
Elke Desember het ek, my broer en my ouers presies mooi halfpad tussen Oos-Londen en Port Elizabeth vakansie gehou. Ons was van die handjievol vakansiegaande Pretorianers wat nie die jaarlikse maandlange semigrasie na die Tuinroete of Suidkus meegemaak het nie. Die Sonskynkus was waar ons bevoorreg genoeg was om elke jaar die sand tussen ons tone te gaan voel. My ma hou in daardie deel van die wêreld vakansie vandat sy self 'n kind was.
En elke jaar wanneer ons daar aangekom het, het ek eerste in die boekrakke gaan kyk wat ek daardie vakansie sou lees.
Die boeke het vir die grootste deel van die jaar onaangeraak op die rakke gestaan. Teen Desember was daar 'n dun lagie stof op die omslae. Tussendeur my pa se indrukwekkende versameling Louis L’Amour-boeke (wie se skryfwerk ek eers later in my lewe begin waardeer het), kookboeke en 'n versameling Guinness Book of World Records wat tot 1998 terugstrek, was daar dosyne boeke van Jeffrey Archer.
Die wêrelde wat Archer beskryf het, was vir my meer betowerend as enigiets anders. Maar 'n mens lees Archer nie om 'n besonder mooi sin stadig vir 'n tweede keer te lees nie. Sy groot talent was sy bemeestering van meedoënlose, vinnige en strewende stories. Regte rags to riches tipe verhale.
Hy kon skryf oor geld, mag, politiek, kuns, ambisie, geesdrif, vasbyt, hofsake en tronke asof jy self in die storie was. Dit was regte page turners. Boeke wat mens nie kan neersit nie.
Sy boeke het beslis 'n bepalende rol gespeel in die ontwikkeling van my nuuskierigheid oor politiek op 'n jong ouderdom. Archer was ongetwyfeld my gunstelingfiksieskrywer.
Toe ek dié week hoor hy is op 86-jarige ouderdom oorlede, was dit vir my dus maar betreklike hartseer nuus. Hy is op Maandag, 5 Oktober dood, die dag voordat sy laaste roman sou verskyn.
Vroeg Dinsdagoggend, op die lughawe, noem ek Archer se afsterwe aan 'n kollega.
“O, die man wat tronk toe is weens meineed en wat belasting ontduik het?”
Archer is in 2001 tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op twee aanklagte van meineed en twee van regsverydeling skuldig bevind is. Die misdade het voortgespruit uit 'n lastersaak wat hy jare tevore gewen het met behulp van 'n vervalste dagboek en oneerlike getuienis. Hy het uiteindelik twee jaar van die vonnis uitgedien. In die tronk het hy sy Prison Diaries begin skryf en natuurlik selfs in die gevangenis daarin geslaag om nuwe omstredenheid te veroorsaak oor wat hy geskryf het en of hy daaruit geld mag maak. Sy tyd in die tronk het vir inspirasie gedien vir klomp kortstories en van sy boeke later.
Ná sy skuldigbevinding was daar berigte dat die Britse belastingowerheid bewerings sou ondersoek dat Archer groot bedrae uit 'n buitelandse rekening laat terugbring het sonder om die nodige belasting daarop te betaal.
My kollega het dus nie soseer die verkeerde Jeffrey Archer onthou nie. Hy het bloot 'n ander Archer onthou.
Dit het my weer laat dink oor hoe verskillend ons mense sien en, later, onthou. Selfs al het ek en my kollega beide verskeie Archer boeke gelees, onthou ek vir Archer as die uitmuntende storieverteller. En my kollega onthou vir Archer as die politikus wat meineed gepleeg en in die tronk beland het.
Die punt is dat beide waar is. Archer was 'n uitstekende storieverteller. Hy was ook ydel, roekeloos, ambisieus, soms skouspelagtig onverstandig en uiteindelik 'n man wat onder eed gelieg het en daarvoor tronk toe is. Soos al ons ou sondige mense hier op aarde was Archer al hierdie dinge terselfdertyd.
Ons praat egter selde só oor mense.
'n Lewensverhaal word maklik 'n hagiografie of 'n spotbeeld (oftewel karikatuur). Ons maak van iemand 'n held en rangskik die ongemaklike feite rondom daardie gevolgtrekking; of ons maak van hom 'n skurk en herinterpreteer dan selfs sy deugde as verdere bewys van sy verdorwenheid.
Selfs om mense bloot as 'n dualiteit te beskryf — goed én sleg — is eintlik gewoon lui. 'n Mens is nie 'n balansstaat met twee kolomme waarin 'n paar goeie dade links en 'n paar slegte dade regs ingeskryf word totdat ons by 'n netto morele waarde uitkom nie. Mense is teenstrydig. Ons kan edel wees op een terrein en kleinlik op 'n ander, buitengewoon skerpsinnig oor die wêreld en terselfdertyd blind vir ons eie tekortkomminge.
Boksies is gerieflik. Hulle verminder die hoeveelheid dinge wat ons gelyktydig in ons kop hoef te hou.
Ek het onlangs geskryf oor ons wêreld van meervoudige openbare pleine, waarin verskillende gemeenskappe toenemend met hul eie stel vanselfsprekende feite, helde, skurke en ketters saamleef. Wat binne een plein as bewese waarheid geld, is vir ander onwaar.
En in reaksie op hierdie tweespalt is die versoeking dikwels vir baie mense om na die veilige middel te vlug. Om te sê albei kante het 'n punt. Die waarheid lê seker iewers tussenin. Dinge is mos immers ingewikkeld.
Maar dit is ook 'n vorm van luiheid.
Die waarheid lê nie noodwendig in die middel nie. Soms is een kant eenvoudig nader daaraan as die ander. Soms is albei verkeerd. Soms is die ongemaklike antwoord dat twee dinge wat ons graag teenoor mekaar wil stel, gelyktydig waar is.
“Dis kompleks” is dus nie 'n slotsom nie.
Die strewe na waarheid verg meer inspanning as kampvorming, maar óók meer as die gemaklike “albei kante het seker 'n punt”. Die een laat jou toe om vooraf te weet wat jy gaan dink. Die ander laat jou toe om glad nie te besluit nie. Albei spaar jou die moeilike werk tussenin.
Die taak van denke is nie om kompleksiteit te bewonder soos mis oor 'n berg nie. Dit is om daardeur te stap. Om feite te weeg, motiewe te onderskei, teenstrydighede te verdra en uiteindelik tog 'n oordeel te waag.
Archer gee self 'n besonder goeie illustrasie hiervan in sy politieke roman First Among Equals. In die verhaal volg die leser vier Britse parlementslede oor dekades terwyl hulle meeding om uiteindelik eerste minister te word. Toe die boek in Brittanje en Amerika verskyn, het Archer iets buitengewoon gedoen. Hy het twee verskillende eindes geskryf. In die Britse uitgawe word een karakter eerste minister en in die Amerikaanse weergawe wen 'n ander een. Archer se verduideliking was dat hy agtergekom het lesers in die twee lande ondersteun nie dieselfde kandidaat in die verhaal nie.
Mense het aanklank by verskillende van die karakters gevind. Presies dieselfde karakters en presies dieselfde storielyn. Maar mense het 'n ander held gesien.
Ons kan vanuit verskillende openbare pleine na dieselfde mens of kwessie kyk. Ons kan verskillende dinge raaksien. Ons kan selfs verstaan waarom iemand anders, gegewe wat hy sien, tot 'n ander slotsom kom.
Soos Scott Adams geskryf het kan mense na dieselfde skerm kyk maar twee verskillende rolprente sien. Iets daarvan speel ook dikwels af hier op die blaaie van OntLaer.
James Myburgh se artikel oor plaasmoorde is 'n goeie voorbeeld. Hy probeer die verskynsel geskiedkundig verstaan en nie bloot as nog 'n manifestasie van Suid-Afrika se algemene geweldsmisdaad nie, maar as iets met 'n eie ontstaan, politieke geskiedenis en patroon van teikening wat terugstrek tot die geweld van die tagtiger- en negentigerjare.
Hügo Krüger kyk na dieselfde verskynsel en vra 'n ander vraag, naamlik hoe betroubaar is die getalle waarmee ons daaroor praat? Hy ontken nie die werklikheid of gruwel van plaasmoorde nie, maar waarsku dat 'n goeie saak nie deur swak statistiek sterker gemaak word nie. Die maklike uitweg sou wees om te sê die waarheid lê dus “iewers tussen Myburgh en Krüger”. Maar dit is juis nie die punt nie. Die moeiliker werk is om uit te vind waaroor elkeen reg is, waaroor hulle dalk verkeerd is, en watter vrae hulle eintlik beantwoord.
My eie stuk verlede week het bietjie spottend gekyk na die masjien wat rondom iets soos “die Afrikanerdebat” ontstaan. Die ironie is dat selfs ons eindelose gesprek oor kompleksiteit soms 'n manier word om nié veel nader aan die waarheid te beweeg nie. Ons raak baie goed daarmee om standpunte op te voer.
Alana Lourens se onderhoud met Shane van der Hoven wys weer op 'n heel ander manier hoe ongemaklik ons boksies kan wees. Shane se Afrikaans buig, meng en speel doelbewus met die taal. Dit klink nie soos my Afrikaans nie, en waarskynlik ook nie soos dié van baie OntLaer-lesers nie. Ek het dieselfde week by die Woordfees weer besef hoe maklik 'n Transvaler kan dink sý Afrikaans is maar net Afrikaans, totdat 'n paar dae tussen Kapenaars jou herinner dat hulle presies dieselfde van húlle Afrikaans dink. Tog verstaan ons mekaar heerlik. Afrikaans is juis groter as enigeen van ons se weergawe daarvan.
En dan was daar gelukkig ook pap. Hilde Kruger se lekker stuk oor die einde van ProNutro wys dat selfs 'n ontbytgraan meer as een ding tegelyk kan wees: 'n kommersiële produk, voeding, 'n handelsmerk en 'n houer vir kinderherinneringe.
Laastens bring Piet du Plessis ons weer terug aarde toe met sy ervaring van 'n munisipale ontwikkelingsagentskap. Sy verhaal is minder abstrak: toe meriete, bekwame bestuur en 'n mate van afstand van politieke inmenging gegeld het, het die instelling gewerk. En toe politieke belange begin oorneem, het dit begin verbrokkel. Soms is 'n saak kompleks. En soms, nadat 'n mens lank genoeg deur die kompleksiteit gestap het, word 'n eenvoudige waarheid juis duideliker.
Dankie, Jeffrey Archer, vir die stories wat soveel van my Desembers gevul het.

Nog DinkWeer Donderdag rubrieke:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













