DinkWeer Donderdag | Die Goedkoop Geld van Waarheid
Waarom slegte meningskommentaar die goeie joernalistiek uitdruk, en Substack se nuwe intydse vertaalfunksie vir ons voornemende nie-Afrikaanse lesers.
Voor ek wegval, gaan toets gerus Substack se nuwe vertaalfunksie op die app. Dit lyk so, wanneer jy op die lys OntLaer-artikels afkom. Kliek die “Translate”-ikoontjie:
… en voila!
Nou kan ons Britstalige maats ook lekker saamlees. Dit is ook moontlik om jou vertaalvoorkeur van Afrikaans na ander tale te verstel.
Feitelik al ons inheemse Suid-Afrikaanse tale is beskikbaar, van Swati en Zoeloe tot Venda en Tsonga. Natuurlik is daar ook Nederlands en Duits en meer vir buitelandse lesers. Speel gerus met die opsies en wys dit vir jou vriende.
Terug na my skrywe vandag
Vir lank is openbare gesprek in Suid-Afrika deur 'n betreklik klein kring mense beheer: redakteurs, rubriekskrywers, akademici, beleidmakers, uitsaaikorporasies, aktiviste met institusionele toegang, ensomeer. Dit het wel nie ontstaan weens 'n groot sameswering nie, maar is bloot 'n menslike verwikkeling. Hegemonie is meer dikwels 'n gedeelde instink as 'n geheime plan.
Maar toe kom die internet.
Skielik kon 'n student in Potchefstroom, 'n boer in die Vrystaat, 'n regsgeleerde in Pretoria, 'n predikant in die Boland, 'n podsender in Somerset-Wes of 'n ontevrede belastingbetaler in Centurion buite die ou kanale praat. Jy het nie meer 'n rubriek in 'n Sondagkoerant nodig gehad nie. Jy het 'n mikrofoon, 'n Substack, 'n YouTube-kanaal, 'n Telegram-groep of bloot 'n selfoon nodig gehad. Die hekke het oopgebreek.
En baie goeie dinge het daaruit gekom. Alternatiewe media het dinge gesê wat die hoofstroom te lank vermy het. Dit het oor misdaad gepraat toe misdaad nog as 'n “komplekse maatskaplike verskynsel” verpak moes word. Dit het oor raswetgewing gepraat toe die progressiewe establishment (oftewel gesagsorde) steeds geglo het dat elke mislukking deur nóg 'n vorm van rasseklassifikasie opgelos kan word. Dit het oor plaasaanvalle, staatsverval, korrupsie, kaderontplooiing, ideologiese universiteite en die vervreemding van gewone mense gepraat toe baie redaksies nog geglo het dat die land se grootste probleem net onbevoegde uitvoering was.
Die demokratiese belofte van alternatiewe media was dus werklik. Maar soos met alle demokratiese rewolusies het die afbreek van 'n ou aristokrasie nie vanself 'n republiek van deug geskep nie. Dit het 'n markplein geskep. En soos 'n mens by enige Saterdagmark vol Chinese plastiekprodukte sien, verkoop markpleine nie altyd die beste goedere nie. Dikwels verkoop hulle die goedkoopste goedere die vinnigste.
Thomas Gresham het in die 16de eeu die monetêre beginsel dat slegte geld goeie geld uit sirkulasie dryf, omskryf. As goeie en swak gehalte muntstukke dieselfde nominale waarde het, bêre mense die goeie gehalte en bestee die van slegte metale. Die goedkoop muntstuk bly in omloop, die waardevolle munt verdwyn.
Iets soortgelyks gebeur nou met openbare kommentaar.
Die internet het inligting gedemokratiseer, maar dit het ook inligting vergoedkoop. Die ou probleem was dat te min mense kon publiseer. Die nuwe probleem is dat almal kan. En oorvloed sorg nie altyd vir wysheid nie. Wanneer elke feit binne sekondes gesoek kan word, word interne kennis, geheue en oordeel maklik as oorbodige bagasie behandel. Omdat elke feit byna onmiddellik opgespoor kan word, is onthou prakties onnodig, totdat 'n mens besef dat oordeel juis die vermoë om onthoude dinge met mekaar te verbind noodsaak.
Kennis wat net buite jou bestaan, is dus nog nie jou kennis nie. Dit is 'n bron. Dit word eers kennis wanneer dit deur geheue, ervaring, oordeel en leefervaring opgeneem word. Die internet gee vir ons eindelose toegang tot bronne, maar nie noodwendig meer mense met gevormde oordeel nie.
Dit is die diepste probleem met die nuwe media-orde, waarvan ons hier by OntLaer ook deel is: nie dat daar te veel stemme is of dat ou hekwagters uitgedaag is nie, maar dat die infrastruktuur van die nuwe gesprek dikwels beter ontwerp is om aandag te vang as om waarheid te dien. Die probleem is dat die ekonomie van aandag 'n ander stel deugde beloon as die ekonomie van waarheid.
Dit is hoekom slegte joernalistiek, nes slegte geld in Gresham se Wet, goeie joernalistiek uitdruk. Mense verkies nie noodwendig slegte joernalistiek nie, maar 'n mens klik op woede, deel maklik verontwaardiging en soek die feite wat jou bestaande vermoedens bevestig en die ongemak van teenstrydige inligting verdof. Slim mense noem dit kognitiewe dissonansie, maar in gewone alledaagse taal, dit is lekkerder om reg te voel as om reggestel te word. Mense kyk tot aan die einde wanneer iemand met groot sekerheid sê dat alles wat hulle reeds vermoed het, waar is.
In Suid-Afrika is hierdie dinamiek besonder gevaarlik omdat die werklikheid self reeds dramaties genoeg is. Jy hoef nie verval te fabriseer nie, jy hoef dit net te verfilm. Suid-Afrika bied genoeg materiaal vir 'n leeftyd se verontwaardiging.
Juis daarom is die versoeking so groot om verval as produk te verkoop. Die vervalmark is winsgewend omdat dit werklike pyn in herhaalbare inhoud omskep. Dit neem die burger se redelike woede en verpak dit as 'n weeklikse liturgie van ondergang. Elke nuwe mislukking word nie 'n probleem wat opgelos moet word nie, maar 'n bewys dat die profeet van verval nog altyd reg was.
Die progressiewe establishment het lank sy eie post-waarheid gehad. Dit het voorgegee dat ideologiese taal die werklikheid kan vervang. As die regte woorde gebruik word – transformasie, geregtigheid, inklusiwiteit, historiese herstel – sou die morele aura van die taal die praktiese mislukking daarvan verbloem. Universiteite, mediahuise, groot besighede en staatsinstellings het dikwels 'n wêreld gebou waarin mooi woorde belangriker as meetbare uitkomste geword het.
Maar die nuwe regse establishment, wat juis in reaksie op hierdie progressiewe alleenheerskappy ontstaan het en nou self in verskeie lande, platforms en politieke bewegings die toon begin aangee, het sy eie weergawe daarvan ontwikkel. Hier word waarheid dikwels nie gemeet aan bewyse nie, maar aan kontra-konsensus.
As die ou hoofstroom iets sê, moet die teenoorgestelde vermoedelik waar wees. As 'n instelling iets bevestig, is dit juis verdag. As 'n kenner iets verduidelik, is hy waarskynlik deel van die probleem. Wantroue word nie net meer 'n nuttige politieke instink nie, maar 'n epistemologie. Dit skep 'n gerieflike binêre wêreld wat makliker is om te verstaan as die komplekse werklikheid.
In dié sin sluit Vusi M. Vilakati se stuk van verlede oor forensiese publieke teologie hierby aan. Hy skryf verlede week oor 'n manier van lees wat onder die vernis van die openbare storie kyk: nie net na wat 'n samelewing oor homself sê nie, maar na wat dit agterlaat, wie dit vergeet, wie se pyn aanvaarbaar geword het en watter waarheid deur mooi openbare taal bedek word.
Dit is presies die soort opmerksaamheid wat 'n gesonde media-ekologie nodig het. Nie blote verdagmaking nie, maar gedissiplineerde ondersoek.
Dit is ook waar beide die ou en nuwe establishments misluk. Die een vertel 'n openbare storie waarin sy eie morele taal die skade verbloem. Die ander vertel 'n teen-storie waarin elke instelling, elke kenner en elke kompleksiteit reeds as bewys van verraad gelees word. Die een het ketters verban omdat hulle te reaksionêr was. Die ander verban ketters omdat hulle nie reaksionêr genoeg is nie.
Suid-Afrika het natuurlik nie minder alternatiewe media en stemme nodig nie. Inteendeel. 'n Land met ons vlakke van verval het méér onafhanklike stemme, méér burgerlike joernalistiek, méér plaaslike ondersoekwerk en méér idees buite die ou redaksionele gemaksones nodig. Maar dit het iets nodig wat moeiliker is as toegang, naamlik standaarde.
Ons moet weer onderskei tussen media wat bou en media wat net brandstof verkoop. Tussen kritiek wat verantwoordelikheid neem en kritiek wat net 'n gehoor versamel.
Frederik het verlede week juis iets hiervan raakgevat in sy stuk oor Afrikaans wat moet praat én bou. Die eindelose gesprek oor Afrikaans as wond, skuld, simbool, probleem of historiese bewysstuk kan nie die laaste woord wees nie. Daar móét gepraat word en daar móét onthou word.
Maar as 'n taalgemeenskap net oor sy wonde praat, word die wond self later sy identiteit. Dan word taal 'n hofsaak sonder uitspraak, 'n openbare skuldbelydenis sonder herstel, 'n debat waarin die bouers altyd effens verdag lyk omdat hulle reeds aan môre werk terwyl ander nog die presiese formulering van gister se aanklag probeer finaliseer.
Lezli Edgar maak verlede week die punt oor Netwerk24 se merkwaardige leserbetrokkenheid wat wys dat mense nie bloot na media kom vir feite nie. Hulle kom vir 'n stem, 'n wêreld, 'n identiteit, 'n ruimte waarin hulle hulself herken. Dit is hoekom media nooit net inligting versprei nie, maar gemeenskappe vorm.
Die vraag is dus nie of mens aan die kant van hoofstroom of alternatief staan nie. Daardie onderskeid is te oud vir die wêreld waarin ons nou leef. Die werklike onderskeid is tussen goedkoop en duur waarheid.
Goedkoop waarheid is onmiddellik, emosioneel bevredigend en identiteitgewend. Dit sê vir jou wie die vyand is, waarom jy reg was, en waarom verdere nadenke onnodig is. Duur waarheid is stadiger. Dit kos geheue, leeswerk, twyfel, nederigheid, regstelling en soms die moed om jou eie mense teleur te stel.
Beskawing word nog altyd gebou deur mense wat bereid is om die duur prys vir waarheid te betaal.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















