DinkWeer Donderdag | Wat moet ons behou?
Ons probleem is nie 'n gebrek aan nuwe idees nie.
Ek het onlangs 'n puik stuk deur Andrew Russell en Lee Vinsel op Aeon oor die opwindende onderwerp van instandhouding gelees. Russell en Vinsel argumenteer dat ons innovasie heeltemal te hoog aanslaan en die mense wat die wêreld se nuwe dinge aan die gang en instand hou, heeltemal te min.
Nuwe uitvindings kry dikwels die hoofopskrif. Maar die dekades se herstelwerk, instandhouding en gewone arbeid wat daarop volg, word selde gevier. Tog, voer Russell en Vinsel aan, beïnvloed daardie alledaagse werk ons lewens veel meer as die meeste sogenaamde deurbrake. Ons bewonder stigters, uitvinders, en mense wat ontwrig deur die status quo uit te daag. Meer mense dra immers hemde van Che Guevara as Edmund Burke of Roger Scruton.
Ek het die afgelope jaar gereeld geskryf oor die gedagte van bouers versus brekers. En in 'n vervalle land soos Suid-Afrika is dit 'n belangrike tweespalt om te skets. Maar ons moet nie vergeet dat baie van die mislukking, in Suid-Afrika en elders, spruit breedweg uit denke en wêreldbeskouings wat hoofsaaklik ontwrigtend en afbrekend uit die staanspoor is. Alle kritiese studies en hul Marxistiese ideologiese nefies is immers in wese vaardig in dekonstruksie maar min met bou en onderhoud. En hulle geniet ongelukkig buitensporige aansien in die akademie.
Die een innovasie waarvoor ek wel besonder dankbaar is, is dat YouTube se algoritme my smaak al redelik goed leer ken het. Tussen die gewone rommel deur voer dit my 'n bestendige stroom video’s oor groot bouprojekte (Gaan kyk gerus na een van my gunsteling-kanale, The B1M). Maar selfs dié indrukwekkende projekte word uiteindelik net so goed soos die mense wat hulle daarna onderhou. Die kanaal beskryf dikwels hoe infrastruktuur ten duurste vervang moet word omdat dit nie in die eerste plek onderhou is nie.
Die probleem is niemand droom daarvan om op die voorblad van Time te verskyn omdat hy 'n munisipale rioolstelsel twintig jaar lank behoorlik onderhou het nie. Tog is daar waarskynlik min mense wat jou lewensgehalte vinniger kan vernietig as die persoon wat ophou om presies dit te doen. Vra maar vir ons lesers in Johannesburg of een van die honderde mislukte munisipaliteite in die land oor die effek van te min instandhouding op jou alledaagse lewe.
Russell en Vinsel noem hierdie onderhoudende teenhelde die “maintainers”. Dis die mense wat herstel, onderhou en versorg. Dis die soort werk waarvan jy gewoonlik eers bewus word wanneer iemand ophou om dit te doen. Dis ook die soort werk wat meeste van ons in ons persoonlike lewens en huise afskeep, gewoonlik totdat dit te laat is. Ek weet ek moet die geut wat by die stoep lek regmaak en ek het vir my vrou gesê ek sal dit doen. Sy hoef my nie elke ses maande te herinner nie.
Die belangrikheid van instandhouding is ook vir ons as meningsblad belangrik. 'n Meningsplatform behoort natuurlik nuwe idees te soek en oor te besin. Maar die intellektuele lewe bestaan nie net uit oorspronklikheid nie. Dit bestaan ook uit die herlees van ou argumente, die toets van nuwe modes teen ou waarhede, en die instandhouding van 'n kultuur en beskawing en die waardes wat volhoubare sukses verseker.
Hannah Arendt het lank voor Russell en Vinsel se 2016-artikel oor iets soortgelyks geskryf. In The Human Condition onderskei sy tussen die dinge wat ons bloot doen om aan die lewe te bly en die mensgemaakte wêreld wat ons skep om langer as onsself te duur. Geboue, instellings, gebruike en wette bestaan nie vanself nie. Dit moet deurlopend in stand gehou word.
Edmund Burke, wie se Reflections on the Revolution in France ek jare gelede gelees het gebruik die beroemde beeld van die samelewing as 'n vennootskap tussen dié wat leef, dié wat reeds dood is en dié wat nog gebore moet word. In vandag se kitswêreld wat vreeslik op jou as individu en jou onmiddellike behoeftes en probleme fokus is dit nogal 'n radikale gedagte.
Die moeilike vraag is natuurlik nie óf ons moet behou of verander nie, maar wat. Soos Chesterton met sy beroemde heining gewaarsku het, moet ons nie iets afbreek bloot omdat ons nie verstaan waarom dit daar is nie.
Maar natuurlik 'n samelewing wat alles wil bewaar, fossiliseer. En een wat alles wil hervorm, verloor uiteindelik die geheue van hoekom sekere dinge in die eerste plek bestaan het. Wysheid lê dus minder in 'n voorkeur vir die oue of die nuwe as in die vermoë om te onderskei tussen dit wat bloot oud is, dit wat verrot het, en dit wat juis oud geword het omdat dit gewerk het.
Die afgelope week se artikels op OntLaer het iets van hierdie noodsaaklikheid aan behoudenheid vasgevang.
Ayanda Zulu vra verlede week nie net wie die staat behoort te beheer nie, maar hoe 'n vrye samelewing die instellings onderhou wat keer dat enige regering te magtig word. Suid-Afrika het steeds 'n Grondwet, onafhanklike howe, mededingende verkiesings en 'n gespierde burgerlike samelewing. Maar Zulu waarsku dat 'n al hoe meer gesentraliseerde staat dié beskermingsmeganismes stadig kan uithol. Die vervelige werk van vryheid is dus nie net om die regte party te verkies nie. Dit is om wigte en teenwigte, federalisme, burgerlike instellings en politieke verantwoordbaarheid voortdurend te versorg. Vryheid, soos infrastruktuur, hou nie homself in stand nie.
Verlede week vra Angus Douglas wat onder die oppervlak van 'n suksesvolle beskawing lê. Sy interessante punt is dat instellings nie in 'n vakuum bestaan nie maar dat kultuur, gewoontes, vertroue en histories gevormde norme help bepaal of 'n politieke “bedryfstelsel” werk. Ek is minder oortuig deur sy sprong van kultuur na genetika. Douglas vra tereg vir “objektiewe waarheid” oor menslike uiteenlopendheid, maar bied self weinig objektiewe bewys vir die genetiese verklaring wat hy vervolgens aanbied. Tog is dit 'n geldige punt dat voordat ons oorgeërfde instellings afbreek of elders probeer kopieer, behoort ons minstens te verstaan watter onsigbare dinge hulle laat werk.
Piet du Plessis maak dieselfde punt dat selfs vrede self instandhouding verg. Die instandhouding van 'n land se verdedigingsvermoë is duur, vervelig en maklik om as onnodig af te maak wanneer daar vrede is. Hy bepleit 'n meer parate weermag. Maar 'n mens wonder wel hoeveel 'n land soos Suid-Afrika kan regverdig om aan die weermag te bestee terwyl skole, hospitale, paaie en polisiëring reeds om beperkte staatsgeld meeding. Die waarde van instandhouding is juis die moeilikste om te bewys wanneer dit werk. 'n Parate weermag lyk in vredestyd soos 'n duur luukse, maar 'n onvoorbereide een veel duurder wanneer 'n land dit nodig het en dan nie het nie.
En Hilde Kruger skryf oor die vervelige werk om te proeflees en iets vir die soveelste keer te moet nagaan. Juis daardie proses keer dat 'n klein fout later miljoene kos.
Ten slotte het ek verlede week geskryf oor links én regs wat toenemend verlief raak op die gedagte dat 'n mislukte orde eenvoudig afgebreek en van vooraf opgebou moet word. Maar vernietiging is makliker as instandhouding. Suid-Afrika se grondwetlike bestel is ernstig beskadig deur transformatisme, staatsverval en rassigheid. Maar dit beteken nie dat gelyke burgerskap, individuele regte, nie-rassigheid en beperkte staatsmag saam daarmee weggegooi moet word nie.
In Suid-Afrika is die vraag oor bou, onderhou ens. aansienlik meer kompleks as in Europa of die VSA. Ons het terselfdertyd te veel wat afgebreek móét word en te veel kosbaars wat reeds besig is om te verdwyn.
Paul Kruger se bekende raad was om uit die verlede te neem wat goed is en daarop te bou. Vir ons hier op die suidpunt van Afrika is dit waarskynlik die soort instandhouding wat ons nodig het.
Vorige weke se DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
















Inderdaad is onderhoud nie sexy nie, Daniël. Maar dis noodsaaklik vir die instandhouding van die ruggraat van stelsels en objekte/infrastruktuur/bostrukture. Sonder dit knak alles op die een of ander tyd en stort in duie. En die vervanging is dan male sonder tal duurder en meer ontwrigtend...