

Wanneer 'n boer se ore afgesny word in 'n plaasaanval, 'n dodelike treinongeluk op weg na Old Seville in Spanje die bestaande burgerlike vure stook, die Voortrekkermonument-terrein afbrand te midde van 'n super El Nino-weerpatroon, en die ANC in Grondwethof-uitsprake gelyk gegee word ten spyte van kroniese onbevoegdheid, wonder 'n mens of alles so moertoe is dat mooi beraamde en afgeronde debatte geen verskil kan maak nie.
Skeptisisme, soos chaos, is 'n trapleer eerder as 'n uitkoms. Herbesinning en versigtiger oorweging, saam met die bereidwilligheid om uitgedaag te word, kan help keer dat ons die trapleer sonder meer bestyg. Dit bied omdraaikans. Ons probeer op platforms soos hierdie die voordele wat geweegdheid, herbesinning en alternatiewe invalshoeke kan bring, gebruik om lesers te help om stadiger om te gaan met die dikwels onverteerbare en wrang gebeure van 'n uiters uitdagende wêreld wat in permanente fluks en krisis voel.
Dit keer egter nie 'n sonderlinge gevoel van uitgelewerdheid, magteloosheid en oorlading nie. Ons wat skryf en redigeer raak dikwels tam. Jy lees hoopvolle en nuwe insigte, en jy skep hoop omdat daar Afrikaanse mense is wat in ons taal woeker, nuutskep, herbedink en vry met insigte en argument omgaan.
Miskien is die blywende ennui weens die voosheid wat praktiese ekonomiese realiteite meebring, of weens die emosionele ontlading van groot samelewingsdrome wat altyd uitgestel word.
Miskien is dit te doen met ewige klassestryd, of ekonomiese wanbestuur, of inligtingsoordaad, of verkalkte identiteitsnostalgie, of onsinnige en ontwortelde progressiewe koorsdrome.
Die oorsake het baie voorspraakmakers en teoretici; niemand sien kans vir oplossings aandryf nie. Daarvoor is die demokratiese siklus gewoon te kort en geen berekende tegnokraat - of kleptokraat - gaan hul verbind aan ingrypings wat vir die burgery oor tyd eers voordelig sal wees nie, en boonop in die korttermyn minder tasbare sukses vertoon.
Ek vlug na musiek en kleiner waardeerbaarhede wanneer die krisisvoosheid toeslaan. In die rou klanke van die Rolling Stones se Mick Jagger en Keith Richards vind ek 'n soort wegkruipplek, 'n manier om die klank en die lirieke sodanig teenoor mekaar te stel dat dinge weer onder beheer voel.
Miskien is minimalisme 'n soort herbevestiging van mikrobeheer, en dit waarom estetiese modes as voorbeeld toenemend vereenvoudig, waarom begrippe soos “hygge” vatplek kry in ons openbare “derde plekke”, en waarom die elektroniese musikale oordaad van die 2010’s (uiteindelik) begin wyk. Miskien is dit waarom ‘n veragting vir datasentrums een van die grootste opkomende verkiesingskwessies in Amerika is.
Wessie vang iets daarvan vas in sy skrywe oor die legendariese Amerikaanse komponis Steve Reich, oor hoe menslike ideale en uitkomste planmatig en prosesmatig is, en hoe musikale komposisie iets hiervan kan vasvang. Die eenvoudige, die minimalistiese is nie noodwendig sonder plan of oppervlakkig nie. Dis dalk net nederiger, meer bespieëlend en versigtiger as die groot stories en groot ideale wat die ontwerpsgrondslag van van soveel politieke manifeste, kunsuitdrukkings, ekonomiese beleide, sakeplanne, persverklarings en dies meer vorm.
Eugene beskou “oplossing” as iets wat dalk te sterk en te doelmatig opgedring word ten einde die moeiliker debatte te vermy, en die kuns van behoorlike omraming van kwessies op te skort. Ek vermoed Eugene praat in dieselfde aar as die bekende Churchill-en/of Harold Macmillan-gesegde van “jaw, jaw is better than war, war”: dialoog het 'n bepaalde realpolitieke ontlontingsfunksie, want dit kan - indien dit prosesmatig gedoen word - help om krisisse te vermy of die angel uit brandende, polariserende vraagstukke te haal. Die teenkant van die munt is natuurlik dat dialoog sinies en bewapend gebruik kan word om tyd te koop. Dit is vermoedelik wat die Iranse regering(s?) tot die Amerikaners se argwaan en frustrasie mee besig is, en waarom die Trump-administrasie dit reguit gestel het dat “endless dialogue” met Pretoria 'n mors van tyd is.
Ons alledaagse, bedaarde en gefokusde gesprekvoering op platforms soos OntLaer is dalk minder akuut as gesprekke op daardie vlakke, wat natuurlik 'n gevoel van magteloosheid en uitsigloosheid in die hand kan werk. Wissel ons dit egter op emosionele vlak af met 'n terugkeer na wat saakmaak in ons lewe teenoor ons naastes en dit wat ons hande kan vind om te doen en wat ons sintuie kan geniet, kan ons wegbreek van 'n wanopvatting en misplaaste missionalisme dat ons alles moet kan regstel vir almal en ten alle tye.
Dit is hierdie soort sensibility wat ons by ons Angel-Saksiese neefs kan aanleer. Engelse denkers soos Edmund Burke het al in in 1790 in sy Reflections on the Revolution in France (dit bevat 'n heeltemal verligte politieke insig vanuit die liberaal-konserwatiewe tradisie, waarby MAGA en kie. gerus kan loop leer) geskryf dat idealistiese revolusionêre drang gebaseer is op 'n opskorting van die soort inskiklikheid en medemenslikheid, ook gelykwaardigheid, wat ironies genoeg dikwels die doelwitte van revolusionêre optrede teen elites en bestaande ordes is. 'n Mens kan lank spekuleer of hierdie toelaatbaarheid van geweld en haat gemik op “die stelsel van onderdrukking” (die slagoffers is altyd steeds gewone mense) 'n soort sielkundige duiwel loslaat in die gemoed van die revolusionêre voorfronte. Dostojefski het beslis so gedink in Die Besetenes (1872).
Wat omraming betref, dink ek nie die voosheid wat uit die “Islam-Islamisme-Israel/Palestina-thirdworldist-volksmoord”-mengelmoes aktivisme van die dag voorspruit, gaan rustiger aangepak kan word op politieke vlak voor soveel ander onderliggende uitdagings aangespreek word nie. Soos lewenskoste-krisisse, die bedreiging van die 2026 Super El Nino, die Iran-oorlog se impak op oliepryse en ongebreidelde migrasie.
Dit help dalk nie om vir die Franse te vra om sensible te wees onder die omstandighede nie, maar behoorlike en feitgebaseerde omraming van redes vir hul oproerigheid, soos leenskrywer David Volodzko skryf, bly kernbelangrik. Daarsonder het ons geen sin vir beheer oor hoe om te sif deur die duisende vrye menings en standpunte wat ons aanhoudend bombardeer nie.

Nog DinkWeer Donderdag-rubrieke:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









