DinkWeer Donderdag | KI-gegenereerde Skryfsels is Hier Onwelkom
Pangram gee die pas aan om skryfinhoud so mensgebaseerd as moontlik te hou.
Substackers oor die wêreld heen is nou toegerus met Pangram, 'n program wat teks wat deur kunsmatige intelligensie gegenereer is, met merkwaardige akkuraatheid kan opspoor.
Nie net kan die redaksie nou bydraes deur 'n Pangram KI-toets draf nie, maar u as leser kan ook die integriteit van ons inhoud naspeur deur eenvoudig die “Test fo AI” funksie in ons artikels te kliek. Pangram sal dan die teks vir KI-gegenereerde teks deurwerk. Jy kan self gerus oor Pangram en die grondslag van hul tegnologiese oplossing, wat self op KI-tegnologie berus, gaan lees.
Pangram gee drie lesings, uitgedruk in persentasies: Die eerste lesing dui aan tot watter mate die teks “KI-gegenereer” is, wat vir ons die groot taboe is. Dit lewer 'n verdere twee lesings wat aandui tot watter mate die teks “KI-geassisteer” of “mens-gegenereer” is. Ons aanvaar dat “KI-geassisteer” ietwat van 'n grys gebied kan wees, want KI is inderdaard nuttig om, byvoorbeeld, 'n lastige paragraaf te verkort, 'n moeilike konsep te vertaal of om ander basiese redigeringsfunksies uit te voer. Pangram onderskei egter tussen hierdie klas van redigeringsbystand, en teks wat gewoon deur 'n blikbrein uitgespoeg word na gelang van iemand se prompt.
(Voorbeeld van 'n gemengde Pangram-lesing)
OntLaer is onbeskaamd daarop uit om 'n mens-gebaseerde publikasie te wees. Ons takel die media- en meningskrisis, soos dit in Afrikaans en in ander kontekste in die openbare gesprek vergestalt met oop debat, sloernalistiek en inhoud wat verkieslik so wyd as moontlik oor die politieke en filosofiese spektrum strek. Daarby, en fundamenteel, is OntLaer 'n lesergedrewe publikasie. Hierdie soort oogmerke is in alle opsigte mens-gesentreer en kom vanuit die bestaansfeit van menslike samelewing. Onbevange, oop gesprek moet nie net eg wees nie, glo ons, maar dit moet die produk van nederige en versigtiger nadenke wees, met die bereidwilligheid om in debat te tree oor die werklike argumente gelewer.
Gevolglik kan ons nie toelaat dat blikbreine die dink- en skryfwerk namens ons bydraers doen nie. Ons het genoeg respek vir ons groeiende leserskorps dat ons nie kans sien om vir hulle uit die KI-slopemmer te bedien nie. Sloernalistiek vereis juis stadiger, versigtiger en dus immer-menslike oorweging van kwessies voordat die pen die papier tref, by wyse van spreke.
Boonop is daar alreeds bekommernisse in die joernalistieke wêreld of modelle soos Substack in staat sal wees om gehalte in stand te hou. Dit is te midde van kwynende inkomstestrome, selfs op Substack se regstreekse betalersmodel, wat die risiko skep dat Substackers kan begin neig om net die soort inhoud te begin skryf wat hul betalende lesers wil hoor, wat verskeie grondslae van die joernalistiek kan ondermyn.
KI-gegenereerde teks, as 'n manier vir 'n joernalis om op groot skaal kunsmatige pennevrugte op te lewer, is nou darem 'n risiko wat deur tegnologie soos Pangram ietwat gerem kan word. Maar terselftetyd hoop ons dat ons lesers hulself ook sal oortuig van die noodsaak dat die openbare gesprek nie deur KI-gegenereerde content bombing oorgeneem behoort te word nie. Massale KI-inhoud kan op skaal die openbare gesprek kaap deur middel van siniese nie-deelnemers, wat slegs belangstel in narratiewe manipulasie en oorheersing van die nuusgolwe, wat nie 'n gelykwaardige, egte en outentieke openbare gespreksomgewing na waarde skat nie.
Ons prosedure is voorts om elke bydrae deur 'n Pangram-toets te draf, en indien daar grootskaalse KI-gegenereerde teks teenwoordig is, stuur ons die konsepartikel terug aan die bydraer met die geleentheid om die kwessie reg te stel. Die redaksie behou die reg voor om artikels te plaas aldan nie, en wat KI-bystand lesings op Pangram betref, sal ons met die bydraer in gesprek tree.
Ons gee toe dat Pangram nie altyd akkuraat sal wees nie. Toetse wat ons met van ons eie ouer artikels gedoen het, van voor en na die aanvang van OntLaer en generatiewe KI, het soms lesings opgelewer wat 'n persentasie KI-teks aangedui het, wat onmoontlik die geval kon wees. Ons sal dus ons redaksionele diskresie behou, hoewel ons ten opsigte van KI daaroor sal streng wees. Bydraers is natuurlik welkom om alternatiewe lesings deur KI-naspeurder programmatuur aan te stuur waar daar twyfel is.
Die beste manier om vir ons almal tyd en moeite te spaar? Vat dit rustiger en skryf jou artikel self. Dis in elkgeval beter om so 'n paar keer te herkou aan 'n argument voordat jy dit eindelik in 'n konsep verwerk. Al is dit moeilik, en al wink die KI-versoekings.
Hilde Kruger skryf juis in verlede week se uitgawe oor die ironiese wendings wat sekere kleinsake ondernemings se kostebesparing-deur-KI planne geneem het. KI, soos ons almal weet, kan in sekere kontekste ontsettend nuttig wees en produktiwiteit rugsteun, maar dit beteken nie elke tweede geskrewe ding hoef deur generatiewe KI geskep te word nie.
Soos Hilde tereg skryf, waarom moet KI-gegenereerde spyskaarte 'n ding wees? Gewone menslike hoflikheid teenoor klante is seer sekerlik genoeg om koffie en koek verkoop te kry. Ek sal byvoeg dat jou deursnee koffiewinkel-werker natuurlik meer aangespoor sal voel om hoflik en vriendelik te wees as nonsens-takies wat deur KI verrig kan word (binne rede) hul lewe makliker maak.
Lezli Edgar se artikel oor 'n vreemde verskynsel van poligamiese bemarking in die Afrikaanse pers onlangs, deur middel van doodluiterse en selfs “kosmopolitiese” bemarkingstaal, het my ook laat dink aan hoe hierdie soort ding in die soepel taalgebruik van generatiewe KI voorkom. Die Duitsers het 'n begrip, unheimlich, wat dalk vertaal kan word as iets wat “aardig” of uncanny voorkom. Afgesien van die onaardigheid wat poligamiese uitnodigings onder baie mense sou aanwakker, is hierdie vreemde gevoel van onbekende bekendheid beslis teenwoordig in hoe KI-teks lees, wat nog te sê van die prente wat dit kan skep.
Maar die mens het KI geskep, en dit is dikwels ons eie eggos wat deur die fyngeknipte taalgebruik en sinsvorming van KI terugfluister. Taal is formulêr, en selfs iemand wat iets beoefen wat vreemd is vir die meeste Afrikaners, soos poligamie, kan daarin slaag om taalgebruik daaroor sodanig te formuleer dat dit vir ons bekend klink, ten spyte van die onbekendheid en selfs ongewenstheid daarvan. KI doen maar net wat die mens al ewig lank doen, sonder die vereistes van menslike dinkwerk.
Wandile Sihlobo, 'n bekende in landboukringe, het vir ons 'n eerste vertalingsgeleentheid van een van sy artikels gegun. Sihlobo plaas die dreigende El Nino-seisoenverskynsel in konteks en redeneer dat daar verskeie landboukundige en ekonomiese voordele is wat ons deur die nare somerseisoen mag dra.
Ek het al genoeg warm gekry in my lewe, so die nuus dat voedselpryse waarskynlik relatief stabiel gaan bly ongeag El Nino se aanslae, help darem bietjie. Laat ons weet wat julle dink oor Sihlobo se waarnemings en of ons dalk meer of minder optimisties moet wees.
Nog artikels op DinkWeer Donderdag:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.















Ek verwelkom díe redaksionele besluit. Ek wonder of die redaksie nie wil oorweeg om die KI-genereerde “kuns” wat as baniere vir meeste artikels gebruik word ook te skrap nie. Visuele kuns en skryfwerk is natuurlik verskillende mediums, en ek besef die publikasie is primêr op geskrewe joernalistiek gemik. Maar ek dink baie van die oorwegings wat die uitsluit van KI-artikels onderskryf, geld ook vir visuele kuns: die outentiekheid en menslikheid van idees (kuns is immers ook ‘n vorm van kommunikasie), die hoë agting wat die redaksie duidelik het vir die kreatiewe proses, en die gevaar wat KI-“slop” vir gehaltestandaarde (en vir opregte visuele kunstenaars) inhou. Buitendien is daar baie (veral ouer) kuns in die publike domein wat sonder finansiële uitgawe gebruik kan word.
Die onderliggende beginsel is gesond, naamlik dat ’n publikasie mag aandring op oorspronklike menslike denke en skryfwerk, en dat massavervaardigde KI-inhoud ’n werklike probleem kan wees. Ek sou egter versigtig wees om te veel gesag hieroor aan ’n instrument soos Pangram toe te ken. Dit bly ’n tegnologiese hulpmiddel wat waarskynlikheidsoordele maak, met al die beperkings wat daarmee saamgaan.
Pangram werk heel goed, maar dit is ook gedokumenteer dat dit soms ouer, volledig mensgeskrewe artikels as “gedeeltelik KI-gegenereer” merk. Dit beteken dat so ’n uitslag hoogstens as ’n waarskuwingsteken gebruik kan word, en nie as bewys dat ’n skrywer oneerlik was of nie self die dinkwerk gedoen het nie.
Die belangriker vrae is volgens my wie die navorsing, argumentering en oorspronklike skryfwerk gedoen het, of die skrywer sy of haar bronne en redenasie kan verantwoord, en of beduidende KI-gebruik eerlik verklaar is. Volledig mensgeskrewe teks is immers nie noodwendig goed, oorspronklik of betroubaar nie, net soos beperkte KI-bystand nie noodwendig ’n stuk oneerlik of waardeloos maak nie.
Pangram kan nuttig wees as vertrekpunt vir ’n gesprek met ’n bydraer, maar dit behoort nooit op sy eie die finale oordeel te vel nie.
(En terloops, ek het GPT-5.6 gebruik om hierdie kommentaar te slyp en te redigeer.)