Ongelykheid dryf Opstand
Die ekonomie is nie gebreek nie, dit werk net vir 99% van ons nie.
As mens 'n bietjie onder die oppervlak krap van die kwessies wat onlangse opstande regoor die wêreld dryf – byvoorbeeld in Madagaskar, Nepal, Kenia, Angola, Marokko, Indonesië, Bangladesj en die Filippyne – beland jy telkens by dieselfde wortel van kwaad: Maatskaplik-ekonomiese ongelykheid.
Ongelykheid is die enkele grootste dryfveer agter die dikwels jeuggeleide weerstand teen die status quo. Jeugweerstand is so dikwels 'n voorloper van wat nog kom – juis omdat jongmense, in hul idealisme en hoop op 'n beter toekoms, ongelykheid die skerpste aanvoel en stoflik niks het om te verloor nie, anders as hul ouers. Wie kan werklik ontken dat die rykste 1% op aarde (of Mars) op 'n totaal ander planeet leef as die ander 99%?
Onlangs het die wêreld se rykste man, die Suid-Afrikaner Elon Musk, met net een van sy maatskappye Tesla, 'n prestasie-gebaseerde ooreenkoms gesluit wat hom oor tien jaar moontlik 'n triljoen dollar kan ryker maak. Dit verteenwoordig byna 1% van die totale welvaart van die hele planeet op hierdie oomblik.
Vergeet vir 'n oomblik van “een mens, een stem”, en dink eerder hieraan: een enkele persoon uit 8,2 miljard mense op aarde wat met net een maatskappy een honderdste van die wêreld se totale rykdom besit. Iets móét tog op 'n stadium knak. Die Griekse ekonoom en voormalige minister van finansies, Yanis Varoufakis, noem die produksiewyse waarin ons tans leef “tegnofeodalisme”. Hy beskryf dit as 'n bestel waarin die digitale here wolk-koninkryke beheer en waarde uit hul wolkgaande onderdane tap.
Wat ons dit ook al wil noem, dit roep Karl Marx se afgryslike beeld van kapitalisme van meer as 150 jaar gelede op: “[D]ooie en lewende liggame wat aan mekaar vasgeketting is”. Geen wonder nie dat daar arm mense is wat slawerny bo werkloosheid sou verkies. Of dat sommige armes selfs gevangenisstraf bo vryheid verkies. Ten minste moet 'n slawe-eienaar vir sy slawe sorg, eerder as om hulle aan hul eie lot oor te laat.
Trump is by uitstek die wêreldleier van die 1% – en mense weet dit. As bewys hiervan is die kruiperige aanbidding en onderdanigheid teenoor hom, veral in Amerika en die Midde-Ooste waar globale rykdom so gekonsentreer is.
Sedert hy die amp betree het, het hierdie beweerde “werkersklas-president” (wat 'n reuseportret van homself bo die Departement van Arbeid laat ophang het met die woorde “American Workers First”) volgens die voormalige Amerikaanse minister van arbeid, Robert Reich, meer as een miljoen federale werkers van kollektiewe bedingingsregte gestroop en Biden se minimumloonverhoging vir staatsamptenare omgekeer, benewens 'n lang lys ander anti-arbeidsmaatreëls.
Kom ons bring dit 'n bietjie nader aan die grond met 'n blik op die breër prentjie van ongelykheid in die formele Amerikaanse ekonomie. By die 100 laagste-betalende groot maatskappye in die VSA was die gemiddelde uitvoerende hoof se vergoeding in 2024 $17,2 miljoen. Die mediaansalaris van gewone werkers by dieselfde maatskappye was $35,570. Met ander woorde, 'n verhouding van 632 tot 1.
By Starbucks, wat besig is om groot afleggings in Amerika aan te pal (ten minste 2 000 poste net vanjaar is geskrap) verdien die uitvoerende hoof 6 666 keer meer as die gemiddelde werknemer. Walglik is dit gewis. Dit is die grootste gaping van enige maatskappy op die S&P500-indeks. Op eie bodem, waar ons die twyfelagtige reputasie het om die slegste Gini-koëffisiënt ter wêreld te hê, besit 0,01% van Suid-Afrikaners (3 500 mense) 15% van die land se totale welvaart, volgens 'n onlangse verslag deur Open Secrets.
Slegs 0,1% – hoofsaaklik wit – besit 25% van al die land se rykdom. Maak daarvan wat jy wil. Die regering probeer op sy beurt die dreigende krake met sy vinger toedruk deur minimumloon-beleidsmaatreëls vir werkendes. Die minimumloon is volgende jaar weer onder hersiening en staan tans op R5,610 per maand vir 'n 45-uur-werksweek. Verwagtinge is dat dit volgende jaar met sowat R30 per uur gaan styg. Navorsing deur Active Shareholder – wat 'n maatskaplik verantwoordelike verhouding tussen uitvoerende vergoedings en minimum loon as 60:1 beskou – het 73 maatskappye in 2023 ontleed en bevind dat die gemiddelde uitvoerende vergoeding 'n verstommende 700:1 beloop.
By BHP Billiton was die uitvoerende hoof se inkomste bykans 5 000 keer die minimumloon; by Caxton 85 keer; by Absa 129 keer; en by Mondi 3 821 keer. Vodacom is as positief geklassifiseer in terme van hierdie verhouding, terwyl MTN en Sasol sterk negatief beoordeel is.
Dit is duidelik: die stelsel reguleer armoede streng, maar laat rykdom onbeperk floreer – 'n bestel waar die minimum met ywer bewaak word, terwyl die maksimum aan geen perke gebonde is nie.
Wat nou gemaak – veral met KI wat op die punt staan om die hele appelkar dramaties omver te gooi? Eerlikwaar kan ek geen uitweg sien sonder permanente protes en voortdurende onstabiliteit nie, behalwe dalk 'n basiese lewensinkomstetoelae vir die 99%.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













Geen stelsel is perfek nie, maar ek vrees ek stem nie saam met jou algemene trant nie. Sosialisme is BESLIS nie die antwoord nie.