DinkWeer Donderdag: Die Pendulum Swaai
Pendulums, Pelsers en Verkiesingspolitiek op OntLaer en elders.
Gedagtes uit OntLaer se artikels
Vrydag se versameling meningstukke op OntLaer het 'n interessante goue draad gedeel, absoluut onbeplan en onbedoeld, maar myns insiens betekenisvol.
Paul Maritz het geskryf oor subsidiariteit, dr. Eugene Brink oor die moontlikheid van sesessie oftewel afstigting in Suid-Afrika, Martin van Staden oor vryheid se filosofiese basis in die reg, Reuben Coetzer oor ekonomiese selfstandigheid, en die leser Sulla Felix oor die grense van spraak. Agter al hierdie uiteenlopende temas skuil die spanning van sentralisasie teen desentralisasie van staatsmag. Die vraag het dus by my opgeduik of samelewings natuurlik neig na sentralisasie of na desentralisasie.
Dit is natuurlik nie 'n nuwe vraag nie. In werklikheid is dit dalk een van die oudste vrae in politieke denke sedert die ontstaan van state, een wat saam met elke beskawing opnuut gevra word. Want mag, nes water, loop gewoonlik waar die weerstand die minste is: afwaarts, na konsentrasie. Tog, mettertyd, stoot mense terug. Die sentrale gesag, hoe kragtig ook al, verloor die vertroue van sy burgers en dan begin die lang proses van fragmentasie weer.
Stel die mens, in sy gesamentlike strewe, instinktief al groter strukture van regering in plek? Of kap ons, met verloop van tyd, aan gesentraliseerde gesag weg ten gunste van iets meer plaaslik, meer in gevoel met die gemeenskap en meer vryheidsgesind?
Die eeue oue debat sal waarskynlik voortduur, maar wanneer dit kom by die vraag of samelewings natuurlik neig na sentralisering of desentralisering is ek oortuig dat dit 'n pendulum is. En 'n immer-menslike een.
Samelewings deur die geskiedenis neig om tussen hierdie teenpole heen en weer te swaai, eerder as om bestendig in een rigting te beweeg. In krisistye, wanneer oorlog of pandemie of ekonomiese ineenstorting dreig, roep ons die Leviatan wakker. Maar sodra die storm bedaar, of wanneer die Leviatan faal, begin mense die toue weer self optel.
Uiteindelik lê die wysheid nie daarin om die pendulum stil te probeer hou nie, maar om te leer hoe om sinvol daarmee saam te beweeg en binne die heen-en-weer te werk.
Wat ek elders gelees het
Nou van politieke filosofie na een van my gunsteling filosowe. Ek het die afgelope week 'n puik artikel op die The Culturist Substack gelees getiteld Why Myths Matter, 'n artikel oor C.S. Lewis se geloof in die vormende krag van mites. Vir Lewis was mites nie blote vermaak nie, maar draers van waarhede wat ons nie anders kan begryp nie. Mites spreek tot die verbeelding, en die verbeelding (nie bloot die rede nie) is wat ons mens maak. Sonder mites, sê Lewis, versmag die morele verbeelding. Sonder stories, weet ons nie meer wie ons is nie.
Dalk is dit presies waarna ons onbewustelik smag: minder meganiese stelsels, en meer betekenisvolle gemeenskappe. Minder regulasies, meer roeping. Minder abstrakte gesag, en meer stories wat ons anker.
'n Persoonlike storie wat ek onlangs weer gehoor het, illustreer dit dalk beter as enige artikel. Dis 'n storie wat ek al vantevore gehoor het, maar soos my oud-vennoot Willie Spies altyd gesê het: ouer mense herhaal nie stories omdat hulle vergeet nie, maar sodat ons dit kan onthou.
Ek drink onlangs koffie met 'n oud-advokaat. Hy vertel my van sy pa en oom, twee broers van Reddersburg wat weeskinders geword het na die Spaanse griep van 1918, toe daar tussen September en Oktober van daardie jaar minstens 140 000 mense gesterf het in 'n land van slegs ses miljoen. Die een, Johannes Jacobus Matthys Pelser, is deur familie in die Vrystaat opgeneem. Hulle was boere wat vir hom 'n skoolloopbaan tot in standerd agt kon bekostig. Daarna het hy as boer en padwerker sy plek in die wêreld probeer uitkap.
Die ander, Petrus Cornelius “Peet” Pelser, is by die Meester van die Hooggeregshof in Kaapstad in pleegsorg geplaas, het by die Paarl Gimnasium sy skoling voltooi, het later in die regte studeer aan Unisa en Wits, 'n prokureurspraktyk in Klerksdorp begin, en uiteindelik 'n kabinetspos as Minister van Justisie beklee. Sy belangrikste nalatenskap is waarskynlik die Strafproseswet van 1974, 'n poging om die gefragmenteerde ou wetgewing te orden tot 'n stuk wetgewing en die gevolge van daardie strafregtelike orde wat vandag nog sentraal in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel staan.
Die twee broers se verhaal is 'n storie van kontraste. Dieselfde wegspringplek, maar uiteenlopende eindbestemmings. Die Pelser-broers se verhale bied 'n klein venster op die groter geskiedenis van 'n land in wording, maar hulle lewens vertel ook iets baie mensliks, naamlik die rol van omstandighede in elkeen se lot. Dis die ou debat van “nature versus nurture”, maar buite akademiese joernaalartikels en in lewende lywe.
Hierdie soort storie dra 'n byna Bybelse gewig. Dit roer aan iets diepers, 'n argetipiese patroon wat nie net in geskiedenisboeke leef nie, maar in mensesiele. Dit is soos Jordan Peterson tereg in sy nuutste boek We Who Wrestle with God opmerk dat die stories wat eeue oorleef, die wat generasies lank weerklink, is die wat iets argetipies vasvang. Dink aan Josef en sy broers, of Moses in die paleis van die farao. Almal kinders van krisistye, gevorm deur verlies en gekies vir verskillende paaie.
Vir C.S. Lewis was mites nie fantasie nie, maar vorme van waarheid wat nie anders vertel kan word nie. Stories is volgens Lewis gereedskap vir begrip. Hulle wys ons nie net wat was nie, maar verduidelik ook menswees. En in die Pelser-broers se verhaal (so ongelooflik dat dit byna soos 'n Jeffrey Archer verhaal klink) sien ons hoe geskiedenis, karakter en kanse saamvloei.
Wat lees ek tans?
Ek lees tans aan my vriend Hermann Pretorius se komende boek Rule Breakers: How the 2024 elections changed SA forever. Ek is bevoorreg om een van die proeflesers te wees van hierdie boek wat later vanjaar deur Protea Uitgewers uitgegee gaan word.
Hermann beskryf nie net die uitslag van die verkiesing nie, maar die opbou tot die verkiesing. Die maande van veldtogte, draaipunte in openbare sentiment, die rol van media en die verrassende gebeure wat daardie geskiedkundige verkiesing bepaal het. Hy vertel die verkiesingsverhaal nie van binne of van buite af nie, maar as ontleder van sentimente en die stroomversnelling waarin hulle meegesleur is.
Wat die boek besonders maak, is dat dit insig gee in meer as net die meganika van politieke verandering. Dit vra ook wat gebeur wanneer 'n samelewing ophou glo in die reëls wat eens die speelveld bepaal het.
Want verkiesings gaan nie net oor beleid of politieke poppekas nie. Verkiesings gaan oor gevoel en oor die subtiele verskuiwings in die openbare verbeelding. Om aan te sluit by Lewis, dit gaan oor politieke stories. Hermann wys hoe daardie onderstrominge, eerder as die oppervlakgeskiedenis, uiteindelik bepaal waarheen die pendulum swaai.
Mooi loop en lekker lees!
Artikels van verlede week:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: