DinkWeer Donderdag | Afrikaans moet Praat én Bou
Meer as 'n taaldebat.
Dit voel soos gister dat ek by 'n konferensie van die Afrikaanse Taalraad (ATR), omstreeks 2016 en by Goudini, 'n toespraak moes lewer namens die Adam Tas Studentevereniging.
Tydens die konferensie het die vure hoog gebrand by Stellenbosch met die #FeesMustFall-onluste, 'n opvolgbeweging gelei deur Fallists wat ook Afrikaans op Maties deur dekoloniale lense tot ketterstaal verklaar het.
Konferensies is nou wel daar om te praat en te beraadslaag, maar ten spyte van die vure wat om Afrikaans se voortbestaan as akademiese taal aan die US en elders gewoed het, en ten spyte van ons destydse studente met gesigte naby aan die groeiende taal-kulturele vagevuur, het die spreekwoordelike Oudstes se praatjies in sirkels gegaan. Daar was weinig insig oor watter soort inisiatiefneming, teenstand of sinvolle stappe nodig is om Afrikaanse infrastruktuur volhoubaar te herbevestig.
Van die senior afgevaardigdes, by 'n konferensie aangebied deur 'n entiteit wat bestaan om Afrikaans se lewenskragtigheid en insluitendheid te bevorder onder al sy sprekers, het ure afgestaan om tirades te lewer téén Afrikaans se institusionele rolle. Asof 'n metafisiese skandvlek op die begrip “Afrikaans” eers deur 'n vorm van boetedoening moes gaan, vir 'n onbepaalde tydperk, met geen duidelikheid oor wie die boete moet betaal nie.
Sekerlik nie die konferensiegangers wat roemryke loopbane in die kunste, joernalistiek, onderwys en letterkunde danksy Afrikaans behaal het nie.
Dit was destyds erg om te besef dat indien jy volwasse en volhoubaar na Afrikaans se plekkie in die son wil help omsien, gaan die volwassenes nie help nie. Ten minste nie 'n klomp van die mense wat daardie konferensie destyds bygewoon het nie. Intussen het Afrikaans se kampusrol op die meeste universiteite uitgesterf; die BELA-wolf is danksy 'n (vervangbare) DA-minister nog op 'n afstand; alternatiewe dog duur staatsbestande oplossings word geskep, soos Akademia en Afrikaanse privaatskole.
Sirkelpraatjies
Die jammerte is dat die gepraat oor Afrikaans se rol as uitsluiter, onderdrukkerstaal, skepperstaal, taal van die onderdruktes, en al die ander beskrywings nog aanhou in sirkels draal as hoogmode.
Die punt kan net nie afgesluit word nie. Miskien behoort dit nie, maar is daar enigsins proporsionele waardering vir die asemrowende jeugdige pogings om te bou, nuut te skep, volhoubaarheid in die hand te werk, uitnemendheid na te streef deur middel van Afrikaans? Ten spyte van die enorme beleidsdruk wat die speelveld vir Afrikaans en ander inheemse tale se institusionele rol so moeilik maak?
Ek lees byvoorbeeld vanoggend Hein Willemse se Netwerk24 rubriek oor Afrikaans se rol in die bevrydingstryd, teen die agtergrond van 50 jaar sedert die Soweto Opstande. Tereg kan Afrikaans as magsinstrument nie as sneller van die Opstande verdoesel word nie. Die jeug van Soweto was nie gewoon “pro-Engels, anti-Afrikaans” nie, soos baie Falliste van 2015/16 inderdaad was, ten spyte van hul dekoloniale beweegredes. Soweto ‘76 was 'n generasie wat moes ervaar hoe “Afrikaners Eerste” volksnasionalisme oor hulle probeer heers het. Die vernedering, uitbuiting en onreg van die hiërargie daarvan was uiteraard genoeg rede om in opstand te kom. Baie van ons sou ook, as die skoen aan die ander voet was.
Revisionisme oor Afrikaans se rol in 1976 is intellektueel oneerlik, en so ook is die ontkenning van Afrikaans se rol as taal van bevryding in die mond van die onderdrukte Afrikaanssprekers wie nie aldus die apartheidstaat “Europees” genoeg was nie.
Maar wat talle denkers uit Willemse se generasie nog vandag sukkel om hul mee te versoen, is dat Afrikaans se doeners en bouers 'n hele dimensie aan Afrikaans gee wat lank reeds verby die simplistiese onderdrukker/slagoffer dinamika beweeg. 'n Dimensie van hoop, geleentheid, uitnemendheid en beste praktyke wat deur vindingryke Afrikaanse mense uitgedink en befonds word, meestal sonder 'n greintjie staatsfinansiering. Hierdie nuutskeppings verdien heeltemal te min aandag in die oë van ouer generasies, wat oor die soort sagte mag en struggle credentials beskik om Afrikaans se multidimensionele rol in die samelewing en geskiedenis, eerliker te kontekstualiseer.
As senior gemeenskapsleiers soos Willemse nie verby hierdie wroeging oor onderdrukkerstaal/slagofferstaal kan beweeg nie, gaan hulle nie net gewoon agter raak nie, maar hulle gaan die kans verspeel om hul raadsame merk te los op die nuwe moontlikhede waarmee die Afrikaanse jeug hul reeds mee besig hou. Dit is teen hierdie agtergrond dat ek ook Daniël Eloff se artikel oor die vervalmark gelees het.
As daar net konstant gepraat en gewroeg gaan word oor geskiedkundige skuld en slagofferskap wat daaruit voortvloei, word die energie wat lê in bewustheid oor onreg en nalatenskap nie gekanaliseer nie. Op die ou end gaan taal oor mense.
Taal is van die min goed wat ons werklik kollektief skep, en waaroor eenvoudige narratiewe net nie kan werk nie. Taal is vir die bouers, nie bloot vir die kritici nie.
Nog nuutskeppings
Afrikaans floreer in die toneelwêreld, en Erika Bos voorsien vir ons 'n boeiende resensie oor die immergewilde musiektoneel in Ons vir jou, soos onlangs op die planke by die AfriForum Teater in Pretoria te sien.
Ek het ook baie waardeer hoe Lezli Edgar 'n eerste vir ons by OntLaer doen deur 'n Netflix-romkom (wat ek moet toegee, nogal 'n oulike fliek was) te resenseer en oor te besin. Afrikaans kan met gesag artikuleer wat in selfs die mees eenvoudige pop-storielyne aangaan.
Diegene wat vandag nog sweepstellig verklaar, soos 'n Algerynse skrywer wat Hein Willemse na verwys in sy artikel, dat Afrikaans soos Hebreeus instrumente van oorheersing is, mag dalk verbaas wees deur Jurie van der Walt se artikel wat deur middel van Afrikaans as medium krities besin oor elemente van die Israeliese regering wat ideologies op soek is na 'n imperialistiese “Groter Israel”.
Dieselfde soort selfvoldaanheid sal eweneens sukkel om te begryp dat daar ook Hebreeussprekende Israeli’s en Jode is wat inderdaad geen ooghare het vir Groter Israel imperialisme nie, en dit tekenend in Hebreeus weergee. Jurie se eie artikel illustreer hierdie kompleksiteite, wat baie aktiviste moeite mee doen om oor te sien.
Laastens moet 'n mens insien dat 'n doellose gekibbel oor Afrikaans se regvaardigheid moeilik relevansie behou in 'n tyd van dreigende onheil en gevaar vir Suid-Afrika se immigrante-bevolking. Eugene Brink kontekstualiseer wel die herkoms van die probleem in sy artikel, en wys vinger na Suid-Afrikaanse politieke leierskap én hul volgelinge. Volwasse demokrasie vereis ook selfkritiese kieserskorpse.
Soos ek hier skryf, is daar uurliks opdaterings oor vreesbevange Afrikane wat uit ons land wil vlug. En die taal waarin hulle gedreig word op sosiale media en deur sekere aanhitsers van die dreigende geweld, is meeste van die tyd die Engelse taal.
Teen hierdie soort agtergrond gaan 'n kosmiese grootboek vir misdadige taalgemeenskappe dalk nie lekker water hou nie. Ons behoort meer genadig met taal om te gaan, en meer indringend na ons eie gedrag en die motiverings daarvoor, te kyk.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














