
Vir ons generasie wat met die begrip “terrorisme” en die Weste se teenterreur oorloë grootgeword het in die nadraai van 9/11, sal dit dalk ondenkbaar wees oor hoe moeilik dit werklik is om terreur of terrorisme werklik te omskryf.
Ek onthou byvoorbeeld hoe ons 'n lewendige klasgesprek gevoer het oor die onderwerp in Gevorderde Strafreg, omstreeks 2018. Die lektor het ons gevra wat “terrorisme” is. Dit was opvallend hoe ons indrukke daarvan volgens ons ervaringe van die persopskrifte van die 2000’s gevorm is. Terreur en terrorisme het vir ons die metodiek en modus operandi van Islamitiese godsdienstig-gemotiveerde geweld gehad. Dit het gou geblyk dat die aanwending van vrees, of minstens die skepping van 'n vreesgedrewe openbare omgewing, die goue draad in sinvolle denke en oor terreur is.
Dit maak ander moontlikhede van besinning oop: Die mense van die Oos-Rand beleef tans terreur, waar gewone oorwegings van die gemeenskap se daaglikse agenda deur die vreesagtige koue hand van die vermoedelike vrouereeksmoordenaar vasgevang word. Die Kaapse Vlakte beleef chroniese vrees, weens die geweld onder bendelede, met gewone mense in die kruisvuur. Plaasgeweld maak van ons landbou 'n omgewing waar boere nie sonder vuurwapens en inperkende veiligheidsmaatreëls hul roeping kan uitleef nie - vrees gee die pas aan vir ons voedselprodusente.
Daar is natuurlik die risiko van “concept creep” of begripskruip wat terreur en terrorisme betref. John Tasioulas in sy kernbelangrike artikel The Inflation of Concepts (2021) waarsku byvoorbeeld teen dieselfde soort verskynsel as dit by begrippe soos “demokrasie” en “menseregte” kom, begrippe wat maklik vir retoriese redes so uitgebreid aangewend word dat dit van sinvolle, praktiese betekenis ontdaan word. Met terreur kan dieselfde ding gebeur, as elke tweede vorm van herhalende of sistematiese geweld as “terreur” gebrandmerk word. Dit sal dalk help om “terreur” en “terrorisme” te onderskei op grond van die manier waarop vrees in gevalle figureer: Byvoorbeeld, wanneer vrees gebruik word om politieke en maatskaplike uitkomste af te dwing, maak die beskrywing van “terrorisme” sin, as 'n amperse ideologiese of beleidsverbintenis tot die bewapening van vrees.
Maar dit werk nie in alle gevalle nie. “Terreur” sonder die “-isme” maak meer sin, dalk met 'n mate van retoriese flair, waar vrees die nagevolg van 'n versteurende menslike gedragsverskynsel is. Bendegeweld, byvoorbeeld, het dalk nie vrees as hoofdoelwit om 'n gemeenskap se gedrag te probeer bestuur nie, maar die turfoorloë van Manenberg en Delft het noodwendig vrees as simptome van 'n dieperliggende krisis. Dit raak moeiliker as ons in die nie-menslike omgewing inbeweeg: 'n Verskrikkende leeuplaag in die afgeleë gemeenskappe van Kenia of Zambië is sekerlik nie vanweë terrorisme nie. En die koronavirus-pandemie, vreesaanjaend soos dit was, kan nie redelikerwys as terreur beskou word nie (dit hang seker af wie jy vra…!).
Ons moet versigtig werk met begrippe soos terreur en terrorisme, en oorsigtelik maak dit sin om dit te beskou as twee verskynselvorme van vreesskepping deur mense onder ander mense. Op daardie noot het ek die vermoede, wat seker meer besinning en navorsing vereis, dat die losse gebruik van hierdie begrippe in die 2000’s en selfs voor dit tot die losbek aanwending van die begrip “volksmoord” (genocide) in die laaste dekade gelei het. As alles sommer net as terreur en terrorisme gebrandmerk kan word, wat keer ons om die retoriese kragte van die begrip volksmoord rond te gooi?
Ek kan nie anders as om Hercules Boshoff se diagnose van 'n soort nakomingsregime aan universiteitsinstellings deur 'n lens van vreesskepping en selfs “gehoorsaamheidsterreur” te lees nie. Akademici en studente word al vir eeue deur een of ander mate van nakomingsdiktaat gejag, en die strewe vir die akademie is al vir baie lank 'n stryd tussen vrye, produktiewe en unieke denke enersyds en die samelewing se staatlike, morele of godsdienstige beleide andersyds. Die spreekwoordelike laboratorium, waar die onbekende en die ondenkbare juis denkbaar en bekend gemaak word, word belas met verwagtinge, reëls en morele hoëpriesters van een of ander geur.
Dit is een ding vir diegene wat skepties is om na aanleiding van akademiese skandale soos die Cofnas-Arday relletjie te redeneer dat hierdie ou stryd 'n geskiedkundige kenmerk van die akademie as ingebed in die samelewing is. Maar die 20ste eeu het gekom met die belofte van werklike akademiese vryheid wat in grondwette, menseregtelike begrippe en uitdrukkingsvryheid vervat word. Waarom sukkel ons dan in die dag en eeu steeds met die basiese vermoë om kollegas die kans te gee om hul denke en teorieë gelykwaardig op die tafel vir akademiese gesprek neer te lê?
Hilde Kruger raak 'n punt aan wat ek hoop nog deur baie lesers na ons tafel toe gebring sal word, en dit is die ontploffing in kommersiële dobbelkultuur en die gepaardgaande openlike en selfs banale bemarking daarvan. Skep dit vrees? Beslis 'n ietwat van 'n morele paniek, maar nie sonder meriete nie: Die nuusmedia is vol tragiese verhale van mense wat hul broodgeld op die flikkerende liggies van die geluksfeëtjie vermors, tot die punt dat selfmoord of selfdood volg.
Die klassiek liberale en libertariese posisie sou seker wees dat hier geen sistemiese vreesgevolg van enige wesenlike aard kan wees nie, want dit is individue se eie verantwoordelikheid en rasionele, vrye keuse om hul geld weg te dobbel. Die argument sukkel egter as 'n mens in ag neem hoe irrasioneel mense raak onder omstandighede waar hulle met dobbeladvertering gebombardeer word, en die dobbelmaatskappye die ongereguleerde hede tot die maksimum uitmelk. Die massale gevolge hiervan skep 'n omgewing waar vervreemding, stoflike ontbering en ongelykheid die Groot Dobbelbedryf voer, en die gevoel van magteloosheid en opslurping teen die rasionele wil van mense se eie goeie verstand in, laat talle met reg vra: Wat keer my werklik om self 'n slagoffer van die bedryf te word? Staan ek enigsins 'n kans om myself en my naastes teen hierdie verskynsel te beskerm? Op hierdie manier word gewone mense deur ongebreidelde geldsug geterroriseer.
Wessie du Toit en Barend Wesseloo gryp die terrorisme motief meer regstreeks aan met oorwegings van die sekerheidsgrondslag waarop antiterrorisme funksioneer. Wessie wys uit hoe baie van die sekerhede wat ons met betrekking tot terreurbekamping koester, meer fasade as feit is. Barend raak bekommerd oor die Suid-Afrikaanse samelewing se kwesbaarheid vir bepaald Islamitiese terreur, veral omdat anti-Joodse sentiment in die nadraai van die oorlog in Gasa soms toegelaat word om straffeloos voort te duur. Suid-Afrikaners moet beslis nie vergeet dat ons land tot onlangs nog op die gryslys was wat finansiële weerbaarheid teen terrorismefinansiering betref nie. En ons geheue is kort as ons die vergrype van PAGAD in die eerste dekade na demokrasie vergeet. Ironies genoeg was PAGAD, ten spyte van Islamitiese onderstrominge, as hoofsaak ingestel op die bekamping van bendegeweld, wat self 'n terroriserende effek op die Vlakte gemeenskappe het. Vuur teen vuur, terreur teen terreur?
Oplaas is die groot vraag oor tot watter mate ons vreesbewapening sal toelaat in 'n oop samelewing waar gelyke, menswaardige en vrye debatvoering oor openbare kwessies die normaal behoort te wees. Meestal is vreesbewapening baie meer voor die hand liggend: Swak polisiëring, 'n weermag sonder tande, 'n staat wat misdaadvoorvalle gebruik om met groot beloftes groot verandering aan te kondig, ten einde die geterroriseerde samelewing te paai. Of, in die kontek van plaasgeweld, om die erns van die kwessie te relativeer en te ignoreer sodat vrees sy loop aanhou neem en ongekende skade aan ons landbougemeenskappe aanrig.
Nog DinkWeer Donderdag rubrieke:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.













