Die redaksie van OntLaer is diep dankbaar vir die merkwaardige ondersteuning wat ons die afgelope maand van ons lesers ontvang het. In net die afgelope 30 dae is ons artikels meer as 13 000 keer gelees — 'n riem onder die hart van 'n publikasie wat pas begin het om stadig en deeglik oor ons wêreld te dink. In hierdie kort tydjie het ons reeds 22 verskillende skrywers verwelkom wat saamgeskryf het aan die meer as 50 artikels in ons argief: van kort besinnings tot langer kommentare, alles in dieselfde gees van integriteit en intellektuele nuuskierigheid.
Ons wil OntLaer uitbou as 'n plek waar die gejaagde ritme van die nuus opsy skuif vir iets meer reflektief; waar ons saam kan nadink oor ons kultuur, politiek, geloof en taal sonder die druk of verwagting dat jy onmiddellik kant moet kies. Sloernalistiek beteken vir ons nie traagheid nie, maar eerder die moed om 'n paar keer asem te haal voordat ons praat. Ons skryf nie noodwendig om te oortuig nie, maar om oop te maak — ruimte vir denke, gesprek, en perspektief.
Sloernalistiek bly egter 'n gesprek, en elke gesprek het ritme nodig. Daarom wil ons by jou hoor: Hoe gereeld wil jy van OntLaer hoor? Ons beplan om artikels rollend te publiseer soos dit inkom, sonder kunsmatige haas, maar ons wil sinvol en effektief kennis gee wanneer ons iets nuuts plaas.
Laat weet ons gerus watter ritme die beste by jou roetine pas.
OntLaer is steeds in wording. Nie noodwendig as produk nie, maar eerder as 'n gemeenskap van denkers, skrywers en lesers wat mekaar ernstig opneem en deurdagte bedagte debat wil voer.
Ons sien ons lesers nie as 'n mark nie, maar as metgeselle in 'n groter soeke na helderheid, waarheid en betekenis. Dié projek kan net groei as ons dit saam vorm: jy wat lees, ons wat skryf, en almal wat waag om ’n bietjie stadiger en ’n bietjie dieper te dink.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: