Wanneer die Geskiedenis Omgedraai word
Huidige vlae Jodehaat bring Holocaust herinneringe weer na vore.
Daar is min historiese gebeure wat so deeglik gedokumenteer en so
universeel erken word soos die Holocaust. Ses miljoen Jode is
sistematies deur Nazi-Duitsland uitgewis in een van die mees
industriële en doelbewuste volksmoorde in die geskiedenis van die
mensdom. Dit is nie 'n opinie nie. Dit is 'n feit.
Hier is n paar statistieke. Voor die Tweede Wêreldoorlog het Europa 'n lewendige en gevestigde Joodse bevolking gehad wat oor verskeie lande versprei was. In Pole alleen het ongeveer drie miljoen Jode gewoon; teen 1950 was daar skaars 45 000 oor.
In Duitsland het die getal van sowat 525 000 tot net 37 000 geval, terwyl Tsjeggo-Slowakye se Joodse bevolking van ongeveer 357 000 tot slegs 17 000 verminder het.
In Nederland het dit van 156 000 tot ongeveer 24 000 gedaal, en in Griekeland van 73 000 tot net sowat 7 000.
Joego-Slawië het van 68 000 tot ongeveer 3 500 gedaal. Selfs in lande soos Hongarye en Roemenië, waar groter getalle oorleef het, het die bevolkings dramaties gekrimp van onderskeidelik 445 000 tot 190 000 en 756 000 tot 280 000.
In Frankryk, waar ongeveer 250 000 Jode voor die oorlog gewoon het, is sowat 75 000 vermoor, al is die bevolking later deur immigrasie uit Noord-Afrika aangevul. In die Sowjetgebiede, insluitend Belarus, Oekraïne en die Baltiese state, is tussen een en een en 'n half miljoen Jode vermoor, dikwels deur massaskietings in dorpe en woude.
Hierdie syfers is nie blote statistiek nie; dit is die stille bewys van gemeenskappe wat byna heeltemal uitgewis is. En tog, skaars 'n paar dekades later, sien ons hoe die geskiedenis begin omdraai word.
'n Nuwe Vlaag Jodehaat
Sinagoges word weer teikens, maar dit word as “aktivisme” verskoon. Joodse skole wat aangeval word, word gereduseer tot “protes”. Grafte wat gevandaliseer word, word weggeredeneer as politieke uitdrukking.
En die teistering van Joodse studente word herverpak as “vryheid van spraak”. Dit is die werklike gevaar van Holocaust-inversie: nie net dat dit die verlede verdraai nie, maar dat dit die hede begin normaliseer.
En tog sien ons vandag 'n ontstellende verskynsel wat al hoe meer
algemeen word: Holocaust-inversie. Holocaust-inversie is die praktyk waar Jode en spesifiek die staat Israel beskuldig word van dieselfde tipe misdade wat teen hulle gepleeg is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Met ander woorde, die slagoffers van geskiedenis word herverpak as die oortreders van
daardie selfde geskiedenis.
Dit is nie net geskiedkundig verkeerd nie, maar moreel pervers. Wanneer mense Israel met Nazi-Duitsland vergelyk, of praat van volksmoord op 'n manier wat doelbewus die Holocaust-eggo, gebeur daar iets baie spesifieks. Die unieke aard van die Holocaust word afgewater. Die sistematiese uitwissing van 'n volk word gerelativeer en gereduseer tot net nog 'n politieke argument. Dit gaan verder as blote oordrywing. Dit is nie net swak analogie nie, dit is 'n doelbewuste omkering van morele rolle. In plaas daarvan om Jode as die slagoffers van een van die grootste misdade in die geskiedenis te erken, word hulle nou uitgebeeld as die nuwe onderdrukkers, die nuwe “Nazis”.
Dit skep 'n vals morele gelykstelling wat nie net onakkuraat is nie, maar doelbewus misleidend. Want sodra jy daarin slaag om die geskiedenis om te draai, verander jy die morele raamwerk van die debat. Jy hoef nie meer die werklikheid van 'n konflik in detail te verduidelik nie. Jy hoef net die regte emosionele snellers te gebruik. Woorde soos “apartheid”, “volksmoord” en “etniese suiwering” dra gewig en wanneer dit met Holocaust-beeldspraak saamgebruik word, word dit 'n uiters kragtige propagandawapen.
Herhaling is Kragtig
Propaganda werk die beste wanneer dit 'n kern van herkenbaarheid het.
En dit is waar die gevaar lê. Wanneer jy iets genoeg kere herhaal
(“Apartheid Israel”, “Volksmoord”), word dit uiteindelik as 'n
aanvaarde feit beskou, sonder dat jy ooit werklik bewysmateriaal vir
jou bewering hoef te lewer. Herhaling maak dit aanvaarbaar!
Want baie mense het nie 'n diep begrip van die Holocaust nie. Hulle
ken die basiese begrip dat dit 'n groot tragedie was maar nie die besonderhede van hoe dit gebeur het, of waarom dit uniek was nie. Dit
maak dit maklik om geskiedkundige analogieë te verdraai. Die Holocaust was nie net 'n oorlog of 'n konflik nie. Dit was 'n doelbewuste, sistematiese poging om 'n hele volk uit te wis. Dit het industriële metodes gebruik: konsentrasiekampe, gaskamers, massadeportasies. Dit was nie 'n byproduk van oorlog nie; dit was die doel self. Holocaust-inversie verskuif ook skuld.
As Jode nou as die “nuwe Nazis” uitgebeeld kan word, beteken dit dat
die morele las van die Holocaust onregstreeks verlig word. Die geskiedenis
word nie meer gesien as iets wat met Jode gebeur het nie, maar as iets
wat hulle nou glo aan ander doen.
Deur die slagoffer as oortreder te heromskryf, word simpatie vervang
met beskuldiging. Die geskiedenis word nie net vergeet nie, dit word
herskryf. En ons sien hierdie verskynsel nie net in akademiese of aktivistiese
ruimtes nie. Dit het al hoe meer sigbaar geword in populêre diskoers,
op sosiale media, op universiteitskampusse en selfs in politieke
retoriek. Plakkate, slagspreuke en toesprake gebruik toenemend
Holocaust-vergelykings as 'n retoriese hulpmiddel. Nie omdat dit
geskiedkundig akkuraat is nie, maar omdat dit emosioneel effektief is.
Want wanneer die Holocaust gerelativeer word, verloor dit sy
betekenis. En wanneer dit sy betekenis verloor, verloor ons ook 'n
belangrike morele anker. Wat wys wat gebeur wanneer ideologie, ontmensliking en propaganda saamkom. Ironies genoeg is Holocaust-inversie self 'n voorbeeld van presies hierdie proses. Dit ontmenslik deur beskuldiging. Dit gebruik propaganda deur verdraaide analogieë. En dit word gedryf deur ideologie eerder as deur feite.
Besin moderne Debatvoering
Die antwoord lê deels in die aard van moderne debat. Ons leef in 'n
tyd waar eenvoudige narratiewe verkies word bo komplekse waarhede.
Waar emosie dikwels swaarder weeg as feite. Waar geskiedenis nie altyd
bestudeer word nie, maar gebruik word.
Holocaust-inversie is dus nie net 'n historiese verdraaiing nie dit is
'n instrument. Geskep deur pro-Palestynse en anti-Israel stemme, 'n
morele rookskerm wat hul eie radikale elemente se taal en doelwitte
versag en verdoesel. Wanneer organisasies openlik praat van die
vernietiging van Israel, of wanneer geweld teen burgerlikes as
“weerstand” geregverdig word, word dit minder skokkend gemaak deur 'n
narratief waarin die Jode self as die grootste boosdoeners uitgebeeld
word.
Dit is nie 'n eerlike debat oor beleid of konflik nie, dit is 'n
poging om morele duidelikheid te vervaag. En sodra die slagoffer as
oortreder herverpak word, raak dit makliker om die werklike aard van
ekstremisme te ignoreer, of selfs te regverdig.
Nog artikels deur Barend Wesseloo:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











