Handel en Nywerheid berus ook op Menseregte
Handeldrywing kan lynreg met menseregte bots, of dit in die hand werk.
Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie is gegrond op die erkenning van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Hierdie waardes is nie abstrakte ideale wat slegs tot die reg beperk is nie, maar moet in elke sfeer van regering geprioritiseer word en in die daaglikse strukture van ons ekonomie gerealiseer word.
Die wyse waarop handel en nywerheidsontwikkeling benader word, speel 'n bepalende rol om te verseker dat ekonomiese groei onafskeidbaar is van die beskerming en bevordering van menseregte. Menseregte in handel bestaan, maar die vraag is hóé dit bots, gevorm en afgedwing word. Ekonomiese deelname is 'n praktiese uitdrukking van menswaardigheid. In die Kaapse wyn- en landbousektor het die liberalisering van uitvoermarkte nuwe geleenthede geskep, maar ook druk geplaas op klein produsente wat nie die kapasiteit of kapitaal het om internasionale standaarde te haal nie. In die tekstiel- en klerebedryf het die afskaffing van invoertariewe in die vroeë 2000’s tot massiewe werksverliese in die Wes-Kaap gelei, wat wys hoe handelsbeleid direk op gemeenskappe se bestaansmiddele inwerk.
Mynbou bied as 'n bykomende voorbeeld waar die Marikana-tragedie 'n skerp en blywende herinnering is dat ekonomiese groei nie losgemaak kan word van arbeidsregte en gemeenskapswelstand nie. Hierdie voorbeelde dui aan dat handel en nywerheidsbeleide nie abstrakte instrumente is nie, maar konkrete meganismes wat mense se daaglikse leef en beweeg beïnvloed.
Opwegings en Verrekenings in Beleid
Die ideaal van inklusiewe groei bots dikwels met harde (asook onafwendbare) realiteite. Goedkoper invoere kan verbruikers bevoordeel, maar plaaslike werksgeleenthede bedreig, soos die invoer van goedkoop hoender wat verbruikers se kosmandjie en geldsak verlig het, maar plaaslike boere en verwerkingsaanlegte in die knyp gedruk het.
Streng regulatoriese standaarde beskerm werkers en die omgewing, maar kan die toetrede van kleiner ondernemings bemoeilik. Staatsubsidies aan groot nywerhede kan werk behou, maar terselfdertyd ongelykheid verdiep deur kleiner spelers uit te druk. So ook die spanning tussen steenkooluitvoer en die reg op 'n gesonde omgewing illustreer hoe intergenerasionele billikheid dikwels teen onmiddellike ekonomiese voordele moet opweeg. Hierdie opwegings dui aan dat menseregte en handel nie vanself in harmonie is nie en hoe beleidmakers voortdurend moeilike keuses moet balanseer tussen korttermyn ekonomiese voordele en langtermyn sosiale geregtigheid.
Die Grondwet veranker waardigheid en gelykheid, maar die operasionalisering daarvan vind plaas deur 'n raamwerk van wetgewing en instellings. Die Mededingingswet en die Mededingingskommissie beskerm teen kartelle en monopolieë wat klein ondernemings verdring. Arbeidswetgewing, insluitend die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, verseker minimum standaarde en kollektiewe bedinging. Regulerende- en staatsinstellings moet toesien dat marktoegang en billike mededinging gehandhaaf word.
Staatsoptrede in handelsonderhandelinge, byvoorbeeld in die SADC-vryhandelsgebied en die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, toets Suid-Afrika se onderhandelingsposisie teen plaaslike ontwikkelingsprioriteite en internasionale menseregte-standaarde. Omgewingswetgewing, soos die Nasionale Omgewingsbestuurswet, verseker dat nywerheidsontwikkeling nie plaasvind ten koste van ekologiese regte en gemeenskapsgesondheid nie.
Om bestaande botsings aan te spreek, moet die staat en beleidsmakers doelbewus 'n balans vind tussen ekonomiese voorskrifte en die beskerming van regte. Dit verg nie net die formulering van beleid nie, maar ook die konsekwente toepassing daarvan.
Eerstens moet handels- en nywerheidsstrategieë altyd 'n menseregte-toets deurloop: watter impak het 'n besluit op werkers, klein ondernemings en gemeenskappe?
Tweedens, moet regulatoriese instellings versterk word om nie net reëls op te stel nie, maar dit daadwerklik af te dwing en te monitor.
En derdens, moet die staat aktief platforms bly skep waar gemeenskappe, vakbonde en klein besighede kan deelneem aan beleidsvorming, sodat die stemme van diegene wat die meeste geraak word, nie aan die rand bly nie.
Ekonomiese transformasie kan nie van sosiale geregtigheid en menseregte geskei word nie. 'n Menseregte-gebaseerde benadering tot handel en nywerheidsbeleid versterk Suid-Afrika se demokrasie, bou veerkragtige gemeenskappe en verseker dat groei meer billik gedeel word. Die uitdaging lê daarin om die botsings wat ontstaan te erken, die konkrete impak op sektore te belig, en die regs- en institusionele meganismes doelbewus te gebruik om 'n regverdige en gedeelde ekonomiese toekoms te bou.
Daardeur word bevestig dat menseregte nie bloot bykomend is tot ekonomiese beleid nie, maar inderdaad die grondslag daarvan vorm.
Tanya Calitz is 'n prokureur in die nasionale sfeer van die regering en skryf in haar persoonlike hoedanigheid.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












