
Ewe belangrik as om die regte argumente (en verkieslik syfers) in 'n debat te opper, is om seker te maak dat die regte debat gevoer word. Soms moet die parameters van debat verander of vergroot word om na die werklike belang deur te dring.
Ons moet nooit ophou skryf, praat en debatteer oor die probleme in ons land nie – waarvan misdaad en veral geweldsmisdaad opsluit nie die minste is nie. Dit is immers hoe openbare bewusmaking en oorreding geskied en daar verandering teweeggebring of rampe afgeweer word.
Dat die ANC regstreeks en indirek verantwoordelik is vir die klimaat en oorsprong van hierdie verskynsel, staan buite twyfel. Van die kommunisties-geïnspireerde “People’s War” van die 80’s (wat tot meer as 20 000 meestal swart sterftes gelei het) tot die ontstaan van landelike geweld tot wat hulle alles as regerende party gedoen het in die laaste 32 jaar, getuig alles van ten minste nalatigheid en afsydigheid jeens geweld en sterftes en uiteraard ook van medepligtigheid en persoonlike skuld.
Onregstreeks het die People’s War ook die tafel gedek vir Suid-Afrika se latere sosio-ekonomiese en maatskaplike uitdagings – 'n nalatenskap waarmee ons vandag nog saamleef. Dr. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge en skrywer van die hoogs invloedryke People’s War: New Light on the Struggle for South Africa, het volgens Newsday juis onlangs daarop gewys dat die terreurveldtog en halssnoermoorde (wat mense as afskryfbare pionne beskou het) saam met massaboikotte, en 'n weiering om te gaan werk en huur te betaal, ingespan is om die land te destabiliseer. Die pad na die vreedsame 1994-oorgang is derhalwe met baie bloed en ontaarding geplavei. Dit het ook die weefsel van veral swart Suid-Afrika vernietig. Die implikasies is legio en kan nie breedvoerig in hierdie ruimte bespreek word nie.
Ofskoon dit belangrik is om hierop klem te lê en te help dat die geskiedenis in konteks vertel word, moet ons egter liewer ernstig besin oor hoe die probleem gepak en beveg kan word. “Oplos” is 'n effens sterk woord in hierdie konteks; nie omdat dit ongewens is nie maar weens die feit dat ons realisties moet wees oor wat bereik kan word in hedendaagse Suid-Afrika.
Nicholas Woode-Smith se artikel verlede week raak hieraan as hy skryf:
“Ons het toegewyde landelike polisiëring, herstelde gespesialiseerde ondersoekvermoë, samewerking met private veiligheidsmaatskappye en landbou-organisasies, en politieke leiers nodig wat bereid is om geweld sonder ideologiese verskonings te veroordeel.”
Dis 'n paar sinvolle voorstelle, maar bloot 'n beginpunt en ek sal verkies dat daar meer in die diskoers oor plaasmoorde (en trouens alle geweldsmisdaad) hieroor uitgebrei word. Om hard te stry oor wie verantwoordelik is vir plaasmoorde, hoeveel aandag daaraan geskenk moet word en hoe belangrik dit is, het wel waarde want hierdie stryd is tewens 'n inligtingsoorlog (nes die People’s War was). Maar in beide die soeke na werklike teenstrategieë vir allerlei geweldsmisdaad (plaasaanvalle uiteraard inkluis) asook die retoriese etikettering daarvan moet op die werklike situasie en feite gegrond wees.
Hierdie retoriese punt word beklemtoon deur Woode-Smith sowel as Stefan Jacobs. Albei here wys daarop dat plaasmoorde nie misbruik en met strooipoppe (lees: leuens) en misbenaminge besoedel moet word nie. Kortom, plaasmoorde moet nie as 'n wit volksmoord oordryf word nie. Dit gee inderdaad skietgoed aan diegene wat die werklike probleem wil onderbeklemtoon en wegredeneer, terwyl diesulkes in der waarheid niks bydra tot enige probleem se oplossing nie en bloot goedkoop politieke punte wil aanteken en klikaas skep.
Bowendien moet besprekings oor oplossings die werklikhede en breër konteks in ag neem. Toe die kommandostelsel in 2003 afgeskaf is, was dit 'n skok omdat die staat en samelewing nog in staat was om dit te onderhou. Dit was onnodig om daarmee weg te doen omdat die staat en polisie nog oor die mensekapitaal en institusionele vermoë, gerugsteun deur 'n flink groeiende ekonomie, beskik het om dit te bedryf.
Ondertussen het baie verander. Die ekonomie hou tans nie eens tred met die bevolkingsgroei nie, die staat is deur onbesonne ras-transformasie en kaderontplooiing uitgehol, en die polisie is nou uiters ondoeltreffend, korrup en sonder spesialiseenhede. Dit is oral die geval, maar veral op die platteland. Daar kan aangevoer word dat plaasaanvalle nie oor 'n eiesoortige teenvoeter beskik nie, terwyl die weermag in die Kaapse Vlakte ingestuur word (en blykbaar aanstons onttrek gaan word). Maar die bewyse is reeds daar dat enige staatsoplossing vir enige slagoffergroep allesbehalwe doeltreffend is. Die taamlike geringe getal soldate keer nie bendegeweld nie en skep spanning in die gemeenskappe waar hulle ontplooi word. Geslagsgebaseerde geweld word retories verdoem wanneer daar 'n opstuwing in sulke gevalle is, maar geteikende en suksesvolle oplossings ontbreek in die praktyk.
Dit is dus nie 'n dualistiese minderheid-teenoor-meerderheid probleem soos wat Jacobs dit voorstel nie. Meeste stemgeregtigde kiesers in die land stem nie eers meer vir die ANC nie. Staatsverval en gebrekkige polisiëring raak almal, en daar is oplossings vir niemand nie ondanks retoriese voorkeure langs owerheidsweë. Beide stukke het wel 'n bydrae gelewer om die probleem korrek te beskryf en hopelik kan ons nou verdere debatte oor moontlike multidimensionele oplossings voer.
Op 'n praktiese, strategiese en morele vlak maak dit ook sin om nie selektief oor moorde te wees nie. Daniël Eloff som dit korrek op dat morele besorgdheid nie 'n nulsomspeletjie hoef te wees as synde 'n keuse tussen plaasmoorde en ander moorde nie. Vir te veel mense van regoor die spektrum is dit tog wel die geval dat hulle veel meer oor sekere moorde as oor ander omgee. Sommige verlekker hulself selfs in moorde op mense buite hul eie groep. Dit is hul reg, maar as Christen stem ek met Daniël saam want elke lewe is Godgeskape en waardevol. As die persepsie geskep word dat slegs boerelewens (of wat ook al) tel, skep dit die risiko dat wyer steun (en hulpbronne) vir ’n saak ingeboet word.
Dit is natuurlik ook nie slegs moorde wat lewens vernietig nie. Theuns du Buisson se bydrae oor dobbel is tydig en verduidelik hierdie amorfe dog ernstige probleem met prikkelende data – soos die verduideliking van enige uitdaging benader behoort te word. Dwelms, dobbel en misdaad is egter uitvloeisels van makro-probleme in die samelewing. Staatsverval, die langdurige ekonomiese sleurgang, gebrekkige onderwys-uitkomste en morele agteruitgang voed ander banvloeke. Maar weer eens kan daar nie by die identifisering en verduideliking van 'n bepaalde euwel stilgestaan word nie. Die afruiling tussen indiwiduele vryheid en staatsregulering moet boonop in die geval van dobbel, nes drank, hierby in ag geneem word wanneer daar na oplossings gesoek word. Hierdie probleem verdien 'n billike oplossing en smeek hieroor ook om verdere debat.
Gedagtig aan plaasmoorde, moet die groeiende probleem van antisemitisme ook eerlik en omvattend benader word. Daar is ook nie maklike oplossings vir hierdie eeue ou vraagstuk nie. Barend Wesseloo skryf tereg (maar waarskynlik vergeefs) dat daar nie skielike en oorvereenvoudigde afleidings oor die gefnuikte terreuraanval op 'n vlug tussen Doebai en Tel Aviv gemaak moes word nie. Of oor Jode in die algemeen. Luidens talle peilings is Israel onder Benjamin Netanyahu se premierskap vandag 'n uiters verfoeide staat, wat ontaard in antisemitiese gedrag en aanvalle regoor die wêreld – en toenemend in die Weste. Niemand gaan radikale Moslem-terroriste oorreed om hul haat te temper nie, maar dat Israel 'n wyer PR-probleem met gevolge vir onskuldige mense en die land as sodanig het, is gewis. Dit is 'n belangrike onderskeid om te tref en dis juis nou verkiesingstyd in Israel waar debatte hieroor gevoer kan word.
Hilde Kruger raak 'n broodnodige kwessie aan. Tradisionele beroepe met 'n betaalstrokie en vaste salaris raak al hoe minder relevant, terwyl vryskutwerk en veelvuldige inkomstestrome (tesame met tuisgebaseerde werk) al hoe gewilder en as’t ware noodsaaklik raak. Laasgenoemde sluit die uwe in. Capitec was vanaf hul mikrolenery-ontstaan onortodoks en selfs omstrede, en hulle doen dit nou weer deur erkenning (en geld) aan onder meer verdienstelike smaakmakers te gee. Die vraag is wanneer die ander banke dit gaan doen, want hulle mag dalk net ’n gulde geleentheid misloop. En wanneer die samelewing ook hierdie realiteit gaan erken.
Les bes verskaf Hercules Boshoff 'n sagter inslag met sy gesofistikeerde vertaling van Goethe se “Einfache Nachahmung der Natur, Manier, Stil.” Hoe belangrik ook al, kan en wil ons darem nie net oor moord en negatiwiteit lees nie. Ons moet ook skoonheid bewonder, asook die natuur, selfuitdrukking en kuns(skepping) waardeer, asook daardeur introspeksie en selfverbetering najaag.
Lees en herlees dit gerus!

Vorige weke se Dinkweer Donderdag:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












