DinkWeer Donderdag | Die Strewe na Vrede is 'n Eindelose Stryd
Nuwe wapens en ou oorloë.
Toe ek deur Professor Koos Malan se bydrae in verlede week se OntLaer gelees het, het Laurika Rauch se lirieke, wat ook die opskrif van hierdie vandag se DinkWeer Donderdag is, spontaan uit een of ander lêertjie agter in my brein na vore gespring.
Toe ek op laerskool was het ons die jaarlikse pad Kaap toe van Johannesburg af dikwels met net vier of vyf CD's aangepak, met die gevolg dat ek al die ongeveer sestig liedjies wat ons vergesel het teen begin Januarie in my slaap kon sing. Ek kon nie op 10 of 11 presies verstaan wat presies met vrede of 'n eindelose stryd bedoel word nie, ek is ook nie noodwendig daarvan oortuig dat ek dit nou al verstaan nie, maar ek voel asof ek darem al met haar mag saamstem. Die strewe na vrede is inderdaad 'n eindelose stryd, en op hul eie manier het elk van ons bydraes verlede week hierdie stryd gevoer.
Die uiteensetting wat Prof. Malan bied was juis kosbaar omdat dit die kort- en mediumtermyngevolge van die Islamabad Memorandum verduidelik het. Veral oor die moontlike afname in ANC-befondsing was ek positief, maar dit gaan natuurlik oor baie meer. Eugene Brink het dieselfde memorandum vanuit 'n wyer hoek beskou en tot dié gevolgtrekking gekom:
“Iran het gewys dat jy nie die grootste of sterkste weermag ter wêreld benodig om uiteindelik die allerbelangrike politieke stryd te wen nie. Jy hoef bloot die wedloop teen tyd te wen – op welke manier ook al.”
Die twee ontledings, in tandem gelees, bied vir die leser heelwat stof tot nadenke. 'n Groter vraag, waarmee Trump-ondersteuners sekerlik vir die volgende vyf dekades gaan worstel, is die uitwerking van hierdie ekskursie van amper vier maande op Trump se naam en nalatenskap. Ondanks baie kritiek kon hy onlangs altyd die VSA-belange as verdediging opper. Sy ondersteuners kon van meet af aan verklaar dat sy metodes dalk onortodoks is, maar dat hy, anders as die boosaardige politieke klas waarteenoor hy homself gestel het, sy nasie ten minste voorop stel. 'n Sodanige repliek is nadese nie meer volledig of eerlik nie.
As daar een stuk aarde is waar die eindeloosheid van die strewe na vrede beter verstaan word as elders, is dit Rusland. Verlede week se hommeltuigaanval deur Oekraïne op Moskou is inderdaad tekenend van 'n nuwe era, soos wat Jurie van der Walt aanvoer. Of aansluiting by die Europese Unie tot permanente vrede rondom die Donbas gaan lei is 'n oop vraag, met die geskiedenisleser wat sekerlik eerder skepties as optimisties daarna kyk.
Aan die spits van die voorste linies van die nuutste veldslae het soldate altyd die nuutste tegnologie in die hand, daarom verteenwoordig nuwe tegnologie dikwels die begin van 'n nuwe stryd met nuwe reëls. Hilde se artikel oor Dataland, die eerste KI-kunsmuseum, het vir die leser 'n blikkie oor een van hierdie nuwe stryde gegee. Sy skryf:
“Volgens Refik Anadol [medestigter van Dataland] behoort die fokus egter nie op die vervanging van die kunstenaar deur die masjien te val nie, maar eerder op die rol van KI as 'n nuwe medium waardeur menslike vaardighede en artistieke uitdrukking gemanifesteer kan word.”
Ek wonder wel of die skilder of beeldhouer hierdie optimisme deel. KI verteenwoordig nie net 'n slim instrument, soos 'n wapen in die hand van 'n skerpskutter nie, dit verteenwoordig 'n entiteit wat menslike talent en kreatiwiteit kan vervang. Vir die kunstenaar van beroep, wat van rekenaars en skerms en KI maar min weet, is hierdie museum veel eerder 'n bedreiging as 'n geleentheid.
Dit is nie net op die politieke, geopolitieke of kunstige gebiede waar vrede moeilik bekombaar is nie — ook die skrywers van prehistoriese geskiedenis (of prehistoriese fiksie, afhangend van jou standpunt hieroor) vind mekaar nie vir lank genoeg om die vredespyp aan te steek nie. Joseph Heath se kritiek op Yuval Noah Harari se Sapiens is raak en geldig, en ek het lekker daaraan gelees, siende dat ek Harari juis self onlangs gelees het. 'n Mens sou miskien kon byvoeg dat Harari se benadering, wat weens die afwesigheid van 'n beter woord redelik woke is, in elk geval minder smaaklik vir die post-Covid palet proe as op die versigtiger en ietwat minder uitgesproke palet wat voorheen meer algemeen was.
Piet du Plessis reflekteer oor Afrikaners, wat na sy mening beter met die realiteite van die dag af kan reken as die wyer Weste. Sekerlik berei niks jou so goed voor vir onbevoegde of ten minste ooreiste staatstrukture soos drie dekades van 'n mislukkende en afwesige staat nie. Dit is ook so dat Afrikaners vir die selfdoen-stryd meer gerat is as ander wat hul heil nog onder die regter se toga soek.
Soos wat ek die artikels een na die ander wegklik, het hierdie konstante en onuitputbare strewe na allerlei tipes vrede my met 'n paar gedagtes gelaat: Die dinamiek van nuwe vredesooreenkomste en samewerkingsblokke, al is hulle tydelik en onvolmaak, skep geleenthede vir groei en kundigheid, en bied besprekingspunte waarop die toekoms kan bou. Die opkoms van kunsmatige kunswerke verhoog hopelik die premie wat ons op moeite en handearbeid plaas, en die alewige boekewisseling tussen Proffies in kantore met baie boekrakke bring ons hopelik 'n bietjie nader aan die waarheid.
Dit is maklik om in die Prediker se pessimisme te verval, die hande in die lug te werf, en alles as 'n gejaag na wind te verklaar — maar dit sou onredelik wees. Alhoewel ons konstante strewe na klein verbeterings so bietjie soos Sissiphus se klip nooit die ander kant van die berg gaan sien nie, is ons konstante pogings daartoe juis die katalisator wat die klein, amper onsigbare verbeterings te weeg bring.
Uiteindelik is en bly die strewe na vrede eindeloos, maar nooit sinneloos nie.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.















