plan is so wankelrig en eensydig, en speel reg in Israel se verklaarde doelwit in: om Gaza volkome plat te vee — of wat min daarvan oor is — en dit gaan dekades neem om weer op te bou, as dit ooit gebeur.
Ek is nie heeltemal seker wat die gepaste reaksie op hierdie beweerde skietstilstand behoort te wees nie — behalwe miskien ’n mate van agterdog. As jy aan die kant van dié is wat beweer dat daar volksmoord gepleeg word, sou jy sekerlik verantwoordbaarheid en gevolge wou sien. Gestel byvoorbeeld Hitler het by drie miljoen Jode gestop, en daar is toe ’n skietstilstand of ’n soort vredesooreenkoms verklaar — mens sou kwalik verwag dat daar “prys” doorvoor sou wees.
Ek stem saam dat daar baie slagspreukpolitiek en identiteitskwessies is wat, soos jy dit stel, die soeke na oplossings gekaap het. Maar in my opinie is die konflik vanself verweef met kwessies van identiteit.
Jou oproep tot “hervorming” deur die Palestyne is ook ’n vreemde raamwerk. Dit lyk asof dit Israel van enige verkeerde optrede ontslae laat, wat sekerlik nie met ’n skoon gewete objektief gesê kan word nie.
Hoewel ek in beginsel saamstem met jou slotopmerkings, dink ek ons eers wag en kyk voordat ons prys uitspreek oor hierdie sogenaamde vredesooreenkoms.
'n Nugter opinie oor die situasie. Dankie.