DinkWeer Donderdag | Heil die Lesers
Leser-skrywers werk waarheid in die hand.
Vandag wil ek 'n oomblik stilstaan en besin oor wat 'n “lesergedrewe” publikasie nou eintlik sou beteken. Ons praat baie daaroor by redaksievergaderings, en meeste van ons maandelikse strategiese sessies gaan oor lesers. Hoe om uit te brei onder meer lesers, jonger lesers, ouer lesers, politiek uiteenlopende lesers, skrywende lesers, ensomeer.
Dit klink baie woordoortollig om iets as “lesergedrewe publikasie” te beskryf, moet ek toegee. Is immers elke publikasie nie maar presies dit nie? Skrywers skryf vir 'n lesende gehoor, en die lesende gehoor gee teenwaarde in die vorm van intekengelde of gewoon die waarde van hul aandag in die moderne digitale ekonomie. Watookal die model is, die publikasie maak nie sin sonder die leser nie. Die begrip “publikasie” kom immers van die Latynse wortel vir die openbare, die publieke. Dit veronderstel vrystelling van inligting en menings onder 'n wye groep lesendes, wat nie noodwendig bekend is aan die vrystellers nie, maar “die publiek” vorm.
Vir my sondes lees ek tans Yuval Harari se Nexus: A Brief History of Information Networks from the Stone Age to AI (2024). Die sentrale argument is dat inligtingsnetwerke minder met waarheidsoeke en meer met grootskaalse samewerking en verbandvorming tussen mense te doen het. Daarom ook dat valshede so hardnekkig kragtig bly: waarheidsoeke is tweederangs, en groot verhale en narratiewe is suksesvol omdat dit gedeelde bevoordelingsnetwerke en magsmeganismes help in stand hou. 'n Uitbreiding hiervan sou seker kon postuleer dat lesergedrewe publikasies meer suksesvol kan wees indien dit narratiewe kragopwekkers word, selfs eggokamers. Netwerke opgestel as meganismes om waarheidsoeke na te streef is naïef, aldus Harari. Inligtingsnetwerke as hoofsaaklik “samebinder”-verskynsels behoort eerder te fokus op hoe die tersaaklike wigte en teenwigte kan help om van die onsuiwerhede uit die netwerk te sif.
Ek het gewonder wat Joseph Heath, wat in ons 26 Junie uitgawe krities na Yuval se insigte oor menslike evolusiekoerse gekyk het, hiervan sou maak. Aldus Heath is daar 'n sterk argument dat Harari die kat aan die stert beet het wat menslike ontwikkeling betref: Homo sapiens was nie eers slim en daarom in staat tot samewerking nie. Intelligensie en taal vloei eerder voort vanuit die aanvanklike vermoë om saam te werk en 'n bepaalde kultuur of stel doenwyses aan die dag te lê.
Gevolglik, as samewerking en die gepaardgaande inligtingsnetwerke juis taal en intelligensie voorafgaan, is dit nie eerder denkbaar dat waarheidsoeke die meer suksesvolle individue sou oplewer nie? Sou die natuur nie juis selekteer vir diegene wat - ten tye van samewerking - optree en handel in maniere wat dit wat waar en akkuraat is, van gebruik maak nie? Die gemeenskap grotmanne wat byvoorbeeld saamwerk om vleis te droog en heuning in potte te stoor, want die winter herhaal jaarliks, se sin vir inligting gaan nie slegs oor “samebinding” en grootskaalse storievorming nie. Samebinding deur middel van narratiewe oordrag vind plaas wanneer die winterbeskutte grotbewoners deur warm rookwalms met oker hul stories op die mure van die Lascaux-grot uitverf.
Maar om dit in die eerste plek te doen, moet hulle sekerlik eers kon saamwerk ter voorbereiding om die winter te oorleef aan die hand van dit wat akkuraat en waar is. Soos dat vleis vrot as jy dit nie uitdroog of sout nie, of dat heuning vir baie lank gestoor kan word, of dat die winter elke jaar herhaal.
So, anders as wat Harari dalk beoog, kan ons nie waarheidsoeke by OntLaer as minder belangrik ag nie, en ons vertrou lesers as samewerkers om deur middel van ope gesprek en debat en op gelykwaardige manier, hul stories, standpunte en argumente te kom deel. Meeste van ons inhoud hier is geesteswetenskaplik. Waarheidsoeke in daardie wêreld is nie so maklik soos 2 + 2 nie, en die mens stoei al vir eeue daarmee om die goeie, die skone, die ware en die morele te probeer vasstel. Ons hoop bly dat die moeilik-bereikbare waarheid altyd ons lesers sal aanspoor om deel te neem.
Dit is juis hierdie ewigheidsvrae wat gelykwaardige deelname en demokratiese insluiting oproep, al beteken dit nie almal se pogings is akkuraat of selfs korrek nie. Dit is geheel anders as 'n inligtingsnetwerk waar 'n elite groep meningsvormers die reg toeëien om die agenda eksklusief te bepaal, en die netwerk onder die vaandel van “samebinding” en “ons dam se ganse” toe te trek. As ons waarheid belangrik ag, moet ons juis die laer binne redelikheid ooplaat.
Ek waardeer teen hierdie agtergrond ons leser Theo Pieterse, 'n oud-onderwyser, se ervaringe van die teenapartheids-energie wat in die Baai losgelaat is na die Junie 1976 opstande. Pieterse se bydrae is juis waardevol omdat dit buite die gewone narratiewe verpakkings 'n persoonlike lig op daardie omstuimige en revolusionêre tydperk werp. Hierdie soort skrywes help om vooroordele en vasgestelde morele slagordes te bevraagteken, en vra, wat was die gewone ou se indruk? Want die gewone ou se indruk is belangrik, hy of sy is immers die kiesers en burgers vir wie daar regeer behoort te word.
Dit is dié mense wat agterkom dat hulle perdedrolle vir vye gesmokkel word deur ideologiese elites, en op die ou end die kollektiewe besluit neem om teen die “samebindende” narratiewe van die bedeling te stem, soos wat Daniël in sy artikel oor die politieke verskuiwings in Suid-Amerika skryf. Heersende ordes kan selfs wigte en teenwigte manipuleer om die waarheid van hul mislukkings te help verdoesel.
In Suid-Afrika het ons grondwetlike wigte en teenwigte soos in ons instellings vervat, min gedoen om die waarheid van staatsverval sodanig te laat seëvier dat amptenare op groot skaal hul houding verander het. Kiesers het dit eerder in 2024 gedoen, en sal waarskynlik dit weer eersdaags in die munisipale verkiesings doen, mits die voormalige amptelike opposisie van hul Steenhuisen-meulsteen ontslae kan raak.
Mense se vermoë tot samewerking word deur waarheid in die hand gewerk. Ons huidige identiteitsverwante tydverdrywe as Suid-Afrikaners trek byvoorbeeld swaarder op die Springbokke en die vroue-Proteas as op Bafana en die manskrieket, juis omdat die eersgenoemdes duidelike suksesse behaal. Hulle pas beste praktyke toe en wen.
Narratiewe samebindingspraatjies is van nul en gener waarde as die publiek nie uitkomste kan sien nie. En publikasies wat hul inligtingsnetwerk as eerstens 'n plek van samebinding en narratief-uitsaaiery beskou, sal mettertyd die waarheidsin van hul lesers begin onderskat. Skryf dus vir ons, soos Theo Pieterse en soveel ander wat tot die gesonde skryfgewoonte verbind geraak het, en kom deel jou sienings vrylik.
Nou sal ek gaan besluit of ek my eie raad sal volg en vir Harari klaar lees!
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














