In 'n grondwetlike, amptelike sin is plaaslike regering die laagste vlak wat politieke en wetgewende bevoegdhede betref.
Dit is ook in verskeie opsigte die belangrikste koppelvlak tussen die regering en burgery. Die pad voor jou huis, die straatligte in jou straat, die plaaslike ekonomie, jou vullisverwydering en die onderhoud van openbare ruimtes naby jou is in talle gevalle belangriker as buitelandse beleid en dergelike nasionale bevoegdhede.
Suid-Afrika is nou slegs 'n raps meer as twee maande weg van nog 'n plaaslike verkiesing. Dit is in hierdie konteks wat Wessie du Toit se skrywe oor magsdevolusie se wel en weë in Groot Brittanje mens aangryp. Een van die vele treffende paragrawe lui soos volg:
“In die politiek, soos in alles anders, het ons geglobaliseerde verbruikers geword wat verwag dat ons voorkeure deur tegemoetkomende diensverskaffers bevredig moet word, met minimale moeite van ons kant. Ons gee verantwoordelikheid prys en voel in ruil daarvoor geregtig om te kla, wrokke te koester, gelyke behandeling te eis en respek vir enigiemand met aansprake op gesag te weier. Ten minste totdat die gesentraliseerde stelsels heeltemal in duie stort.”
Hy voer aan dat plaaslike rade en simboliese burgemeesters steeds minagting uitlok.
Dit is ewe toepaslik hier in Suid-Afrika. Plaaslike verkiesings lewer veelal 'n lae stemopkoms op en gegewe die belangrikheid van munisipale bestuur is dit deurgaans 'n verrassing, maar 'n jammer werklikheid. Etlike redes is hier ter sprake, te wete apatie, protes of selfs vuisvoosheid. Soos Du Toit en Paul Maritz tereg aanvoer, moet ons die vraag beantwoord wat ons met vryheid en plaaslike mag doen.
Talle peilings toon hoe die ANC – wat tewens swakker in plaaslike as algemene verkiesings vaar – se steun verder gaan daal (soos wat trouens oor die afgelope 15 jaar in veral plaaslike verkiesings gebeur). Nogtans het die ou bevrydingsbeweging vir nog 'n kans gevra en onlangs 'n uiters generiese en onrealistiese manifes uitgereik. Hoe sekere ontleders dit as 'n opregte erkenning van foute en 'n eerlike wil om dit plotseling reg te stel, gaan die verstand uiteraard te bowe. Ook hoe soveel as 34% (volgens sekere peilings) van stemgeregtigde kiesers nogtans vir hulle kan stem.
Hul belofte om binne 100 dae ná herverkiesing skielik talle kwessies op te los, is deurtrek van ironie en skynheiligheid. Hulle het immers tans tyd om te bewys wat hulle kan doen voor 4 November om kiesers te beïndruk, maar hulle sal nietemin steeds genoeg steun monster om 'n faktor in morsige koalisies te wees of op eie houtjie hul destruktiewe neigings voort te sit.
Ewenwel, ten regte of onregte, maak besluitneming en beleidmaking deur die owerhede saak en ons moet onsself nie mislei dat dit nie só is nie. In my bydrae wou ek juis hierop sinspeel deur die punt te maak dat mense in die suide (meer spesifiek die Wes-Kaap) nie soveel oor dienslewering en emigrasie gesels as toe ek nog in Gauteng gewoon het nie. Die primêre rede daarvoor is dat die staat hier (hoewel nie volmaak nie) wel op 'n aansienlik beter, meer pragmatiese en minder vyandige grondslag jeens ons, die burgers, funksioneer. Mense trek juis en maak opofferings omdat daar eerstens beter regering hier is en dit dan beleggings en ander voordele lok. Met ander woorde, mense trek nie net om naby die see te woon en na mooi berge te kyk nie.
Stem bly die maklikste (maar geensins enigste) manier om die jammerlikhede wat Wessie du Toit uitwys, om te keer. Een feit staan vas: Jy sal 'n plaaslike raad ná die verkiesing hê wat 'n bepaalde politieke samestelling en voorkeure weerspieël. Al is jou party nogtans klein, verdien jou munisipaliteit steeds 'n opposisie vir die volgende vyf jaar. Myns insiens moet daardie plig nie versaak word nie.
Piet du Plessis is egter (moreel en in 'n praktiese sin) reg as hy nouer samewerking tussen gemeenskappe bepleit. Dit kweek welwillendheid en onderlinge samewerking wat nie deur 'n kwaadwillige staat bewimpel word nie. Die burgerlike samelewing het 'n toenemend belangrike rol om te speel, maar daar is voorwaardes hieraan gekoppel en sekere werklikhede om te erken.
In 'n onlangse peiling deur die Social Research Foundation het 80% van mense regoor die demografiese, ekonomiese en politieke spektrum aangetoon dat burgerlike inisiatiewe in hul eie gebiede die regering se rol oorgeneem het. As iemand wat vir jare in plaaslike gemeenskappe met munisipale sake gemoeid was, weet ek daar moet konteks hierby gevoeg word. Die aard en omvang van sulke inisiatiewe is by uitstek geen wonderkuur vir die staat se gebreke nie. Anders gestel, pogings en noodweer is nie noodwendig gelyk aan sukses nie.
Hoogs funksionerende en gegoede enklawes soos Val de Vie in die Paarl en Midstream in Gauteng is wêrelde verwyder van uiters eenvoudige en onbenullige pogings op byvoorbeeld die Oos-Kaapse platteland, waar die staat vir alle praktiese doeleindes verdwyn het. Dit is nie goed genoeg om effens beter as 'n treurige munisipaliteit te wees nie, want werklike resultate is al maatstaf van sukses. Uiteraard kan daar klein begin en daarop voortgebou word, maar dit is geen gegewe nie. Die georganiseerde burgerlike samelewing ontstaan ook nie uit die niet en bedryf hulself nie. Hulle het skenkers, lede en vrywilligers nodig en dit is ’n uitdaging op sy eie. Mense skryf vinnig voor wat hierdie groeperings moet doen of nie doen nie, maar hulle is nie so entoesiasties om te help met geld, tyd en moeite nie. Waar die staat meestal oor gewaarborgde en voorspelbare inkomste beskik, het gemeenskappe en hul organisasies nie dieselfde vermoë nie. Hulle kan positiewe en nodige stappe soos skoonmaakaksies, die vul van slaggate en kultuuraktiwiteite onderneem, maar hulle is nie besig met groot en belangrike kapitaalprojekte soos die bou en herstel van brûe, waterwerke, pypleidings, kragnetwerke en paaie nie.
Meeste van hulle is besig om deur 'n mengsel van blote aktivisme, regsgedinge en ook samewerking om die staat sover te kry om hul werk te doen – met wisselende mates van sukses. Hul geld is ook beperk en moet daarom kies wat hulle wil en kan aanpak. Die resultate spreek vanself: Daar sou al veel minder staatsverval en gebrekkige dienslewering, tesame met ontevrede inwoners, gewees het indien die burgerlike samelewing uiters doeltreffend was. Die burgerlike samelewing kan daarom hoogstens 'n aanvullende rol tot die staat se werk speel en het nie beheer oor munisipale begrotings en hulpbronne nie.
Ek het ook bedenkinge oor die motiewe en bevoegdheid van March and March, wat volgens alle aanduidings nie wye lojale steun geniet nie. Mediaberigte het sedert 30 Junie vanjaar verskyn van mense in townships (waarvan sommige aan die anti-immigrant betogings op daardie dag bygewoon het) wat kla dat die goedere by winkels in hul area wat nou slegs deur plaaslike sakelui gebied word, veel duurder geword het en dikwels van swakker gehalte is nadat die buitelanders verdwyn het. Die nuwe eienaars, so eie aan staatsamptenare waar die ANC regeer, het volgens die inwoners nou 'n selfvoldane “vat-dit-of-los-dit” houding hieroor geopenbaar. Voorts sit suikerrietplase in KwaZulu-Natal nou sonder broodnodige arbeid en hulle erken dat plaaslike werkers om verskeie redes nie as plaasvervanger kán dien nie.
March and March het geen woord hieroor gerep nie en dis geen geringe kwessie nie. Ook nie dat plaaslike mense bloot bestaande besighede wat deur ander opgebou is, sonder die nodige ervaring en vaardighede oorgeneem (oftewel gesteel) het nie. 'n Organisasie wat die maklike deel gedoen het en in wese slegs op dreigemente en protes teen 'n kwesbare groep gefokus is, moet nou die moeilike deel aanpak en hul ondersteuners aanmoedig om beter te presteer en uitnemend te wees. Of hulle dit kan doen is 'n ope vraag en ek bly uiters skepties hieroor. As hulle werklik wil help, sal hulle die nadelige regeringsbeleide moet help wysig. Dit is baie wyser en verg meer moed en moeite om die minimumloon, rasbeleide en staatsafhanklikheid onder hul ondersteuners aan te spreek as om buitelanders te terroriseer.
Uiteindelik moet mense besef dat jý die burgerlike samelewing is. Dit begin by die indiwidu om betrokke te raak waar hulle ook al wil en kan sodat burgerlike inisiatiewe suksesvol kan wees. Besluite soos om 'n saak geldelik te ondersteun, leiding te neem om jou plaaslike park skoon te maak, en nie jou vullis op enige plek te stort nie, is die aanvanklike stappe om resultate te bereik. Dit kan tot iets groter ontwikkel, maar ook nie. Die feit is dat die burgerlike samelewing nie buite jou funksioneer nie, maar word deur indiwiduele deelname, fondse en opofferings moontlik gemaak.
Hilde se ontleding van die vernuwing van handelsmerke raak aan 'n tendens en spanning wat in velerlei lewensterreine vaardig is. Handelsmerke ondergaan strykdeur hul leeftyd vernuwing om by die tydsgees aan te pas en varser voor te kom, terwyl hulle ook tradisie en historiese lojaliteit in ag moet neem. Desgelyks moet politieke partye, rugbyspanne, bekende mense en selfs lande dieselfde doen. Diegene wat die balans verkeerd kry, betaal 'n duur prys in die era van sosiale media waar almal menings in die openbaar kan lug, lees en kyk.
Die Sharks-rugbyspan is een onlangse voorbeeld van 'n omstrede handelsmerk-wysiging wat nie goed ontvang is nie. 'n Handelsmerk word boonop gerugsteun deur die werklike persepsie van die produk of diens wat gebied word. Dit help veel jy herontwerp jou handelsmerk, maar die gehalte van jou entiteit weerspieël dit nie.
Anders lyk sulke pogings net soos weerligafleiers. Dit kan juis gesien word in die ANC se steun: Dit daal nie vanself nie, en hul beloftes om alles skielik reg te stel wat hulle vernietig het, kan deur geen getorring aan handelsmerke omgekeer word nie.
Vorige weke se DinkWeer Donderdag-rubrieke:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.














Goeie oorsig, Eugene. Dankie.